Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 34

Jy het ’n plek in Jehovah se gemeente!

Jy het ’n plek in Jehovah se gemeente!

“Die liggaam het baie liggaamsdele, maar al is daar baie liggaamsdele, vorm dit net een liggaam. So is dit ook met die Christus.” – 1 KOR. 12:12.

LIED 101 Werk eensgesind saam

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter voorreg het ons?

 DIT is ’n groot voorreg om deel van Jehovah se gemeente te wees! Ons is in ’n geestelike paradys waar almal gelukkig is en vrede geniet. Wat is jou plek in die gemeente?

2. Watter illustrasie het die apostel Paulus in ’n hele paar van sy geïnspireerde briewe gebruik?

2 Ons kan baie oor hierdie onderwerp leer uit ’n illustrasie wat die apostel Paulus in ’n hele paar van sy geïnspireerde briewe gebruik het. In elkeen van hierdie briewe het Paulus die gemeente met die menseliggaam vergelyk. Hy het ook elke persoon in die gemeente met dele van die liggaam vergelyk. – Rom. 12:4-8; 1 Kor. 12:12-27; Ef. 4:16.

3. Watter drie lesse sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel sal ons drie belangrike lesse bespreek wat ons uit Paulus se illustrasie kan leer. Eerstens gaan ons leer dat elkeen van ons ’n plek * in Jehovah se gemeente het. Tweedens gaan ons bespreek wat ons kan doen as dit vir ons moeilik is om te sien wat ons plek in die gemeente is. En derdens gaan ons bespreek hoekom ons besig moet bly om ons eie rol in God se gemeente te vervul.

ELKEEN VAN ONS HET ’N ROL OM TE SPEEL IN JEHOVAH SE GEMEENTE

4. Wat leer Romeine 12:4, 5 ons?

4 Die eerste les wat ons uit Paulus se illustrasie kan leer, is dat elkeen van ons ’n belangrike plek in Jehovah se familie het. Paulus begin sy illustrasie deur te sê: “Ons liggaam bestaan uit baie ledemate, maar die ledemate het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, een liggaam in eenheid met Christus, maar afsonderlik is ons ledemate wat aan mekaar behoort” (Rom. 12:4, 5). Wat was Paulus se punt? Elkeen van ons het ’n verskillende rol in die gemeente, maar elkeen van ons is belangrik.

Ons het verskillende rolle in die gemeente, maar elkeen van ons is waardevol (Sien paragraaf 5-12) *

5. Wat het Jehovah vir die gemeente gegee?

5 Wanneer jy dink aan persone wat ’n plek in die gemeente het, dink jy miskien onmiddellik aan die persone wat die leiding neem (1 Tess. 5:12; Heb. 13:17). Dit is waar dat Jehovah deur middel van Christus “gawes in die vorm van mense” aan Sy gemeente gegee het (Ef. 4:8). Hierdie “gawes in die vorm van mense” sluit in lede van die Bestuursliggaam, helpers van die Bestuursliggaam, Takkomiteelede, kringopsieners, veldinstrukteurs, gemeentelike ouermanne en bedieningsknegte. Al hierdie broers is deur heilige gees aangestel om vir Jehovah se kosbare skape te sorg en die gemeente te versterk. – 1 Pet. 5:2, 3.

6. Wat probeer broers wat deur heilige gees aangestel is om te doen, volgens 1 Tessalonisense 2:6-8?

6 Broers word deur heilige gees aangestel om na verskillende verantwoordelikhede om te sien. Net soos verskillende dele van die liggaam, soos die hande en die voete, werk om die hele liggaam te bevoordeel, werk broers wat deur heilige gees aangestel is, hard om die hele gemeente te bevoordeel. Hulle doen nie hierdie werk om deur ander geprys te word nie. Hulle probeer eerder hard om hulle broers en susters op te bou en te versterk. (Lees 1 Tessalonisense 2:6-8.) Ons dank Jehovah vir sulke onselfsugtige, geestelik bekwame manne!

