Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 14

LIED 56 Leef die waarheid uit

“Werk [hard] om geestelik volwasse te word”

“Werk [hard] om geestelik volwasse te word”

“Ons [moet] hard werk om geestelik volwasse te word.”HEB. 6:1.

DOEL

Leer hoe ’n volwasse Christen in ooreenstemming met God se wil dink en optree en wyse besluite maak.

1. Wat vereis Jehovah van ons?

 DAAR is min dinge wat ’n getroude paartjie meer vreugde gee as die geboorte van ’n gesonde baba. Maar al is ouers lief vir hulle kosbare pasgebore baba, wil hulle nie hê dat hy permanent ’n baba moet bly nie. Om die waarheid te sê, hulle sou baie bekommerd wees as hy nie groei nie. Net so is Jehovah gelukkig wanneer ons ons eerste stappe neem as volgelinge van Jesus, maar Hy wil nie hê dat ons geestelike kindertjies moet bly nie (1 Kor. 3:1). Hy vra ons eerder om “volwasse” Christene te word. – 1 Kor. 14:20.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Wat beteken dit om ’n volwasse Christen te word? Hoe word ons volwasse Christene? Hoe help vaste geestelike voedsel ons om te groei? En hoekom moet ons dit vermy om te veel selfvertroue te hê? In hierdie artikel sal ons die antwoorde op hierdie vrae bespreek.

WAT BETEKEN DIT OM ’N VOLWASSE CHRISTEN TE WORD?

3. Wat beteken dit om ’n volwasse Christen te word?

3 In die Bybel kan die Griekse woord wat met “volwasse” vertaal word, ook die gedagte insluit om volwasse te wees wanneer dit kom by Christelike eienskappe (Ef. 4:​13, vtn.). a Ons word volwasse as Christene wanneer ons nie meer geestelike babas is nie en geestelike mans of vrouens word. Selfs wanneer ons daardie doelwit bereik het, moet ons natuurlik nooit ophou om geestelike vordering te maak nie (1 Tim. 4:15). Ons almal, insluitende dié wat fisies jonk is, kan geestelik volwasse wees. Maar hoe kan ons weet of ons geestelik volwasse is?

4. Hoe sou jy ’n volwasse Christen beskryf?

4 ’n Volwasse Christen is iemand wat volgens al God se vereistes lewe – hy kies nie om sekeres te gehoorsaam en om ander te ignoreer nie. Omdat hy onvolmaak is, sal hy natuurlik foute maak. Maar hy doen elke dag sy bes om in ooreenstemming met God se wil te dink en op te tree. Hy het die nuwe persoonlikheid aangetrek en probeer heeltyd om meer en meer soos Jehovah te dink (Ef. 4:​22-24). Hy het geleer om wyse besluite te maak wat op Jehovah se wette en beginsels gebaseer is, en daarom het hy nie ’n lang lys reëls nodig om vir hom te sê wat hy moet doen nie. Wanneer hy ’n besluit maak, het hy die selfdissipline om daarby te bly. – 1 Kor. 9:​26, 27.

5. Voor watter gevare kom ’n onvolwasse Christen te staan? (Efesiërs 4:​14, 15)

5 Aan die ander kant kan ’n Christen wat onvolwasse bly, maklik mislei word deur mense wat “bedrieg” en “slinkse planne” uitdink en beïnvloed word deur mense wat samesweringsteorieë versprei en afvallig is. (Lees Efesiërs 4:​14, 15.) b Hy is dalk geneig om jaloers te word, stryery te veroorsaak, aanstoot te neem of om voor versoeking in te gee. – 1 Kor. 3:3.

