Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

My swakhede het God se krag duideliker gemaak

My swakhede het God se krag duideliker gemaak

TOE ek en my vrou in 1985 in Colombia aangekom het, was die land ’n baie gewelddadige plek. Die regering het geveg teen magtige dwelmkartelle in die stede en guerrillasoldate in die berge. In Medellín, waar ons later gedien het, het jong gewapende bendelede die strate gepatrolleer. Hulle het dwelms verkoop, mense gedwing om hulle te betaal vir beskerming en mense doodgemaak vir geld. Nie een van hulle het baie lank gelewe nie. Ons het gevoel asof ons in ’n ander wêreld is.

Hoe het twee gewone mense van Finland, een van die noordelikste lande op die aarde, in Suid-Amerika beland? En watter lesse het ek oor die jare geleer?

MY JONGDAE IN FINLAND

Ek is in 1955 gebore en is die jongste van drie seuns. Ek het naby die suidkus van Finland grootgeword, in ’n gebied wat nou bekend staan as die stad Vantaa.

’n Paar jaar voordat ek gebore is, is my ma as een van Jehovah se Getuies gedoop. Maar my pa het die waarheid teëgestaan en het nie my ma toegelaat om met ons kinders te studeer of om ons na gemeentelike vergaderinge te neem nie. Daarom het sy ons basiese Bybelwaarhede geleer wanneer my pa nie by die huis was nie.

Ek het ’n standpunt vir Jehovah ingeneem toe ek sewe jaar oud was

Ek het van jongs af ’n standpunt vir Jehovah ingeneem. Byvoorbeeld, toe ek sewe was, het my skoolonderwyser baie kwaad vir my geword omdat ek nie verilättyjä (Finse bloedpannekoeke) wou eet nie. Met die een hand het sy my wange gedruk om my lippe oop te maak, en met die ander hand het sy ’n vurk met ’n stukkie pannekoek in my mond probeer druk. Ek het dit reggekry om die vurk uit haar hand te slaan.

Toe ek 12 was, het my pa gesterf. Nadat dit gebeur het, kon ek gemeentelike vergaderinge bywoon. Die broers in die gemeente het liefdevol in my belanggestel, en dit het my gemotiveer om geestelike vordering te maak. Ek het begin om die Bybel daagliks te lees en ons Christelike publikasies deeglik te studeer. Hierdie goeie studiegewoontes het grootliks bygedra tot die feit dat ek op 8 Augustus 1969 op die ouderdom van 14 gedoop is.

Kort nadat ek skool klaargemaak het, het ek as ’n gewone pionier begin dien. Binne ’n paar weke het ek getrek na Pielavesi, naby die middel van Finland, omdat daar meer verkondigers nodig was.

In Pielavesi het ek ’n meisie met die naam Sirkka ontmoet, wat my dierbare vrou sou word. Ek het baie gehou van haar beskeie persoonlikheid en diep geestelikheid. Sy wou nie die middelpunt van aandag wees nie, en materiële gemak was nie vir haar belangrik nie. Ons albei wou ons bes in ons diens aan Jehovah doen, maak nie saak watter diensvoorregte ons kry nie. Ons het op 23 Maart 1974 getrou. In plaas daarvan om op ’n wittebrood te gaan, het ons in Karttula gaan dien, waar daar selfs ’n groter behoefte aan Koninkryksverkondigers was.

Die huis wat ons in Karttula, Finland, gehuur het

JEHOVAH HET VIR ONS GESORG

Die kar wat my broer ons gegee het

Vanaf die begin van ons huwelik het Jehovah vir ons gewys dat hy in ons materiële behoeftes sal voorsien as ons sy Koninkryk eerste soek (Matt. 6:33). Byvoorbeeld, in Karttula het ons nie ’n kar gehad nie. Aan die begin het ons fietse gebruik. Maar in die winter het die temperature daar tot onder vriespunt gedaal. Die gemeente het ’n groot gebied gehad, en daarom het ons ’n kar nodig gehad. Maar ons het nie die geld gehad om een te koop nie.

