Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 32

Laat julle liefde oorvloediger word

Laat julle liefde oorvloediger word

“Dit is wat ek aanhou bid, dat julle liefde steeds oorvloediger mag word.” – FIL. 1:9.

LIED 106 Kweek liefde aan

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wie het gehelp om die gemeente in Filippi te stig?

TOE die apostel Paulus, Silas, Lukas en Timoteus by die Romeinse kolonie Filippi aankom, het hulle baie mense gevind wat belangstel in die Koninkryksboodskap. Hierdie vier ywerige broers het gehelp om ’n gemeente te stig, en al die dissipels het saam begin vergader, waarskynlik by die huis van ’n gasvrye Christen met die naam Lidia. – Hand. 16:40.

2. Watter moeilike situasie het hierdie nuwe gemeente ondervind?

2 Die nuwe gemeente het kort daarna ’n moeilike situasie ondervind. Satan het vyande van die waarheid aangespoor om die predikingswerk van hierdie lojale Christene erg teë te staan. Paulus en Silas is gearresteer, met stokke geslaan en in die tronk gegooi. Nadat hulle vrygelaat is, het hulle die nuwe dissipels besoek en hulle aangemoedig. Toe het Paulus, Silas en Timoteus die stad verlaat, terwyl Lukas blykbaar daar agtergebly het. Wat sou die nuwe gemeente nou doen? Hierdie nuwe gelowiges het met die hulp van Jehovah se gees aangehou om hom met ywer te dien (Fil. 2:12). Paulus het goeie rede gehad om trots op hulle te wees!

3. Waarvoor het Paulus volgens Filippense 1:9-11 gebid?

3 Omtrent tien jaar later het Paulus ’n brief aan die gemeente in Filippi geskryf. Wanneer jy daardie brief lees, kan jy duidelik sien hoe lief Paulus sy broers gehad het. Hy het geskryf: “Ek [verlang] vurig na julle almal . . . met sulke tere geneentheid soos Christus Jesus het” (Fil. 1:8). In sy brief het hy gesê dat hy vir hulle bid. Hy het Jehovah gevra om hulle te help om oorvloediger te word in liefde, om seker te maak van die belangriker dinge, om onberispelik te wees, om niemand te laat struikel nie en om aan te hou om regverdige vrugte te dra. Jy stem ongetwyfeld saam dat ons vandag kan baat vind by Paulus se opregte woorde. Kom ons lees wat Paulus aan die Filippense geskryf het. (Lees Filippense 1:9-11.) Dan sal ons die punte bespreek wat hy genoem het en hoe ons elkeen kan toepas.

WORD OORVLOEDIGER IN LIEFDE

4. (a) Hoe het Jehovah sy liefde volgens 1 Johannes 4:9, 10 vir ons getoon? (b) Hoe lief moet ons vir God wees?

4 Jehovah het sy groot liefde vir ons getoon deur sy Seun aarde toe te stuur om vir ons sondes te sterf. (Lees 1 Johannes 4:9, 10.) God se onselfsugtige liefde motiveer ons om hom lief te hê (Rom. 5:8). Hoe lief moet ons vir God wees? Jesus het hierdie vraag beantwoord toe hy vir ’n Fariseër gesê het: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matt. 22:36, 37). Ons wil nie hê dat ons liefde vir God halfhartig moet wees nie. Ons wil eerder hê dat ons liefde vir hom elke dag sterker moet word. Paulus het vir die Filippense gesê dat hulle liefde “steeds oorvloediger [moet] word”. Wat kan ons doen om ons liefde vir God te versterk?

5. Hoe kan ons liefde sterker word?

5 Ons moet God ken as ons hom wil liefhê. Die Bybel sê: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde” (1 Joh. 4:8). Die apostel Paulus het verduidelik dat ons liefde vir God sterker sal word wanneer ons “juiste kennis” oor hom verkry en verstaan hoe hy dinge beskou (Fil. 1:9). Toe ons die Bybel begin studeer, het ons liefde vir Jehovah begin groei, al het ons nie baie kennis oor sy wonderlike eienskappe gehad nie. Maar hoe meer ons oor Jehovah geleer het, hoe sterker het ons liefde vir hom geword. Dit is waarom gereelde Bybelstudie en bepeinsing oor God se Woord van die belangrikste dinge in ons lewe is! – Fil. 2:16.

