Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 31

Sal jy op Jehovah wag?

Sal jy op Jehovah wag?

“Ek sal geduldig wag.” – MIGA 7:7.

LIED 128 Volhard tot die einde toe

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

HOE voel jy wanneer ’n pakkie wat jy dringend nodig het, langer vat om te kom as wat jy verwag het? Voel jy teleurgesteld? Spreuke 13:12 sê: “’n Uitgestelde verwagting maak die hart siek.” Maar wat as jy uitvind dat daar ’n goeie rede is hoekom die pakkie nie gekom het toe jy dit verwag het nie? Dan sal jy heel moontlik geduldig wees en bereid wees om te wag.

2 In hierdie artikel gaan ons na ’n hele paar Bybelbeginsels kyk wat ons sal help om “geduldig [te] wag” (Miga 7:7). Dan gaan ons kyk na twee situasies wat vereis dat ons op Jehovah moet wag. Laastens sal ons kyk na die seëninge wat almal sal ontvang wat bereid is om op Jehovah te wag.   

BYBELBEGINSELS WAT ONS LEER OM GEDULDIG TE WEES

3. Hoe kan die beginsel in Spreuke 13:11 ons help?

3 Spreuke 13:11 gee vir ons ’n beginsel wat ons kan help om geduldig te wees. Dit sê: “Rykdom wat vinnig verkry word, sal minder word, maar die rykdom van die een wat dit bietjie vir bietjie bymekaarmaak, sal meer word.” Sien jy die beginsel? Dit is wys om geduldig te wees en dinge stap vir stap te doen.

4. Wat leer ons uit die beginsel in Spreuke 4:18?

4 Spreuke 4:18 sê: “Die pad van die regverdiges is soos die helder oggendlig wat al hoe helderder word totdat dit heeltemal dag is.” Hierdie vers wys vir ons duidelik hoe Jehovah sy volk help om sy wil te verstaan – hy doen dit geleidelik. Maar hierdie vers help ons ook om te verstaan hoe ’n Christen geestelike vordering maak. Geestelike groei neem tyd. Ons kan dit nie aanjaag nie. As ons die raad deeglik bestudeer en toepas wat ons deur God se Woord en sy organisasie kry, sal ons geleidelik die eienskappe van Christus ontwikkel. En ons sal God al hoe beter leer ken. Kom ons kyk na ’n voorbeeld wat Jesus gegee het om ons te help om hierdie punt te verstaan.

Net soos ’n plant stadig groei, sal dit vir ’n Bybelstudent tyd neem om geestelik te groei (Sien paragraaf 5)

5. Watter voorbeeld het Jesus gegee wat wys dat dit tyd neem vir ’n persoon om veranderinge te maak?

5 Jesus het verduidelik dat die Koninkryksboodskap soos ’n klein saadjie is wat geleidelik in die hart van belangstellendes groei. Hy het gesê: “Die saad spruit uit en word groot – hy [die saaier] weet nie presies hoe dit gebeur nie. Die grond bring vanself geleidelik vrug voort: eers die stingel, dan die aar en uiteindelik die graankorrels in die aar” (Mark. 4:27, 28). Wat was Jesus se punt? Net soos ’n plant stadig groei, sal dit vir iemand tyd neem om geestelik te groei. Byvoorbeeld, wanneer Bybelstudente nader aan Jehovah kom, sal ons al die goeie veranderinge begin sien wat hulle gemaak het (Ef. 4:22-24). Maar ons moet onthou dat dit Jehovah is wat die saadjie laat groei. – 1 Kor. 3:7.

6-7. Wat leer ons uit die manier hoe Jehovah die aarde gemaak het?

6 Jehovah is altyd geduldig en hy neem die tyd wat nodig is om sy werk klaar te maak. Hy doen dit om eer op sy naam te bring en om ander te help. Dink byvoorbeeld aan hoe Jehovah die aarde stap vir stap vir mense voorberei het.

