Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Hoe ek geluk gevind het deur te gee

Hoe ek geluk gevind het deur te gee

TOE ek 12 jaar oud was, het ek vir die eerste keer besef dat ek iets waardevols het om aan ander te gee. ’n Broer het my by ’n byeenkoms gevra of ek saam met hom wil gaan preek. Ek het ja gesê, al het ek nog nooit gepreek nie. Ons het na die gebied toe gegaan, en hy het my ’n paar boekies oor God se Koninkryk gegee. “Besoek jy die mense aan daardie kant van die straat”, het hy gesê, “en ek sal hierdie kant vat.” Ek was senuweeagtig, maar ek het van huis tot huis begin gaan, en tot my verbasing het ek in ’n kort tydjie al die boekies versprei. Dit was duidelik dat baie mense wou hê wat ek gehad het om te gee.

Ek is in 1923 in Chatham, Kent, Engeland, gebore en ek het grootgeword in ’n wêreld vol teleurgestelde mense. Die Groot Oorlog het nie voldoen aan mense se verwagtinge dat dit die wêreld ’n beter plek sal maak nie. My ouers is ook teleurgestel deur Baptistepredikante wat blykbaar net belanggestel het in hulle eie vooruitgang. Toe ek omtrent nege jaar oud was, het my ma na die saal van die Internasionale Bybelstudente-vereniging begin gaan, waar Jehovah se Getuies hulle “klasse” of vergaderinge gehou het. Een van die susters daar het vir die kinders Bybellesse gegee wat op die Bybel en die boek Die harp van God gebaseer was. Ek het gehou van wat ek geleer het.

EK LEER BY OUER BROERS

As ’n tiener het ek dit geniet om vir mense hoop uit God se Woord te gee. Alhoewel ek dikwels alleen van huis tot huis gewerk het, het ek baie geleer deur saam met ander te preek. Byvoorbeeld, toe ek en ’n ouer broer eendag met ons fietse op pad was na die gebied, het ons by ’n godsdiensleier verby gery, en ek het gesê: “Daar loop ’n bok.” Die broer het gestop en my gevra om saam met hom op ’n stomp te gaan sit. Hy het gesê: “Wie het jou die gesag gegee om te oordeel wie ’n bok is? Kom ons wees net tevrede om die goeie nuus vir mense te gee en laat dit aan Jehovah oor om te oordeel.” Ek het in daardie dae baie geleer oor die vreugde wat dit meebring om te gee.—Matt. 25:31-33; Hand. 20:35.

’n Ander ouer broer het my geleer dat ons soms geduldig moet volhard as ons geluk daarin wil vind om te gee. Sy vrou het nie van Jehovah se Getuies gehou nie. Hy het my eenkeer na sy huis genooi vir verversings. Sy was so kwaad omdat hy in velddiens uitgegaan het dat sy ons met pakkies tee begin gooi het. Eerder as om met haar te raas, het hy opgeruimd gebly en die tee weer weggesit. Jare later is sy geduld beloon toe sy vrou as een van Jehovah se Getuies gedoop is.

My begeerte om ander ’n hoop vir die toekoms te gee, het al hoe groter geword, en ek en my ma is in Maart 1940 in Dover gedoop. Brittanje het in September 1939, toe ek 16 was, oorlog teen Duitsland verklaar. In Junie 1940 het ek van ons stoep af gesien hoe vragmotors met duisende getraumatiseerde soldate by ons huis verby ry. Hulle was oorlewendes van die Slag van Duinkerken. Ek kon geen teken van hoop in hulle oë sien nie, en ek wou hulle bitter graag van God se Koninkryk vertel. Later daardie jaar het die gereelde lugaanvalle op Brittanje begin. Elke nag het ek gekyk hoe eskaders Duitse bomwerpers oor ons vlieg. ’n Mens kon hoor hoe die bomme fluit en dan ontplof, en dit was skrikwekkend. Wanneer ons die volgende oggend buitentoe gegaan het, het ons gesien dat al die huise in sekere gebiede vernietig is. Ek het al hoe meer besef dat die Koninkryk my enigste hoop vir die toekoms is.

OM TE GEE WORD ’N LEWENSWYSE

In 1941 het ek die lewe begin lei wat my baie gelukkig gemaak het. Ek het in die koninklike skeepswerf in Chatham as ’n leerling-skeepsboumeester gewerk, ’n gesogte posisie met uitstekende voordele. Jehovah se knegte het lank reeds geweet dat Christene nie vir een nasie teen ’n ander nasie moet veg nie. Teen 1941 het ons begin besef dat ons nie in die wapenbedryf moet werk nie (Joh. 18:36). Aangesien die skeepswerf duikbote gebou het, het ek besluit om my werk te los en die voltydse diens te betree. My eerste toewysing was in Cirencester, ’n pragtige dorpie in die Cotswold-heuwels.