6. Hoe kan die proses om geestelik volwasse te word, geïllustreer word? (Sien ook prent.)

6 Soos vroeër genoem is, vergelyk die Bybel die proses om geestelik volwasse te word met die proses om fisies volwasse te word. Daar is baie dinge wat ’n kind nie weet nie, en daarom het hy ’n volwassene nodig om hom te beskerm en te lei. Byvoorbeeld, ’n ma sal dalk haar dogtertjie vra om haar hand vas te hou terwyl hulle oor die straat loop. Soos die meisie ouer word, sal die ma haar dalk toelaat om op haar eie oor die straat te loop, maar sal haar nog steeds daaraan herinner om links en regs te kyk vir verkeer. Wanneer die kind ’n volwassene word, vermy sy sulke gevare op haar eie. Net soos jong kinders die hulp van volwassenes nodig het om gevaar te vermy, het onvolwasse Christene dikwels die hulp van volwasse Christene nodig om geestelike gevare te vermy en om wyse besluite te maak. Maar wanneer volwasse Christene ’n besluit moet maak, gebruik hulle Bybelbeginsels om te sien wat Jehovah van die saak dink en dan doen hulle die regte ding.

Onvolwasse Christene moet leer hoe om wyse besluite te maak deur Bybelbeginsels toe te pas (Sien paragraaf 6)


7. Het volwasse Christene ander se hulp nodig?

7 Beteken dit dat ’n volwasse Christen nooit enige iemand se hulp nodig het nie? Nee. Volwasse Christene moet ook soms vir hulp vra. Maar iemand wat onvolwasse is, verwag dalk dat ander vir hom moet sê wat om te doen of vir hom ’n besluit moet maak wat hy self moet maak. Aan die ander kant sal ’n volwasse Christen leer uit die wysheid en die ondervinding van ander terwyl hy weet dat Jehovah verwag dat hy “sy eie vrag [moet] dra”. – Gal. 6:5.

8. Op watter maniere verskil volwasse Christene van mekaar?

8 Net soos volwassenes verskil wanneer dit kom by hulle fisiese voorkoms, verskil volwasse Christene wanneer dit kom by geestelike eienskappe, soos wysheid, moed, vrygewigheid en empatie. En wanneer twee volwasse Christene ’n soortgelyke situasie ondervind, sal hulle dalk tot verskillende gevolgtrekkings kom wat albei met Bybelbeginsels ooreenstem. Dit is veral waar wanneer dit kom by besluite wat op hulle gewete gebaseer is. So hulle oordeel nie mekaar as hulle besluite anders is nie. Hulle fokus eerder daarop om verenig te bly. – Rom. 14:10; 1 Kor. 1:10.

HOE WORD ONS VOLWASSE CHRISTENE?

9. Word ons outomaties geestelik volwasse? Verduidelik.

9 Met verloop van tyd word ’n kind outomaties fisies groot, maar niemand word outomaties geestelik volwasse nie. Byvoorbeeld, die broers en susters in Korinte het die goeie nuus aanvaar, hulle laat doop, heilige gees ontvang en by die persoonlike onderrigting van die apostel Paulus baat gevind (Hand. 18:​8-11). Maar ’n paar jaar ná hulle doop, was baie nog steeds onvolwasse (1 Kor. 3:2). Hoe kan ons seker maak dat dit nie met ons gebeur nie?

10. Wat moet ons doen om geestelik volwasse te word? (Judas 20)

10 Om geestelik volwasse te word, moet ons eers die begeerte ontwikkel om volwasse te word. Dié wat “lief [is] vir onervarenheid”, dié wat verkies om geestelike babas te bly, sal nie vordering maak nie (Spr. 1:22). Ons wil nie soos dié wees wat fisies volwasse is maar op hulle ouers bly staatmaak om vir hulle besluite te maak nie. Ons wil eerder verantwoordelikheid neem vir ons eie geestelike groei. (Lees Judas 20.) As jy nog steeds daaraan werk om geestelik volwasse te word, bid dat Jehovah jou “die begeerte en die krag [sal gee] om op te tree”. – Fil. 2:13.

11. Watter hulp het ons om geestelik volwasse te word? (Efesiërs 4:​11-13)

11 Jehovah verwag nie dat ons op ons eie geestelik volwasse moet word nie. Dié wat as herders en onderrigters in die Christengemeente dien, is bereid om ons te help om in ’n geestelike sin “volgroeide” persone te word, dit wil sê om “die standaard van volwassenheid van die Christus [te] bereik”. (Lees Efesiërs 4:​11-13.) Jehovah gee ook sy heilige gees om ons te help om “die denke van Christus” te hê (1 Kor. 2:​14-16). God het ons ook die vier Evangelieverslae gegee om vir ons te wys hoe Jesus gedurende sy bediening op die aarde gedink, gepraat en opgetree het. As jy die manier navolg hoe Jesus gedink en opgetree het, kan jy jou doelwit bereik om ’n volwasse Christen te word.