6. Hoe kan ons volgens 1 Johannes 4:11, 20, 21 oorvloediger word in liefde?

6 God se groot liefde vir ons sal ons motiveer om ons broers lief te hê. (Lees 1 Johannes 4:11, 20, 21.) Ons dink dalk dat liefde vir ons broers en susters vanself sal kom. Ons is immers aanbidders van Jehovah en probeer hard om sy goeie eienskappe na te volg. Ons volg die voorbeeld van Jesus, wie se liefde so groot was dat hy sy lewe vir ons opgeoffer het. Maar soms kan dit vir ons moeilik wees om gehoorsaam te wees aan die gebod om mekaar lief te hê. Kyk na wat in die gemeente in Filippi gebeur het.

7. Wat leer ons uit Paulus se raad aan Euodia en Sintige?

7 Euodia en Sintige was ywerige susters wat “sy aan sy” met die apostel Paulus gedien het. Maar hulle het dalk toegelaat dat persoonlike verskille onenigheid tussen hulle veroorsaak. Paulus het in sy brief aan die gemeente waar hierdie susters was, spesifiek Euodia en Sintige se name genoem en het hy hulle reguit raad gegee om “eendersdenkend te wees” (Fil. 4:2, 3). Paulus het ook gedink dat dit nodig is om vir die hele gemeente te sê: “Hou aan om alles sonder murmurering en redekaweling te doen” (Fil. 2:14). Paulus se reguit raad het daardie lojale susters en die hele gemeente ongetwyfeld gehelp om hulle band van liefde vir mekaar te versterk.

Hoekom moet ons ’n positiewe beskouing van ons broers en susters hê? (Sien paragraaf 8) *

8. Wat kan dit vir ons baie moeilik maak om vir ons broers lief te wees, en hoe kan ons hierdie uitdaging oorkom?

8 Net soos in die geval van Euodia en Sintige is daar iets wat dit vir ons ook baie moeilik kan maak om ’n sterk band van liefde met ander te vorm – die neiging om op onvolmaakthede te fokus. Ons almal maak elke dag foute. As ons heeltyd fokus op ander se onvolmaakthede, sal ons liefde vir hulle verkoel. As ’n broer ons byvoorbeeld nie help om die Koninkryksaal skoon te maak nie, raak ons dalk geïrriteerd. As ons dan ’n lys begin maak van al die ander foute wat ons weet ons broer gemaak het, sal hy ons al hoe meer irriteer en sal ons liefde vir hom minder word. As jy in ’n soortgelyke situasie is, sal dit goed wees om oor hierdie feit na te dink: Jehovah sien ons onvolmaakthede en dié van ons broer. Maar ten spyte van hierdie onvolmaakthede is hy nog steeds lief vir ons en vir ons broer. Daarom moet ons Jehovah se liefde navolg en ’n positiewe beskouing van ons broers hê. Wanneer ons hard probeer om vir ons broers lief te wees, sal ons ons band van eenheid met hulle versterk. – Fil. 2:1, 2.

“DIE BELANGRIKER DINGE”

9. Wat is party van “die belangriker dinge” wat Paulus in sy brief aan die Filippense genoem het?

9 Heilige gees het Paulus geïnspireer om vir dié in Filippi – en vir alle Christene – te sê: “Maak [seker] van die belangriker dinge” (Fil. 1:10). Hierdie belangrike dinge sluit die regverdiging van Jehovah se naam in, asook die vervulling van sy voornemens en die vrede en eenheid van die gemeente (Matt. 6:9, 10; Joh. 13:35). Wanneer hierdie dinge die belangrikste dinge in ons lewe is, wys ons dat ons lief is vir Jehovah.

10. Hoe kan ons onberispelik wees?

10 Paulus het ook gesê dat ons “onberispelik”, of foutloos, moet wees. Dit beteken nie dat ons volmaak moet wees nie. Ons kan nie so onberispelik soos Jehovah God wees nie. Maar in Jehovah se oë kan ons onberispelik wees as ons ons bes doen om ons liefde te versterk en seker maak van die belangriker dinge. Een manier hoe ons ons liefde betoon, is deur hard te probeer om niemand te laat struikel nie.

