Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Besef jy hoe belangrik dit is om ander op te lei?

Besef jy hoe belangrik dit is om ander op te lei?

“Ek sal beslis goeie onderrig aan julle gee.”—SPR. 4:2.

LIEDERE: 93, 96

1, 2. Waarom moet ons ander oplei om na teokratiese toewysings om te sien?

DIE verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk was Jesus se vernaamste toewysing. Hy het egter tyd ingeruim om ander op te lei om herders en onderrigters te wees (Matt. 10:5-7). Filippus was baie besig as ’n evangeliedienaar, maar hy het ongetwyfeld sy vier dogters geleer om skriftuurlike waarhede op ’n doeltreffende wyse aan ander oor te dra (Hand. 21:8, 9). Hoe belangrik is sulke opleiding vandag?

2 Wêreldwyd neem al hoe meer mense die waarheid aan. Nuwelinge wat nog nie gedoop is nie, moet besef hoe belangrik dit is om persoonlike Bybelstudie te doen. Hulle moet ook geleer word om die goeie nuus aan ander te verkondig en hulle die waarheid te leer. Broers in ons gemeentes moet aangespoor word om hard te werk sodat hulle aan die vereistes kan voldoen om as bedieningsknegte en ouer manne aangestel te word. Ervare Christene kan nuwelinge deur middel van “goeie onderrig” help om geestelike vooruitgang te maak.—Spr. 4:2.

HELP NUWELINGE OM KRAG EN WYSHEID UIT GOD SE WOORD TE KRY

3, 4. (a) Hoe het Paulus Bybelstudie verbind met ’n produktiewe bediening? (b) Wat moet ons doen voordat ons ons studente aanspoor om persoonlike Bybelstudie te doen?

3 Hoe belangrik is persoonlike Bybelstudie? Ons vind die antwoord in die apostel Paulus se woorde aan mede-Christene in Kolosse. Hy het geskryf: “[Ons het] nie opgehou om vir julle te bid nie en te vra dat julle in alle wysheid en geestelike insig vervul mag word met die juiste kennis van [God se] wil, sodat julle kan wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag terwyl julle voortgaan om vrug te dra in elke goeie werk en toe te neem in die juiste kennis van God” (Kol. 1:9, 10). Hierdie juiste kennis sou die Christene in Kolosse in staat stel om te “wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag”. Dit sou hulle help om voort te gaan om “vrug te dra in elke goeie werk”, veral in die verkondiging van die goeie nuus. Dit is dus belangrik dat ’n aanbidder van Jehovah die Bybel gereeld moet studeer. Ons moet Bybelstudente help om dit te besef.

4 Voordat ons ander kan help om baat te vind by persoonlike Bybelstudie, moet ons self daarvan oortuig wees dat dit van groot waarde is. Ja, ons moet self goeie studiegewoontes hê. Vra jou af: ‘Kan ek ’n Bybelse antwoord gee wanneer huisbewoners ’n mening uitspreek wat in stryd is met Bybelleringe of wanneer hulle moeilike vrae vra? Peins ek oor hoe Jesus, Paulus en ander se volharding in die bediening my diens aan Jehovah behoort te raak?’ Ons het almal die kennis en raad nodig wat ons in God se Woord vind. En as ons ander vertel hoeveel ons baat gevind het by persoonlike Bybelstudie, kan dit vir hulle ’n aansporing wees om ywerige studente van die Bybel te wees sodat hulle dieselfde voordele kan geniet.

5. Hoe kan nuwelinge gehelp word om gereeld persoonlike Bybelstudie te doen?

5 Jy vra dalk: ‘Hoe kan ek my student oplei om die Bybel gereeld te studeer?’ Jy kan vir hom wys hoe om voor te berei vir die studie wat jy met hom hou. As daar na ’n gedeelte in die aanhangsel van die Wat leer die Bybel werklik?-boek verwys word, kan jy voorstel dat hy dit lees en die tekste naslaan. Help hom om vir die vergaderinge voor te berei met die doel om kommentaar te lewer. Spoor hom aan om elke nommer van Die Wagtoring en Ontwaak! te lees. As die Watchtower Library of Wagtoring—AANLYN BIBLIOTEEK in sy taal beskikbaar is, kan jy vir hom wys hoe om dit te gebruik om antwoorde op Bybelvrae te kry. Met sulke hulp sal jou Bybelstudent waarskynlik sy persoonlike studie van God se Woord kort voor lank geniet.