Toe ek 18 geword het, is ek vir nege maande tronk toe gestuur omdat ek geweier het om militêre diensplig te doen. Dit was ’n aaklige gevoel toe my seldeur die eerste keer toeslaan en ek alleen was. Kort daarna het die wagte en gevangenes begin vra waarom ek daar is, en ek het met graagte vir hulle van my geloof vertel.

Ná my vrylating is ek gevra om saam met Leonard Smith * te gaan preek in verskeie dorpies in die graafskap Kent, waar ons voorheen gewoon het. Gedurende 1944 het oor ’n duisend onbemande straalvliegtuie vol plofstof op Kent geval. Vliegtuie vanaf die Nazi-besette Europa moes oor Kent vlieg om by Londen uit te kom. Daardie vlieënde bomme is doodlebugs genoem. Dit was skrikwekkend, want as jy gehoor het hoe die enjins uitsny, en ons het dit dikwels gehoor, het jy geweet dat die vliegtuig sekondes later sou val en ontplof. Ons het ’n Bybelstudie met ’n gesin van vyf gehou. Ons moes soms onder ’n ystertafel sit wat ontwerp is om hulle te beskerm as die huis inmekaar sou val. Hierdie hele gesin is uiteindelik gedoop.

EK VERKONDIG DIE GOEIE NUUS IN DIE BUITELAND

Ons adverteer ’n byeenkoms in Ierland in my vroeë dae as ’n pionier

Ná die oorlog het ek twee jaar lank in Suid-Ierland gepionier. Ons het nie besef dat daar so ’n groot verskil tussen Ierland en Engeland is nie. Ons het van deur tot deur gegaan om verblyf te soek en gesê dat ons sendelinge is. Ons het ook ons tydskrifte op die straat aangebied. Wat ’n “dom” ding om in so ’n Katolieke land te doen! Toe ’n man gedreig het om ons aan te rand, het ek dit by ’n polisieman aangemeld, wat gesê het: “Wel, wat verwag jy?” Ons het nie besef hoeveel mag die priesters het nie. Hulle het gesorg dat mense hulle werk verloor as hulle ons boeke aanvaar, en hulle het ons uit ons blyplek laat sit.

Ons het gou geleer dat ons, wanneer ons in ’n nuwe gebied aankom, ver van ons blyplek af moet begin preek waar die mense ’n ander priester het. Ons het laaste vir die mense naby ons blyplek gepreek. In Kilkenny het ons drie keer per week met ’n jong man gestudeer ten spyte daarvan dat ons gedreig is deur gewelddadige skares. Ek het dit so geniet om Bybelwaarhede aan ander te leer dat ek besluit het om aansoek te doen vir sendingopleiding by die Wagtoring-Bybelskool Gilead.

Die seilboot Sibia het van 1948 tot 1953 as ons sendinghuis gedien

Ná die kursus van vyf maande in New York, is vier van ons wat aan Gilead gegradueer het, na die kleiner eilande van die Karibiese See gestuur. In November 1948 het ons die stad New York verlaat aan boord van ’n 18 meter lange seilboot met die naam Sibia. Ek was opgewonde omdat ek nog nooit geseil het nie. Een van ons, Gust Maki, was ’n ervare skeepskaptein. Hy het ons ’n paar basiese vaardighede geleer soos hoe om die verskillende seile te span en te laat sak, hoe om koers te hou met ’n kompas en hoe om teen die wind te seil. Gust het ons boot 30 dae lank met groot vaardigheid deur gevaarlike storms tot by die Bahamas gestuur.

“VERTEL DIT OP DIE EILANDE”

Nadat ons ’n paar maande lank op die kleiner eilande van die Bahamas gepreek het, het ons na die Benedewindse Eilande en die Bowindse Eilande gevaar, wat versprei is oor sowat 800 kilometer vanaf die Maagde-eilande naby Puerto Rico tot byna by Trinidad. Ons het vyf jaar lank hoofsaaklik op afgesonderde eilande gepreek waar daar geen Getuies was nie. Soms kon ons weke lank nie pos ontvang of stuur nie. Maar dit het ons baie gelukkig gemaak om Jehovah se Woord op die eilande te verkondig!—Jer. 31:10.

