Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 15

LIED 124 Bly lojaal

Versterk jou waardering vir Jehovah se organisasie

Versterk jou waardering vir Jehovah se organisasie

“Hou dié in gedagte wat die leiding onder julle neem, wat oor die woord van God met julle gepraat het.” – HEB. 13:7.

DOEL

Hoe om jou waardering vir Jehovah se organisasie te versterk en te behou.

1. Hoe was Jehovah se volk in die eerste eeu georganiseer?

 WANNEER Jehovah sy volk ’n toewysing gee, verwag hy dat hulle dit op ’n georganiseerde manier moet uitvoer (1 Kor. 14:33). Byvoorbeeld, dit is God se wil dat die goeie nuus oor die hele bewoonde aarde verkondig moet word (Matt. 24:14). Jehovah het Jesus oor hierdie werk aangestel. Jesus het seker gemaak dat dit op ’n georganiseerde manier gedoen word. In die eerste eeu, toe gemeentes op verskillende plekke gevorm is, is ouermanne aangestel om riglyne te gee en die leiding te neem (Hand. 14:23). In Jerusalem het ’n sentrale liggaam van ouermanne, wat bestaan het uit die apostels en ouermanne, sekere besluite geneem waaraan alle gemeentes gehoorsaam moes wees (Hand. 15:2; 16:4). As gevolg van hulle gehoorsaamheid aan die instruksies wat hulle ontvang het, “het die gemeentes heeltyd sterker geword in die geloof en het hulle . . . bly vermeerder”. – Hand. 16:5.

2. Hoe het Jehovah vanaf 1919 sy volk gelei en geestelike voedsel aan hulle voorsien?

2 Jehovah hou aan om sy volk selfs vandag te organiseer. Vanaf 1919 het Jesus ’n klein groepie gesalfde mans gebruik om die predikingswerk te organiseer en geestelike voedsel aan sy volgelinge te voorsien (Luk. 12:42). a Dit is duidelik dat Jehovah die werk van daardie groep seën. – Jes. 60:22; 65:​13, 14.

3-4. (a) Illustreer hoe ons baat vind by die feit dat ons georganiseerd is. (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 As ons nie georganiseerd was nie, sou ons nie die werk kon uitvoer wat Jesus ons gegee het om te doen nie (Matt. 28:​19, 20). Byvoorbeeld, sê nou daar was geen gebiedstoewysings nie; almal kon preek waar hulle ook al wou. Party gebiede sou dalk oor en oor deur ’n hele paar verskillende verkondigers gedek word, terwyl ander gebiede dalk heeltemal afgeskeep sou word. Kan jy aan ander maniere dink hoe ons baat vind by die feit dat ons georganiseerd is?

4 Wat Jesus op die aarde gedoen het, het die patroon gestel vir hoe hy ons vandag georganiseerd hou. In hierdie artikel sal ons die voorbeeld bespreek wat Jesus gestel het en kyk hoe ons organisasie daardie voorbeeld volg. Ons sal ook bespreek hoe ons kan wys dat ons Jehovah se organisasie waardeer.

ONS ORGANISASIE VOLG JESUS SE VOORBEELD

5. Wat is een manier hoe ons Jesus se voorbeeld volg? (Johannes 8:28)

5 Jesus het by sy hemelse Vader geleer wat om te doen en wat om te sê. Jehovah se organisasie volg die voorbeeld van Jesus en baseer hulle sedelike leringe en hulle riglyne op God se Woord. (Lees Johannes 8:28; 2 Tim. 3:​16, 17.) Ons ontvang gereeld herinneringe om God se Woord te lees en toe te pas. Hoe vind ons daarby baat as ons hierdie raad volg?

6. Wat is ’n belangrike manier hoe ons daarby baat vind as ons die Bybel studeer?

6 Ons vind baie daarby baat wanneer ons die Bybel met die hulp van ons Christelike publikasies studeer. Byvoorbeeld, ons kan Bybelleringe vergelyk met die riglyne wat ons van die organisasie ontvang. Wanneer ons sien dat die leiding wat ons ontvang op die Bybel gebaseer is, groei ons vertroue in Jehovah se organisasie. – Rom. 12:2.

7. Watter boodskap het Jesus verkondig, en hoe volg Jehovah se organisasie sy voorbeeld?

7 Jesus het “die goeie nuus van die Koninkryk van God” verkondig (Luk. 4:​43, 44). Jesus het ook sy dissipels beveel om oor die Koninkryk te preek (Luk. 9:​1, 2; 10:​8, 9). Vandag verkondig almal wat met Jehovah se organisasie geassosieer word, die Koninkryksboodskap maak nie saak waar hulle bly of hoeveel verantwoordelikhede hulle het nie.