7 Wanneer die Bybel beskryf hoe Jehovah die aarde gemaak het, praat dit van hoe hy “sy afmetings” bepaal het, hoe hy “sy voetstukke” gemaak het en hoe hy “sy hoeksteen” gelê het (Job 38:5, 6). Hy het selfs die tyd geneem om te kyk na wat hy gemaak het (Gen. 1:10, 12). Dink net hoe opwindend dit vir die engele moes gewees het om te sien hoe Jehovah se skeppingswerke geleidelik bymekaarkom! Hulle het selfs op een stadium “begin juig” (Job 38:7). Wat is die les vir ons? Dit het Jehovah duisende jare geneem om die aarde, die sterre en alles wat lewe, te maak. Maar toe Jehovah na alles gekyk het wat hy gemaak het, het hy gesê dat dit “baie goed” was. – Gen. 1:31.

8. Wat sal ons nou bespreek?

8 Soos ons in die bogenoemde voorbeelde gesien het, is daar baie beginsels in God se Woord wat vir ons wys hoe belangrik dit is om geduldig te wees. Nou sal ons twee spesifieke situasies bespreek wat vereis dat ons op Jehovah moet wag.

WANNEER MOET ONS OP JEHOVAH WAG?

9. Wat is een situasie wat vereis dat ons op Jehovah moet wag?

9 Ons sal dalk moet wag vir ’n antwoord op ons gebede. Wanneer ons vir krag bid om ’n probleem te hanteer of om ’n swakheid te oorkom, kan dit dalk vir ons voel asof Jehovah lank vat om ons gebede te beantwoord. Hoekom beantwoord Jehovah nie al ons gebede onmiddellik nie?

10. Hoekom moet ons geduldig wees wanneer dit kom by ons gebede?

10 Jehovah luister mooi na ons gebede (Ps. 65:2). Hy beskou ons opregte gebede as bewyse van ons geloof (Heb. 11:6). Jehovah wil ook sien hoe vasbeslote ons is om in ooreenstemming met ons gebede op te tree en om sy wil te doen (1 Joh. 3:22). Daarom sal ons moontlik geduldig moet wees en in ooreenstemming met ons gebede moet optree wanneer ons probeer om ’n slegte gewoonte of ’n swakheid te oorkom. Jesus het ons gehelp om te verstaan dat van ons gebede dalk nie onmiddellik beantwoord sal word nie. Hy het gesê: “Hou aan vra, en daar sal vir julle gegee word. Hou aan soek, en julle sal vind. Hou aan klop, en daar sal vir julle oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, vind, en vir elkeen wat klop, sal daar oopgemaak word” (Matt. 7:7, 8). As ons “volhard in gebed”, soos hy vir ons gesê het, dan kan ons seker wees dat ons hemelse Vader ons sal hoor en ons gebede sal beantwoord. – Kol. 4:2.

Ons hou aan om met vertroue in Jehovah te bid terwyl ons op hom wag (Sien paragraaf 11) *

11. Hoe kan Hebreërs 4:16 ons help wanneer dit lyk asof Jehovah lank vat om ons gebede te beantwoord?

11 Dit lyk miskien asof Jehovah lank vat om ons gebede te beantwoord, maar ons moet in gedagte hou dat Jehovah belowe om ons gebede “op die regte tyd” te beantwoord. (Lees Hebreërs 4:16.) Dit is hoekom ons nooit moet dink dat Jehovah ’n fout gemaak het as hy ons gebede nie so gou beantwoord as wat ons verwag nie. Byvoorbeeld, baie mense bid al jare lank dat God se Koninkryk ’n einde moet maak aan hierdie goddelose wêreld. Jesus het selfs gesê dat ons hiervoor moet bid (Matt. 6:10). Maar dit sal nie wys wees om ons geloof in God te laat verswak net omdat die einde nie gekom het toe ons dit verwag het nie! (Hab. 2:3; Matt. 24:44). Dit sal wys wees om op Jehovah te wag en aan te hou bid met die vertroue dat hy ons sal beantwoord. Die einde sal op die regte tyd kom, want Jehovah het alreeds die “dag en uur” gekies wanneer dit sal kom. En ons kan seker wees dat dit die beste tyd vir almal sal wees. – Matt. 24:36; 2 Pet. 3:15.

