Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 33

Die opstanding leer ons van God se liefde, wysheid en geduld

Die opstanding leer ons van God se liefde, wysheid en geduld

‘Daar sal ’n opstanding wees.’ – HAND. 24:15.

LIED 151 Hy sal roep

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom het Jehovah lewe geskep?

 DAAR was ’n tyd toe Jehovah alleen was. Maar hy was nie eensaam nie. Hy het niemand by hom nodig gehad om gelukkig te wees nie. Maar God wou hê dat ander lewe moes geniet. Liefde het Jehovah beweeg om dinge te begin maak. – Ps. 36:9; 1 Joh. 4:19.

2. Hoe het Jesus en die engele gevoel toe Jehovah alles gemaak het?

2 Jehovah het eers ’n medewerker gemaak. Toe het hy deur middel van sy eerste Seun “alle ander dinge . . . geskep,” insluitende miljoene engele (Kol. 1:16). Jesus was baie bly om saam met sy Vader te werk (Spr. 8:30). En die engeleseuns van God het ook rede gehad om bly te wees. Hulle was daar toe Jehovah en sy Meesterwerker, Jesus, die hemel en die aarde gemaak het. Hoe het die engele gereageer? Hulle het “begin juig” toe die aarde gemaak was en hulle het sekerlik aangehou om te juig toe hulle alles gesien het wat Jehovah gemaak het, insluitende die hoogtepunt van sy skeppingswerke, die mensdom (Job 38:7; Spr. 8:31, vtn.). Elkeen van hierdie skeppingswerke het gewys hoe liefdevol en wys Jehovah is. – Ps. 104:24; Rom. 1:20.

3. Wat word deur Jesus se losprysoffer moontlik gemaak, volgens 1 Korintiërs 15:21, 22?

3 Jehovah wou hê dat mense vir ewig moes lewe op die pragtige planeet wat hy gemaak het. Maar Adam en Eva het teen hulle liefdevolle Vader gesondig, en daarom kon hulle nie meer vir ewig lewe nie. Hulle en hulle kinders sou almal uiteindelik sterf (Rom. 5:12). Hoe het Jehovah gereageer? Hy het onmiddellik gesê hoe hy die mensdom sou red (Gen. 3:15). Jehovah het besluit om sy Seun, Jesus, as ’n losprysoffer te gee wat dit moontlik sou maak vir Adam en Eva se kinders om bevry te word van sonde en die dood. Dan sou dit vir hom moontlik wees om ewige lewe te gee aan elkeen wat kies om hom te dien. – Joh. 3:16; Rom. 6:23; lees 1 Korintiërs 15:21, 22.

4. Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 God se belofte om die dooies op te wek, laat ons aan ’n hele paar vrae dink. Byvoorbeeld, hoe sal die opstanding moontlik gebeur? Sal ons ons geliefdes kan herken wanneer hulle opgewek word? Op watter maniere sal die opstanding ons gelukkig maak? En hoe help dit ons om meer waardering op te bou vir Jehovah se liefde, wysheid en geduld as ons nadink oor die opstanding? Kom ons kyk na elkeen van hierdie vrae.

HOE SAL DIE OPSTANDING MOONTLIK GEBEUR?

5. Hoekom kan ons verwag dat nie almal op dieselfde tyd opgewek sal word nie?

5 Wanneer Jehovah deur middel van sy Seun miljoene mense opwek, kan ons verwag dat nie almal op dieselfde tyd opgewek sal word nie. Hoekom? Want as daar ewe skielik baie meer mense op die aarde is, sal dinge baie deurmekaar wees. En Jehovah doen nooit iets op ’n ongeorganiseerde manier nie. Hy weet dat dinge georganiseerd moet wees vir mense om in vrede te kan lewe (1 Kor. 14:33). Jehovah God was wys en geduldig toe hy saam met Jesus gewerk het om die aarde reg te kry vir mense om op te lewe. Jesus sal ook wys en geduldig wees gedurende die duisend jaar wanneer hy saam met dié wat Armageddon oorleef het, sal werk om die aarde reg te kry vir dié wat opgewek gaan word.

