Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Besef jy hoe belangrik dit is om geestelike vooruitgang te maak?

Besef jy hoe belangrik dit is om geestelike vooruitgang te maak?

“Jy [moet] voortgaan om jou toe te lê op openbare voorlesing, op vermaning, op onderrigting.”—1 TIM. 4:13.

LIEDERE: 45, 70

1, 2. (a) Hoe word Jesaja 60:22 in hierdie tyd van die einde vervul? (b) Watter behoeftes is daar nou in die aardse deel van Jehovah se organisasie?

“DIE kleine sal ’n duisend word, en die geringe ’n magtige nasie” (Jes. 60:22). Hierdie profetiese woorde word in hierdie laaste dae vervul. Dink net, gedurende die 2015-diensjaar het 8 220 105 Koninkryksverkondigers die goeie nuus regoor die wêreld verkondig! Die laaste gedeelte van hierdie profesie raak elke Christen, want ons hemelse Vader sê: “Ek, Jehovah, sal dit op die regte tyd bespoedig.” Ons besef dat die dissipelmaakwerk teen ’n versnelde pas gedoen word. Hoe reageer ons op die dringendheid waarmee die werk gedoen word? Doen ons ons bes as ywerige Koninkryksverkondigers? Baie broers en susters doen aansoek om as gewone of hulppioniers te dien. En is ons nie bly om te sien dat soveel gaan dien waar daar hulp nodig is of deelneem aan ander teokratiese bedrywighede nie?

2 Terselfdertyd besef ons dat al hoe meer werkers nodig is. Sowat 2 000 gemeentes word elke jaar gevorm. As 5 ouer manne in elke nuwe gemeente sou dien, moet 10 000 bedieningsknegte elke jaar as opsieners kwalifiseer. Dit beteken dat duisende broers aan die vereistes sal moet voldoen om as bedieningsknegte te dien. Ons almal, broers sowel as susters, het beslis “baie . . . om in die werk van die Here te doen”.—1 Kor. 15:58.

WAT DIT BETEKEN OM GEESTELIKE VOORUITGANG TE MAAK

3, 4. Wat beteken geestelike vooruitgang vir jou?

3 Lees 1 Timoteus 3:1. Die Griekse werkwoord wat hier met ‘streef na’ vertaal is, beteken om jou uit te strek om iets vas te gryp, dalk iets wat jy andersins nie sou bykom nie. Die apostel Paulus het hierdie woord gebruik om te beklemtoon dat geestelike vooruitgang inspanning verg. Gestel ’n broer wil graag in die gemeente dien. Hy besef dat hy geestelike eienskappe in groter mate moet aankweek. Hy streef eers daarna om as ’n bedieningskneg te kwalifiseer. Dan streef hy daarna om as ’n opsiener te dien. In albei gevalle werk hy hard om aan die vereistes te voldoen om na groter verantwoordelikhede in die gemeente om te sien.

4 Net so moet broers en susters wat graag as pioniers, Betheliete of Koninkryksaalbouvrywilligers wil dien, hulle inspan om hulle doelwitte te bereik. Kom ons bespreek nou hoe God se Woord ons almal aanspoor om vooruitgang in die waarheid te maak.

STREEF DAARNA OM GROTER GEESTELIKE VOORUITGANG TE MAAK

5. Hoe kan jongmense hulle krag in Koninkryksdiens gebruik?

5 Jongmense het die krag om baie in Jehovah se diens te verrig. (Lees Spreuke 20:29.) Sommige jongmense in Betheldiens help om Bybels en Bybellektuur te druk en te bind. Talle jong broers en susters neem deel aan die werk om Koninkryksale te bou en in stand te hou. Wanneer ’n natuurramp plaasvind, werk jongmense saam met meer ervare Getuies om noodlenigingswerk te doen. En talle jong pioniers verkondig die goeie nuus aan afgesonderde plaaslike gemeenskappe en aan anderstalige gemeenskappe.

6-8. (a) Hoe het ’n jong man sy beskouing van God se diens verander, en met watter resultate? (b) Hoe kan ons “smaak en sien dat Jehovah goed is”?

6 Jy besef heel moontlik hoe belangrik dit is om God heelhartig te dien. Maar sê nou jy het dieselfde gevoelens as wat ’n broer met die naam Aaron gehad het? Al het hy in ’n Christengesin grootgeword, het hy erken: “Die vergaderinge en velddiens was vir my vervelig.” Hy wou God vreugdevol dien, maar hy het gewonder waarom hy nie gelukkig is nie. Wat het hy gedoen?

7 Aaron het hom ywerig daarop toegelê om die Bybel te lees, vir vergaderinge voor te berei en te antwoord. Hy het veral daarop gelet om gereeld te bid. Toe sy liefde vir Jehovah toegeneem het, het hy goeie geestelike vooruitgang begin maak. Sedertdien het Aaron pionierdiens gedoen, saam met ander noodlenigingswerk gedoen en in ’n ander land gaan preek. Aaron dien nou by Bethel en is ’n ouer man. Hoe voel hy oor die lewe wat hy gekies het? “Ek kon ‘smaak en sien dat Jehovah goed is’. Hy het my geseën, en ek voel dat ek baie aan hom verskuldig is en meer in sy diens wil doen, en dit lei tot meer seëninge.”