HOE VASTE GEESTELIKE VOEDSEL ONS HELP

12. Wat is “die basiese leringe oor die Christus”?

12 Om geestelik volwasse te word, moet ons ook “die basiese leringe oor die Christus [agterlaat]”, dit wil sê basiese Christelike leringe. Voorbeelde van sulke basiese leringe sluit berou, geloof, doop en die opstanding in (Heb. 6:​1, 2). Sulke leringe vorm die grondslag van die Christelike godsdiens. Daarom het die apostel Petrus daaroor gepraat toe hy op Pinkster met die skare gepraat het (Hand. 2:​32-35, 38). Ons moet hierdie basiese leringe aanvaar om dissipels van Christus te word. Byvoorbeeld, Paulus het gewaarsku dat enige iemand wat nie in die lering van die opstanding glo nie, die hele Christelike geloof verwerp (1 Kor. 15:​12-14). Maar ons moenie tevrede wees met net ’n basiese kennis van die waarheid nie.

13. Wat moet ons doen om baat te vind by die vaste geestelike voedsel wat in Hebreërs 5:14 genoem word? (Sien ook prent.)

13 In teenstelling met die basiese leringe, sluit vaste geestelike voedsel nie net Jehovah se wette in nie, maar ook sy beginsels wat ons help om te verstaan hoe hy dink. Om by sulke voedsel baat te vind, moet ons God se Woord studeer, daaroor nadink en dit toepas. Terwyl ons dit doen, leer ons om besluite te maak wat Jehovah gelukkig maak. – Lees Hebreërs 5:14. c

Vaste geestelike voedsel leer ons hoe om besluite te maak wat Jehovah gelukkig maak (Sien paragraaf 13) d


14. Hoe het Paulus die Korintiërs gehelp om geestelik volwasse te word?

14 Onvolwasse Christene sukkel dikwels wanneer hulle in situasies is waar hulle Bybelbeginsels moet gebruik en toepas. As daar nie ’n Bybelwet is nie, voel party dalk dat hulle kan doen wat hulle ook al wil. Ander sal dalk vir ’n reël vra wanneer ’n reël nie nodig is nie. Byvoorbeeld, dit lyk asof Christene in Korinte Paulus vir ’n reël gevra het oor of hulle kos kon eet wat aan ’n afgod geoffer is. Eerder as om vir hulle te sê wat om te doen, het Paulus gewys dat hulle elkeen ’n “reg [het] om te kies” op grond van wat hulle gewete hulle toelaat om te doen. Hy het beginsels gebruik wat hulle kon help om ’n besluit te maak wat hulle nie met ’n skuldige gewete sou laat en wat ander nie sou laat struikel nie (1 Kor. 8:​4, 7-9). Op hierdie manier het Paulus die Korintiërs gehelp om geestelik volwasse te word sodat hulle hulle eie denkvermoë kon gebruik in plaas daarvan om op iemand anders staat te maak of om na reëls te soek.

15. Hoe het Paulus Hebreeuse Christene gehelp om geestelike vordering te maak?

15 Ons leer ’n waardevolle les uit wat Paulus aan die Hebreeuse Christene geskryf het. Party het nie aangehou om geestelik te groei nie; hulle het eintlik “nou weer melk nodig [gehad] in plaas van vaste [geestelike] voedsel” (Heb. 5:12). Hulle het nie bygebly met die waarheid, wat geleidelik deur middel van die gemeente geopenbaar is, nie (Spr. 4:18). Byvoorbeeld, baie Joodse gelowiges het nog steeds die Wet van Moses bevorder, al was daar omtrent 30 jaar vroeër ’n einde gemaak aan die Wet op grond van Christus se offerande (Rom. 10:4; Tit. 1:10). Dit was beslis nie te veel gevra van Joodse Christene om die manier hoe hulle dink oor ’n tydperk van 30 jaar te verander nie! Enige iemand wat al Paulus se geïnspireerde brief aan die Hebreërs gelees het, kan bevestig dat hierdie boek vaste geestelike voedsel bevat. Dit was net wat daardie Christene nodig gehad het om hulle geloof te versterk in die feit dat die Christelike reëling vir aanbidding baie beter is en om hulle die moed te gee om aan te hou preek ten spyte van die teenstand van die Jode. – Heb. 10:​19-23.