My ouer broer het onverwags vir ons kom kuier. Hy het liefdevol sy kar vir ons aangebied. Die versekering was klaar betaal. Ons moes net brandstof koop. Toe het ons die voertuig gehad wat ons nodig gehad het.

Jehovah het vir ons gewys dat hy die verantwoordelikheid op hom geneem het om in ons materiële behoeftes te voorsien. Dit was ons werk om Koninkryksbelange eerste te stel.

GILEADSKOOL

Ons Pionierdiensskool-klas in 1978

Terwyl ons die Pionierdiensskool in 1978 bygewoon het, het Raimo Kuokkanen, a een van ons instrukteurs, ons aangemoedig om vir die Gileadskool aansoek te doen. Ons het toe Engels begin leer met die doel om te kwalifiseer om dit by te woon. Maar in 1980, voordat ons kon aansoek doen, is ons genooi om by die takkantoor in Finland te dien. Op daardie stadium kon Betheliete nie vir Gilead aansoek doen nie. Maar ons wou dien waar Jehovah wou hê ons moes dien, nie waar ons graag sou wou dien nie. So ons het die uitnodiging aanvaar. Maar ons het aangehou om Engels te leer net ingeval ons ooit die geleentheid sou kry om vir Gilead aansoek te doen.

’n Paar jaar later het die Bestuursliggaam Betheliete die geleentheid gegee om vir Gilead aansoek te doen. Ons het onmiddellik aansoekvorms ingevul, maar nie omdat ons nie gelukkig was by Bethel nie. Dit was eintlik die teenoorgestelde! Ons wou net onsself beskikbaar maak om te dien waar daar meer verkondigers nodig is as ons daarvoor kwalifiseer. Ons is vir Gilead aanvaar en het in September 1985 gegradueer aan die 79ste klas. Ons toewysing was Colombia.

ONS EERSTE SENDINGTOEWYSING

Ons eerste toewysing in Colombia was by die takkantoor. Ek het my bes probeer doen in my toewysing, maar ná ’n jaar by die takkantoor het ek gevoel dat ons ’n verandering nodig het. Vir die eerste en enigste keer in my lewe het ek vir ’n ander toewysing gevra. Daarna is ons as veldsendelinge gestuur na die stad Neiva, in die streek Huila.

Ek het die veldbediening nog altyd geniet. As ’n ongetroude pionier in Finland het ek soms van vroeg in die oggend tot laat in die aand gepreek. As ’n pasgetroude paartjie het ek en Sirkka soms ook heeldag gepreek. Wanneer ons op plekke gepreek het wat ver van ons huis af was, het ons soms in ons kar geslaap. Dit het ons reistyd verminder, en daarom kon ons vroeg die volgende dag begin.

As veldsendelinge het ons weer dieselfde entoesiasme gehad wat ons vroeër vir die bediening gehad het. Ons gemeente het gegroei, en die broers en susters in Colombia was respekvol, liefdevol en dankbaar.

DIE KRAG VAN GEBED

Daar was dorpies naby ons toewysing in Neiva waar daar geen Getuies was nie. Ek was baie bekommerd oor hoe die goeie nuus daardie gebiede sou bereik. Maar as gevolg van guerrillaoorlogvoering was hierdie gebiede nie veilig vir mense wat nie van daardie dorpies af kom nie. Daarom het ek gebid dat iemand in een van hierdie dorpies ’n Getuie sou word. Ek het gedink dat so ’n persoon in Neiva sou moes bly om die waarheid te leer. Daarom het ek ook gebid dat hy ná sy doop geestelik volwasse sou word en na sy tuisdorp sou terugkeer om te preek. Ek moes geweet het dat Jehovah ’n baie beter oplossing gehad het.

