Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 33

Vind vreugde in die voorregte wat jy het

Vind vreugde in die voorregte wat jy het

“Dit is beter om te geniet wat jou oë kan sien as om agter jou begeertes aan te loop.” – PRED. 6:9.

LIED 111 Ons redes tot vreugde

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe probeer baie broers en susters om meer te doen in Jehovah se diens?

 ONS het baie werk om te doen omdat die einde so naby is (Matt. 24:14; Luk. 10:2; 1 Pet. 5:2). Ons almal wil ons bes in Jehovah se diens doen. Baie probeer om hulle bediening uit te brei. Party wil graag as pioniers dien. Ander wil graag by Bethel dien of help met die bou van teokratiese fasiliteite. En baie broers reik uit om te kwalifiseer as ’n bedieningskneg of as ’n ouerman (1 Tim. 3:1, 8). Dink net hoe bly Jehovah moet wees wanneer hy sien hoe gewillig sy volk is! – Ps. 110:3; Jes. 6:8.

2. Hoe voel ons dalk as ons nie ’n geestelike doelwit bereik nie?

2 Maar ons voel dalk mismoedig as ons ná ’n lang tyd nog nie party van ons geestelike doelwitte bereik het nie. Of ons voel dalk moedeloos omdat ons as gevolg van ons ouderdom of ons omstandighede nie sekere dinge in Jehovah se diens kan doen nie (Spr. 13:12). Dit is hoe Melissa gevoel het. * Sy sal graag by Bethel wil dien of die Skool vir Koninkrykspredikers wil bywoon, maar sy sê: “As gevolg van my ouderdom kan ek nie meer kwalifiseer nie. Nou is daardie voorregte vir my maar net ’n droom. Soms kry dit my onder.”

3. Wat moet party dalk doen om vir sekere voorregte te kwalifiseer?

3 Party wat jonk en gesond is, moet dalk sekere eienskappe ontwikkel voordat hulle kan kwalifiseer vir nog voorregte. Aan die een kant is hulle dalk intelligent, kan hulle maklik besluite neem en is hulle gewillig om te werk. Maar aan die ander kant moet hulle dalk leer om geduldiger te wees, om hulle werk deegliker te doen en om meer respekvol te wees. As jy hard probeer om die nodige eienskappe te ontwikkel, sal jy dalk ’n voorreg kry wanneer jy dit die minste verwag. Kyk na die ondervinding van Nick. Toe hy 20 jaar oud was, was hy baie teleurgesteld toe hy nie as ’n bedieningskneg aangestel is nie. Hy sê: “Ek het gedink dat daar iets fout moet wees met my.” Maar Nick het nie opgegee nie. Hy het vreugde gevind in die voorregte wat hy wel gehad het en hy het sy bes gegee. Vandag dien hy as ’n lid van ’n Takkomitee.

4. Wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

4 Voel jy mismoedig omdat jy nog nie ’n sekere geestelike doelwit bereik het nie? Praat dan met Jehovah daaroor en sê vir hom hoe jy voel (Ps. 37:5-7). En vra ervare broers vir voorstelle oor hoe jy jou diens aan God kan verbeter, en doen jou bes om hulle raad toe te pas. As jy dit doen, sal jy dalk daardie voorreg kry of daardie doelwit bereik. Maar soos in die geval van Melissa, wat vroeër genoem is, is dit dalk nie vir jou nou moontlik om vir ’n sekere voorreg te kwalifiseer wat jy graag wil hê nie. Wat kan jy dan doen om jou vreugde te behou? In hierdie artikel gaan ons bespreek (1) hoe ons vreugde kan vind, (2) hoe ons selfs meer vreugde kan kry en (3) watter soort doelwitte ons kan stel sodat ons meer vreugde kan hê.