Die sendelinge aan boord van die Sibia (van links na regs): Ron Parkin, Dick Ryde, Gust Maki en Stanley Carter

Wanneer ons in ’n baai anker gegooi het, het ons aankoms groot opgewondenheid veroorsaak, en die mense het op die kaai saamgedrom om te sien wie ons is. Party het nog nooit ’n seilboot of ’n wit man gesien nie. Die eilandbewoners was vriendelike godsdienstige mense wat die Bybel goed geken het. Hulle het dikwels vir ons vars vis, avokado’s en grondboontjies gegee. Ons boot het nie baie plek gehad vir slaap, kook of klere was nie, maar ons het reggekom.

Ons het aan wal gegaan en die hele dag mense besoek. Ons het gewoonlik vir hulle gesê dat daar ’n Bybeltoespraak sal wees. Ons het dan teen skemer die boot se klok gelui. Dit was wonderlik om te sien hoe die inwoners aangeloop kom. Hulle olielampe was soos flikkerende sterre wat teen die heuwels afkom. Soms het honderd mense gekom en tot laat in die aand gebly en vrae gevra. Hulle het daarvan gehou om te sing, en daarom het ons die woorde van sommige Koninkryksliedere uitgetik en onder hulle versprei. Terwyl ons vier ons bes gedoen het om die wysie te sing, het die mense by ons aangesluit en pragtig saamgesing. Dit was gelukkige tye!

Sommige van ons studente het, nadat ons met hulle gestudeer het, saam met ons geloop na die volgende gesin wat ons sou besoek om ook by hulle studie aan te sluit. Alhoewel ons ná ’n paar weke moes vertrek, het ons dikwels die mense wat die meeste belangstelling getoon het, gevra om aan te hou om met die ander te studeer totdat ons terugkom. Dit was wonderlik om te sien hoe getrou party van hulle hulle toewysing uitgevoer het.

Vandag is die meeste van hierdie eilande besige toeristeoorde, maar in daardie dae was dit afgesonderde plekke met turkoois strandmere, sandstrande en palmbome. Ons het gewoonlik in die nag van eiland tot eiland geseil. Dolfyne het spelerig langs ons boot geswem, en al wat jy kon hoor, was hoe die boot deur die water sny. Die maan wat op die kalm see geskyn het, het gelyk soos ’n glansende hoofweg wat tot op die horison strek.

Nadat ons vyf jaar lank op die eilande gepreek het, het ons na Puerto Rico geseil om ons seilboot te verruil vir ’n boot met enjins. Toe ons daar aankom, het ek Maxine Boyd ontmoet, ’n pragtige sendelingsuster op wie ek verlief geraak het. Sy was sedert haar kinderdae ’n ywerige verkondiger van die goeie nuus. Sy het later as ’n sendeling in die Dominikaanse Republiek gedien totdat sy in 1950 deur die Katolieke regering uit daardie land gesit is. As ’n bemanningslid van ’n boot het ek ’n permit gehad om net een maand in Puerto Rico te bly. Ek sou kort daarna na die eilande seil en ’n paar jaar weg wees. Daarom het ek vir myself gesê: ‘Ronald, as jy hierdie meisie wil hê, moet jy vinnig spring.’ Drie weke later het ek haar gevra om met my te trou, en ná ses weke is ons getroud. Ek en Maxine is as sendelinge na Puerto Rico gestuur, en daarom was ek nie deel van die span op die nuwe boot nie.

In 1956 het ons gemeentes in die kringwerk begin besoek. Baie van die broers was arm, maar ons het dit geniet om hulle te besoek. Daar was byvoorbeeld in die dorpie Potala Pastillo twee Getuiegesinne met baie kinders, en ek het vir hulle fluit gespeel. Ek het een van die dogtertjies, Hilda, gevra of sy saam met ons wil gaan preek. Sy het gesê: “Ek wil, maar ek kan nie. Ek het nie skoene nie.” Ons het vir haar skoene gekoop, en sy het saam met ons gaan preek. Jare later, in 1972, toe ek en Maxine die Brooklynse Bethel besoek het, het ’n suster wat pas tevore haar Gileadopleiding voltooi het, ons genader. Sy was op pad na haar toewysing in Ecuador, en sy het gesê: “Julle herken my nie, nè? Ek is die dogtertjie van Pastillo wat nie skoene gehad het nie.” Dit was Hilda! Ons het van vreugde begin huil!