Watter les oor geduld kan ons by Josef leer? (Sien paragraaf 12-14)

12. Wanneer kan dit veral moeilik wees om geduldig te wees?

12 Ons sal miskien geduldig moet wag vir ’n oplossing as ons onregverdig behandel word. In vandag se wêreld word baie mense sleg behandel as gevolg van hulle geslag, ras, stam of nasionaliteit. Ander word sleg behandel omdat hulle fisies of verstandelik gestremd is. Baie van Jehovah se knegte is al sleg behandel as gevolg van hulle geloof. Wanneer ons sleg behandel word, moet ons Jesus se woorde in gedagte hou toe hy gesê het: “Die een wat tot die einde toe volhard, sal gered word” (Matt. 24:13). Maar sê nou ons vind uit dat iemand in die gemeente ’n ernstige sonde gepleeg het. Sal jy die saak in die ouermanne se hande los en geduldig wag dat hulle dit op Jehovah se manier oplos? Hoe sal die ouermanne die saak dalk hanteer?

13. Wat wil Jehovah hê moet ouermanne doen wanneer iemand ’n ernstige sonde pleeg?

13 Wanneer ouermanne uitvind dat iemand in die gemeente ’n ernstige sonde gepleeg het, bid hulle vir “die wysheid van bo” sodat hulle Jehovah se beskouing van die situasie kan kry (Jak. 3:17). Hulle doelwit is om te probeer om die persoon “van sy verkeerde weg [te] laat terugdraai” (Jak. 5:19, 20). Hulle doen ook alles wat hulle kan om die gemeente te beskerm en om dié te vertroos wat seergemaak is (2 Kor. 1:3, 4). Wanneer die ouermanne uitvind dat iemand ’n ernstige sonde gepleeg het, moet hulle eers al die feite kry, en dit kan tyd neem. Dan bid hulle en gee hulle vir die persoon wat gesondig het, raad uit die Bybel sodat hulle hom “in die regte mate” kan dissiplineer (Jer. 30:11). Al probeer die ouermanne om die saak so gou as moontlik te hanteer, maak hulle nie oorhaastige besluite nie. Wanneer ouermanne sake op Jehovah se manier hanteer, sal die gemeente sien dat dit vir almal die beste is. Maar al word sake op die regte manier hanteer, kan onskuldige mense nog steeds seergemaak voel. As jy in so ’n situasie is, wat kan jy doen om die pyn te verlig?

14. Watter Bybelvoorbeeld kan jou help as ’n ander Christen jou baie seergemaak het?

14 Het iemand, miskien selfs ’n broer of suster in die gemeente, jou al baie seergemaak? Jy kan goeie voorbeelde in God se Woord vind wat vir ons wys hoe om op Jehovah te wag om ’n probleem op te los. Byvoorbeeld, al het Josef se eie broers hom sleg behandel, het hy nie toegelaat dat hulle sondes hom ’n bitter persoon maak nie. Hy het eerder op sy diens aan Jehovah gefokus, en Jehovah het hom ryklik beloon omdat hy geduldig volhard het (Gen. 39:21). Mettertyd kon Josef verby die pyn kyk en sien hoe Jehovah hom geseën het (Gen. 45:5). Soos Josef, vind ons vertroosting wanneer ons nader aan Jehovah kom en sake in sy hande los. – Ps. 7:17; 73:28.

15. Wat het een suster gehelp toe sy sleg behandel was?

15 Ons sal miskien nie so sleg behandel word soos wat Josef was nie, maar dit maak altyd seer om sleg behandel te word. Wanneer ons ’n probleem met iemand het, selfs iemand wat Jehovah nie dien nie, kan Bybelbeginsels ons help as ons dit toepas (Fil. 2:3, 4). Kom ons kyk na ’n voorbeeld. Toe ’n suster uitvind dat iemand by die werk slegte dinge van haar sê wat nie waar was nie, het dit haar baie seergemaak. In plaas daarvan om dadelik iets daaromtrent te doen, het die suster eers oor Jesus se voorbeeld nagedink. Toe hy beledig is, het hy nie terug beledig nie (1 Pet. 2:21, 23). Daarom het sy besluit om net van die saak te vergeet. Later het sy uitgevind dat haar werksmaat ’n ernstige gesondheidsprobleem en baie stres gehad het. Die suster het tot die slotsom gekom dat haar werksmaat nie bedoel het wat sy gesê het nie. Die suster was toe baie bly dat sy die slegte behandeling geduldig verduur het, en sy het vrede gevind.