Dié wat Armageddon oorleef, sal persone wat opgewek is oor God se Koninkryk en oor Jehovah se standaarde leer (Sien paragraaf 6) *

6. Wie sal deur Jehovah opgewek word, volgens Handelinge 24:15?

6 Die belangrikste ding wat persone wat Armageddon oorleef het, sal doen, is om dié wat opgewek sal word oor God se Koninkryk en Jehovah se standaarde te leer. Hoekom? Want die meeste van dié wat opgewek sal word, sal deel wees van “die onregverdiges”. (Lees Handelinge 24:15.) Hulle sal baie veranderinge moet maak om die seëninge van Christus se losprysoffer te ontvang en om vir ewig te kan lewe. Dink net hoe baie werk dit sal wees om die waarheid oor God aan miljoene mense te leer wat niks omtrent Jehovah weet nie. Sal elke persoon ’n persoonlike Bybelstudie kry, soos ons dit vandag doen? Sal hierdie nuwe persone na gemeentes aangewys word en opgelei word om ander te leer wat ná hulle opgewek sal word? Ons sal moet wag en sien. Ons weet wel dat aan die einde van die duisend jaar sal “die aarde . . . beslis vol wees van die kennis van Jehovah” (Jes. 11:9). Dit sal beslis ’n besige maar vreugdevolle duisend jaar wees!

7. Hoekom sal God se volk meegevoel hê wanneer hulle dié leer wat opgewek is?

7 Gedurende die duisend jaar sal al Jehovah se aardse kinders veranderinge moet maak om hom bly te maak. So almal van hulle sal meegevoel hê terwyl hulle dié wat opgewek word, help om teen verkeerde gedagtes en begeertes te stry en om volgens Jehovah se standaarde te lewe (1 Pet. 3:8). Dié wat opgewek sal word, sal sekerlik deel wil wees van Jehovah se nederige volk, wat ook besig sal wees om “aan [hulle] eie redding te werk”. – Fil. 2:12.

SAL ONS DIÉ KAN HERKEN WAT OPGEWEK WORD?

8. Hoekom kan ons verwag om ons familielede en vriende wat opgewek is, te herken?

8 Daar is ’n hele paar redes hoekom ons kan verwag dat ons ons familielede en vriende wat opgewek is, sal kan herken. Byvoorbeeld, as gevolg van die manier waarop Jehovah mense in die verlede opgewek het, kan ons verwag dat dié wat opgewek sal word, dieselfde sal lyk en op dieselfde manier sal praat en dink soos kort voor hulle gesterf het. Onthou dat Jesus die dood met slaap vergelyk het en die opstanding met ’n persoon wat wakker word (Matt. 9:18, 24; Joh. 11:11-13). Wanneer iemand uit die slaap wakker word, lyk hy en klink hy dieselfde en het hy dieselfde herinneringe as toe hy gaan slaap het. Dink aan die voorbeeld van Lasarus. Hy was vier dae dood, so sy liggaam het al begin ontbind. Maar toe Jesus hom opgewek het, het sy susters hom onmiddellik herken, en Lasarus het hulle natuurlik onthou. – Joh. 11:38-44; 12:1, 2.

9. Hoekom sal dié wat opgewek sal word, nie terugkom met ’n volmaakte verstand en liggaam nie?

9 Jehovah belowe dat niemand in die Paradys sal sê: “Ek is siek” nie (Jes. 33:24; Rom. 6:7). Dit beteken dat dié wat uit die dood opgewek sal word, gesonde liggame sal hê. Maar hulle sal nie onmiddellik volmaak wees nie, anders sal hulle familielede en vriende hulle dalk nie herken nie. Dit lyk asof die hele mensdom geleidelik volmaak sal word gedurende die duisend jaar. Eers aan die einde van die duisend jaar sal Jesus die Koninkryk aan sy Vader teruggee. Die Koninkryk sou dan alles gedoen het wat Jehovah wou hê dit moes doen, insluitende om die mensdom te help om weer volmaak te wees. – 1 Kor. 15:24-28; Op. 20:1-3.

OP WATTER MANIERE SAL DIE OPSTANDING ONS GELUKKIG MAAK?

10. Hoe sal die opstanding jou laat voel?

10 Dink net hoe wonderlik dit sal wees om jou geliefdes weer te kan sien. Sal die vreugde jou laat lag of huil? Sal jy so gelukkig wees dat jy liedere sal sing wat Jehovah loof? Een ding is seker, jy sal intense liefde voel vir jou liefdevolle Vader en sy onselfsugtige Seun as gevolg van die wonderlike geskenk van die opstanding.

11. Wat sal met dié gebeur wat aan God se standaarde gehoorsaam is, volgens Jesus se woorde in Johannes 5:28, 29?

11 Dink net hoe bly almal sal wees wat opgewek sal word wanneer hulle die ou persoonlikheid uittrek en volgens God se regverdige standaarde lewe. Persone wat hierdie veranderinge maak, sal ’n opstanding van die lewe kry. Maar Jehovah sal nie mense wat weier om te verander, toelaat om in die Paradys te bly en om die vrede te versteur nie. – Jes. 65:20; lees Johannes 5:28, 29.

