Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy al die feite?

Het jy al die feite?

“Wanneer iemand op ’n saak antwoord voordat hy [die feite, NW] hoor, is dit dwaasheid van sy kant en ’n vernedering.” — SPR. 18:13.

LIED: 126, 95

1, 2. (a) Wat moet ons leer om te doen, en hoekom? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

AS WARE Christene is dit belangrik dat ons leer hoe om vas te stel of inligting waar is of nie en hoe om tot die regte gevolgtrekking te kom (Spr. 3:21-23; 8:4, 5). As ons nie leer hoe om dit te doen nie, kan Satan en sy wêreld die manier waarop ons dink, maklik beïnvloed (Ef. 5:6; Kol. 2:8). Ons kan natuurlik net die regte gevolgtrekking maak as ons al die feite het. Spreuke 18:13 sê: “Wanneer iemand op ’n saak antwoord voordat hy [die feite, NW] hoor, is dit dwaasheid van sy kant en ’n vernedering.”

2 In hierdie artikel gaan ons ’n paar uitdagings bespreek wat dit moeilik kan maak om al die feite te kry en die regte gevolgtrekking te maak. Ons sal ook kyk na ’n paar praktiese Bybelbeginsels en voorbeelde wat ons sal help om ons vermoë te verbeter om vas te stel of inligting waar is of nie.

MOENIE “ELKE WOORD” GLO NIE

3. Hoekom moet ons die Bybelbeginsel in Spreuke 14:15 toepas? (Sien prent aan begin van artikel.)

3 Vandag word mense met inligting gebombardeer. Dit lyk asof daar geen einde is aan al die idees wat op die Internet, televisie en ander media beskikbaar is nie. Baie mense ontvang ook vreeslik baie e-posse, teksboodskappe en interessante stories van vriende en ander mense. Maar party mense versprei opsetlik verkeerde inligting en verdraai dikwels die feite. Daarom het ons goeie rede om versigtig te wees en om vas te stel of dit wat ons gehoor het, waar is. Watter Bybelbeginsel kan ons help? Spreuke 14:15 sê: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.”

4. Hoe help Filippense 4:8, 9 ons om te kies wat ons sal lees, en hoekom is dit baie belangrik om betroubare inligting te hê? (Sien ook die venster “ ’n Paar dinge wat ons help om die feite te kry.”)

4 As ons goeie besluite wil neem, het ons betroubare feite nodig. Daarom moet ons baie kieskeurig en versigtig wees oor wat ons lees. (Lees Filippense 4:8, 9.) Ons moenie ons tyd mors deur na nuus op onbetroubare webwerwe te kyk of deur e-posse en teksboodskappe te lees oor dinge wat nie bevestig kan word nie. Dit is veral belangrik dat ons nie webwerwe besoek wat deur afvalliges bevorder word nie. Hulle is daarop uit om God se volk af te breek en die waarheid te verdraai. Onbetroubare inligting sal veroorsaak dat ons verkeerde besluite neem. Ons moet nooit die groot invloed wat valse inligting op ons verstand en hart kan hê, onderskat nie. — 1 Tim. 6:20, 21.

5. Watter valse storie het die Israeliete gehoor, en watter uitwerking het dit op hulle gehad?

5 Valse stories kan baie slegte gevolge hê. Dink byvoorbeeld aan wat in Moses se tyd gebeur het. Twaalf spioene is gestuur om die Beloofde Land te verken. Toe hulle terugkom, het tien van hulle ’n negatiewe verslag gegee (Num. 13:25-33). Hulle het dinge erger laat klink as wat dit was en Jehovah se volk bang en mismoedig laat voel (Num. 14:1-4). Hoekom het die volk so gereageer? Dalk het hulle gedink dat die verslag waar moet wees omdat die meeste van die spioene negatiewe dinge oor die Beloofde Land gesê het. Die volk het geweier om na die goeie verslag van die betroubare manne Josua en Kaleb te luister (Num. 14:6-10). In plaas daarvan om al die feite te kry en op Jehovah te vertrou, het hulle gekies om die negatiewe verslag te glo. Dit was baie dom van hulle!

