Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 17

LIED 111 Ons redes tot vreugde

Moet nooit die geestelike paradys verlaat nie

Moet nooit die geestelike paradys verlaat nie

“Wees . . . vreugdevol en wees vir ewig bly oor wat ek skep.”JES. 65:18.

DOEL

Leer hoe die geestelike paradys ons bevoordeel en hoe ons ander na die geestelike paradys kan trek.

1. Wat is die geestelike paradys, en wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

 DAAR is vandag ’n paradys op die aarde wat vol lewe en bedrywigheid is. In hierdie paradys is daar miljoene mense wat ware vrede geniet. Dié wat alreeds in hierdie paradys is, is vasbeslote om dit nooit te verlaat nie. Hulle wil ook hê dat soveel mense as moontlik deel moet word van hierdie unieke omgewing. Wat is dit? Die geestelike paradys! a

2. Wat is wonderlik omtrent die geestelike paradys?

2 Jehovah het op ’n wonderlike manier ’n vreedsame omgewing geskep in ’n wêreld wat Satan verander het in ’n goddelose en gevaarlike plek vol haat (1 Joh. 5:19; Op. 12:12). Ons liefdevolle God sien die skadelike uitwerking wat hierdie wêreld op mense het, maar hy laat ons veilig voel sodat ons geestelik kan floreer. Sy Woord beskryf die geestelike paradys as ’n veilige “skuiling” en as ’n “tuin wat baie water kry” (Jes. 4:6; 58:11). Met Jehovah se seën kan dié wat in hierdie paradys bly, gedurende hierdie moeilike laaste dae floreer. – Jes. 54:14; 2 Tim. 3:1.

3. Hoe is die profesie in Jesaja hoofstuk 65 vir die eerste keer vervul?

3 Deur middel van die profeet Jesaja het Jehovah beskryf hoe dit sou wees vir dié wat in die geestelike paradys sou bly. Jy kan hierdie beskrywing vind in Jesaja hoofstuk 65, wat vir die eerste keer in 537 VHJ vervul is. Op daardie tyd is berouvolle Jode vrygelaat uit Babilon, en hulle het teruggekeer na hulle tuisland. Jehovah het sy volk geseën en hulle gehelp om die verwoeste stad Jerusalem weer mooi te maak en om die tempel as die middelpunt van ware aanbidding in Israel te herstel. – Jes. 51:11; Sag. 8:3.

4. Hoe word die profesie in Jesaja hoofstuk 65 in hedendaagse tye vervul?

4 ’n Tweede vervulling van Jesaja se profesie het in 1919 HJ begin toe Jehovah se hedendaagse aanbidders uit Babilon die Grote bevry is. Toe het die geestelike paradys geleidelik regoor die aarde begin versprei. Ywerige Koninkryksverkondigers het baie gemeentes gevorm en Christelike eienskappe geopenbaar. Mans en vrouens wat voorheen gewelddadig en onsedelik was, het “die nuwe persoonlikheid [aangetrek] wat in ooreenstemming met God se wil . . . geskep is” (Ef. 4:24). Baie van die seëninge wat Jesaja beskryf het, sal natuurlik letterlik in die toekomstige nuwe wêreld vervul word. Maar ons geniet selfs nou baie seëninge. Kom ons kyk hoe hierdie geestelike paradys ons raak en hoekom ons dit nooit moet verlaat nie.

KENMERKE VAN DIÉ IN DIE GEESTELIKE PARADYS

5. Wat geniet ons in die geestelike paradys soos daar belowe word in Jesaja 65:13?

5 Gesond en verfris. Jesaja se profesie wys watter groot verskil daar is tussen hoe die lewe is vir dié binne die geestelike paradys en hoe die lewe is vir dié buite die geestelike paradys. (Lees Jesaja 65:13.) Jehovah voorsien oorvloedig in die geestelike behoeftes van sy aanbidders. Ons het sy heilige gees, die Bybel en ’n oorvloed geestelike voedsel sodat ons kan “eet, . . . drink, . . . [en] vreugdevol” kan wees. (Vergelyk Openbaring 22:17.) Maar die situasie is baie anders vir dié buite die geestelike paradys, wat “honger ly . . . dors [is] . . . [en] skaam kry”. Daar word nie in hulle geestelike behoeftes voorsien nie. – Amos 8:11.