7. Watter seëninge het baie wat in die voltydse diens is?

7 Party in die gemeente word dalk aangestel om as sendelinge, spesiale pioniers of gewone pioniers te dien. Om die waarheid te sê, broers en susters regoor die wêreld het die predikings- en dissipelmaakwerk hulle voltydse loopbaan gemaak. Deur dit te doen, het hulle baie gehelp om dissipels van Christus Jesus te word. Alhoewel hierdie voltydse predikers gewoonlik min materiële dinge het, het Jehovah hulle baie seëninge gegee (Mark. 10:29, 30). Ons is baie lief vir hierdie dierbare broers en susters en ons is bly dat hulle deel van die gemeente is!

8. Hoekom is elke verkondiger van die goeie nuus kosbaar vir Jehovah?

8 Is dit net aangestelde broers en persone in die voltydse diens wat ’n plek in die gemeente het? Glad nie! Elke verkondiger van die goeie nuus is belangrik vir God en die gemeente (Rom. 10:15; 1 Kor. 3:6-9). Om die waarheid te sê, een van die belangrikste doelwitte van die gemeente is om dissipels van ons Here Jesus Christus te maak (Matt. 28:19, 20; 1 Tim. 2:4). Almal wat deel van die gemeente is, gedoopte en ongedoopte verkondigers, probeer om hierdie werk die belangrikste ding in hulle lewe te maak. – Matt. 24:14.

9. Hoekom is ons lief vir ons Christensusters?

9 Jehovah eer Christensusters deur hulle belangrike werk in die gemeente te gee. Hy waardeer hierdie vroue, ma’s, weduwees en enkel susters, wat hom getrou dien. Die Bybel praat dikwels van uitstekende vroue wat God se hart bly gemaak het. Hulle word geprys vir hulle goeie eienskappe, soos wysheid, geloof, ywer, moed, vrygewigheid en vir hulle goeie werke (Luk. 8:2, 3; Hand. 16:14, 15; Rom. 16:3, 6; Fil. 4:3; Heb. 11:11, 31, 35). Ons is baie dankbaar teenoor Jehovah dat ons Christenvroue in ons gemeentes het wat hierdie selfde pragtige eienskappe het!

10. Hoekom waardeer ons ons ouer broers en susters?

10 Ons is ook bly omdat ons so baie ouer broers en susters in die gemeente het. Party gemeentes het ouer broers en susters wat Jehovah hulle hele lewe lank getrou gedien het. Ander ouer persone het dalk eers onlangs die waarheid geleer. Wat ook al die geval is, ons ouer broers en susters sukkel dalk met verskillende gesondheidsprobleme wat met die ouderdom kom. Hierdie probleme veroorsaak dalk dat hulle nie meer so baie in die gemeente en in die predikingswerk kan doen nie. Maar hierdie ouer persone doen alles wat hulle kan in die veldbediening en hulle gebruik al hulle energie om ander aan te moedig en op te lei! En ons leer baie uit hulle ondervinding. Hulle is baie pragtig vir Jehovah en vir ons. – Spr. 16:31.

11-12. Hoe is jy deur die jongmense in jou gemeente aangemoedig?

11 Dink ook aan ons jongmense. Hulle het baie probleme omdat hulle in hierdie wêreld grootword wat deur Satan die Duiwel beheer word en wat beïnvloed word deur sy slegte idees (1 Joh. 5:19). Maar ons almal voel aangemoedig wanneer ons sien hoe ons jongmense by die vergaderinge antwoord, velddiens doen en moedig hulle geloof verdedig. Ja, julle jongmense het ’n belangrike plek in Jehovah se gemeente! – Ps. 8:2.

12 Maar party van ons broers en susters sukkel om te glo dat hulle ’n belangrike deel van die gemeente is. Wat kan ons help om te voel dat ons as individue ’n plek in die gemeente het? Kom ons kyk.

SIEN JOU PLEK IN DIE GEMEENTE

13-14. Hoekom voel party dalk dat hulle nie waardevol vir die gemeente is nie?

13 Kyk na die tweede les wat ons uit Paulus se illustrasie kan leer. Paulus se illustrasie laat ons dink aan ’n probleem wat baie vandag het. Vir baie is dit moeilik om te glo dat hulle waardevol vir die gemeente is. Paulus het geskryf: “As die voet sou sê: ‘Ek is nie ’n hand nie, en daarom is ek nie deel van die liggaam nie,’ beteken dit nie dat dit nie deel van die liggaam is nie. En as die oor sou sê: ‘Ek is nie ’n oog nie, en daarom is ek nie deel van die liggaam nie,’ beteken dit nie dat dit nie deel van die liggaam is nie” (1 Kor. 12:15, 16). Wat is die punt wat Paulus probeer maak het?

