Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om ’n sukses van ’n Christenhuwelik te maak

Hoe om ’n sukses van ’n Christenhuwelik te maak

“Elkeen van julle moet ook afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself; die vrou . . . moet diep respek vir haar man hê.”—EF. 5:33.

LIEDERE: 87, 3

1. Wat kan diegene verwag wat trou, al is daar gewoonlik vreugde aan die begin van ’n huwelik? (Sien prent aan begin van artikel.)

WANNEER ’n pragtige bruid en haar aantreklike bruidegom mekaar op hulle troudag sien, is daar dikwels nie woorde om hulle vreugde te beskryf nie. Gedurende hulle hofmakery het hulle liefde so sterk geword dat hulle gereed is om te belowe om in die huwelik aan mekaar getrou te bly. Aanpassings is natuurlik nodig wanneer twee mense ’n lewe saam begin en ’n nuwe gesin vorm. Maar God se Woord gee wyse raad aan almal wat besluit om te trou, want die liefdevolle Insteller van die huwelik wil hê dat elke egpaar ’n suksesvolle en gelukkige huwelik moet hê (Spr. 18:22). Maar die Skrif sê duidelik dat onvolmaakte mense wat trou, “verdrukking in hulle vlees [sal] hê” (1 Kor. 7:28). Hoe kan sulke verdrukking tot ’n minimum beperk word? En hoe kan Christene ’n sukses van hulle huwelik maak?

2. Watter soorte liefde moet huweliksmaats betoon?

2 Die Bybel beklemtoon die belangrikheid van liefde. Tere geneentheid (Grieks, fi·liʹa) is nodig in ’n huwelik. Romantiese liefde (eʹros) verskaf genot, en liefde vir die gesin (stor·geʹ) is noodsaaklik as daar kinders is. Dit is egter liefde wat deur beginsel gerig word (a·gaʹpe) wat die sukses van ’n huwelik verseker. Die apostel Paulus het aangaande hierdie liefde geskryf: “Elkeen van julle moet ook afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself; die vrou daarenteen moet diep respek vir haar man hê.”—Ef. 5:33.

DIE VERANTWOORDELIKHEDE VAN HUWELIKSMAATS

3. Hoe sterk moet die liefde in ’n huwelik wees?

3 Paulus het geskryf: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Ef. 5:25). Christene volg Jesus se voorbeeld na deur mekaar lief te hê soos Jesus sy dissipels liefgehad het. (Lees Johannes 13:34, 35; 15:12, 13.) Die liefde wat Christene in die huwelik toon, moet dus so sterk wees dat elke maat bereid sal wees om, indien nodig, vir die ander een te sterf. As ’n ernstige meningsverskil sou ontstaan, sal dit dalk die laaste ding wees wat ’n mens wil doen. Maar a·gaʹpe-liefde “verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles”. Ja, “die liefde faal nooit nie” (1 Kor. 13:7, 8). As godvresende huweliksmaats onthou dat hulle belowe het om mekaar lief te hê en getrou aan mekaar te wees, sal dit hulle help om saam te werk en probleme in ooreenstemming met Jehovah se verhewe beginsels op te los.

4, 5. (a) Wat is ’n man se verantwoordelikheid as gesinshoof? (b) Hoe moet ’n vrou hoofskap beskou? (c) Watter aanpassings moes een egpaar maak?

4 Paulus het die aandag gevestig op die verantwoordelikheid van elke huweliksmaat toe hy geskryf het: “Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans soos aan die Here, want ’n man is die hoof van sy vrou, soos die Christus ook die hoof van die gemeente is” (Ef. 5:22, 23). Hierdie reëling beteken nie dat ’n man beter is as sy vrou nie. Dit help haar in werklikheid om die rol te vervul wat God vir die vrou in gedagte gehad het toe hy gesê het: “Dit is nie goed dat die mens [Adam] alleen bly nie. Ek gaan vir hom ’n helper maak, as ’n komplement van hom” (Gen. 2:18). In navolging van Christus, die “hoof van die gemeente”, moet ’n Christenman sy hoofskap liefdevol uitoefen. As hy dit doen, sal sy vrou veilig voel en is dit vir haar makliker om respekvol, ondersteunend en onderdanig te wees.

