STUDIEARTIKEL 15
Wat kan ons leer uit Jesus se wonderwerke?
‘Hy het deur die land gegaan en goeie dinge gedoen en almal gesond gemaak.’ – HAND. 10:38.
LIED 13 Christus, ons Voorbeeld
IN HIERDIE ARTIKEL a
1. Beskryf wat gebeur het toe Jesus sy eerste wonderwerk gedoen het.
VERBEEL jou dis laat in 29 HJ aan die begin van Jesus se bediening. Jesus en sy ma, Maria, en party van sy dissipels is genooi na ’n huweliksfees in Kana, ’n dorp noord van Jesus se tuisdorp, Nasaret. Maria is ’n vriend van die familie en help heel moontlik om vir die gaste te sorg. Maar gedurende die huweliksfees gebeur daar iets wat die familie en die jong paartjie baie ongemaklik kon laat voel – daar is nie meer wyn nie. b Dalk was daar meer gaste as wat verwag was. Maria gaan vinnig na haar seun toe en sê: “Hulle het nie wyn nie” (Joh. 2:1-3). Wat doen Jesus? Iets buitengewoons – hy verander die water in “goeie wyn” deur middel van ’n wonderwerk. – Joh. 2:9, 10.
2-3. (a) Watter soort wonderwerke het Jesus gedoen? (b) Hoe kan ons daarby baat vind as ons Jesus se wonderwerke ondersoek?
2 Jesus het baie ander wonderwerke gedurende sy bediening gedoen. c Hy het sy krag gebruik om duisende mense te help. Byvoorbeeld, net twee van sy wonderwerke – waar hy 5 000 mans en later 4 000 mans kos gegee het – het dalk meer as 27 000 mense ingesluit as ons die vrouens en die kinders wat ook daar was, bytel (Matt. 14:15-21; 15:32-38). Op albei geleenthede het Jesus ook baie mense wat siek was, genees (Matt. 14:14; 15:30, 31). Dink net hoe verstom die skare was toe Jesus hulle deur middel van ’n wonderwerk genees het en kos gegee het!
3 Ons kan vandag baie leer uit die wonderwerke wat Jesus gedoen het. In hierdie artikel sal ons ’n paar geloofversterkende lesse bespreek wat daardie wonderwerke ons kan leer. Dan sal ons kyk hoe ons die nederigheid en meegevoel wat Jesus gewys het toe hy wonderwerke gedoen het, kan navolg.
LESSE OOR JEHOVAH EN JESUS
4. Oor wie leer Jesus se wonderwerke ons geloofversterkende lesse?
4 Jesus se wonderwerke leer ons nie net geloofversterkende lesse oor hom nie maar ook oor sy Vader. Dit is omdat Jehovah die ware Bron van die wonderwerke was. Handelinge 10:38 sê vir ons dat “God [Jesus] met heilige gees en krag gesalf [het] en dat hy deur die land gegaan het en goeie dinge gedoen het en almal gesond gemaak het wat deur die Duiwel onderdruk is, want God was met hom”. Onthou ook dat Jesus in alles wat hy gesê en gedoen het – insluitende die wonderwerke wat hy gedoen het – sy Vader se denke en gevoelens volmaak nagevolg het (Joh. 14:9). Kyk na drie lesse wat ons kan leer uit Jesus se wonderwerke.
5. Wat het Jesus gemotiveer om wonderwerke te doen? (Matteus 20:30-34)
5 Eerstens, Jesus en sy Vader is baie lief vir ons. Terwyl Jesus op die aarde was, het hy gewys dat hy mense baie liefhet deur sy krag te gebruik om dié te help wat swaargekry het. Op een geleentheid het twee blinde mans hom gesmeek om hulle te help. (Lees Matteus 20:30-34.) Let op dat Jesus “baie jammer” vir hulle gevoel het en hulle toe genees het. Die Griekse werkwoord wat hier vertaal is met “baie jammer” verwys na ’n intense meegevoel wat diep binne die liggaam gevoel word. Sulke intense meegevoel, wat ’n bewys van liefde is, het Jesus ook gemotiveer om dié wat honger was, kos te gee en om ’n melaatse te genees (Matt. 15:32; Mark. 1:41). Ons kan seker wees dat Jehovah, die God van meegevoel, en sy Seun ons baie liefhet en dat dit hulle baie hartseer maak wanneer ons swaarkry (Luk. 1:78; 1 Pet. 5:7). Hulle is baie gretig om al die probleme wat alle mense raak, te verwyder!