6. Hoe beskryf Joël 2:​21-24 ons geestelike voorsienings, en hoe kan ons daarby baat vind?

6 In sy profesie het Joël basiese benodigdhede soos graan, wyn en olyfolie gebruik om te wys dat Jehovah Sy volk alles gee wat hulle nodig het, insluitende geestelike voedsel (Joël 2:​21-24). Hy doen dit deur die Bybel en ons Bybelpublikasies, ons webwerf, sowel as ons vergaderinge en byeenkomste. Ons kan elke dag by hierdie geestelike voorsienings baat vind, en as gevolg daarvan voel ons gesonder en meer verfris.

7. Wat gee ons “vreugde in [ons] hart”? (Jesaja 65:14)

7 Gelukkig en tevrede. God se volk kan “vreugdevol uitroep” omdat hulle hart oorloop van waardering. (Lees Jesaja 65:14.) Die opbouende waarhede en vertroostende beloftes in God se Woord en ons vaste hoop wat gebaseer is op Christus se losprysoffer, gee ons “vreugde in [ons] hart”. Wanneer ons met ons geestelike broers en susters oor hierdie dinge praat, maak dit ons regtig gelukkig. – Ps. 34:8; 133:​1-3.

8. Wat is twee baie belangrike kenmerke van die geestelike paradys?

8 Die liefde en die eenheid onder Jehovah se volk is twee baie belangrike kenmerke van die geestelike paradys. Hierdie “band van eenheid” gee ons ’n idee van hoe die lewe sal wees in die nuwe wêreld, waar Jehovah se knegte selfs meer liefde en eenheid sal geniet as wat hulle vandag geniet (Kol. 3:14). ’n Christensuster vertel wat sy omtrent Jehovah se Getuies opgelet het toe sy hulle die eerste keer ontmoet: “Ek het nie geweet hoe om gelukkig te wees nie, nie eers in my gesin nie. Die eerste keer dat ek liefde in aksie gesien het, was onder Jehovah se Getuies.” Enige iemand wat regtig gelukkig en tevrede wil wees, moet ons geestelike paradys ondervind. Maak nie saak wat hierdie wêreld van Jehovah se knegte dink nie, hulle het ’n eerbare naam, of reputasie, by Jehovah en by almal wat hom aanbid. – Jes. 65:15.

9. Wat belowe Jesaja 65:​16, 17 oor moeilike tye in die lewe?

9 Ontspanne en kalm. Jesaja 65:14 sê dat dié wat kies om buite die geestelike paradys te bly, “uitroep weens die pyn in [hulle] hart [en] huil weens ’n gebroke gees”. Maar wat van al die dinge wat vir God se volk pyn en lyding veroorsaak het? Daardie dinge sal uiteindelik “vergete wees [en God] sal dit nie meer sien nie”. (Lees Jesaja 65:​16, 17.) Jehovah sal al ons probleme wegneem, en mettertyd sal die pyn van sulke herinneringe heeltemal verdwyn.

10. Hoekom voel jy dat dit ’n seën is om met Christenbroers en -susters te assosieer? (Sien ook prent.)

10 Selfs nou voel ons kalmer wanneer ons by ons Christelike vergaderinge is, waar ons kan ontspan en van die probleme van hierdie goddelose wêreld kan vergeet. Ons dra by tot die kalmte van ons geestelike omgewing wanneer ons die liefde, vreugde, vrede, goedhartigheid en sagmoedigheid openbaar wat deel is van die vrug van God se gees (Gal. 5:​22, 23). Dit is vir ons ’n groot seën om deel te wees van God se organisasie! Dié wat in die geestelike paradys bly, sal die volle vervulling sien van God se belofte van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”.