5 Cathy [1] erken dat die huwelik vereis dat jy aanpassings moet maak en sê: “As ’n ongetroude suster, was ek onafhanklik en het ek vir myself gesorg. Die huwelik was vir my ’n aanpassing, want ek moes leer om op my man te vertrou. Dit was nie altyd maklik nie, maar as ’n egpaar het ons baie nader aan mekaar gekom omdat ons dinge op Jehovah se manier doen.” Haar man, Fred, sê: “Dit was nooit maklik vir my om besluite te neem nie. In die huwelik moet jy twee mense in ag neem, wat dit nog moeiliker maak. Maar deur Jehovah se leiding in gebed te vra en werklik te luister na my vrou se voorstelle, word dit elke dag makliker. Ek voel dat ons ’n ware span is!”

6. Hoe is liefde “’n volmaakte band van eenheid” wanneer daar probleme in ’n huwelik is?

6 ’n Sterk huwelik bestaan uit twee mense wat mekaar se onvolmaakthede in ag neem. Hulle “hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe”. Ja, albei maats sal foute maak. Maar wanneer dit gebeur, kan hulle uit hierdie foute leer. Hulle kan leer om vergewensgesind te wees en om liefde te betoon, wat “’n volmaakte band van eenheid” is (Kol. 3:13, 14). En “die liefde is lankmoedig en goedhartig. . . . Dit hou nie boek van die kwaad nie” (1 Kor. 13:4, 5). Misverstande moet so gou as moontlik uit die weg geruim word. ’n Christenegpaar moet dus probeer om enige geskil tussen hulle voor die einde van die dag op te los (Ef. 4:26, 27). Dit verg nederigheid en moed om opreg te sê: “Ek is jammer dat ek jou seergemaak het”, maar dit help om probleme op te los en huweliksmaats nader aan mekaar te laat kom.

TEERHEID IS NODIG

7, 8. (a) Watter raad gee die Bybel omtrent geslagsomgang in die huwelik? (b) Waarom moet huweliksmaats mekaar met teerheid behandel?

7 Die Bybel gee betroubare raad wat ’n egpaar kan help om ’n gebalanseerde beskouing van die huweliksplig te hê. (Lees 1 Korintiërs 7:3-5.) Liefdevolle besorgdheid oor ’n huweliksmaat se gevoelens en behoeftes is noodsaaklik. As ’n vrou nie met teerheid behandel word nie, sal sy dit dalk moeilik vind om hierdie aspek van die huwelik te geniet. Mans moet hulle vrouens “ooreenkomstig kennis” behandel (1 Pet. 3:7). Geslagsomgang moet nooit geforseer word of iets wees waarop aangedring word nie, maar moet natuurlik gebeur. Die man kan dikwels vinniger as die vrou reageer, maar dit moet emosioneel die regte tyd vir albei maats wees.

8 Die Bybel gee nie spesifieke reëls oor en plaas nie beperkings op die tipe liefkosings wat gepaard kan gaan met seksuele intimiteit tussen man en vrou nie, maar dit praat wel van liefdesblyke (Hoogl. 1:2; 2:6). Christenhuweliksmaats moet mekaar met teerheid behandel.

