Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 34

“Kom ondervind” Jehovah se goedheid – Hoe?

“Kom ondervind” Jehovah se goedheid – Hoe?

“Kom ondervind en sien self dat Jehovah goed is. Gelukkig is die man wat by hom beskerming soek.” – PS. 34:8.

LIED 117 Goedheid

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Volgens Psalm 34:8, hoe kan ons Jehovah se goedheid ondervind?

SÊ NOU iemand gee vir jou iets om te eet wat jy nog nooit voorheen probeer het nie. Jy kan iets oor die gereg leer deur daarna te kyk, dit te ruik, die resep te kry en deur ander te vra of hulle daarvan hou. Maar die enigste manier om te weet of jy daarvan hou of nie, is om dit self te proe.

2 Ons kan oor Jehovah se goedheid leer deur die Bybel en ons publikasies te lees en deur te luister na wat ander sê oor die seëninge wat hulle van Jehovah ontvang het. Maar ons sal eers sien hoe goed Jehovah regtig is wanneer ons sy goedheid self “ondervind”. (Lees Psalm 34:8.) Kom ons kyk na een voorbeeld van hoe ons dit kan doen. Sê nou ons wil in die voltydse bediening wees, maar om daardie doelwit te bereik, moet ons ons lewe vereenvoudig. Miskien het ons Jesus se belofte al baie keer gelees dat Jehovah altyd sal voorsien wat ons nodig het as ons Koninkryksbelange eerste stel. Maar miskien het ons nooit self ondervind hoe Jehovah dit vir ons doen nie (Matt. 6:33). Maar omdat ons Jesus se belofte glo, probeer ons om minder geld te spandeer en maak ons veranderinge sodat ons minder kan werk en soveel as moontlik in die bediening kan doen. Wanneer ons dit doen, sien ons persoonlik dat Jehovah regtig voorsien wat ons nodig het. Ons “ondervind” Jehovah se goedheid self.

3. Met Psalm 16:1, 2 in gedagte, teenoor wie is Jehovah goed?

3 Jehovah is “goed vir almal”, selfs teenoor dié wat hom nie ken nie (Ps. 145:9; Matt. 5:45). Maar hy is veral goed teenoor dié wat hom liefhet en wat hom met hulle hele hart dien. (Lees Psalm 16:1, 2.) Kom ons bespreek ’n paar goeie dinge wat Jehovah vir ons doen.

4. Watter goeie dinge doen Jehovah vir dié wat nader aan hom begin kom?

4 Elke keer wanneer ons toepas wat Jehovah ons leer, sien ons hoe dit ons help. Terwyl ons van hom geleer het en vir hom lief begin word het, het hy ons gehelp om op te hou om op ’n verkeerde manier te dink en om op te hou om dinge te doen waarvan hy nie hou nie (Kol. 1:21). Toe ons ons lewe aan hom toegewy het en ons laat doop het, het ons sy goedheid selfs meer ondervind toe hy vir ons ’n skoon gewete gegee het en vir ons gehelp het om ’n sterk vriendskap met hom te hê. – 1 Pet. 3:21.

5. Hoe ondervind ons Jehovah se goedheid in die bediening?

5 Ons ondervind ook Jehovah se goedheid in die bediening. Is jy ’n skaam persoon? Baie van Jehovah se knegte is. Voordat jy een van Jehovah se Getuies geword het, het jy miskien gedink dat jy nooit aan ’n vreemdeling se deur sou kon klop om met hom oor die Bybel te praat nie? Maar vandag doen jy dit gereeld. En met Jehovah se hulp het jy geleer om die bediening te geniet! Jy het gesien hoe Jehovah jou op verskillende maniere ondersteun. Hy het jou gehelp om kalm te bly wanneer mense in die bediening onbeskof was. Hy het jou ook gehelp om aan die regte teks te dink wanneer jy iemand gekry het wat wou luister. En hy het jou die krag gegee om aan te hou preek, selfs wanneer mense in die gebied nie belanggestel het nie. – Jer. 20:7-9.

6. Hoekom kan ons sê dat die opleiding wat Jehovah vir ons gee, bewyse is van sy goedheid?

6 Nog bewyse van Jehovah se goedheid is die opleiding wat hy vir ons gee vir die bediening (Joh. 6:45). By ons Lewe en Bediening-vergadering kry ons goeie aanbiedings en word ons aangemoedig om dit in die bediening te gebruik. Aan die begin is ons miskien bang om iets nuuts te probeer. Maar wanneer ons dit wel doen, sal ons dalk vind dat die voorstelle goed werk in ons gebied. By die vergaderinge en byeenkomste word ons ook aangemoedig om aan aspekte van die bediening deel te neem wat ons nooit voorheen probeer het nie. Weer eens sal ons iets nuuts moet probeer wat ons dalk senuweeagtig laat voel. Maar wanneer ons dit wel doen, gee ons vir Jehovah iets om te seën. Kom ons kyk na ’n paar van die seëninge wat ons sal ontvang as ons nuwe dinge probeer sodat ons vir Jehovah ons beste kan gee, maak nie saak wat ons omstandighede is nie. Dan sal ons na maniere kyk hoe ons ons bediening kan uitbrei.