6. Watter krag het God vir Jesus gegee?
6 Tweedens, God het vir Jesus die krag gegee om al mense se probleme op te los. Jesus het deur middel van sy wonderwerke bewys dat hy al die probleme kan wegneem wat ons nooit op ons eie sou kon oplos nie. Byvoorbeeld, hy het die krag om ons vry te maak van die oorsaak van al mense se probleme – oorgeërfde sonde en die gevolge daarvan, insluitende siekte en die dood (Matt. 9:1-6; Rom. 5:12, 18, 19). Sy wonderwerke het bewys dat hy “elke soort” siekte kan genees en selfs die dooies kan opwek (Matt. 4:23; Joh. 11:43, 44). Hy het ook die krag om baie groot windstorms te beheer en om mense van bose geeste te bevry (Mark. 4:37-39; Luk. 8:2). Dit is baie gerusstellend om te weet dat Jehovah vir sy Seun so baie krag gegee het!
7-8. (a) Watter vertroue gee Jesus se wonderwerke ons? (b) Na watter wonderwerk sien jy uit in die toekomstige nuwe wêreld?
7 Derdens, ons kan die volle vertroue hê dat die toekomstige seëninge onder God se Koninkryk sal waar word. Die wonderwerke wat Jesus gedoen het toe hy ’n mens op die aarde was, leer ons wat hy op ’n baie groter skaal sal doen as die hemelse Koning van God se Koninkryk. Kyk na wat ons binnekort sal ondervind wanneer Christus oor die aarde regeer. Ons sal volmaakte gesondheid geniet, want hy sal elke soort siekte en gestremdheid wegneem wat mense al gehad het (Jes. 33:24; 35:5, 6; Op. 21:3, 4). Ons sal nooit honger ly of swaarkry as gevolg van natuurrampe nie (Jes. 25:6; Mark. 4:41). Ons sal baie gelukkig wees wanneer ons ons geliefdes terugverwelkom uit “die gedenkgrafte” (Joh. 5:28, 29). Na watter wonderwerk sien jy veral uit in die toekomstige nuwe wêreld?
8 Toe Jesus wonderwerke gedoen het, het hy gewys dat hy baie nederig is en groot meegevoel het, eienskappe wat ons moet navolg. Kom ons kyk na twee voorbeelde, en ons gaan eers kyk na die verslag van die huweliksfees in Kana.
’N LES OOR NEDERIGHEID
9. Wat het Jesus by die huweliksfees gedoen? (Johannes 2:6-10)
9 Lees Johannes 2:6-10. Was Jesus verplig om enige iets te doen toe die wyn opgeraak het by die huweliksfees? Nee. Daar was nie ’n profesie wat voorspel het dat die Messias deur ’n wonderwerk wyn sou voorsien nie. Maar dink net hoe jy sou gevoel het as die drinkgoed by jou troue opgeraak het. Jesus het heel moontlik meegevoel vir die familie gehad, veral vir die bruid en bruidegom, en wou nie hê dat hulle ongemaklik moes voel nie. So toe het hy die wonderwerk gedoen wat aan die begin van die artikel genoem is. Hy het water – omtrent 390 liter – in baie goeie wyn verander. Dalk het hy so baie wyn voorsien sodat daar nog oor sou wees vir toekomstige gebruik of sodat dit selfs verkoop kon word om die jong paartjie finansieel te help. Die pasgetroude paartjie was seker baie verlig!
10. Wat is ’n paar belangrike details in die verslag wat opgeteken is in Johannes hoofstuk 2? (Sien ook prent.)
10 Kyk na ’n paar belangrike details in die verslag wat opgeteken is in Johannes hoofstuk 2. Het jy opgelet dat Jesus nie die kliphouers vol water gemaak het nie? Hy het nie die aandag op homself gevestig nie, maar het eerder vir die knegte gesê om die houers vol te maak (vers 6, 7). En nadat Jesus die water in wyn verander het, het hy nie self van die wyn na die feesleier geneem nie. Hy het eerder vir die knegte gesê om dit te doen (vers 8). Jesus het beslis nie ’n beker wyn gevat, dit voor die gaste opgelig en gespog en gesê: ‘Proe van die wyn wat ek nou net gemaak het!’ nie.