6. (a) Hoe kan jy jou student help om lief te word vir die Bybel? (b) Hoe sal ’n Bybelstudent waarskynlik voel as hy opreg lief word vir die Bybel?

6 Ons moet natuurlik nie druk op enigiemand uitoefen om die Bybel te lees en te studeer nie. Ons moet eerder die hulpmiddele gebruik wat Jehovah se organisasie voorsien om ons student te help om sy of haar liefde vir die Bybel te vergroot. Mettertyd sal ’n opregte student voel soos die psalmis wat gesing het: “Dit is vir my goed om nader aan God te kom. In die Soewereine Heer Jehovah het ek my toevlug gestel” (Ps. 73:28). Jehovah se gees sal ’n student help wat pligsgetrou is en waardering toon.

LEI NUWELINGE OP OM TE PREEK EN TE ONDERRIG

7. Hoe het Jesus verkondigers van die goeie nuus opgelei? (Sien prent aan begin van artikel.)

7 In Matteus hoofstuk 10 vind ons instruksies wat Jesus aan sy 12 apostels gegee het. Hy het spesifieke punte bespreek. [1] Die apostels het geluister terwyl Jesus hulle geleer het hoe om op ’n doeltreffende wyse te preek. Toe het die groep in die bediening uitgegaan. Omdat hulle bekend was met Jesus se metodes, was hulle kort voor lank bekwame onderrigters van skriftuurlike waarhede (Matt. 11:1). Ons kan ons Bybelstudente oplei om doeltreffende verkondigers van die goeie nuus te word. Kom ons kyk nou na twee maniere waarop ons hulle kan help.

8, 9. (a) Hoe het Jesus mense in sy bediening genader? (b) Hoe kan ons nuwe verkondigers help om soos Jesus gesprekke met mense te voer?

8 Voer gesprekke met mense. Jesus het dikwels met individue oor die Koninkryk gepraat. Hy het byvoorbeeld by Jakob se put naby die stad Sigar ’n lewendige gesprek met ’n vrou gevoer, en dit het vrugte afgewerp (Joh. 4:5-30). Hy het ook met Matteus Levi, ’n belastinggaarder, gepraat. Die Evangelieverslae gee baie min besonderhede van hierdie gesprek, maar Matteus het Jesus se uitnodiging aanvaar om sy volgeling te word. Matteus en ander het tydens ’n fees in Matteus se huis na Jesus se onderrigting geluister.—Matt. 9:9; Luk. 5:27-39.

9 By ’n ander geleentheid het Jesus op ’n vriendelike manier met Natanael gepraat, wat ’n negatiewe beskouing van mense uit Nasaret gehad het. Maar Natanael se denke is verander. Hy het besluit om meer te leer by Jesus, ’n man uit Nasaret (Joh. 1:46-51). Ons het dus goeie rede om nuwe verkondigers op te lei om op ’n vriendelike, ontspanne manier gesprekke met mense te voer. [2] Diegene wat ons op hierdie manier oplei, sal die vreugde ervaar om te sien hoe opregtes van hart gunstig reageer op persoonlike belangstelling en vriendelike woorde.

10-12. (a) Hoe het Jesus belangstelling in die goeie nuus verder ontwikkel? (b) Hoe kan ons nuwe verkondigers help om hulle vaardighede as onderrigters te verbeter?