JEHOVAH SEËN DIÉ WAT OP HOM VERTROU

7. Watter seëning ontvang ons wanneer ons probeer om ons bediening uit te brei?

7 Ons kom al hoe nader aan Jehovah. Kyk na die voorbeeld van ’n ouerman met die naam Samuel, * wat saam met sy vrou in Colombia dien. Hierdie paartjie het hulle pionierdiens in hulle tuisgemeente geniet, maar hulle wou hulle bediening uitbrei deur ’n gemeente te gaan help waar daar ’n behoefte was. Hulle moes ’n paar opofferings maak om daardie doelwit te bereik. Samuel sê: “Ons het Matteus 6:33 toegepas en opgehou om onnodige dinge te koop. Maar die moeilikste was om ons woonstel agter te laat. Ons het niks geskuld op die woonstel nie en dit was perfek vir ons.” In hulle nuwe toewysing kon hulle met net ’n sesde van hulle vorige inkomste klaarkom. Samuel sê: “Ons het gesien hoe Jehovah ons lei en ons gebede beantwoord. Ons ondervind sy goedkeuring en liefde op maniere wat ons nooit voorheen ondervind het nie.” Kan jy dalk jou bediening op die een of ander manier uitbrei? As dit vir jou moontlik is, kan jy seker wees dat jy nader aan Jehovah sal kom en dat hy vir jou sal sorg. – Ps. 18:25.

8. Wat leer jy uit Ivan en Viktoria se ondervinding?

8 Ons vind vreugde in ons diens. Kyk na die ondervinding van Ivan en Viktoria, ’n getroude paartjie wat as pioniers in Kirgistan dien. Hulle het hulle lewe eenvoudig gehou sodat hulle met enige toewysing kan help, insluitende konstruksieprojekte. Ivan sê: “Met elke projek het ons ons beste gegee. Al was ons moeg aan die einde van die dag, was ons gelukkig omdat ons geweet het dat ons ons krag gebruik om hard vir Jehovah te werk. Ons het ook groot vreugde gevind in die vriendskappe wat ons opgebou het en in die ondervindinge wat ons gehad het.” – Mark. 10:29, 30.

9. Wat het een suster met moeilike omstandighede gedoen om haar bediening uit te brei, en wat was die resultaat?

9 Ons vind vreugde in Jehovah se diens al het ons moeilike omstandighede. Kyk byvoorbeeld na die ondervinding van Mirreh, ’n bejaarde weduwee in Wes-Afrika wat ’n dokter was. Toe sy afgetree het, het sy begin pionier. Mirreh het ’n baie pynlike siekte wat dit vir haar moeilik maak om te loop, en daarom kan sy net vir ’n uur op ’n slag aan die huis-tot-huis-bediening deelneem. Maar sy kan langer werk as sy openbare getuieniswerk doen. Sy het baie herbesoeke en Bybelstudies, en sy kontak party van hulle oor die foon. Wat het Mirreh gemotiveer om meer vir Jehovah te doen? Sy sê: “My hart loop oor van liefde vir Jehovah en Jesus Christus. En ek vra Jehovah gereeld dat hy my help om soveel as moontlik in sy diens te kan doen.” – Matt. 22:36, 37.

10. Volgens 1 Petrus 5:10, wat gee Jehovah aan almal wat meer probeer doen in sy diens?

10 Ons kry ekstra opleiding van Jehovah. Dit is wat Kenny, ’n pionier in Mauritius, ondervind het. Toe hy die waarheid geleer het, het hy die universiteit verlaat, hom laat doop en met die voltydse diens begin. Hy sê: “Ek probeer om die profeet Jesaja se voorbeeld te volg, wat gesê het: ‘Hier is ek! Stuur my!’” (Jes. 6:8). Kenny het met ’n hele paar bouprojekte gehelp, en hy het ook gehelp om Bybelpublikasies in sy moedertaal te vertaal. Kenny sê: “Ek het al die opleiding gekry wat ek nodig gehad het om my toewysings uit te voer.” Maar hy het nie net geleer hoe om die werk te doen nie. Hy sê: “Ek het oor my beperkings geleer en oor die eienskappe wat ek nodig het om ’n beter kneg van Jehovah te word.” (Lees 1 Petrus 5:10.) Kan jy jou omstandighede miskien ondersoek om te sien of jy ekstra opleiding van Jehovah kan kry?