8. Watter voorreg het ons?

8 Ons beskou dit as ’n voorreg om die waarheid oor God se Koninkryk met ander te deel! Nie almal het hierdie voorreg nie. Byvoorbeeld, toe Jesus op die aarde was, het hy nie die goddelose geeste toegelaat om oor hom te getuig nie (Luk. 4:41). Voordat iemand vandag saam met Jehovah se volk aan die bediening deelneem, moet hy vir die voorreg kwalifiseer. Ons wys hoe baie ons die voorreg om te preek, waardeer deur oor God se Koninkryk te praat wanneer en waar ons ook al kan. Soos Jesus wil ons ons bes doen om saadjies van Koninkrykswaarheid in mense se harte te plant en nat te maak. – Matt. 13:​3, 23; 1 Kor. 3:6.

9. Hoe maak die organisasie God se naam bekend?

9 Jesus het God se naam bekend gemaak. In gebed aan sy hemelse Vader het Jesus gesê: “Ek het u naam . . . bekend gemaak” (Joh. 17:26). In ooreenstemming met Jesus se voorbeeld doen Jehovah se organisasie alles wat hulle kan om ander te help om God se naam te leer ken. Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel het ’n belangrike rol hierin gespeel deur God se naam op sy regmatige plekke te herstel. Hierdie Bybelvertaling is nou in sy geheel of gedeeltelik in meer as 270 tale beskikbaar. In Aanhangsel A4 en A5 van hierdie vertaling sal jy besonderhede vind oor die herstelling van God se naam in die Bybel. Aanhangsel C, wat in die Engelse Studiebybel verskyn, gee baie bewyse dat God se naam 237 keer in die Christelike Griekse Geskrifte moet verskyn.

10. Wat leer jy uit wat ’n vrou in Mianmar gesê het?

10 Soos Jesus wil ons soveel mense as moontlik help om God se naam te leer ken. Toe ’n 67-jarige vrou in Mianmar geleer het dat God ’n naam het, het sy begin huil en gesê: “Dit is die eerste keer in my lewe dat ek gehoor het dat God se naam Jehovah is. . . . Julle het vir my die belangrikste ding geleer wat ek ooit kon leer.” Soos hierdie ondervinding wys, kan dit ’n kragtige uitwerking op opregte mense hê wanneer hulle God se naam leer.

HOU AAN OM WAARDERING VIR ONS ORGANISASIE TE WYS

11. Hoe kan ouermanne waardering vir Jehovah se organisasie wys? (Sien ook prent.)

11 Wat is een manier hoe ouermanne kan wys dat hulle God se organisasie waardeer? Wanneer ouermanne riglyne ontvang, moet hulle dit mooi lees en dit dan na die beste van hulle vermoë toepas. Byvoorbeeld, hulle ontvang nie net riglyne oor hoe om vergaderingdele aan te bied en hoe om namens die gemeente te bid nie, maar ook oor hoe om vir Christus se skape te sorg. Ouermanne wat riglyne van die organisasie volg, help dié onder hulle sorg om veilig en geliefd te voel.

Ouermanne help ons om die riglyne te waardeer wat Jehovah se organisasie voorsien (Sien paragraaf 11) b


12. (a) Hoekom moet ons saam met dié werk wat die leiding neem? (Hebreërs 13:​7, 17) (b) Hoekom moet ons fokus op die positiewe eienskappe van dié wat die leiding neem?

12 Wanneer ons riglyne van die ouermanne ontvang, moet ons dit gewilliglik volg. As ons dit doen, sal ons dit vir dié wat die leiding neem, makliker maak om hulle werk te doen. Die Bybel moedig ons aan om gehoorsaam en onderdanig te wees aan dié wat die leiding neem. (Lees Hebreërs 13:​7, 17.) Dit kan soms ’n uitdaging wees. Hoekom? Omdat hierdie mans onvolmaak is. Maar as ons op hulle negatiewe eienskappe eerder as hulle positiewe eienskappe fokus, sal ons, in werklikheid, ons vyande help. Hoe? Ons sal vertroue in God se organisasie verswak, iets wat ons teenstanders eintlik probeer doen. Wat kan ons doen om die negatiewe propaganda van ons vyande te identifiseer en te verwerp?

MOENIE TOELAAT DAT ANDER JOU WAARDERING VERSWAK NIE

13. Hoe het God se vyande sy organisasie in ’n slegte lig probeer stel?

13 God se teenstanders probeer positiewe aspekte van sy organisasie in ’n negatiewe lig stel. Byvoorbeeld, ons het uit die Bybel geleer dat Jehovah van sy volgelinge verwag om fisies, sedelik en geestelik rein te wees. Hy verwag dat enige iemand wat onberouvol voortgaan om onrein dinge te doen, uit die gemeente verwyder moet word (1 Kor. 5:​11-13; 6:​9, 10). Ons is gehoorsaam aan daardie Bybelse bevel. Maar ons teenstanders probeer dit teen ons gebruik deur ons daarvan te beskuldig dat ons onverdraagsaam is, ander oordeel en nie liefdevol is nie.