11. Wat kan ons leer uit Jesus se wonderwerk?
11 Wat kan ons leer uit Jesus se wonderwerk toe hy water in wyn verander het? Ons leer ’n les oor nederigheid. Jesus het nie gespog oor die wonderwerk nie; om die waarheid te sê, hy het nooit gespog oor enige iets wat hy gedoen het nie. Hy was eerder nederig en het altyd al die eer aan sy Vader gegee (Joh. 5:19, 30; 8:28). As ons Jesus navolg deur nederig te bly, sal ons nooit oor enige iets spog wat ons doen nie. Maak nie saak wat ons dalk in Jehovah se diens doen nie, ons moenie oor onsself spog nie, maar oor die wonderlike God wat ons bevoorreg is om te dien (Jer. 9:23, 24). Ons moet hom die eer gee wat hy verdien. Ons kan nooit enige iets goeds sonder Jehovah se hulp doen nie. – 1 Kor. 1:26-31.
12. Wat is nog ’n manier hoe ons Jesus se nederigheid kan navolg? Gee ’n voorbeeld.
12 Kyk na nog ’n manier hoe ons Jesus se nederigheid kan navolg. Dink aan die volgende voorbeeld: ’n Ouerman spandeer baie tyd daaraan om ’n jong bedieningskneg te help om vir sy eerste openbare toespraak voor te berei. Omdat die ouerman hom gehelp het, gee die jong broer ’n goeie toespraak, wat die gemeente geniet. Ná die vergadering sê iemand vir die ouerman: ‘Broer So-en-so het ’n uitstekende toespraak gegee.’ Is dit nodig dat die ouerman moet sê: ‘Ja, maar ek het baie tyd daaraan spandeer om hom te help’? Of kan hy nederig sê: ‘Ja, hy het. Ek is so trots op hom’? Wanneer ons nederig is, hoef ons nie die eer te neem vir die goeie dinge wat ons vir ander doen nie. Ons is tevrede omdat ons weet dat Jehovah dit wat ons doen, sien en waardeer. (Vergelyk Matteus 6:2-4; Heb. 13:16.) Ons maak Jehovah beslis gelukkig wanneer ons Jesus navolg en nederig is. – 1 Pet. 5:6.
’N LES OOR MEEGEVOEL
13. Wat sien Jesus naby die stad Nain, en wat doen hy daaromtrent? (Lukas 7:11-15)
13 Lees Lukas 7:11-15. Dink aan wat gebeur het omtrent halfpad deur Jesus se bediening. Hy het na Nain gereis, ’n stad in Galilea nie ver van Sunem af nie, waar die profeet Elisa omtrent 900 jaar vroeër ’n vrou se seun opgewek het (2 Kon. 4:32-37). Wanneer Jesus naby die poort kom, sien hy hoe mense wat ’n begrafnis bygewoon het, die stad verlaat. Dit is ’n baie hartseer situasie omdat ’n weduwee haar enigste kind verloor het. Maar die hartseer ma is nie alleen nie; ’n groot groep mense van die stad is by haar. Jesus stop hulle en doen iets buitengewoons vir hierdie hartseer ma – hy wek haar seun op! Dit is die eerste van drie opstandings deur Jesus wat spesifiek opgeteken is in die Evangelieverslae.
14. Wat is ’n paar belangrike details in die verslag wat opgeteken is in Lukas hoofstuk 7? (Sien ook prent.)
14 Kyk na ’n paar belangrike details in die verslag in Lukas hoofstuk 7. Het jy opgelet dat toe Jesus die hartseer ma “sien”, hy “baie jammer vir haar gevoel” het? (vers 13). So wat hy gesien het – dalk hoe sy gehuil het terwyl sy voor haar seun se liggaam geloop het – het hom beweeg om meegevoel vir haar te hê. Jesus het nie net baie jammer vir die ma gevoel nie; hy het ook sy meegevoel vir haar gewys. Hy het sekerlik op ’n liefdevolle manier met haar gepraat en gesê: “Hou op huil.” Toe het hy iets gedoen om haar te help. Hy het haar seun lewend gemaak en “hom aan sy ma gegee”. – Vers 14, 15.
15. Wat kan ons leer uit Jesus se wonderwerk?
15 Wat kan ons leer uit Jesus se wonderwerk toe hy die weduwee se seun opgewek het? Ons leer dat ons moet wys dat ons meegevoel het vir dié wat hartseer is. Ons kan natuurlik nie, soos Jesus, die dooies opwek nie. Maar soos Jesus kan ons meegevoel ontwikkel vir dié wat hartseer is deur oplettend te wees. Ons kan die inisiatief neem om te wys dat ons meegevoel vir hulle het deur te sê en te doen wat ons kan om hulle te help en hulle te vertroos (Spr. 17:17; 2 Kor. 1:3, 4; 1 Pet. 3:8). d Selfs klein, maar liefdevolle dinge wat ons vir hulle doen, kan hulle baie aanmoedig en vertroos.