Kort daarna het ek ’n Bybelstudie begin met ’n jong man met die naam Fernando González. Hy het in Algeciras gebly, een van die dorpies waar daar geen Getuies was nie. Fernando het meer as 50 kilometer na Neiva gereis om te werk. Hy het baie goed vir elke studie voorberei en het onmiddellik al die vergaderinge begin bywoon. Vanaf die eerste week van sy studie het Fernando ander in sy tuisdorp bymekaargekry en hulle geleer wat hy uit sy Bybelstudie geleer het.

Saam met Fernando in 1993

Fernando is in Januarie 1990 gedoop, ses maande nadat hy begin studeer het. Daarna het hy ’n gewone pionier geword. Omdat daar een plaaslike Getuie in Algeciras was, was dit nou veilig genoeg vir die takkantoor om spesiale pioniers na die gebied te stuur. In Februarie 1992 is ’n gemeente in daardie dorpie gevorm.

Het Fernando sy predikingswerk tot sy tuisdorp beperk? Nee! Nadat hy getrou het, het hy en sy vrou na San Vicente del Caguán getrek, nog ’n dorpie waar daar geen Getuies was nie. Daar het hulle gehelp om ’n gemeente te begin. In 2002 is Fernando as ’n kringopsiener aangestel, en hy en sy vrou, Olga, is nog steeds op die kring.

Ek het uit hierdie ondervinding geleer hoe belangrik dit is om oor spesifieke dinge te bid wat met ons teokratiese toewysings verband hou. Jehovah doen wat ons nie kan doen nie. Om die waarheid te sê, dit is sy oes, nie ons s’n nie. – Matt. 9:38.

JEHOVAH GEE ONS “DIE BEGEERTE EN DIE KRAG OM OP TE TREE”

In 1990 is ons gevra om reisende werk te doen. Ons eerste kring was in die hoofstad, Bogotá. Die toewysing het ons geïntimideer. Ek en my vrou is gewone mense sonder enige spesiale talente. En ons was nie daaraan gewoond om in ’n besige stad te bly nie. Maar Jehovah het sy belofte vervul in Filippense 2:13: “Dit is God wat julle versterk soos hy dit goedvind. Hy gee julle die begeerte en die krag om op te tree.”

Later is ons na ’n kring gestuur in Medellín, die stad wat ek aan die begin genoem het. Mense daar het so gewoond geraak aan die geweld dat dit hulle nie meer ontstel het nie. Byvoorbeeld, terwyl ek eenkeer ’n Bybelstudie gehou het, het ’n paar mense op mekaar begin skiet buite die huis wat ek besoek het. Ek was op die punt om op die vloer te gaan lê, maar die Bybelstudent het net die paragraaf kalm verder gelees. Toe hy klaar gelees het, het hy homself verskoon en buitentoe gegaan. Ná ’n rukkie het hy teruggekom met twee klein kinders en kalm gesê: “Jammer, maar ek moes my kinders gaan haal.”

Daar was ander tye dat ons in gevaar was. Terwyl ons eenkeer aan die deur-tot-deur-werk deelgeneem het, het my vrou na my toe aangehardloop gekom, en sy het ’n bietjie bleek gelyk. Sy het gesê dat iemand op haar geskiet het. Dit het my laat skrik. Maar ons het later besef dat die gewapende man nie Sirkka wou skiet nie; hy het op ’n man geskiet wat verby haar geloop het.

Ná ’n ruk het die geweld ons nie meer so senuweeagtig gemaak nie. Ons is aangemoedig deur die plaaslike Getuies wat sterk gebly het toe hulle situasies soos hierdie en erger deurgemaak het. Ons het tot die slotsom gekom dat as Jehovah hulle help, hy ons ook sou help. Ons het altyd na die raad van plaaslike ouermanne geluister, voorsorgmaatreëls getref en die res in Jehovah se hande gelaat.