’n Paartjie preek in ’n gebied waar daar meer verkondigers nodig is; ’n jong suster help met die bou van ’n Koninkryksaal; ’n bejaarde paartjie doen telefoongetuieniswerk. Hulle almal vind vreugde in hulle diens aan Jehovah (Sien paragraaf 11)

11. Wat het party susters in Suid-Korea gedoen sodat hulle aan die bediening kon deelneem, en wat was die resultate? (Sien prent op voorblad.)

11 Selfs Getuies wat baie ondervinding het, kry opleiding wanneer hulle aan ’n nuwe aspek van die bediening deelneem. Gedurende die COVID-19-pandemie het ouermanne in een gemeente in Suid-Korea geskryf: “Party wat eers gedink het dat hulle as gevolg van hulle gesondheid nie velddiens kan doen nie, doen dit nou deur middel van videokonferensies. Drie susters wat in hulle 80’s is, het geleer hoe om die nuwe tegnologie te gebruik, en nou doen hulle amper elke dag velddiens” (Ps. 92:14, 15). Wil jy jou bediening graag uitbrei en Jehovah se goedheid selfs meer ondervind? Kyk na ’n paar dinge wat jy kan doen om daardie doelwit te bereik.

HOE ONS ONS BEDIENING KAN UITBREI

12. Watter belofte maak Jehovah aan almal wat op hom vertrou?

12 Leer om op Jehovah te vertrou. Hy belowe om ons ryklik te seën wanneer ons op hom vertrou en vir hom ons beste gee (Mal. 3:10). Dit is presies wat Fabiola, ’n suster in Colombia ondervind het. Sy wou graag as ’n gewone pionier dien kort nadat sy gedoop is. Maar haar man en drie kinders het op haar inkomste staatgemaak. So toe sy kon aftree, het sy hard gebid en Jehovah gevra om haar te help. Sy sê: “Mense moet gewoonlik lank wag voordat hulle hulle pensioen kry, maar ek het myne begin kry maar net ’n maand nadat ek aansoek gedoen het. Dit was soos ’n wonderwerk!” Twee maande later het sy begin pionier. Sy is nou in haar 70’s en pionier nou al meer as 20 jaar lank. Gedurende daardie tyd het sy agt mense gehelp om tot doop te vorder. Sy sê: “Al voel ek soms swak, help Jehovah my elke dag om by my rooster te bly.”

Hoe het Abraham en Sara, Jakob en die priesters wat die Jordaanrivier oorgesteek het, gewys dat hulle op Jehovah vertrou? (Sien paragraaf 13)

13-14. Watter voorbeelde kan ons help om op Jehovah te vertrou en om ons bediening uit te brei?

13 Leer uit die voorbeelde van dié wat op Jehovah vertrou het. Die Bybel is vol voorbeelde van mense wat hulle bes gegee het in Jehovah se diens. Baie keer moes daardie knegte van Jehovah die eerste stap neem voordat hulle spesiale seëninge van Jehovah kon ontvang. Byvoorbeeld, dit was eers nadat Abraham sy huis verlaat het – “al het hy nie geweet waarheen hy gaan nie” – dat Jehovah hom geseën het (Heb. 11:8). Dit was eers nadat Jakob met ’n engel gestoei het dat hy ’n spesiale seëning ontvang het (Gen. 32:24-30). En dink aan wat gebeur het toe die nasie Israel op die punt gestaan het om in die Beloofde Land in te gaan. Die priesters moes eers hulle voete in die onstuimige waters van die Jordaanrivier sit voordat die volk die rivier kon oorsteek. – Jos. 3:14-16.

14 Die voorbeelde van Getuies in ons tyd wat op Jehovah vertrou het en hulle bediening uitgebrei het, kan ons ook help. Byvoorbeeld, ’n broer met die naam Payton en sy vrou, Diana, het dit geniet om van broers en susters te lees wat hulle bediening uitgebrei het, soos die ondervindinge in die reeks “Hulle het hulle gewillig aangebied”. * Payton sê: “Toe ons hulle ondervindinge gelees het, het dit vir ons gevoel asof ons na iemand kyk terwyl hy ’n lekker ete geniet. Hoe langer ons gekyk het, hoe meer wou ons self ‘ondervind en sien dat Jehovah goed is’.” Uiteindelik het Payton en Diana getrek na ’n gebied waar daar ’n behoefte was. Het jy al hierdie reeks gelees? En het jy al gekyk na die video’s Getuieniswerk in ’n afgesonderde gebied—Australië en Getuieniswerk in ’n afgesonderde gebied—Ierland op jw.org? Dit sal jou help om te sien hoe jy jou bediening kan uitbrei.   

