Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 16

LIED 64 Neem vreugdevol deel aan die oeswerk

Hoe om die bediening meer te geniet

Hoe om die bediening meer te geniet

“Dien Jehovah met blydskap.”PS. 100:2.

DOEL

Hierdie artikel bespreek stappe wat ons kan neem om die bediening meer te geniet.

1. Hoe voel party daaroor om met ander in die bediening te praat? (Sien ook prent.)

 AS JEHOVAH se volk preek ons vir ander omdat ons ons hemelse Vader liefhet en ander wil help om hom te leer ken. Baie verkondigers geniet regtig die predikingswerk. Maar ander sukkel om dit te geniet. Hoekom? Party is dalk baie skaam en het min selfvertroue. Party voel ongemaklik om ongenooid na mense se huise toe te gaan. Party is dalk bang dat hulle mense sal ontstel. Party is geleer om konflik met ander te vermy. Al het hierdie broers en susters Jehovah baie lief, vind hulle dit moeilik om die goeie nuus met vreemdelinge te deel. Maar hulle besef hoe belangrik hierdie werk is, en hulle neem gereeld daaraan deel. Dit maak Jehovah sekerlik baie gelukkig!

Geniet jy die predikingswerk? (Sien paragraaf 1)


2. Hoekom moet jy nie mismoedig wees as jy sukkel om die bediening te geniet nie?

2 Sukkel jy soms om die bediening te geniet as gevolg van sulke gevoelens? As dit die geval is, moenie mismoedig wees nie. Die feit dat jy min selfvertroue het, kan wys dat jy nederig is en nie te veel aandag wil hê nie en ook dat jy nie met mense wil stry nie. En niemand wil ander ontstel nie, veral nie wanneer hulle goeie dinge vir ander probeer doen nie. Jou hemelse Vader weet presies watter uitdagings jy het en wil jou die hulp gee wat jy nodig het (Jes. 41:13). In hierdie artikel sal ons vyf voorstelle bespreek oor hoe om sulke gevoelens te hanteer en hoe om die bediening te geniet.

LAAT GOD SE WOORD JOU VERSTERK

3. Wat het die profeet Jeremia gehelp om vir ander te preek?

3 Regdeur die jare het die boodskap van God sy knegte versterk wanneer hulle ’n moeilike toewysing gehad het. Dink byvoorbeeld aan die profeet Jeremia. Hy was huiwerig toe Jehovah hom die toewysing gegee het om te preek. Jeremia het gesê: “Ek kan nie goed praat nie, want ek is maar net ’n seun” (Jer. 1:6). Wat het hom gehelp om meer selfvertroue te hê? God se woorde het hom krag gegee. Hy het gesê: “Dit [was] soos ’n brandende vuur, opgesluit in my gebeente, en ek het moeg geword om dit in te hou” (Jer. 20:​8, 9). Al het Jeremia ’n moeilike gebied gehad, het die boodskap wat hy moes verkondig, hom die nodige krag gegee om die werk te doen.

4. Wat gebeur wanneer ons God se Woord lees en daaroor nadink? (Kolossense 1:​9, 10)

4 Christene kry krag uit die boodskap in God se Woord. Toe die apostel Paulus aan die gemeente in Kolosse geskryf het, het hy gesê dat akkurate kennis sy broers sou motiveer om te “lewe op ’n manier wat Jehovah waardig is” terwyl hulle aanhou “om vrugte te dra in elke goeie werk”. (Lees Kolossense 1:​9, 10.) Daardie goeie werk sluit die verkondiging van die goeie nuus in. So wanneer ons God se Woord lees en daaroor nadink, word ons geloof in Jehovah versterk en verstaan ons hoe belangrik dit is om die Koninkryksboodskap te verkondig.

5. Hoe kan ons die meeste uit ons Bybellees en studie kry?

5 Om die meeste uit God se Woord te kry, moet ons dit vermy om te jaag wanneer ons die Bybel lees, studeer en daaroor nadink. Neem jou tyd. As jy ’n teks lees wat jy nie verstaan nie, moet jy dit nie ignoreer nie. Gebruik eerder die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies om ’n verduideliking oor die vers te vind. As jy jou tyd neem wanneer jy studeer, sal jy jou vertroue versterk dat wat God se Woord sê, waar is (1 Tess. 5:21). Hoe meer oortuig jy is, hoe meer sal jy dit geniet om dit wat jy geleer het, met ander te deel.