Dit is ’n seën om die geestelike paradys te geniet as deel van God se familie (Sien paragraaf 10) c


11. Volgens Jesaja 65:​18, 19, hoe moet die geestelike paradys wat Jehovah geskep het ons raak, en hoekom?

11 Dankbaar en opgewonde. Jesaja verduidelik volgende hoekom ons alle rede het om ‘vreugdevol en bly te wees’ oor die geestelike paradys. Hierdie omgewing is deur Jehovah geskep. (Lees Jesaja 65:​18, 19.) Dit is geen wonder dat hy ons gebruik om mense te help om die geestelik droë organisasies van hierdie ou wêreld te verlaat en om deel te word van ons pragtige geestelike omgewing nie! Ons is opgewonde oor die seëninge wat ons geniet omdat ons in die waarheid is, en ons voel gemotiveerd om ander daarvan te vertel. – Jer. 31:12.

12. Hoe laat die beloftes in Jesaja 65:​20-24 jou voel, en hoekom?

12 Ons is ook dankbaar vir en opgewonde oor die hoop wat ons as inwoners van die geestelike paradys het. Dink net aan alles wat ons in God se nuwe wêreld sal sien en sal doen! Die Bybel belowe: “Daar sal nie meer ’n baba wees wat net ’n paar dae lewe nie, en ook nie ’n ou man wat nie sy jare uitleef nie.” Ons sal “huise bou en daarin woon [en] wingerde plant en die vrugte daarvan eet”. Ons sal “nie verniet hard werk nie” omdat ons “deur Jehovah geseën” sal wees. Hy belowe ons ’n veilige, bevredigende lewe met ’n ware doel. “Nog voordat hulle uitroep,” sal hy weet wat elke persoon nodig het en “die begeerte [bevredig] van alles wat lewe”. – Jes. 65:​20-24; Ps. 145:16.

13. Hoe beskryf Jesaja 65:25 die veranderinge wat mense in hulle lewe maak wanneer hulle Jehovah begin dien?

13 Vreedsaam en veilig. Met die hulp van God se gees het baie wat voorheen gewelddadige, aggressiewe persoonlikhede gehad het, groot veranderinge in hulle lewens gemaak. (Lees Jesaja 65:25.) Hulle het hard gewerk om ontslae te raak van hulle slegte eienskappe (Rom. 12:2; Ef. 4:​22-24). God se volk is natuurlik nog steeds onvolmaak, so ons sal aanhou om foute te maak. Maar Jehovah het “alle soorte mense” verenig in ’n onbreekbare band van liefde en vrede (Tit. 2:11). Dit is ’n wonderwerk wat net die almagtige God kon doen!

14. Hoe was Jesaja 65:25 waar in een broer se geval?

14 Kan mense regtig hulle persoonlikheid verander? Dink aan hierdie ondervinding. ’n Jong man wat in en uit die tronk was, het teen die tyd dat hy 20 was ’n baie onsedelike en gewelddadige lewe gelei. Hy was in die tronk vir kardiefstal, inbraak en ander ernstige misdade. Hy was gereed om met enige iemand te baklei. Toe hy die waarheid uit die Bybel vir die eerste keer gehoor het en vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon het, was hy daarvan oortuig dat hy iets gevind het om voor te lewe – die geestelike paradys. Nadat hy ’n gedoopte Getuie geword het, het hy dikwels gedink aan hoe Jesaja 65:25 op hom van toepassing was. Hy was nie meer ’n leeuagtige, gewelddadige persoon nie, maar het ’n lamagtige, vreedsame persoon geword.

15. Hoekom wil ons ander nooi om deel te word van die geestelike paradys, en hoe kan ons dit doen?

15 Jesaja 65:13 begin met die woorde: “Daarom sê die Soewereine Heer Jehovah.” Vers 25 eindig met die woorde: “Sê Jehovah.” Sy woorde word altyd waar (Jes. 55:​10, 11). Die geestelike paradys bestaan reeds nou. Jehovah het ’n broederskap geskep wat regtig uniek is. Onder sy volk kan ons relatiewe vrede vind en veilig voel in ’n gewelddadige wêreld (Ps. 72:7). Vir hierdie redes wil ons soveel mense as moontlik help om deel te word van ons Christenbroederskap. Ons kan dit doen deur te fokus op die werk om dissipels te maak. – Matt. 28:​19, 20.