12. Op watter manier sal almal op die aarde deur Jehovah geseën word?

12 Onder God se Koninkryk sal God se hele volk sien dat die woorde in Spreuke 10:22 waar is: “Dit is die seën van Jehovah wat ’n mens ryk maak, en Hy voeg geen pyn daarby nie.” Met die hulp van Jehovah se gees, sal God se volk geestelik ryk word, dit wil sê, hulle sal meer en meer soos Christus word en uiteindelik volmaak word (Joh. 13:15-17; Ef. 4:23, 24). Elke dag sal hulle gesonder word en hulle sal beter mense word. Dan sal ons beslis die lewe geniet! (Job 33:25). Maar hoe kan dit jou nou help om oor die opstanding na te dink?

WAARDEER JEHOVAH SE LIEFDE

13. Hoe sal die opstanding wys hoe goed Jehovah ons ken, volgens Psalm 139:1-4?

13 Soos ons vroeër bespreek het, wanneer Jehovah mense opwek, sal hulle dieselfde herinneringe hê en sal hulle dieselfde soort mense wees as wat hulle voorheen was. Dink net wat dit beteken. Jehovah is so lief vir jou dat hy bewus is van alles wat jy dink, voel, sê en doen. So as hy jou moet opwek, sal dit vir hom maklik wees om jou met dieselfde herinneringe, gesindheid en persoonlikheid op te wek. Koning Dawid het geweet hoe baie Jehovah in elkeen van ons belangstel. (Lees Psalm 139:1-4.) Hoe voel ons wanneer ons besef hoe goed Jehovah ons ken?

14. Hoe moet ons voel wanneer ons nadink oor hoe goed Jehovah ons ken?

14 Wanneer ons nadink oor hoe goed Jehovah ons ken, moet ons nie bekommerd wees nie. Hoekom nie? Onthou dat Jehovah baie vir ons omgee. Hy waardeer die klein dingetjies wat ons uniek maak. Hy sien al die dinge raak waardeur ons in die lewe gaan, die dinge wat ons maak wie ons is. Dit is baie vertroostend! Ons hoef nooit te voel dat ons alleen is nie. Jehovah is elke minuut van elke dag by ons, opsoek na geleenthede om ons te help. – 2 Kron. 16:9.

WAARDEER JEHOVAH SE WYSHEID

15. Hoe is die opstanding ’n bewys van Jehovah se wysheid?

15 Wanneer mense bang is om dood te gaan, kan hulle vyande hulle dwing om dinge te doen wat hulle nie normaalweg sou doen nie, deur hulle met die dood te dreig. Persone onder Satan se beheer gebruik hierdie vrees om mense te dwing om teen hulle vriende te draai of om dinge te doen wat hulle weet verkeerd is. Maar hulle kan nie hierdie vrees teen ons gebruik nie. Ons weet dat Jehovah ons sal opwek as ons vyande ons doodmaak (Op. 2:10). Ons weet dat niks wat hulle doen, ons kan keer om Jehovah se vriende te wees nie (Rom. 8:35-39). Deur ons die opstandingshoop te gee, het Jehovah bewys dat hy baie wys is! As gevolg hiervan is ons nie bang as Satan se ondersteuners sê dat hulle ons sal doodmaak as ons nie doen wat hulle sê nie. Dit help ons ook om moedig te wees en om lojaal aan Jehovah te bly.

Wys ons besluite dat ons op Jehovah se belofte vertrou dat hy vir ons die dinge sal gee wat ons regtig nodig het? (Sien paragraaf 16) *

16. Watter vrae moet jy jou afvra, en hoe kan die antwoorde jou help om te weet hoe baie jy op Jehovah vertrou?

16 Sal jy vertrou dat Jehovah jou sal opwek as vyande van Jehovah dreig om jou dood te maak? Hoe sal jy weet of jy Jehovah op daardie oomblik sal vertrou? Een manier is om jouself af te vra: ‘Wys die klein besluite wat ek elke dag maak of ek op Jehovah vertrou?’ (Luk. 16:10). Nog ’n vraag wat jy jou kan afvra, is: ‘Wys die manier waarop ek lewe dat ek op Jehovah se belofte vertrou om vir my te gee wat ek nodig het as ek sy Koninkryk eerste stel?’ (Matt. 6:31-33). As die antwoord op hierdie vrae ja is, wys jy dat jy op Jehovah vertrou en sal jy gereed wees vir enige toetse in die toekoms. – Spr. 3:5, 6.