14 As jy jouself met ander in die gemeente vergelyk, sien jy dalk nie jou eie waarde raak nie. Party in die gemeente is dalk goeie onderrigters, goeie organiseerders of goeie herders. Dalk voel jy dat jy nie so goed soos hulle kan wees nie. Dit wys dat jy nederig en beskeie is (Fil. 2:3). Maar wees versigtig. As jy jouself heeltyd vergelyk met persone wat uitstekende talente het, sal jy teleurgesteld wees in jouself. Jy kan dalk selfs begin voel, soos Paulus genoem het, dat jy glad nie ’n plek in die gemeente het nie. Wat kan jou help om sulke gevoelens te hanteer?

15. Wat moet ons besef oor enige vermoëns wat ons dalk het, volgens 1 Korintiërs 12:4-11?

15 Dink hieraan: Jehovah het wonderdadige gawes van die heilige gees aan party Christene in die eerste eeu gegee, maar nie al die Christene het dieselfde gawes ontvang nie. (Lees 1 Korintiërs 12:4-11.) Jehovah het vir hulle verskillende gawes en vermoëns gegee, maar elke Christen was waardevol. Vandag het ons nie die wonderdadige gawes van die heilige gees nie. Maar die beginsel bly dieselfde. Ons het dalk nie almal dieselfde talente nie, maar ons almal is waardevol vir Jehovah.

16. Watter raad van die apostel Paulus moet ons toepas?

16 In plaas daarvan om onsself met ander Christene te vergelyk, moet ons die geïnspireerde raad van die apostel Paulus toepas: “Laat elkeen sy eie dade ondersoek, en dan sal hy ’n rede hê om bly te wees oor wat hy self doen en nie omdat hy homself met ander vergelyk nie.” – Gal. 6:4.

17. Hoe sal dit ons help as ons Paulus se raad toepas?

17 As ons Paulus se geïnspireerde raad toepas en onsself ondersoek, sal ons dalk begin sien dat ons ons eie unieke gawes en vermoëns het. Byvoorbeeld, ’n ouerman is dalk nie ’n goeie onderrigter wanneer hy op die verhoog is nie, maar hy is dalk baie goed in die dissipelmaakwerk. Of hy is dalk nie ’n goeie organiseerder soos party ander ouermanne in die gemeente nie, maar hy is bekend as ’n liefdevolle herder, en die broers en susters voel gemaklik om hom vir raad uit die Bybel te vra. Of hy is bekend daarvoor as iemand wat gasvry is (Heb. 13:2, 16). Wanneer ons ons eie sterk punte en vermoëns duidelik sien, sal ons ’n rede hê om goed te voel oor wat ons vir die gemeente kan doen. En die kanse is minder dat ons jaloers sal word op ons broers en susters wat vermoëns het wat ons nie het nie.

18. Hoe kan ons ons vermoëns verbeter?

18 Dit maak nie saak wat ons plek in die gemeente is nie, ons almal moet die begeerte hê om beter in ons diens te doen en om ons vermoëns te verbeter. Om ons hiermee te help, gee Jehovah wonderlike opleiding deur middel van sy organisasie. Byvoorbeeld, by die Lewe en Bediening-vergadering word ons opgelei om beter in ons bediening te doen. Maak jy gebruik van hierdie opleidingsprogram?

19. Hoe kan jy die doelwit bereik om na die Skool vir Koninkrykspredikers te gaan?

19 Nog ’n wonderlike opleidingsprogram is die Skool vir Koninkrykspredikers. Broers en susters wat in die voltydse diens is en wat tussen die ouderdomme van 23 en 65 is, kan hierdie skool bywoon. Jy dink dalk dat jy nooit hierdie doelwit sal bereik nie. Maar in plaas daarvan om ’n lys te maak van redes hoekom jy nie kan gaan nie, maak ’n lys van redes hoekom jy wil gaan. Werk dan ’n plan uit wat jou sal help om te doen wat nodig is sodat jy vir die skool kan aansoek doen. Met Jehovah se hulp en as jy hard werk, sal jy dalk kan doen wat jy gedink het jy nooit sal kan doen nie.

