Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Waarom het Jesus se vyande ’n geskil gemaak oor hoe mense hulle hande was?

Dit was net een van die baie dinge waaroor Jesus se vyande hom en sy dissipels gekritiseer het. Die Mosaïese Wet het verduidelik wat mense onrein sal maak, byvoorbeeld liggaamlike afskeidings, melaatsheid en die aanraking van ’n dooie mens of dier. Dit het ook instruksies bevat oor hoe iemand weer rein kon word. Dit kon gedoen word deur ’n offerande te bring, deur te was of deur besprinkeling.—Lev., hfst. 11-15; Num., hfst. 19.

Die Joodse rabbi’s het hulle eie reëls by elkeen van hierdie wette gevoeg. Een bron sê dat die rabbi’s alles wat ’n mens onrein kon maak, noukeurig ondersoek het om vas te stel “onder watter omstandighede iemand onrein kon word, hoe en tot watter mate hy ander onrein kon laat word, watter houers en voorwerpe onrein kon word of nie en, laastens, watter . . . rituele ’n persoon weer rein kon maak”.

Jesus se teenstanders het hom gevra: “Waarom wandel jou dissipels nie volgens die oorlewering van die manne van vroeër tye nie, maar eet hulle met verontreinigde hande?” (Mark. 7:5). Hierdie godsdiensvyande het nie verwys na goeie higiëne nie. Die rabbi’s het ’n ritueel ingestel wat vereis het dat water oor ’n persoon se hande uitgegiet moet word voordat hy eet. Die bogenoemde bron voeg by dat die rabbi’s ook verskil het oor “watter soort houers die water kan bevat, watter soort water geskik is, wie dit moet uitgiet en tot waar die water oor die hande gegiet moet word”.

Hoe het Jesus op al hierdie mensgemaakte wette gereageer? Hy het vir die eerste-eeuse Joodse godsdiensleiers gesê: “Jesaja het gepas oor julle, huigelaars, geprofeteer, soos daar geskrywe staan: ‘Hierdie volk eer my met hulle lippe, maar hulle hart is ver van my [Jehovah] verwyderd. Tevergeefs bly hulle my aanbid, want hulle leer gebooie van mense as leerstellings.’ Julle laat vaar die gebod van God en hou vas aan die oorlewering van mense.”—Mark. 7:6-8.