WAARDEER JEHOVAH SE GEDULD

17. (a) Hoe wys die opstanding dat Jehovah geduldig is? (b) Hoe kan ons wys dat ons Jehovah se geduld waardeer?

17 Jehovah het alreeds besluit wanneer hy hierdie slegte wêreld sal vernietig (Matt. 24:36). Hy sal nie ongeduldig word en voor daardie tyd optree nie. Hy wil baie graag die dooies opwek, maar hy is geduldig (Job 14:14, 15). Hy wag vir die regte tyd om hulle op te wek (Joh. 5:28). Ons het goeie redes om dankbaar te wees vir Jehovah se geduld. Dink net: Omdat Jehovah geduldig is, het baie mense, insluitende ons, tyd gehad om “berou [te] toon” (2 Pet. 3:9). Jehovah wil hê dat soveel mense as moontlik die geleentheid moet hê om vir ewig te lewe. So kom ons wys dat ons sy geduld waardeer. Hoe? Deur ons bes te doen om na mense te soek wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het en hulle te help om Jehovah lief te hê en hom te dien (Hand. 13:48). Dan sal Jehovah se geduld hulle help net soos dit ons gehelp het.

18. Hoekom moet ons geduldig wees met ander?

18 Jehovah sal geduldig wag tot aan die einde van die duisend jaar voordat hy verwag dat ons volmaak moet wees. Tot dan is Jehovah bereid om ons sondes te vergewe. So ons moet sy voorbeeld navolg en op die goeie eienskappe van ander fokus en geduldig met hulle wees. Dink aan die voorbeeld van ’n suster wie se man ernstige angsaanvalle begin kry het en wat opgehou het om vergaderinge by te woon. Sy sê: “Dit was baie moeilik vir my. Ons lewe het skielik verander en ons kon nie meer die dinge doen wat ons wou doen nie.” Maar deur al hierdie dinge was hierdie liefdevolle vrou geduldig met haar man. Sy het op Jehovah vertrou en nooit moed opgegee nie. Net soos Jehovah het sy nie op die probleem gefokus nie, maar eerder op haar man se goeie eienskappe. Sy sê: “My man het wonderlike eienskappe, en stadig maar seker werk hy daaraan om oor sy angstigheid te kom.” Dit is baie belangrik dat ons geduldig moet wees met persone in ons familie of gemeente wat probeer om moeilike uitdagings te oorkom!

19. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

19 Jesus en die engele was baie bly toe die aarde gemaak is. Maar dink net hoe bly hulle sal wees wanneer die aarde vol volmaakte mense is, wat lief is vir Jehovah en hom dien. Dink net hoe bly dié wat hemel toe gaan, sal wees wanneer hulle sien hoe hulle werk die mensdom help (Op. 4:4, 9-11; 5:9, 10). En dink net hoe dit sal wees wanneer trane van vreugde trane van pyn vervang en wanneer siekte, hartseer en die dood nie meer daar sal wees nie (Op. 21:4). Tot dan moet jy vasbeslote wees om jou liefdevolle, wyse en geduldige Vader na te volg. As jy dit doen, sal jy vreugdevol bly, maak nie saak watter probleme jy het nie (Jak. 1:2-4). Ons is baie dankbaar vir Jehovah se belofte dat “daar ’n opstanding . . . sal wees”! – Hand. 24:15.

LIED 141 Die lewenswonderwerk

^ par. 5 Jehovah is ’n liefdevolle, wyse en geduldige Vader. Ons kan hierdie eienskappe sien in die manier hoe hy alles gemaak het en in sy belofte om die dooies in die opstanding weer lewend te maak. Hierdie artikel sal ’n paar vrae bespreek wat ons dalk oor die opstanding het en dit sal wys hoe ons waardering kan hê vir Jehovah se liefde, wysheid en geduld.

^ par. 59 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Amerikaanse Indiaan wat honderde jare gelede gesterf het, is gedurende die duisend jaar opgewek. ’n Broer wat Armageddon oorleef het, is bly om vir hierdie man te wys wat hy moet doen om deur Christus se losprysoffer gehelp te word.

^ par. 61 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer sê vir sy baas dat daar ’n paar dae in die week is wanneer hy nie oortyd kan werk nie. Hy verduidelik dat hy hierdie aande gebruik vir aktiwiteite wat te doen het met sy aanbidding van Jehovah. Maar wanneer hulle hom op ander tye regtig nodig het, is hy bereid ekstra ure te werk.