11. Hoekom moet ons probeer om niemand te laat struikel nie?

11 Die raad om niemand te laat struikel nie is eintlik ’n waarskuwing. Hoe kan ons iemand laat struikel? Ons kan dit doen deur ons keuse van vermaak, ons kleredrag of selfs ons werk. Wat ons doen, is dalk nie verkeerd nie. Maar as ons keuses iemand se gewete pla en hom of haar laat struikel, maak dit saak. Jesus het gesê dat dit beter sou wees as ’n swaar klip om ons nek gebind word en ons in die see gegooi word as wat ons een van sy skape laat struikel! – Matt. 18:6.

12. Wat leer ons uit die voorbeeld van ’n pionierpaartjie?

12 Kyk hoe ’n pionierpaartjie gehoorsaam was aan Jesus se waarskuwing. Hulle was in ’n gemeente saam met ’n pasgedoopte paartjie wat uit ’n baie konserwatiewe agtergrond gekom het. Hierdie paartjie het geglo dat Christene nie moet gaan fliek nie – nie eens om ’n aanvaarbare film te gaan kyk nie. Hulle was geskok toe hulle uitvind dat die pionierpaartjie gaan fliek het. Ná hierdie geval het die pionierpaartjie nie meer gaan fliek nie totdat die nuwe dissipels hulle eie gewete kon oplei om meer gebalanseerd te wees (Heb. 5:14). Deur hulle onselfsugtige daad, het die pionierpaartjie gewys dat hulle hulle nuwe broer en suster in woord sowel as in daad liefhet. – Rom. 14:19-21; 1 Joh. 3:18.

13. Hoe kan ons veroorsaak dat iemand ’n sonde pleeg?

13 Nog ’n manier hoe ons iemand kan laat struikel, is deur te veroorsaak dat hy ’n sonde pleeg. Hoe kan dit gebeur? Stel jou die volgende voor. ’n Bybelstudent wat ’n lang tyd aan alkohol verslaaf was, het dit uiteindelik reggekry om sy verslawing aan alkohol te beheer. Hy besef dat hy glad nie alkohol moet drink nie. Hy maak vinnig vordering en word gedoop. Later nooi ’n broer hom na ’n geselligheid, bied hom ’n drankie aan en sê: “Jy’s nou ’n Christen; jy het Jehovah se gees. Selfbeheersing is ’n aspek van die heilige gees. As jy selfbeheersing het, behoort jy ’n bietjie alkohol te kan drink.” Ons kan ons net voorstel wat sou gebeur het as die nuwe broer na sulke onwyse raad geluister het!

14. Hoe help Christelike vergaderinge ons om die raad in Filippense 1:10 toe te pas?

14 Ons Christelike vergaderinge help ons om die raad in Filippense 1:10 op baie maniere toe te pas. Eerstens, die dinge wat ons by die vergaderinge bespreek, herinner ons aan wat vir Jehovah die belangrikste is. Tweedens, ons leer hoe om die dinge wat ons geleer het, toe te pas sodat ons onberispelik kan wees. En derdens, ons word “tot liefde en goeie werke” aangespoor (Heb. 10:24, 25). Hoe meer ons deur ons broers aangemoedig word, hoe meer sal ons liefde vir ons God en ons broers groei. Wanneer ons hulle met ons hele hart liefhet, sal ons ons bes doen om nie ons broers te laat struikel nie.

HOU AAN OM “VERVUL [TE] WORD MET REGVERDIGE VRUGTE”

15. Wat beteken dit om “met regverdige vrugte” vervul te word?

15 Paulus het gebid dat die Filippense “met regverdige vrugte” vervul moet word (Fil. 1:11). Hierdie “regverdige vrugte” het ongetwyfeld hulle liefde vir Jehovah en sy volk ingesluit. Dit sou ook insluit dat hulle ander van hulle geloof in Jesus en hulle wonderlike hoop vertel. Filippense 2:15 gebruik ’n ander illustrasie, naamlik om “as ligte in die wêreld [te] skyn”. Dit is gepas omdat Jesus sy dissipels “die lig van die wêreld” genoem het (Matt. 5:14-16). Hy het ook sy volgelinge die opdrag gegee om ‘dissipels te maak’ en hy het gesê dat hulle ‘getuies sal wees tot in die mees afgeleë deel van die aarde’ (Matt. 28:18-20; Hand. 1:8). Ons dra “regverdige vrugte” wanneer ons ywerig deelneem aan hierdie belangrike werk.