6. Hoekom moet dit ons nie verbaas wanneer ons skokkende dinge oor Jehovah se volk hoor nie?

6 Ons moet veral versigtig wees wanneer ons negatiewe dinge oor Jehovah se volk hoor. Ons moet nooit vergeet dat Satan die een is wat God se getroue knegte beskuldig nie (Op. 12:10). Daarom het Jesus gewaarsku dat teenstanders “valslik allerhande goddelose dinge” teen ons sou sê (Matt. 5:11). As ons werklik hierdie waarskuwing glo, sal dit ons nie verbaas wanneer ons skokkende dinge oor Jehovah se volk hoor nie.

7. Wat moet ons ons afvra voordat ons ’n e-pos of teksboodskap stuur?

7 Hou jy daarvan om e-posse en teksboodskappe aan jou vriende en ander te stuur? Wanneer jy ’n nuusberig sien of van ’n ondervinding hoor, voel jy dalk soos ’n verslaggewer wat graag die eerste een wil wees om vir almal ’n interessante storie te vertel. Maar voordat jy daardie teksboodskap of e-pos stuur, moet jy jou afvra: ‘Hoe seker is ek dat die inligting wat ek wil stuur, waar is? Het ek regtig al die feite?’ As jy nie seker is nie, kan jy, sonder om dit te besef, valse inligting onder ons broers versprei. As jy twyfel, moet jy nie die boodskap stuur nie. Jy moet dit eerder delete.

8. Wat het teenstanders in party lande gedoen, en hoe ondersteun ons hulle dalk sonder dat ons dit besef?

8 Daar is nog ’n gevaar wanneer ons e-posse en teksboodskappe sommer net aanstuur. In party lande word ons werk beperk of heeltemal verbied. Ons teenstanders in hierdie lande versprei soms stories omdat hulle ons wil bangmaak of wil hê dat ons mekaar nie moet vertrou nie. Kyk byvoorbeeld wat in die ou Sowjetunie gebeur het. Die geheime polisie, wat bekend staan as die KGB, het stories versprei dat ’n hele paar bekende broers Jehovah se volk verraai het. * Ongelukkig het baie hierdie stories geglo, en as gevolg daarvan het hulle Jehovah se organisasie verlaat. Al het baie van hulle later teruggekom, het party nooit teruggekom nie omdat hulle geloof skipbreuk gely het (1 Tim. 1:19). Hoe kan ons keer dat so iets met ons gebeur? Ons moenie negatiewe dinge of stories wat nie bevestig kan word, rondstuur nie. Moenie naïef wees of sommer enigiets glo nie. Maak seker dat jy al die feite het.

KRY AL DIE FEITE

9. Wat is nog iets wat dit moeilik maak om vas te stel of inligting waar is of nie?

9 Stories wat half waar is of waarvan net party feite bevestig kan word, is nog iets wat dit moeilik maak om tot die regte gevolgtrekking te kom. ’n Storie wat 10 persent waar is, is 100 persent onbetroubaar. Wat kan ons doen sodat ons nie deur sulke stories om die bos gelei word nie? — Ef. 4:14.  

10. Hoekom het die Israeliete amper teen hulle broers oorlog gemaak, en hoe het hulle dit vermy?

10 Dink aan wat in Josua se dag met die Israeliete gebeur het wat wes van die Jordaanrivier gebly het (Jos. 22:9-34). Hulle het gehoor dat die Israeliete wat oos van die Jordaan bly, die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse, ’n groot, indrukwekkende altaar naby die Jordaan gebou het. Daardie deel van die storie was waar. Maar omdat die Israeliete aan die westekant nie al die feite gehad het nie, het hulle gedink dat hulle broers teen Jehovah in opstand gekom het. Daarom het hulle bymekaargekom om teen hulle broers aan die oostekant te gaan veg. (Lees Josua 22:9-12.) Gelukkig het hulle eers ’n groep betroubare manne gestuur om al die feite te kry. Wat het hierdie manne uitgevind? Die Israeliete uit die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het ’n altaar gebou, maar nie vir offerandes nie. Dit was eerder ’n gedenkteken. Hulle het dit gebou sodat almal in die toekoms sou weet dat hulle ook getroue knegte van Jehovah was. Gelukkig het die Israeliete nie ’n halwe storie geglo en hulle broers doodgemaak nie. Hoe bly moes hulle tog gewees het dat hulle eers al die feite gekry het!