HOE OM DIE GEESTELIKE PARADYS VIR ANDER AANTREKLIK TE MAAK

16. Hoe word mense na die geestelike paradys getrek?

16 Ons elkeen speel ’n belangrike rol daarin om die geestelike paradys vir ander aantreklik te maak. Ons kan hierdie rol vervul as ons Jehovah navolg. Hy dwing nie mense om deel te word van sy organisasie nie. Hy “trek” hulle eerder liefdevol na hom toe (Joh. 6:44; Jer. 31:3). Opregte mense wat oor Jehovah se liefdevolle eienskappe en mooi persoonlikheid leer, voel outomaties aangetrokke tot hom. Hoe kan ons, deur ons mooi eienskappe en goeie gedrag, die geestelike paradys vir mense aantreklik maak?

17. Hoe kan ons die geestelike paradys vir ander aantreklik maak?

17 Een manier hoe ons die geestelike paradys vir ander aantreklik kan maak, is deur ons broers en susters liefdevol en goed te behandel. Wanneer nuwes ons gemeentelike vergaderinge bywoon, wil ons hê dat hulle dieselfde gevolgtrekking moet maak as die ongelowiges wat waarskynlik die vergaderinge in eertydse Korinte bygewoon het. Hulle het gesê: “God is werklik onder julle” (1 Kor. 14:​24, 25; Sag. 8:23). Daarom moet ons aanhou om gehoorsaam te wees aan die raad om “vreedsaam teenoor mekaar” te wees. – 1 Tess. 5:13.

18. Wat kan ons organisasie aantreklik maak vir mense?

18 Ons moet ons Christenbroers en -susters altyd probeer sien soos Jehovah hulle sien. Ons doen dit deur te fokus op hulle positiewe eienskappe en nie op hulle onvolmaakthede, wat uiteindelik sal verdwyn, nie. Ons kan enige verskille tussen ons oplos in ’n gees van liefde deur altyd ‘goed vir mekaar te wees, intense medelye te betoon en mekaar vryelik te vergewe’ (Ef. 4:32). Dan sal die geestelike paradys aantreklik wees vir mense wat ook so behandel wil word. b

BLY IN DIE GEESTELIKE PARADYS

19. (a) Wat het party gesê nadat hulle teruggekeer het na die geestelike paradys, soos ons kan sien in die venster “ Hulle het die geestelike paradys verlaat en teruggekom”? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen? (Sien ook prent.)

19 Ons is so dankbaar vir ons geestelike paradys! Dit is mooier as ooit tevore, en daar is meer aanbidders van Jehovah in die geestelike paradys as ooit tevore. Mag ons vir ewig dankbaar wees vir die paradys wat Jehovah vir ons geskep het. Enige iemand wat verfris, tevrede, kalm en veilig wil wees, moet deel word van die geestelike paradys en dit nooit verlaat nie! Maar pasop, want Satan probeer sy bes om ons te kry om die geestelike paradys te verlaat (1 Pet. 5:8; Op. 12:9). Ons moet hom nooit toelaat om dit reg te kry nie. Laat ons hard werk om seker te maak dat die geestelike paradys altyd mooi, rein en vreedsaam is.

Dié wat in die geestelike paradys bly, sal ook die toekomstige fisiese paradys geniet (Sien paragraaf 19)


HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Wat is die geestelike paradys?

  • Watter seëninge geniet ons in hierdie geestelike paradys?

  • Hoe kan ons die geestelike paradys vir ander aantreklik maak?

LIED 144 Hou jou oë op die prys!

a WAT DIT BETEKEN: Die term “geestelike paradys” beskryf die omgewing waarin ons Jehovah aanbid. In hierdie geestelike paradys geniet ons ’n vreedsame verhouding met Jehovah en met mekaar.

b Kyk op jw.org die video Waar is hulle nou? Alena Žitníkowá: My droom is bewaarheid, en kyk watter seëninge een suster ontvang het omdat sy in die geestelike paradys is.

c BESKRYWING VAN PRENT: Baie broers en susters geniet dit om met ander te gesels by die vergadering, maar een broer sonder homself af.