Terwyl Paulus in Rome onder huisarres is, skryf hy sy brief aan die gemeente in Filippi. Gedurende daardie tyd maak Paulus ook goed gebruik van geleenthede om vir sy wagte en besoekers te preek (Sien paragraaf 16)

16. Hoe kan ons volgens Filippense 1:12-14 selfs onder moeilike omstandighede as ligte skyn? (Sien prent op voorblad.)

16 Ongeag wat ons omstandighede is, ons kan as ligte skyn. In party gevalle kan omstandighede wat dit vir ons moeilik maak om die goeie nuus te verkondig, ’n geleentheid word om vir ander te preek. Die apostel Paulus was byvoorbeeld onder huisarres in Rome toe hy sy brief aan die Filippense geskryf het. Maar sy boeie het hom nie gekeer om vir sy wagte en besoekers te preek nie. Paulus het ywerig gepreek onder hierdie omstandighede, en dit het sy broers die vertroue en moed gegee “om die woord van God onbevrees te spreek”. – Lees Filippense 1:12-14; 4:22.

Soek altyd na maniere om ’n volle aandeel aan die bediening te hê (Sien paragraaf 17) *

17. Gee ’n voorbeeld van hoe broers in ons dag vrug dra onder moeilike omstandighede.

17 Baie van ons broers en susters het die geleentheid om Paulus se moedige voorbeeld na te volg. Hulle woon in lande waar hulle nie in die openbaar of van huis tot huis mag preek nie, en daarom vind hulle ander maniere om die goeie nuus te verkondig (Matt. 10:16-20). In een van hierdie lande het ’n kringopsiener voorgestel dat elke verkondiger sy eie “gebied” dek deur te preek vir familielede, bure, skoolmaats, werksmaats en kennisse. In net twee jaar het die aantal gemeentes in daardie kring aansienlik gegroei. Dalk mag ons in die openbaar preek in die land waar ons woon. Maar ons kan ’n waardevolle les leer uit die voorbeeld van hierdie broers en susters: Soek na maniere om ’n volle aandeel aan die bediening te hê met die vertroue dat Jehovah jou die krag sal gee om enige uitdaging te oorkom. – Fil. 2:13.

18. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

18 Mag ons in hierdie belangrike tyd vasbeslote wees om die geïnspireerde raad in Paulus se brief aan die Filippense toe te pas. Ons moet seker maak van die belangriker dinge, onberispelik wees, niemand laat struikel nie en regverdige vrugte dra. Dan sal ons oorvloediger wees in liefde en ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, eer.

LIED 17 ‘Ek wil, ja’

^ par. 5 Ons moet ons liefde vir ons broers nou meer as ooit tevore versterk. Die brief aan die Filippense help ons om te sien hoe ons oorvloediger kan word in liefde, selfs wanneer ons deur moeilike tye gaan.

^ par. 54 BESKRYWING VAN PRENTE: Terwyl die Koninkryksaal skoongemaak word, staan Joe, een van ons broers, stil om met ’n ander broer en sy seun te gesels. Dit irriteer Mike, die broer wat besig is om te stofsuig. Hy dink: ‘Joe moet werk, nie praat nie.’ Later sien Mike hoe Joe ’n ouer suster liefdevol help. Hierdie liefdevolle daad herinner Mike daaraan dat hy meer op sy broer se goeie eienskappe moet fokus.

^ par. 58 BESKRYWING VAN PRENTE: In ’n land waar die Getuies nie in die openbaar mag preek nie, praat ’n broer met iemand wat hy ken oor die Koninkryksboodskap sonder om aandag te trek. Later, tydens teetyd by sy werk, preek die broer vir ’n werksmaat.