Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Soek na iets wat baie beter is as goud

Soek na iets wat baie beter is as goud

Het jy al ooit ’n goudklont opgetel? Min mense het al. Maar miljoene mense het iets baie beters ontdek. Dit is goddelike wysheid, en “suiwer goud kan nie in ruil daarvoor gegee word nie”.—Job 28:12, 15.

IN PARTY opsigte is opregte Bybelstudente soos prospekteerders wat na goud soek. Hierdie studente moet hard werk en voortdurend in die Skrif soek na kosbare wysheid. Ons kan gerus kyk na drie maniere waarop goud gevind word om te sien wat ons daaruit kan leer.

JY VIND ’N GOUDKLONTJIE!

Stel jou voor dat jy langs ’n rivieroewer loop en ’n klein klippie sien wat in die sonlig glinster. Jy buk af en is baie bly wanneer jy besef dat jy ’n goudklontjie gevind het. Dit is kleiner as ’n vuurhoutjiekop en skaarser as ’n diamant van hoë gehalte. Jy kyk natuurlik rond om te sien of daar nog goudklontjies is.

As een van Jehovah se knegte ’n tyd gelede aan jou deur geklop het om die Bybel se boodskap van hoop met jou te bespreek, was dit sekerlik vir jou ’n onvergeetlike dag. Jy onthou dalk nog goed toe jy jou eerste geestelike goudklontjie gevind het. Miskien was dit toe jy God se naam, Jehovah, vir die eerste keer in die Bybel gesien het (Ps. 83:18). Of dalk toe jy geleer het dat jy Jehovah se vriend kan word (Jak. 2:23). Jy het onmiddellik geweet dat jy iets beters as goud gevind het! En jy was moontlik gretig om nog geestelike goudklontjies te vind.

JY VIND NOG!

Klein stukkies goud versamel soms in spruite en riviere. Dit word spoelgoud genoem. In net een seisoen kan hardwerkende prospekteerders ’n paar kilogram goud, wat duisende rande werd is, in hierdie neerslae vind.

Toe jy die Bybel saam met een van Jehovah se Getuies begin studeer het, het jy miskien soos ’n prospekteerder gevoel wat ’n ryk goudneerslag gevind het. Jy het oor die een Bybelvers ná die ander gepeins, wat jou kennis laat toeneem het en jou geestelik verryk het. Toe jy hierdie kosbare Bybelwaarhede ingeneem het, het jy geleer hoe jy nader aan Jehovah kan kom en jou in sy liefde kan hou met die ewige lewe in die vooruitsig.—Jak. 4:8; Jud. 20, 21.

Span jy jou in om kosbare Bybelwaarhede te leer, net soos ’n prospekteerder hard werk om goud te vind?

Net soos ’n prospekteerder na ’n ryk neerslag spoelgoud soek, het jy dalk met groot ywer na kosbare geestelike skatte gesoek. Nadat jy die grondwaarhede van die Bybel geleer het, wou jy waarskynlik vorder tot toewyding en doop.—Matt. 28:19, 20.

HOU AAN SOEK!

’n Prospekteerder vind dalk klein hoeveelhede goud in rotse. Dele van hierdie rotse bevat dalk genoeg goud om die erts te myn en dan te vergruis om die goud daaruit te haal. ’n Mens sien dalk nie met die eerste oogopslag die goud in die erts nie. Waarom nie? Omdat erts van hoë gehalte moontlik net sowat 0,3 ons troois (10 g) goud vir elke ton rots bevat! Dit is nietemin vir die prospekteerder die moeite werd om dit te myn.

Net so is verdere inspanning nodig nadat ’n mens “die grondleer oor die Christus” geleer het (Heb. 6:1, 2). Jy moet hard werk om nuwe punte en praktiese lesse uit jou Bybelstudie te kry. Wat kan jy dus doen om seker te maak dat jou persoonlike Bybelstudie lonend bly, al studeer jy die Skrif dalk al jare lank?

Bly gretig om te leer. Skenk aandag aan besonderhede. As jy jou voortdurend inspan, sal jy kosbare skriftuurlike skatte in die vorm van goddelike wysheid en leiding vind (Rom. 11:33). Om jou kennis van die Skrif te verbeter, moet jy goed gebruik maak van die navorsingshulpe wat in jou taal beskikbaar is. Soek geduldig na die leiding wat jy nodig het en na antwoorde op jou Bybelvrae. Vra ander watter tekste en artikels hulle veral nuttig en aanmoedigend gevind het. Vertel ander van die interessante punte wat jy ontdek het tydens jou studie van God se Woord.

Jou doelwit moet natuurlik nie wees om bloot feitekennis op te doen nie. Die apostel Paulus het gewaarsku: “Kennis maak opgeblase” (1 Kor. 8:1). Daarom moet jy hard werk om nederig te bly en jou geloof sterk te hou. Gereelde gesinsaanbidding en persoonlike Bybelstudie sal jou help om in ooreenstemming met Jehovah se standaarde te lewe en sal jou beweeg om ander te help. Jy sal bowenal vreugdevol wees omdat jy iets baie beters as goud gevind het.—Spr. 3:13, 14.