BEREI GOED VOOR VIR DIE BEDIENING

6. Hoekom moet ons goed vir die bediening voorberei?

6 As jy goed voorberei vir die bediening sal jy heel moontlik gemakliker voel wanneer jy met ander praat. Jesus het sy dissipels gehelp om voor te berei voordat hy hulle in die bediening uitgestuur het (Luk. 10:​1-11). Omdat die dissipels toegepas het wat Jesus hulle geleer het, kon hulle baie goeie dinge bereik, en dit het hulle baie gelukkig gemaak. – Luk. 10:17.

7. Hoe kan ons vir die bediening voorberei? (Sien ook prent.)

7 Hoe kan ons vir die bediening voorberei? Ons moet dink aan hoe ons die waarheid goed in ons eie woorde kan oordra. Dit kan ons ook help as ons dink aan twee of drie algemene reaksies van dié in die gebied en aan hoe ons in elke geval gaan reageer. Wanneer ons dan met mense praat, kan ons probeer om te ontspan, te glimlag en vriendelik te wees.

Berei goed voor vir die bediening (Sien paragraaf 7)


8. Op watter manier is Christene soos die kleihouers wat die apostel Paulus in sy illustrasie genoem het?

8 Die apostel Paulus het ons rol in die predikingswerk geïllustreer toe hy gesê het: “Ons het hierdie skat in kleihouers” (2 Kor. 4:7). Wat is hierdie skat? Dit is die lewensreddende werk om die Koninkryksboodskap te verkondig (2 Kor. 4:1). Wat is die kleihouers? Dit stel God se knegte voor, wat die goeie nuus aan ander verkondig. In Paulus se dag het handelaars kleihouers gebruik om waardevolle goedere, soos kos, wyn en geld, te vervoer. Net so vertrou Jehovah ons met die waardevolle boodskap van die goeie nuus. Met Jehovah se hulp kan ons die nodige krag hê om ons boodskap getrou te verkondig.

BID VIR MOED

9. Hoe kan ons mensevrees oorkom? (Sien ook prent.)

9 Partykeer ondervind ons dalk mensevrees. Hoe kan ons daardie uitdaging oorkom? Dink aan die gebed van die apostels toe hulle beveel is om nie te preek nie. Eerder as om bang te word en op te hou preek, het hulle Jehovah gevra om hulle te help “om [sy] woord moedig te verkondig”. Jehovah het hulle gebed onmiddellik beantwoord (Hand. 4:​18, 29, 31). As ons soms mensevrees ondervind, moet ons ook bid vir Jehovah se hulp. Vra Jehovah om jou te help om jou mensevrees met jou liefde vir mense te oorkom.

Bid vir moed (Sien paragraaf 9)


10. Hoe help Jehovah ons om ons rol as sy Getuies te vervul? (Jesaja 43:​10-12)

10 Jehovah het ons as sy Getuies aangestel, en hy belowe om ons te help om moedig te wees. (Lees Jesaja 43:​10-12.) Kyk na net vier maniere hoe hy dit doen. Eerstens, Jesus is met ons wanneer ons die goeie nuus verkondig (Matt. 28:​18-20). Tweedens, Jehovah het engele aangestel om ons te help (Op. 14:6). Derdens, Jehovah het sy heilige gees vir ons gegee as ’n helper om ons te help om die dinge wat ons geleer het, te onthou (Joh. 14:​25, 26). Vierdens, Jehovah het vir ons broers en susters gegee om saam met ons te preek. Met Jehovah se hulp en die ondersteuning van ons liefdevolle broers en susters het ons alles wat ons nodig het om suksesvol te wees.

WEES AANPASBAAR, EN BEHOU DIE REGTE BESKOUING

11. Hoe kan jy meer mense in die bediening kry? (Sien ook prent.)

11 Voel jy mismoedig wanneer jy min mense by die huis kry? Jy kan jou afvra: ‘Waar is die mense in my gebied op die oomblik?’ (Hand. 16:13). ‘Is hulle by die werk of doen hulle inkopies?’ As dit die geval is, kan jy meer mense kry deur straatgetuieniswerk te doen? ’n Broer met die naam Joshua sê: “Ek het geleenthede gekry om te preek terwyl ek deur winkelsentrums en openbare parkeerareas geloop het.” Hy en sy vrou, Bridget, het ook meer mense by die huis gekry toe hulle mense vroeg in die aand en Sondaemiddae besoek het. – Ef. 5:​15, 16.

Pas jou roetine aan (Sien paragraaf 11)


12. Hoe kan ons uitvind waarin mense glo of waaroor hulle bekommerd is?

12 As mense nie eintlik in die boodskap belangstel nie, probeer om te bepaal waarin hulle glo of waaroor hulle bekommerd is. Joshua en Bridget gebruik die vraag op die voorkant van ’n pamflet in hulle inleiding. Byvoorbeeld, wanneer hulle die pamflet Wat dink jy van die Bybel? gebruik, sê hulle: “Party mense beskou die Bybel as ’n boek wat van God af kom en ander nie. Wat dink jy?” Dit lei dikwels tot ’n gesprek.