9. Waarom is dit onaanvaarbaar om seksuele belangstelling te toon in iemand wat nie jou eie huweliksmaat is nie?

9 ’n Sterk liefde vir God en naaste sal keer dat enigiemand of enigiets met die huweliksband inmeng. Party huwelike is al deur probleme geteister of het selfs verbrokkel weens een van die huweliksmaats se verslawing aan pornografie. Enige versoeking om na pornografie te kyk, moet weerstaan word en enige seksuele belangstelling buite die huwelik moet geheel en al vermy word. Dit is ook nie liefdevol om enigiets te doen wat dit laat lyk of ’n mens flankeer met iemand wat nie jou huweliksmaat is nie, en dit moet ook vermy word. As ons onthou dat God bewus is van al ons gedagtes en dade, sal dit ons begeerte versterk om hom te behaag en lojaal aan ons maat te bly.—Lees Matteus 5:27, 28; Hebreërs 4:13.

WANNEER DAAR PROBLEME IN DIE HUWELIK IS

10, 11. (a) Hoe algemeen is egskeiding? (b) Wat sê die Bybel oor skeiding? (c) Wat sal huweliksmaats help om nie gou te wees om uitmekaar te gaan nie?

10 Ernstige probleme wat in die huwelik voortduur, kan daartoe lei dat een of albei maats ’n skeiding of egskeiding oorweeg. In sommige lande loop meer as die helfte van alle huwelike op egskeiding uit. Hierdie tendens is nie so algemeen in die Christengemeente nie, maar ’n toename in huweliksprobleme onder God se volk is ’n rede tot kommer.

11 Die Bybel gee die volgende instruksies: “’n Vrou [moet] nie van haar man . . . weggaan nie; maar laat sy, as sy tog weggaan, ongetroud bly of haar weer met haar man versoen; en ’n man moet sy vrou nie verlaat nie” (1 Kor. 7:10, 11). Om uitmekaar te gaan, moet nie ligtelik opgeneem word nie. Al lyk dit of ’n skeiding die antwoord is wanneer ernstige probleme ontstaan, veroorsaak dit dikwels meer probleme. Nadat Jesus herhaal het wat God gesê het oor ’n man wat sy vader en sy moeder sal verlaat en sy vrou sal aankleef, het hy gesê: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matt. 19:3-6; Gen. 2:24). Dit beteken dat die man of die vrou ook nie moet ‘skei wat God saamgevoeg het nie’. Jehovah beskou die huwelik as ’n lewenslange verbintenis (1 Kor. 7:39). As huweliksmaats in gedagte hou dat elkeen van ons aan God rekenskap sal gee, sal dit hulle beweeg om hulle ywerig in te span om probleme gou op te los voordat dit ernstige probleme word.

12. Wat kan daartoe lei dat ’n huweliksmaat ’n skeiding oorweeg?

12 Onrealistiese verwagtinge is dikwels die oorsaak van huweliksprobleme. Wanneer drome van ’n gelukkige huwelik nie bewaarheid word nie, kan ’n persoon ontevrede, gekul of selfs verbitterd voel. Die manier waarop mense grootgemaak is en hulle emosionele samestelling verskil dikwels, en dit kan probleme veroorsaak. Geskille kan ook ontstaan oor geld, skoonouers en hoe om kinders groot te maak. Maar dit is prysenswaardig dat die oorgrote meerderheid Christenegpare oplossings vir al hierdie probleme vind omdat hulle toelaat dat God hulle lei.

13. Wat is geldige redes vir ’n skeiding?

13 Soms is daar miskien ’n geldige rede vir skeiding. Sommige het besluit om te skei weens uitsonderlike situasies, soos opsetlike versuim om die gesin te onderhou, uitermatige fisiese mishandeling en die algehele ingevaarstelling van sy of haar geestelikheid. Christenegpare wat ernstige probleme het, moet die ouer manne om hulp vra. Hierdie ervare broers kan egpare help om die raad in God se Woord toe te pas. Om huweliksprobleme op te los, moet ons ook bid vir Jehovah se gees en vir sy hulp om Bybelbeginsels toe te pas en die vrug van sy gees te openbaar.—Gal. 5:22, 23. [2]