In 1960 is ons gevra om by die takkantoor in Puerto Rico te gaan dien, wat in ’n dubbelverdiepinghuis in Santurce, San Juan, was. Aan die begin het ek en Lennart Johnson die meeste van die werk gedoen. Hy en sy vrou was die eerste Getuies van Jehovah in die Dominikaanse Republiek, en hulle het in 1957 in Puerto Rico aangekom. Maxine het later omgesien na die tydskrifintekeninge—meer as duisend per week. Sy het dit geniet om hierdie werk te doen, want sy het gedink aan al daardie mense wat geestelike voedsel ontvang.

Ek geniet Betheldiens omdat dit behels dat jy gee. Maar dit is nie sonder uitdagings nie. Byvoorbeeld, gedurende Puerto Rico se eerste internasionale byeenkoms in 1967 het die verantwoordelikheid my oorweldig laat voel. Nathan Knorr, wat destyds die leiding onder Jehovah se Getuies geneem het, het na Puerto Rico toe gekom. Hy het verkeerdelik aangeneem dat ek nie vervoer vir die besoekende sendelinge gereël het nie, alhoewel ek dit gedoen het. Hy het my later streng raad gegee oor die belangrikheid daarvan om georganiseerd te wees en gesê dat hy teleurgesteld in my is. Ek wou nie met hom stry nie, maar ek het gevoel dat hy my verkeerd beoordeel het en ek was ’n ruk lank ontsteld. Maar die volgende keer toe ek en Maxine broer Knorr gesien het, het hy ons na sy kamer toe genooi en vir ons ’n ete gekook.

Toe ons in Puerto Rico was, het ons my familie in Engeland verskeie kere gaan besoek. My pa het nie die waarheid aangeneem toe ek en my ma dit aangeneem het nie. Maar wanneer Bethelsprekers besoek afgelê het, het my ma hulle genooi om by ons te kom bly. My pa het gesien hoe nederig hierdie Bethelopsieners is in vergelyking met die predikante in wie hy jare tevore ’n afkeer gekry het. In 1962 is hy uiteindelik as een van Jehovah se Getuies gedoop.

Saam met Maxine in Puerto Rico kort ná ons troue en op ons 50ste huweliksherdenking in 2003

My dierbare vrou, Maxine, is in 2011 oorlede. Ek sien baie daarna uit om haar weer in die opstanding te sien. Wat ’n wonderlike gedagte! Gedurende die 58 jaar wat ek en Maxine saam was, het ons gesien hoe Jehovah se volk in Puerto Rico van ongeveer 650 Getuies tot 26 000 toeneem! Toe die takkantoor in Puerto Rico in 2013 met die takkantoor in die Verenigde State saamgesmelt het, is ek gevra om by Wallkill, New York, te dien. Ná 60 jaar op die eiland het ek gevoel dat ek so deel is van Puerto Rico soos die coquí, die Puerto Ricaanse boompaddatjie wat rondom skemer ko-kee, ko-kee sing. Maar dit was tyd om te trek.

“GOD HET ’N BLYMOEDIGE GEWER LIEF”

Ek geniet dit nog steeds om God by Bethel te dien. Ek is nou meer as 90 jaar oud, en my werk is om lede van die Bethelgesin as ’n geestelike herder aan te moedig. Hulle sê vir my dat ek al meer as 600 Betheliete besoek het sedert ek na Wallkill gekom het. Party kom na my toe om persoonlike of familieprobleme te bespreek. Ander vra raad oor hoe om ’n sukses van hulle Betheldiens te maak. En party pasgetroudes vra raad oor die huwelik. Sommige het toewysings in die veld ontvang. Ek luister na hulle almal, en wanneer dit gepas is, sê ek vir hulle: “‘God het ’n blymoedige gewer lief.’ Wees dus gelukkig in jou werk. Dit is vir Jehovah.”—2 Kor. 9:7.

Die uitdaging om gelukkig by Bethel te wees, is dieselfde as by enige ander plek: Jy moet fokus op waarom wat jy doen, belangrik is. Alles wat ons by Bethel doen, is heilige diens. Dit help “die getroue en verstandige slaaf” om geestelike voedsel aan die wêreldwye broederskap te voorsien (Matt. 24:45). Waar ons Jehovah ook al dien, ons het geleenthede om hom te loof. Laat ons geniet om te doen wat hy ons vra, want “God het ’n blymoedige gewer lief”.

^ par. 13 Leonard Smith se lewensverhaal het in Die Wagtoring van 15 April 2012 verskyn.