14. Wie is die bron van valse stories oor die organisasie?

14 Besef wie die bron van die aanvalle is. Satan die Duiwel is agter valse stories. Hy is “die vader van die leuen” (Joh. 8:44; Gen. 3:​1-5). So ons moet verwag dat Satan sy ondersteuners sal gebruik om valse stories oor Jehovah se organisasie te bevorder. Dit was duidelik in die eerste eeu.

15. Wat het godsdiensleiers aan Jesus en sy volgelinge gedoen?

15 In die eerste eeu het Satan se ondersteuners die een leuen ná die ander vertel oor die volmaakte Seun van God wat wonderwerke gedoen het. Byvoorbeeld, die godsdiensleiers het vir mense gesê dat Jesus sy krag om demone uit te dryf by “die heerser van die demone” gekry het (Mark. 3:22). Toe Jesus verhoor is, het die godsdiensleiers hom van godslastering beskuldig en die skares aangemoedig om hom te laat doodmaak (Matt. 27:20). Later, terwyl Christus se volgelinge die goeie nuus verkondig het, het dié wat hulle teëgestaan het, “die mense . . . teen die broers opgesteek en hulle beïnvloed” om daardie Christene te vervolg (Hand. 14:​2, 19). Die Wagtoring van 1 Desember 1998 het oor Handelinge 14:2 gesê: “Die Joodse teenstanders, vir wie dit nie genoeg was dat net hulle die boodskap verwerp nie, het ’n smeerveldtog begin en die nie-Joodse bevolking bevooroordeeld teen die Christene probeer maak.”

16. Wat moet ons onthou as ons valse stories hoor?

16 Satan het nie in die eerste eeu ophou leuens vertel nie. Vandag is hy nog steeds besig om “die hele aarde [te] mislei” (Op. 12:9). As jy negatiewe stories hoor oor die organisasie of oor die broers wat die leiding neem, moet jy onthou hoe God se vyande Jesus en die eerste-eeuse dissipels behandel het. Vandag word Jehovah se volk vervolg, en daar word leuens oor hulle vertel presies soos die Bybel voorspel het (Matt. 5:​11, 12). Valse stories sal ons nie mislei as ons besef wie die bron daarvan is en onmiddellik iets doen om onsself daarteen te beskerm nie. Hoe kan ons onsself daarteen beskerm?

17. Hoe kan ons dit vermy om deur valse stories benadeel te word? (2 Timoteus 1:13) (Sien ook die venster “ Wat om te doen wanneer jy valse stories hoor”.)

17 Verwerp valse stories. Die apostel Paulus het duidelike instruksies gegee oor wat ons moet doen as ons valse stories hoor. Hy het vir Timoteus gesê om ‘sekere persone te beveel om nie aandag te skenk aan valse stories nie’ en om ‘valse stories te verwerp’ (1 Tim. 1:​3, 4; 4:7). ’n Kindjie sal dalk onskuldig iets van die vloer af optel en dit in sy mond sit, maar ’n volwasse persoon wat die gevaar verstaan, sal dit nooit doen nie. Ons verwerp valse stories omdat ons besef wie die bron van die inligting is. Ons bly by die “gesonde woorde” van waarheid. – Lees 2 Timoteus 1:13.

18. Hoe kan ons wys dat ons Jehovah se organisasie waardeer?

18 Ons het na net drie van die baie maniere gekyk hoe God se organisasie Jesus navolg. Terwyl jy die Bybel studeer, probeer om meer maniere te vind hoe die organisasie Jesus se voorbeeld volg. Help ander in jou gemeente om hulle waardering vir die organisasie op te bou. En hou aan om jou waardering te wys deur Jehovah lojaal te dien en na aan die organisasie te bly wat hy gebruik om sy wil te bereik (Ps. 37:28). Laat ons altyd dankbaar wees vir die voorreg om deel te wees van Jehovah se liefdevolle en lojale volk.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoe volg God se volk Jesus na?

  • Hoe kan ons aanhou om waardering vir Jehovah se organisasie te wys?

  • Wat moet ons doen as ons valse stories hoor?

LIED 103 Herders — Gawes in mense

a Sien die venster “Hoekom 1919?” in die boek Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel! op bladsy 102-103.

b BESKRYWING VAN PRENT: Nadat die ouermanne reëlings vir openbare getuieniswerk bespreek het, sê ’n groepopsiener vir die verkondigers om met hulle rûe teen die muur te staan.