8 Die psalmis het gesing: “Wat dié betref wat Jehovah soek, dit sal hulle aan niks goeds ontbreek nie.” (Lees Psalm 34:8-10.) Ja, Jehovah stel diegene wat hom ywerig dien, nooit teleur nie. Omdat ons ons bes in Jehovah se diens doen, kan ons persoonlik “smaak en sien dat Jehovah goed is”. En as ons God heelhartig aanbid, sal ons waarlik gelukkig wees.

VOLHARD EN MOENIE MOEG WORD NIE

9, 10. Waarom is dit belangrik om “’n wagtende houding” te hê?

9 Terwyl jy jou inspan om jou doelwitte te bereik, moet jy “’n wagtende houding” inneem (Miga 7:7). Jehovah ondersteun altyd sy getroue knegte, al laat hy miskien toe dat hulle wag vir voorregte of vir gunstiger omstandighede. Hy het Abraham ’n seun belowe, maar die aartsvader moes geloof en geduld beoefen (Heb. 6:12-15). Al moes Abraham jare wag voordat Isak gebore is, het hy nie moed verloor nie, en Jehovah het hom nie teleurgestel nie.—Gen. 15:3, 4; 21:5.

10 Dit is nie maklik om te wag nie (Spr. 13:12). As ons bly dink oor hoe teleurgesteld ons is, kan ons baie mismoedig word. Dit is verstandig om ons tyd eerder te gebruik om geestelik bekwamer te word. Let op drie maniere waarop ons dit kan doen.

11. Watter geestelike eienskappe moet ons aankweek, en waarom is dit belangrik?

11 Kweek geestelike eienskappe aan. As ons God se Woord lees en daaroor peins, kan ons wysheid, insig, goeie oordeel, kennis, denkvermoë en gesonde verstand verkry. Hierdie eienskappe is noodsaaklik vir diegene wat die leiding in ware aanbidding neem (Spr. 1:1-4; Tit. 1:7-9). En wanneer ons ons Bybelpublikasies lees, kan ons onderskei wat God se denke oor baie sake is. Ons moet elke dag besluite neem oor vermaak, geldsake, klere en persoonsversorging. Ons moet ook weet hoe om met ander oor die weg te kom. As ons toepas wat ons uit die Bybel leer, kan ons besluite neem wat Jehovah behaag.

12. Hoe kan gemeentelede toon dat hulle betroubaar is?

12 Toon dat jy betroubaar is. As Jehovah se knegte moet ons, broers sowel as susters, ons bes doen om om te sien na enige teokratiese toewysing wat ons ontvang. Toe Nehemia die goewerneur was, moes hy mense in gesagsposisies aanstel oor God se volk. Wie het hy aangestel? Diegene wat godvresend en betroubaar was (Neh. 7:2; 13:12, 13). Vandag word daar ook ‘van bestuurders verwag om getrou bevind te word’ (1 Kor. 4:2). Goeie werke gaan nie ongemerk verby nie.—Lees 1 Timoteus 5:25.

13. Hoe kan jy Josef se voorbeeld volg as ander jou onregverdig behandel?

13 Laat Jehovah jou louter. Wat kan jy doen as ander jou onregverdig behandel? Soms kan jy die saak gou regstel. Maar in ander gevalle kan jy nie en sal dit die probleem dalk net vererger as jy jou ywerig probeer verdedig. Josef se broers het hom sleg behandel, maar hy het dit nie teen hulle gehou nie. Later is Josef vals beskuldig en onskuldig in die tronk gegooi. Maar hy het gedurende hierdie moeilike tye op Jehovah vertrou. Die gevolg? “Die woord van Jehovah [het] hom gelouter” (Ps. 105:19). Ná hierdie toetse was Josef gereed om ’n spesiale toewysing uit te voer (Gen. 41:37-44; 45:4-8). Wanneer jy voor moeilike probleme te staan kom, moet jy vir wysheid bid, op sagmoedige wyse optree en praat en op God vertrou om vir jou krag te gee. Jehovah sal jou help.—Lees 1 Petrus 5:10.

MAAK VOORUITGANG IN DIE VELDBEDIENING

14, 15. (a) Waarom moet ons ‘voortdurend let’ op die manier waarop ons preek? (b) Hoe kan jy aanpas by veranderende omstandighede in jou gebied? (Sien prent aan begin van artikel en die venster “ Is jy bereid om ’n ander metode te gebruik?”)

14 Paulus het Timoteus aangespoor: “Jy [moet] voortgaan om jou toe te lê op openbare voorlesing, op vermaning, op onderrigting. Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting” (1 Tim. 4:13, 16). Timoteus was reeds ’n ervare Koninkryksprediker. Maar sy bediening sou slegs doeltreffend wees as hy ‘voortdurend op sy onderrigting let’. Hy kon nie net aanneem dat mense op sy gewone benadering sou reageer nie. Om mense se harte te bereik, moes hy sy onderrigmetodes by hulle behoeftes aanpas. As Koninkryksverkondigers moet ons dieselfde doen.