16. Wat kan vir ons vertroostend wees wanneer ons onregverdig behandel word? (1 Petrus 3:12)

16 As iemand jou onregverdig behandel het of op ’n ander manier seergemaak het, moet jy onthou dat Jehovah “naby dié [is] wie se hart gebreek is” (Ps. 34:18). Hy waardeer jou geduld en die feit dat jy jou laste vir hom gee (Ps. 55:22). Hy is die Regter van die hele aarde en hy sien alles. (Lees 1 Petrus 3:12.) Is jy bereid om sake in Jehovah se hande te los as jy probleme ondervind wat jy nie self kan oplos nie?

EWIGE SEËNINGE VIR ALMAL WAT OP JEHOVAH WAG

17. Watter versekering gee Jehovah ons in Jesaja 30:18?

17 Binnekort sal ons baie seëninge ontvang onder ons hemelse Vader se Koninkryk. Jesaja 30:18 sê: “Jehovah wag geduldig om goedheid aan julle te betoon, en hy sal opstaan om genade aan julle te betoon. Want Jehovah is ’n God van geregtigheid. Gelukkig is almal wat gretig op hom bly wag.” Almal wat op Jehovah bly wag, sal baie seëninge nou en in die nuwe wêreld ontvang.

18. Watter seëninge sal ons ontvang?

18 In die nuwe wêreld sal God se volk nooit weer die angstigheid en die probleme ondervind wat hulle vandag ondervind nie. Ongeregtigheid en pyn sal iets van die verlede wees (Op. 21:4). Ons sal nooit angstig moet wag vir wat ons nodig het nie, want daar sal ’n oorvloed wees (Ps. 72:16; Jes. 54:13). Hoe wonderlik sal dit tog wees!

19. Waarvoor berei Jehovah ons nou geleidelik voor?

19 Jehovah berei ons nou vir die nuwe wêreld voor deur ons te help om ons slegte gewoontes te oorkom en om eienskappe te ontwikkel wat hom gelukkig maak. Moenie mismoedig word nie en moenie opgee nie. Die beste lê nog voor! Mag ons aanhou om geduldig op Jehovah te wag terwyl ons uitsien na daardie wonderlike tyd!

LIED 118 “Gee ons meer geloof”

^ par. 5 Het jy al iemand wat Jehovah al lank dien, hoor sê: ‘Ek het nooit gedink dat ek op my ouderdom nog in hierdie stelsel sal wees nie’? Ons sien so uit na die tyd wanneer Jehovah die einde bring, veral in hierdie moeilike tye. Maar ons moet leer om geduldig te wees. In hierdie artikel sal ons na ’n paar Bybelbeginsels kyk wat ons sal help om op Jehovah te wag. Ons sal ook kyk na twee situasies wat vereis dat ons geduldig op Jehovah moet wag. En laastens sal ons kyk na die seëninge wat almal sal kry wat bereid is om te wag.

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster wat van kleins af gereeld tot Jehovah bid. Toe sy klein was, het haar ouers vir haar geleer hoe om te bid. Toe sy ’n tiener was, het sy begin pionier en gereeld vir Jehovah gevra om haar bediening te seën. Jare later, toe haar man baie siek was, het sy Jehovah gesmeek vir die krag wat sy nodig het om deur hierdie moeilike tyd te kom. Vandag is sy ’n weduwee en sy hou aan om gereeld te bid. Sy het die volle vertroue dat Jehovah haar gebede sal beantwoord, net soos hy haar hele lewe lank gedoen het.