Party situasies was natuurlik nie so gevaarlik soos wat ons gedink het nie. Eenkeer het ek iemand besoek en iets buite gehoor wat geklink het soos twee vrouens wat op mekaar skree. Ek het nie daarin belanggestel om na ’n stryery te kyk nie, maar die huisbewoner het vir my gesê om na haar stoep te kom. Ek het toe uitgevind dat die “stryery” eintlik tussen twee papegaaie was wat die bure nageaap het.

NOG VOORREGTE EN UITDAGINGS

In 1997 is ek aangestel as ’n instrukteur van die Bedieningsopleidingskool. b Ek het dit altyd waardeer om teokratiese skole by te woon, maar ek het nooit gedink dat ek die wonderlike voorreg sou hê om ’n instrukteur te wees nie.

Later het ek as ’n streekopsiener gedien. Toe daardie reëling beëindig is, het ek na die kringwerk teruggekeer. So vir meer as 30 jaar het ek dit geniet om as ’n instrukteur en ’n reisende opsiener te dien. Hierdie toewysings het vir my baie seëninge gebring. Maar dit was nie altyd maanskyn en rose nie. Kom ek verduidelik.

Ek het ’n sterk persoonlikheid. Dit het my gehelp om moeilike omstandighede te hanteer. Maar ek was soms oorywerig wanneer ek probeer het om probleme in gemeentes reg te stel. Soms het ek party entoesiasties raad gegee om liefdevol en redelik met ander te wees. Maar dit is ironies dat ek in daardie oomblikke nie dieselfde eienskappe geopenbaar het nie. – Rom. 7:​21-23.

As gevolg van my swakhede het ek soms baie mismoedig gevoel (Rom. 7:24). Op een stadium het ek vir Jehovah in gebed gesê dat dit vir my beter sou wees om sendingdiens te verlaat en na Finland terug te keer. Daardie aand het ek ’n gemeentelike vergadering bygewoon. Die aanmoediging wat ek daar ontvang het, het my oortuig dat ek in my toewysing moet bly en moet aanhou om aan my onvolmaakthede te werk. Tot vandag toe is ek diep geraak deur hoe duidelik Jehovah daardie gebed beantwoord het. En ek is baie dankbaar dat hy my liefdevol gehelp het om my swakhede te oorkom.

EK KYK MET VERTROUE NA DIE TOEKOMS

Ek en Sirkka is baie dankbaar teenoor Jehovah vir die voorreg wat ons gehad het om die grootste deel van ons lewe in voltydse diens te spandeer. Ek is ook baie dankbaar teenoor Jehovah vir die feit dat ek al hierdie jare so ’n liefdevolle en getroue vrou gehad het.

Ek word binnekort 70 en sal nie meer as ’n veldinstrukteur en reisende opsiener dien nie. Maar dit maak my nie mismoedig nie. Hoekom nie? Omdat ek vas glo dat ons Jehovah die meeste eer wanneer ons hom op ’n beskeie manier dien en hom loof uit ’n hart wat oorloop van liefde en dankbaarheid (Miga 6:8; Mark. 12:​32-34). Ons hoef nie op die voorgrond te wees om Jehovah te eer nie.

Wanneer ek terugkyk op die toewysings wat ek geniet het, besef ek dat ek dit nie ontvang het omdat ek beter as ander is nie; ek het ook nie hierdie voorregte gehad as gevolg van enige uitstekende vermoëns nie. Dit is glad nie die geval nie! Jehovah het eerder hierdie toewysings vir my gegee as gevolg van sy onverdiende goedheid. Hy het my hierdie voorregte gegee ten spyte van my swakhede. Ek weet dat ek hierdie toewysings net met Jehovah se hulp kon uitvoer. Op hierdie manier het my swakhede God se krag duideliker gemaak. – 2 Kor. 12:9.

a Raimo Kuokkanen se lewensverhaal, “Vasbeslote om Jehovah te dien”, is in Die Wagtoring van 1 April 2006.

b Hierdie skool is vervang met die Skool vir Koninkrykspredikers.