16. Volgens die prent, wat leer jy uit die ondervinding van ’n ma wie se kind onlangs gesterf het?
16 Kyk na ’n ondervinding. ’n Paar jaar gelede terwyl ’n liedjie by ’n gemeentelike vergadering gesing was, het ’n suster opgelet dat ’n ma besig was om te huil. Die liedjie het die opstandingshoop genoem, en die ma se dogtertjie het onlangs gesterf. Die suster het dit geweet, en daarom het sy onmiddellik na haar toe gegaan, haar arm om die ma gesit en die res van die liedjie saam met haar gesing. Die ma het later gesê: “Ek het soveel liefde vir die broers en susters gevoel.” Sy was baie dankbaar dat sy na die vergadering toe gegaan het. Sy het gesê: “Dit is waar ons hulp is, daar by die Koninkryksaal.” Ons kan seker wees dat Jehovah selfs die klein dingetjies wat ons doen om te wys dat ons meegevoel het vir dié wat hartseer is, raaksien en waardeer. – Ps. 34:18.
’N GELOOFVERSTERKENDE STUDIEPROJEK
17. Wat het ons in hierdie artikel geleer?
17 Dit kan ons geloof baie versterk wanneer ons die verslae van Jesus se wonderwerke in die Bybel studeer. Dit leer ons dat Jehovah en Jesus ons baie liefhet, dat Jesus die krag het om al mense se probleme op te los en dat ons volle vertroue kan hê in die wonderlike beloftes vir die toekoms wat binnekort sal waar word wanneer God se Koninkryk oor die aarde regeer. Wanneer ons hierdie verslae ondersoek, kan ons dink aan hoe ons Jesus se eienskappe kan navolg. Dalk kan jy ’n persoonlike studieprojek of ’n sessie vir Gesinsaanbidding beplan wat fokus op ander wonderwerke wat Jesus gedoen het. Kyk watter lesse jy kan leer, en praat dan met ander oor wat jy geleer het. Dink net aan die opbouende gesprekke wat jy kan hê! – Rom. 1:11, 12.
18. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
18 Teen die einde van sy bediening, het Jesus sy derde en laaste opstanding gedoen wat in die Bybel opgeteken is. Maar hierdie opstanding was anders – hy het ’n dierbare vriend opgewek, en hy het dit onder ongewone omstandighede gedoen. Watter lesse kan ons leer uit die Evangelieverslag van daardie wonderwerk? En hoe kan ons ons geloof in die opstandingshoop versterk? Die volgende artikel sal daardie vrae bespreek.
LIED 20 Die gawe van u Seun
a Hy het ’n baie groot windstorm gekalmeer, die siekes genees en die dooies opgewek. Dit is baie opwindend om te lees oor die wonderwerke wat Jesus gedoen het! Hierdie verslae is in die Bybel opgeteken, nie as vermaak nie, maar om ons te leer. Ons sal party van hierdie verslae hersien sodat ons geloofversterkende lesse oor Jehovah en Jesus kan leer en eienskappe kan identifiseer wat ons moet ontwikkel.
b ’n Bybelgeleerde verduidelik dat mense in Bybellande gedink het dat dit hulle verantwoordelikheid was om gasvry te wees, en ’n gasheer moes seker maak dat daar meer as genoeg was vir sy gaste. ’n Goeie gasheer, veral by ’n huweliksfees, moes baie meer kos en drinkgoed vir sy gaste voorsien as wat hulle nodig gehad het.
c Die Evangelieverslae bevat meer as 30 spesifieke wonderwerke van Jesus. Jesus het baie ander wonderwerke gedoen, maar die Bybel noem nie elkeen apart nie. Op een geleentheid het ’n “hele stad” na hom toe gekom en “het hy baie mense genees”. – Mark. 1:32-34.
d Vir voorstelle oor wat jy kan sê of doen om dié wat hartseer is, te vertroos, sien die artikel “Vertroos die bedroefdes, soos Jesus gedoen het” in Die Wagtoring van 1 November 2010.
e BESKRYWING VAN PRENT: Terwyl Jesus in die agtergrond staan, geniet die bruid en bruidegom en hulle gaste die goeie wyn.