10 Ontwikkel belangstelling verder. Jesus moes baie uitrig in die kort tydjie wat hy gehad het om sy bediening uit te voer. Hy het nietemin tyd geneem om mense wat in die goeie nuus belanggestel het, verder te leer. By een geleentheid het Jesus byvoorbeeld ’n skare vanuit ’n boot geleer. Kort daarna het hy ’n wonderwerk verrig deur Petrus ’n groot klomp vis te laat vang, en hy het vir hom gesê: “Van nou af sal jy mense lewend vang.” Wat was die gevolg van Jesus se woorde en dade? Petrus en sy medevissermanne het “die bote teruggebring land toe en alles laat staan en [Jesus] gevolg”.—Luk. 5:1-11.

11 Nikodemus, ’n lid van die Sanhedrin, het in Jesus se leringe begin belangstel. Hy wou meer leer, maar was bang oor wat ander sou sê as hy in die openbaar met Jesus praat. Jesus was aanpasbaar en vrygewig met sy tyd; hy het in die nag met Nikodemus gepraat—toe daar nie skares was nie (Joh. 3:1, 2). Watter les kan ons uit hierdie verslae leer? God se Seun het tyd opsygesit om mense se geloof op te bou. Ons moet ook pligsgetrou herbesoeke doen en Bybelstudies met belangstellendes hou.

12 As ons saam met nuwe verkondigers in die bediening werk, kan dit hulle help om hulle vaardighede as onderrigters te verbeter. Ons kan hulle leer dat hulle moet teruggaan na mense wat selfs net ’n bietjie belangstelling getoon het. Ons kan nuwe verkondigers nooi om saam met ons te gaan wanneer ons herbesoeke doen en tuisbybelstudies hou. Hierdie opleiding en aanmoediging sal minder ervare verkondigers beslis aanspoor om belangstelling verder te ontwikkel en om self Bybelstudies te hou. Hulle sal ook leer om nie gou op te gee wanneer hulle mense nie weer tuis vind nie, maar om geduldig te wees en te volhard.—Gal. 5:22; sien die venster “ Volharding is noodsaaklik”.

LEI NUWELINGE OP OM MEDEGELOWIGES TE DIEN

13, 14. (a) Hoe voel jy oor die voorbeeld van persone in die Bybel wat groot opofferings ten behoewe van ander gemaak het? (b) Op watter praktiese maniere kan jy nuwe verkondigers en jonges oplei om liefde vir hulle broers en susters te toon?

13 Bybelverslae beklemtoon die voorreg wat ons het om “broederlike geneentheid” te toon en mekaar te dien. (Lees 1 Petrus 1:22; Lukas 22:24-27.) Die Seun van God het alles, insluitende sy lewe, gegee om ander te dien (Matt. 20:28). Dorkas “was oorvloedig in goeie dade en barmhartigheidsgawes” (Hand. 9:36, 39). Maria, ’n suster in Rome, het hard gewerk ten behoewe van ander in die gemeente (Rom. 16:6). Hoe kan ons nuwelinge help om te besef dat dit belangrik is om hulle broers en susters te help?

Lei nuwelinge op om liefde te betoon aan medegelowiges (Sien paragraaf 13 en 14)

14 Ervare Getuies kan nuwelinge nooi om siekes en bejaardes saam met hulle te besoek. As dit gepas is, kan ouers hulle kinders saamneem wanneer hulle sulke besoeke doen. Ouer manne kan ander vra om hulle te help om seker te maak dat ons dierbare bejaardes gesonde kos het en dat hulle huis in ’n goeie toestand bly. Sodoende leer jonges en nuwelinge om goed te doen aan ander. Wanneer een ouer man in ’n landelike gebied velddiens gedoen het, het hy die Getuies wat daar woon, kortliks besoek om te hoor hoe dit met hulle gaan. ’n Jong broer wat dikwels saam met hom gewerk het, het so geleer dat almal in die gemeente geliefd moet voel.—Rom. 12:10.