14. Wat sê die Bybel vir Christene wat getroud is met iemand wat nie ’n aanbidder van Jehovah is nie?

14 In sommige gevalle is ’n Christen getroud met iemand wat nog nie ’n kneg van Jehovah is nie. Die Bybel gee goeie redes waarom hulle onder sulke omstandighede bymekaar moet bly. (Lees 1 Korintiërs 7:12-14.) Of die ongelowige maat dit besef of nie, hy of sy is “geheilig” weens die gelowige huweliksmaat. Enige kinders wat vir hulle gebore word, word as “heilig” beskou en geniet dus God se beskerming. Paulus redeneer: “Hoe weet jy, vrou, of jy nie dalk jou man sal red nie? Of hoe weet jy, man, of jy nie dalk jou vrou sal red nie?” (1 Kor. 7:16). Daar is in byna elke gemeente van Jehovah se Getuies egpare waar die Christen gehelp het om sy of haar maat te “red”.

15, 16. (a) Watter raad gee die Bybel Christenvrouens wie se mans nie knegte van God is nie? (b) Wat moet ’n Christen doen ‘as die ongelowige wil weggaan’?

15 Die apostel Petrus vermaan Christenvrouens om onderdanig aan hulle mans te wees, “sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek”. As ’n vrou ’n “stille en sagmoedige gees [openbaar], wat in die oë van God van groot waarde is”, sal sy ’n groter kans hê om haar man te help om ware aanbidding te aanvaar as wanneer sy heeltyd oor haar Christelike oortuigings praat.—1 Pet. 3:1-4.

16 Maar sê nou ’n ongelowige huweliksmaat wil skei? Die Bybel sê: “As die ongelowige [wil] weggaan, laat hom weggaan; onder sulke omstandighede is ’n broer of ’n suster nie gebonde nie, maar God het julle tot vrede geroep” (1 Kor. 7:15). Dit beteken nie dat die Christen skriftuurlik vry is om weer te trou nie, maar dit is nie nodig om die ongelowige maat te probeer dwing om te bly nie. Skeiding kan ’n mate van vrede bring. Soms besluit die ongelowige huweliksmaat om terug te keer en om daaraan te werk om die huwelik te red. En in die toekoms kan die ongelowige huweliksmaat dalk selfs ’n medegelowige word.

DIE HUWELIK EN ONS VERNAAMSTE PRIORITEIT

As ons geestelike dinge eerste stel, kan dit ons help om ’n gelukkiger huwelik te hê (Sien paragraaf 17)

17. Wat moet Christenegpare eerste in hulle lewe stel?

17 Omdat ons diep in “die laaste dae” lewe, ondervind ons “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Tim. 3:1-5). Maar as ons geestelik sterk bly, kan ons hierdie wêreld se negatiewe invloed weerstaan. “Die oorblywende tyd is kort”, het Paulus geskryf. “Laat dié wat vrouens het, van nou af wees asof hulle nie het nie, . . . en dié wat van die wêreld gebruik maak, soos dié wat dit nie ten volle gebruik nie” (1 Kor. 7:29-31). Paulus het nie gesê dat huweliksmaats mekaar moet afskeep nie. Maar omdat die tyd kort is, moet hulle geestelike sake eerste stel.—Matt. 6:33.

18. Hoe kan Christene ’n gelukkige en suksesvolle huwelik hê?

18 Al lewe ons in moeilike tye waarin baie huwelike verbrokkel, kan ons ’n gelukkige en suksesvolle huwelik hê. Ja, Christenegpare wat na aan Jehovah se volk bly, skriftuurlike raad toepas en die leiding van Jehovah se heilige gees aanvaar, kan ’n sukses maak van hulle huwelik, van “wat God . . . onder een juk saamgevoeg het”.—Mark. 10:9.

^ [1] (paragraaf 5) Name is verander.

^ [2] (paragraaf 13) Sien “Die Bybel se beskouing van egskeiding en skeiding” in die aanhangsel van die boek “Hou julle in God se liefde”.