GEBRUIK JOU VERMOËNS OM DIE GEMEENTE OP TE BOU

20. Wat kan ons uit Romeine 12:6-8 leer?

20 Die derde les wat ons uit Paulus se illustrasie kan leer, is in Romeine 12:6-8. (Lees.) Hier wys Paulus weer dat persone in die gemeente verskillende vermoëns het. Maar nou beklemtoon hy dat ons die vermoëns wat ons het, moet gebruik om die gemeente op te bou en te versterk.

21-22. Watter lesse kan ons by Robert en Felice leer?

21 Kyk na die voorbeeld van ’n broer wat ons Robert sal noem. Nadat hy in ’n ander land gedien het, is hy gevra om by die Bethel in sy geboorteland te dien. Alhoewel die broers hom verseker het dat hy niks verkeerds gedoen het nie, het hy gesê: “Ek was maande lank ongelukkig met myself omdat ek gedink het dat ek in my toewysing misluk het. Daar was tye dat ek nie meer by Bethel wou dien nie.” Hoe het hy sy vreugde teruggekry? ’n Ouerman het hom daaraan herinner dat Jehovah ons in elke toewysing oplei sodat ons beter gebruik kan word in die toewysing waarin ons nou is. Robert het besef dat hy nie meer in die verlede moes vaskyk nie, maar dat hy eerder moet fokus op wat hy nou kan doen.

22 Broer Felice Episcopo het ’n soortgelyke ondervinding gehad. Hy en sy vrou het die Gileadskool in 1956 bygewoon en op die kring in Bolivia gedien. In 1964 het hulle ’n kind gehad. Felice het gesê: “Dit was baie moeilik om die toewysing waarvoor ons so lief was, te verlaat. Ek moet erken dat ek omtrent ’n jaar gemors het deur vir myself jammer te voel. Maar met Jehovah se hulp, het ek my gesindheid verander en gefokus op my nuwe verantwoordelikheid as ’n ouer.” Voel jy net soos Robert of Felice? Word jy mismoedig omdat jy nie nou dieselfde voorregte het as wat jy in die verlede gehad het nie? As jy so voel, sal jy gelukkiger wees as jy eerder fokus op wat jy nou vir Jehovah en jou broers en susters kan doen. Bly besig, gebruik jou vermoëns om ander te help, dan sal jy gelukkig wees terwyl jy die gemeente opbou.

23. Waarvoor moet ons tyd maak, en wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

23 Elkeen van ons is kosbaar vir Jehovah. Hy wil hê dat ons deel van sy familie moet wees. As ons tyd maak om na te dink oor wat ons kan doen om ons broers en susters op te bou en dan hard werk om dit te doen, sal die kanse minder wees dat ons sal voel dat ons nie in die gemeente behoort nie! Maar wat van hoe ons oor ander in die gemeente voel? Hoe kan ons wys dat ons hulle waardeer? Ons sal hierdie belangrike onderwerp in die volgende artikel bespreek.

LIED 24 Kom na die berg van Jehovah

^ par. 5 Ons almal wil voel dat ons aan Jehovah behoort. Maar soms wonder ons dalk waar ons inpas. Hierdie artikel sal ons help om te sien dat elkeen van ons ’n kosbare plek in die gemeente het.

^ par. 3 WAT DIT BETEKEN: Die plek wat ons in Jehovah se gemeente het, verwys na die rol wat ons speel om die gemeente op te bou en te versterk. Dit hang nie af van ons ras, hoe baie geld ons het, wie ons familie is, wat ons kultuur is of hoeveel opvoeding ons het nie.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENTE: Die drie prente wys wat voor, gedurende en ná ’n vergadering gebeur. Prent 1: ’n Ouerman groet ’n besoeker vriendelik, ’n jong broer stel die klanktoerusting op en ’n suster gesels met ’n ouer suster. Prent 2: Jonk en oud probeer om gedurende die Wagtoring-studie te antwoord. Prent 3: ’n Paartjie help om die Koninkryksaal skoon te maak. ’n Ma help haar kind om geld in die bydraebussie te sit. ’n Jong broer is besig by die lektuurtoonbank en ’n broer moedig ’n ouer suster aan.