15. Waarom is dit belangrik dat ouer manne belangstel in die vooruitgang van broers in die gemeente?

15 Aangesien Jehovah mans as onderrigters in die gemeente gebruik, is dit belangrik dat broers hulle vermoë as sprekers ontwikkel. Kan jy as ’n ouer man luister terwyl ’n bedieningskneg sy toespraak oefen? Met jou hulp sal hy moontlik sy vaardigheid as ’n onderrigter van God se Woord verbeter.—Neh. 8:8. [3]

16, 17. (a) Watter belangstelling het Paulus in Timoteus se vooruitgang getoon? (b) Hoe kan die ouer manne doeltreffende opleiding aan toekomstige herders van die gemeente voorsien?

16 Daar is ’n groot behoefte aan herders in die Christengemeente, en daarom moet broers voortdurend opgelei word om hierdie werk te doen. Paulus het verduidelik hoe opleiding voorsien kan word toe hy vir Timoteus gesê het: “Jy . . . , my kind, verkry deurentyd krag in die onverdiende goedhartigheid wat in verband met Christus Jesus is, en die dinge wat jy by my gehoor het met die ondersteuning van baie getuies, vertrou dit aan getroue mense toe, wat op hulle beurt voldoende bekwaam sal wees om ander te leer” (2 Tim. 2:1, 2). Timoteus het geleer deur sy aan sy met die apostel, ’n ouer man, te dien. Toe het Timoteus Paulus se metodes in sy eie bediening en ander aspekte van heilige diens toegepas.—2 Tim. 3:10-12.

17 Paulus het nie Timoteus se opleiding aan die toeval oorgelaat nie. Hy het die jong man saamgeneem toe hy die broers besoek het (Hand. 16:1-5). Ouer manne kan Paulus se voorbeeld volg deur bekwame bedieningsknegte saam te neem na herdersbesoeke wanneer dit gepas is. Ouer manne gee hierdie broers so die geleentheid om die onderrigting, geloof, geduld en liefde te sien wat van Christenopsieners vereis word. Dit alles help om toekomstige herders van “die kudde van God” op te lei.—1 Pet. 5:2.

DIT IS BELANGRIK OM ANDER OP TE LEI

18. Waarom moet dit vir ons belangrik wees om ander in Jehovah se diens op te lei?

18 Dit is baie belangrik om nuwelinge in die bediening op te lei en om broers op te lei om na die gemeente om te sien. Ons kan tot vandag toe leer uit die voorbeeld wat Jesus en Paulus daarin gestel het om ander op te lei. Jehovah wil hê dat sy hedendaagse knegte bekwaam moet wees om hulle teokratiese toewysings uit te voer. God gee ons die voorreg om diegene met minder ondervinding te help om bekwamer te word. Aangesien toestande in die wêreld agteruitgaan en al hoe meer geleenthede ontstaan om te preek, word hierdie opleiding belangrik sowel as dringend.

19. Waarom kan jy seker wees dat jou ywerige pogings om ander in Jehovah se diens op te lei, suksesvol sal wees?

19 Dit verg natuurlik tyd en inspanning om ander op te lei. Maar Jehovah en sy geliefde Seun sal ons help en ons die nodige wysheid gee om dit te doen. Wanneer ons sien hoe diegene aan wie ons hulp verleen, ‘hard werk en hulle inspan’, sal dit ons groot vreugde verskaf (1 Tim. 4:10). En mag ons self ook aanhou om geestelike vooruitgang te maak in ons heilige diens aan Jehovah.

^ [1] (paragraaf 7) Van die punte wat Jesus bespreek het, was: (1) Verkondig die regte boodskap. (2) Wees tevrede met God se voorsienings. (3) Moenie met huisbewoners stry nie. (4) Vertrou op God wanneer jy met teenstanders te doen het. (5) Moenie voor vrees swig nie.

^ [2] (paragraaf 9) Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool, bl. 62-64, bevat uitstekende wenke oor hoe om gesprekke te voer met mense in die veldbediening.

^ [3] (paragraaf 15) Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool, bl. 52-61, bespreek wat nodig is om ’n doeltreffende openbare spreker te wees.