11. (a) Hoe is Mefiboset onregverdig behandel? (b) Hoe kon Dawid dit vermy het om onregverdig te wees?

11 Ons kan miskien ook onregverdig behandel word omdat ’n storie oor ons versprei word wat half waar is of wat nie al die feite bevat nie. Kyk byvoorbeeld wat met koning Dawid en Mefiboset gebeur het. Dawid was vrygewig teenoor Mefiboset en het hom liefdevol behandel deur al die grond terug te gee wat aan Mefiboset se oupa Saul behoort het (2 Sam. 9:6, 7). Maar later het Dawid iets negatiefs oor Mefiboset gehoor. En sonder om eers seker te maak of dit waar is, het Dawid toe besluit om al Mefiboset se eiendom af te vat (2 Sam. 16:1-4). Toe Dawid uiteindelik self met Mefiboset praat, het hy besef dat hy ’n fout gemaak het. Hy het toe ’n deel van Mefiboset se eiendom vir hom teruggegee (2 Sam. 19:24-29). As Dawid nie oorhaastig opgetree het nie, maar eers al die feite gekry het, sou hy Mefiboset nie so onregverdig behandel het nie.

12, 13. (a) Wat het Jesus gedoen toe daar leuens oor hom versprei is? (b) Wat kan ons doen as iemand ’n leuen oor ons versprei?

12 Maar wat kan jy doen as iemand ’n leuen oor jou versprei? Dit is wat met Jesus en Johannes die Doper gebeur het. (Lees Matteus 11:18, 19.) Wat het Jesus gedoen toe daar leuens oor hom versprei is? Hy het nie al sy tyd en energie gebruik om homself te verdedig nie. Hy het mense eerder aangemoedig om seker te maak van die feite. Hy wou hê hulle moes kyk na die dinge wat hy gedoen het en wat hy ander geleer het. Jesus het gesê: “Wysheid word deur sy werke geregverdig.” — Matt. 11:19.

13 Daar is ’n belangrike les wat ons hieruit kan leer. Partykeer sal mense dalk onregverdige of negatiewe dinge oor ons sê. Ons wil dalk hê dat iemand dinge moet regstel en wens miskien dat ons iets kon doen om weer ’n goeie reputasie te hê. Maar daar is wel iets wat ons kan doen as iemand ’n leuen oor ons versprei. Ons kan op so ’n manier lewe dat niemand daardie leuen sal glo nie. Net soos ons uit Jesus se voorbeeld kan sien, kan ons Christelike gedrag vir ander wys dat die negatiewe dinge wat oor ons gesê word, nie waar is nie.

VERTROU JY TE VEEL OP JOUSELF?

14, 15. Hoekom kan dit gevaarlik wees om op jouself te vertrou?

14 Dit kan moeilik wees om betroubare feite te kry sodat jy die regte gevolgtrekking kan maak. Maar dit is nie die enigste uitdaging nie. Ons eie onvolmaaktheid kan ook ’n groot probleem wees. Dalk dien ons Jehovah al jare lank getrou en het ons geleer om goed te redeneer en tussen reg en verkeerd te onderskei. Miskien respekteer ander mense ons omdat ons gewoonlik goeie besluite neem. Maar kan dit dalk vir ons ’n probleem word?

15 Ja, wanneer ons te veel op onsself begin vertrou, kan dit ’n probleem word. Ons kan toelaat dat ons emosies en persoonlike idees die manier waarop ons dink, beheer. Ons kan begin dink dat ons ’n situasie heeltemal verstaan of goed kan opsom, selfs wanneer ons nie al die feite het nie. Dit is baie gevaarlik! Die Bybel waarsku duidelik dat ons nie op onsself moet vertrou nie. — Spr. 3:5, 6; 28:26.