15 Ons vind dikwels dat mense nie by die huis is wanneer ons van deur tot deur preek nie. In sommige gebiede kan ons nie inkom by party woonstelblokke en afgesperde woongebiede nie. As dit in jou gebied die geval is, kan jy gerus dink aan ander maniere om die goeie nuus te verkondig.

16. Hoe kan openbare getuieniswerk goeie resultate hê?

16 Openbare getuieniswerk is ’n uitstekende metode om die goeie nuus te verkondig. Baie Getuies geniet hierdie aspek van die werk en vind dat dit baie doeltreffend is. Hulle gaan op spesifieke tye na treinstasies en bushaltes, markte en parke en ander openbare plekke om met mense te praat. Wanneer dit gepas is, kan ’n Getuie ’n gesprek met iemand begin deur kommentaar te lewer oor die nuus, deur iets positiefs oor die persoon se kinders te sê of deur ’n vraag oor sy werk te vra. Later in die gesprek kan die verkondiger ’n skriftuurlike gedagte meld en die persoon se mening hieroor vra. Die persoon se kommentaar lei dikwels tot ’n verdere Bybelbespreking.

17, 18. (a) Hoe kan jy meer vertroue in die openbare getuieniswerk opbou? (b) Hoe kan Dawid se woorde van lof aan Jehovah jou in die bediening help?

17 Moenie moed opgee as dit vir jou moeilik is om openbare getuieniswerk te doen nie. Eddie, ’n pionier in die stad New York, was huiwerig om in die openbaar met mense te praat. Maar hy het met verloop van tyd selfvertroue opgebou. Wat het hom gehelp? Hy sê: “Gedurende gesinsaanbidding doen ek en my vrou navorsing om antwoorde te vind op mense se besware en menings. Ons vra ook ander Getuies vir wenke.” Nou sien Eddie uit na openbare getuieniswerk.

18 Wanneer jy vaardiger word en meer vertroue opbou in die verkondiging van die goeie nuus, sal jou geestelike vooruitgang duidelik wees. (Lees 1 Timoteus 4:15.) En jy sal ons hemelse Vader ongetwyfeld loof soos Dawid gedoen het, toe hy gesing het: “Ek sal Jehovah te alle tye loof; sy lof sal voortdurend in my mond wees. In Jehovah sal my siel roem; die sagmoediges sal hoor en sal bly wees” (Ps. 34:1, 2). En dalk sal jou bediening tot gevolg hê dat sagmoediges die waarheid aanneem en ware aanbidding vreugdevol saam met jou beoefen.

VERHEERLIK GOD DEUR GEESTELIKE VOORUITGANG TE MAAK

19. Waarom kan ’n lojale kneg van Jehovah gelukkig wees, al beperk omstandighede wat hy of sy kan doen?

19 Dawid het ook gesing: “Al u werke sal u prys, o Jehovah, en u lojales sal u loof. Oor die heerlikheid van u koningskap sal hulle praat, en oor u mag sal hulle spreek, om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die heerlikheid van die prag van sy koningskap” (Ps. 145:10-12). Hierdie woorde beskryf sekerlik hoe alle lojale Getuies van Jehovah voel. Maar sê nou siekte of bejaardheid beperk wat jy in die bediening kan doen? Wanneer jy vir verpleegpersoneel en ander van die goeie nuus vertel, moet jy altyd onthou dat jou heilige diens ons wonderlike God verheerlik. As jy weens jou geloof in die tronk is, praat jy waarskynlik oor die waarheid wanneer omstandighede dit toelaat, en dit maak Jehovah se hart bly (Spr. 27:11). Dit is ook die geval as jy in ’n godsdienstig verdeelde huis is, maar by jou geestelike roetine bly (1 Pet. 3:1-4). Jy kan Jehovah selfs onder moeilike omstandighede loof en geestelike vooruitgang maak.

20, 21. Hoe kan jy ’n seën vir ander wees as jy meer werk in Jehovah se organisasie kry?

20 Jehovah sal jou beslis seën as jy aanhou om geestelike vooruitgang te maak. As jy net ’n paar veranderinge in jou rooster of lewenswyse aanbring, sal jy miskien ’n groter aandeel daaraan kan hê om God se kosbare waarheid te verkondig aan diegene wat hoop nodig het. Jou geestelike vooruitgang en selfopoffering kan groot voordele inhou vir jou medegelowiges. En weens jou nederige diens in die gemeente sal jy die liefde, waardering en ondersteuning geniet van ander wat vir Jehovah lief is.

21 Dit maak nie saak of ons Jehovah al jare lank of net ’n paar maande dien nie, ons kan almal vooruitgang in sy diens maak. Maar hoe kan ervare Christene nuwelinge help om geestelike vooruitgang te maak? Ons sal hierdie onderwerp in ons volgende studie bespreek.