15. Hoe kan dit ons help as ons met die regte mense assosieer?

15 Assosieer met die regte mense. Dit is makliker om ’n nuwe gereg te probeer as ons tyd spandeer saam met mense wat van daardie gereg hou. Net so, as ons tyd spandeer saam met mense wat hulle diens aan Jehovah eerste stel, sal ons ook heel waarskynlik ons bediening wil uitbrei. Dit is wat Kent en Veronica, ’n getroude paartjie, ondervind het. Kent sê: “Ons vriende en familie het ons aangemoedig om nuwe dinge in ons diens aan Jehovah te probeer. Ons het besef dat assosiasie met mense wat hulle diens aan Jehovah eerste stel, ’n mens moed gee om iets nuuts te probeer.” Kent en Veronica dien nou as spesiale pioniers in Serwië.

16. Volgens Jesus se illustrasie in Lukas 12:16-21, hoekom moet ons bereid wees om opofferings te maak?

16 Maak opofferings vir Jehovah. Ons hoef nie alles wat ons geniet, op te offer om Jehovah gelukkig te maak nie (Pred. 5:19, 20). Maar ons moenie huiwer om meer in God se diens te doen net omdat ons nie persoonlike opofferings wil maak nie. Anders kan ons dalk dieselfde fout maak wat die man in Jesus se illustrasie gemaak het, wat ’n gemaklike lewe gehad het, maar God geïgnoreer het. (Lees Lukas 12:16-21.) ’n Broer met die naam Christian wat in Frankryk bly, sê: “Ek het nie die beste van my tyd en energie aan Jehovah en aan my familie gegee nie.” Hy en sy vrou het besluit om te pionier. Maar om daardie doelwit te bereik, moes hulle uit hulle werk bedank. Om hulleself te onderhou, het hulle ’n klein skoonmaakbesigheid begin, en hulle het geleer om met minder tevrede te wees. Was die opoffering die moeite werd? Christian sê: “Ons geniet ons bediening nou meer en ons geniet dit om te sien hoe ons Bybelstudente en herbesoeke van Jehovah leer.”

17. Hoekom kan dit dalk vir ons moeilik wees om iets nuuts in ons bediening te probeer?

17 Wees bereid om aan nuwe aspekte van die bediening deel te neem (Hand. 17:16, 17; 20:20, 21). Shirley, ’n pionier in die Verenigde State, moes haar bediening aanpas gedurende die COVID-19-pandemie. Eers het sy gehuiwer om telefoongetuieniswerk te doen, maar nadat sy gedurende die kringbesoek opleiding gekry het, het sy gereeld aan hierdie vorm van die bediening begin deelneem. Sy sê: “Aan die begin was ek bang, maar nou geniet ek dit baie. Ons bereik meer mense as wat ons in die huis-tot-huis-werk bereik het!”

18. Wat kan ons help as dit vir ons moeilik is om ons bediening uit te brei?

18 Stel ’n doelwit en tree op. Wanneer ons probleme ondervind, bid ons vir hulp en dink ons mooi oor wat ons daaromtrent kan doen (Spr. 3:21). Sonia, wat as ’n gewone pionier in die Romani-veld in Europa dien, sê: “Ek hou daarvan om my doelwitte op ’n stuk papier neer te skryf en om dit te sit op ’n plek waar ek dit kan sien. Ek het ’n prent van ’n kruispad op my tafel. Wanneer ek ’n besluit moet maak, kyk ek na daardie kruispad en dink ek aan watter rigting my besluit my sal neem.” Sonia probeer om positief te bly al duik probleme op. Sy sê: “Elke nuwe situasie kan soos ’n muur wees wat my keer of soos ’n brug wees wat my help – alles hang van my gesindheid af.”

19. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

19 Jehovah seën ons op baie maniere. Ons kan wys hoeveel ons daardie seëninge waardeer deur alles te doen wat ons kan om hom te loof (Heb. 13:15). Dit sluit dalk in dat ons na nuwe maniere soek om ons bediening uit te brei. Dan sal Jehovah ons selfs nog meer seën. Laat ons elke dag na maniere soek om ‘te ondervind en te sien dat Jehovah goed is’. Dan sal ons soos Jesus wees wat gesê het: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te voltooi.” – Joh. 4:34.

LIED 80 ‘Kom ondervind dat Jehovah goed is’

^ par. 5 Jehovah is die Bron van goedheid. Hy gee goeie dinge aan almal – selfs aan goddelose mense. Maar hy hou veral daarvan om goeie dinge vir sy getroue aanbidders te doen. In hierdie artikel gaan ons kyk na hoe Jehovah sy goedheid aan sy knegte bewys. Ons sal ook kyk na hoe dié wat hulle bediening uitbrei, Jehovah se goedheid op ’n spesiale manier ondervind.

^ par. 7 Van die name is verander.

^ par. 14 Hierdie reeks wat eers in Die Wagtoring verskyn het, verskyn nou op jw.org. Gaan na OMTRENT ONS > ONDERVINDINGE > BEREIK GEESTELIKE DOELWITTE.