16. Wat het in hierdie denkbeeldige situasie in ’n restaurant gebeur, en watter gevolgtrekking het Tom gemaak?

16 Stel jou die volgende denkbeeldige situasie voor. Een aand toe Tom, ’n ervare ouer man, by ’n restaurant was, was hy geskok toe hy John, ’n ander ouer man, saam met ’n vreemde vrou by ’n tafel sien sit. Tom het gesien hoe hulle saam lag, lekker gesels en selfs vir mekaar ’n drukkie gee. Dit het hom al hoe meer ontstel, en hy het begin wonder: ‘Gaan John en sy vrou dalk skei? Wat gaan van haar en die kinders word?’ Tom het al voorheen gesien hoeveel hartseer so ’n situasie veroorsaak. Hoe sou jy gevoel het as jy dit gesien het?

17. Wat het Tom later uitgevind, en watter les leer ons uit hierdie denkbeeldige situasie?

17 Maar wag ’n bietjie. Het Tom regtig al die feite gehad toe hy tot die slotsom gekom het dat John ’n verhouding met ’n ander vrou het? Later daardie aand het Tom vir John gebel. Kan jy jou voorstel hoe verlig Tom moes gewees het toe hy hoor dat die vrou John se suster is. Die twee het mekaar jare laas gesien. Sy was op pad êrens heen en het net ’n paar uur gehad om te kuier, en daarom het John haar by die restaurant gaan ontmoet om iets te eet. Sy vrou kon nie saamkom nie. Gelukkig het Tom vir niemand vertel wat hy gedink het nie. Wat leer ons hieruit? Dit maak nie saak hoeveel ondervinding ons in Jehovah se diens het nie, ons moet altyd seker maak dat ons al die feite het.

18. Wat kan veroorsaak dat ons ’n broer verkeerdelik oordeel?

18 Nog iets wat dit moeilik maak om tot die regte gevolgtrekking te kom, is wanneer ons nie goed oor die weg kom met ’n broer in die gemeente nie. As ons heeltyd dink aan die dinge waaroor ons nie saamstem nie, kan ons agterdogtig begin raak teenoor ons broer. En wanneer ons dan iets negatiefs omtrent hierdie broer hoor, sal ons dit dalk maklik glo. Wat leer ons hieruit? Wanneer ons negatiewe gevoelens teenoor ons broers het, kan dit veroorsaak dat ons hulle oordeel sonder dat ons al die feite het (1 Tim. 6:4, 5). Ons kan keer dat ons iemand verkeerdelik oordeel deur nie toe te laat dat jaloesie in ons hart wortelskiet nie. Ons moet altyd onthou dat Jehovah van ons verwag om ons broers lief te hê en om hulle vryelik uit ons hart te vergewe. — Lees Kolossense 3:12-14.

BYBELBEGINSELS SAL ONS BESKERM

19, 20. (a) Watter Bybelbeginsels sal ons help om seker te maak of inligting waar is of nie? (b) Wat gaan ons in die volgende artikel bespreek?

19 Dit kan vandag baie moeilik wees om al die feite te kry en vas te stel of dit waar is of nie. Hoekom? Omdat baie inligting onbetroubaar is, baie stories net half waar is en ons onvolmaak is. Wat sal ons help om hierdie uitdaging te oorkom? Ons moet Bybelbeginsels ken en dit toepas. Volgens een van hierdie beginsels is dit dwaas en vernederend om te antwoord voordat jy al die feite het (Spr. 18:13). ’n Ander Bybelbeginsel waarsku ons om nie sommer elke woord te glo nie (Spr. 14:15). En laastens, ons moet versigtig wees om nie te veel op onsself te vertrou nie, maak nie saak hoeveel ondervinding ons in Jehovah se diens het nie (Spr. 3:5, 6). As ons seker maak dat ons feite gebruik wat betroubaar is, sal Bybelbeginsels ons beskerm, ons help om goeie gevolgtrekkings te maak en ons help om wyse besluite te neem.

20 Maar daar is nog ’n uitdaging. Mense is geneig om dinge volgens die uiterlike, of volgens wat hulle sien, te oordeel. In die volgende artikel sal ons kyk na gebiede waarop ons hierdie fout kan maak en wat ons kan help om dit te vermy.

^ par. 8 Sien die 2004 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bl. 111-112 en die Jaarboek van 2008, bl. 133-135.