13. Hoekom is ons suksesvol wanneer ons preek, al luister mense nie? (Spreuke 27:11)

13 Ons sukses in die bediening hang nie af van die resultate wat ons kry nie. Hoekom nie? Omdat ons gedoen het wat Jehovah en sy Seun wil hê ons moet doen – ons het ’n getuienis gegee (Hand. 10:42). Selfs wanneer ons niemand kry om mee te praat nie of wanneer mense nie na ons boodskap wil luister nie, kan ons bly wees omdat ons weet dat ons ons hemelse Vader gelukkig maak. – Lees Spreuke 27:11.

14. Hoekom kan ons bly wees wanneer ’n ander verkondiger iemand in die gebied vind wat belangstel?

14 Ons kan ook bly wees wanneer ’n ander verkondiger iemand in die gebied vind wat belangstel. Die Wagtoring het ons werk vergelyk met wanneer daar na ’n verlore kind gesoek word. Baie help om na hom te soek, en hulle dek die een gebied ná die ander. Wanneer die kind gevind word, is almal, nie net die een wat hom gevind het nie, baie bly. Net so is die dissipelmaakwerk ’n spanpoging. Ons het almal in die gemeente nodig om die gebied te dek, en almal is bly wanneer ’n nuweling vergaderinge begin bywoon.

FOKUS OP JOU LIEFDE VIR JEHOVAH EN VIR ANDER

15. Hoe kan Matteus 22:​37-39 ons help om ons entoesiasme vir die bediening te vergroot? (Sien ook op voorblad.)

15 Ons kan ons entoesiasme vir die predikingswerk vergroot deur te fokus op ons liefde vir Jehovah en vir ander. (Lees Matteus 22:​37-39.) Dink net hoe gelukkig Jehovah is wanneer hy sien dat ons die werk doen en hoe gelukkig mense gaan wees wanneer hulle die Bybel begin studeer! Dink ook aan die redding wat op dié wag wat na ons boodskap luister. – Joh. 6:40; 1 Tim. 4:16.

As ons fokus op ons liefde vir Jehovah en vir ander sal ons ons bediening meer geniet (Sien paragraaf 15)


16. Hoe kan ons ons bediening geniet wanneer ons nie ons huis kan verlaat nie? Gee voorbeelde.

16 Kan jy vir die een of ander rede nie jou huis verlaat nie? As dit die geval is, fokus op wat jy kan doen om te wys dat jy Jehovah en ander liefhet. Gedurende die COVID-19-pandemie kon Samuel en Dania nie hulle huis verlaat nie. Hulle het gedurende daardie moeilike tyd gereeld telefoongetuieniswerk gedoen, briewe geskryf en Bybelstudies oor Zoom gehou. Samuel het vir dié getuig wat hy ontmoet het by die kliniek waar hy behandeling vir kanker ontvang het. Hy sê: “Moeilike tye dreineer ons verstandelik, fisies en geestelik. Ons moet maniere vind om ons diens aan Jehovah te geniet.” Gedurende hierdie tyd het Dania geval en moes sy vir drie maande in die bed bly. Toe het sy vir ses maande ’n rolstoel nodig gehad. Sy sê: “Ek het alles probeer doen wat my omstandighede my toegelaat het om te doen. Ek kon vir ’n verpleegster preek wat my kom besoek het, en ek het met dié gepraat wat dinge by die huis afgelewer het. Ek het ook goeie gesprekke op die telefoon gehad met ’n verteenwoordiger van ’n mediese maatskappy.” Samuel en Dania se omstandighede het hulle aktiwiteite beperk, maar hulle het gedoen wat hulle kon, en dit het hulle gelukkig gemaak.

17. Hoe kan jy die meeste uit die voorstelle in hierdie artikel kry?

17 Die voorstelle wat in hierdie artikel gegee word, werk die beste wanneer hulle saam gebruik word. Elke voorstel is soos ’n bestanddeel wat in ’n resep gebruik word. Wanneer al die bestanddele in die resep saam gebruik word, sal jy lekker resultate hê. As ons al die voorstelle toepas, sal ons negatiewe gevoelens beter kan hanteer en die bediening meer geniet.

HOE SAL DIT ONS HELP OM DIE BEDIENING MEER TE GENIET . . .

  • as ons tyd neem om goed voor te berei?

  • as ons vir moed bid?

  • as ons op ons liefde vir Jehovah en vir ander fokus?

LIED 80 ‘Kom ondervind dat Jehovah goed is’