VERMY DIT OM TE VEEL SELFVERTROUE TE HÊ

16. Wat moet ons nog doen behalwe om geestelik volwasse te word?

16 Ons moet hard werk om nie net geestelik volwasse te word nie, maar ook om so te bly. Dit vereis dat ons dit moet vermy om te veel selfvertroue te hê (1 Kor. 10:12). Ons moet “[aanhou] om seker te maak” dat ons vordering bly maak. – 2 Kor. 13:5.

17. Hoe wys Paulus se brief aan die Kolossense dat dit belangrik is om geestelik volwasse te bly?

17 In sy brief aan die Kolossense beklemtoon Paulus weer hoe belangrik dit is om geestelik volwasse te bly. Al het hulle volwasse Christene geword, het Paulus hulle gewaarsku om nie deur wêreldse denke mislei te word nie (Kol. 2:​6-10). En Epafras, wat dié in die gemeente heel moontlik goed geken het, het aanhoudend gebid dat hulle dalk “uiteindelik as geestelik volwasse persone . . . kan vasstaan” (Kol. 4:12). Wat is die punt? Paulus en Epafras het verstaan dat ons hard moet werk en God se ondersteuning nodig het om geestelik volwasse te bly. Hulle wou hê dat die Kolossense volwasse Christene moet bly ten spyte van enige uitdagings wat hulle ondervind.

18. Wat kan met ’n volwasse Christen gebeur? (Sien ook prent.)

18 Paulus het die Hebreërs gewaarsku dat ’n volwasse Christen God se goedkeuring permanent kan verloor. ’n Christen se hart kan so verhard dat hy nie meer berou kan toon en God se vergifnis kan ontvang nie. Gelukkig was dit nie die geval met die Hebreërs nie (Heb. 6:​4-9). Wat van dié wat vandag onbedrywig word of dié wat uitgesit word maar later berou toon? As hulle nederig berou toon, wys hulle dat hulle anders is as dié oor wie Paulus geskryf het. Maar wanneer hulle na Jehovah terugkeer, het hulle die hulp nodig wat hy voorsien (Eseg. 34:​15, 16). Die ouermanne sal dalk reël dat ’n ervare Getuie hulle help om weer geestelik sterk te word.

Jehovah voorsien hulp aan dié wat weer geestelik sterk moet word (Sien paragraaf 18)


19. Watter doelwit moet ons hê?

19 As jy hard daaraan werk om ’n volwasse Christen te word, kan jy jou doelwit bereik! Hou aan om vaste geestelike voedsel in te neem en om meer en meer soos Jehovah te dink. En as jy reeds geestelik volwasse geword het, doen jou bes om nou en vir ewig so te bly.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Wat beteken dit om ’n volwasse Christen te word?

  • Hoe kan ons geestelik volwasse word?

  • Hoekom moet ons dit vermy om te veel selfvertroue te hê?

LIED 65 Gaan vooruit!

a Al gebruik die Hebreeuse Geskrifte nie die woord “volwasse” en “onvolwasse” nie, sluit dit hierdie gedagtes in. Byvoorbeeld, die boek Spreuke vergelyk ’n persoon wat jonk en onervare is, met een wat wys en verstandig is. – Spr. 1:​4, 5.

b Sien “Beskerm jouself teen valse inligting” in die reeks “Nog onderwerpe” op jw.org en in JW Library.®

c Sien die artikel “Studieprojek” in hierdie tydskrif.

d BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer pas die beginsels toe wat hy uit God se Woord geleer het wanneer hy kies wat om op TV te kyk.