HOE OM VREUGDE TE VIND

5. Waarop moet ons fokus as ons vreugdevol wil wees? (Prediker 6:9)

5 Soos Prediker 6:9 wys, kan ons vreugde vind as ons op die regte plek daarna soek. (Lees.) ’n Persoon wat “geniet wat [sy] oë kan sien” waardeer wat hy het en is tevrede met sy omstandighede. Maar die persoon wat agter sy begeertes aan loop, hou aan wens om iets te kry wat hy nie kan kry nie. So wat is die les vir ons? Om vreugde te vind, moet ons fokus op wat ons het en op doelwitte wat ons wel kan bereik.

6. Watter illustrasie gaan ons nou bespreek, en waarop gaan ons fokus?

6 Is dit regtig moontlik om tevrede te wees met wat jy alreeds het? Want ’n mens soek mos gewoonlik nuwe uitdagings. Ja dit is moontlik. Ons kan die dinge wat ons het, regtig geniet. Hoe kan ons dit doen? Om die antwoord te vind, gaan ons kyk na Jesus se illustrasie van die talente in Matteus 25:14-30. Ons gaan fokus op wat dit ons leer oor hoe om vreugde te vind en oor hoe ons selfs meer vreugde kan kry as gevolg van die seëninge wat ons alreeds het.

HOE OM SELFS MEER VREUGDE TE KRY

7. Gee ’n kort opsomming van Jesus se illustrasie van die talente.

7 Voordat die man in die illustrasie op reis gegaan het, het hy vir elkeen van sy slawe talente gegee sodat hulle besigheid daarmee kon doen. * Die man het geweet dat sy slawe verskillende vermoëns het, en daarom het hy vyf talente vir die een slaaf gegee, twee vir die ander en een vir die derde slaaf. Die eerste twee slawe het hard gewerk om meer geld vir hulle meester te maak. Maar die derde slaaf het niks gedoen met die geld nie, en sy meester het hom afgedank.

8. Hoekom kon die eerste slaaf in die illustrasie bly wees?

8 Die eerste slaaf kon baie bly wees omdat die meester hom vyf talente gegee het. Dit was baie geld, en dit het gewys dat die meester hom baie vertrou! Maar wat van die tweede slaaf? Hy kon mismoedig gewees het omdat hy nie so baie talente gekry het soos die eerste slaaf nie. Maar wat het hy gedoen?

Watter lesse kan ons leer by die tweede slaaf in Jesus se illustrasie? (1) Hy het twee talente by sy meester gekry. (2) Hy het hard gewerk om meer geld vir sy meester te maak. (3) Hy het sy meester se talente verdubbel (Sien paragraaf 9-11)

9. Wat het die tweede slaaf nie gedoen nie? (Matteus 25:22, 23)

9 Lees Matteus 25:22, 23. Jesus het nie gesê dat die tweede slaaf kwaad geword het en hom opgeruk het omdat hy net twee talente gekry het nie. Hy kon gedink het: ‘Is dit al wat ek kry? Ek kan net so goed besigheid doen soos die slaaf wat vyf talente gekry het! As my meester my nie waardeer nie, kan ek maar net sowel hierdie twee talente begrawe en my eie ding doen.’

10. Wat het die tweede slaaf met sy talente gedoen?

10 Net soos die eerste slaaf het die tweede slaaf sy verantwoordelikheid baie ernstig opgeneem en hard gewerk om geld te maak vir sy meester. En as gevolg daarvan het hy sy meester se talente verdubbel. Die meester het die slaaf ryklik beloon vir sy harde werk. Hy het hom nie net geprys nie, maar hom ook meer verantwoordelikhede gegee!

11. Hoe kan ons meer vreugde kry?

11 Net so kan ons meer vreugde kry as ons enige toewysing wat ons kry, met ons hele hart en siel aanpak. Bly “druk besig” in die predikingswerk en wees ten volle betrokke by gemeentelike aktiwiteite (Hand. 18:5; Heb. 10:24, 25). Berei goed voor vir die vergaderinge sodat jy opbouende kommentare kan gee. Alle studentetoewysings by die vergaderinge is belangrik, so doen dit na die beste van jou vermoë. As jy gevra word om iets in die gemeente te doen, wees op tyd en wees betroubaar. Moenie dink dat enige toewysing onbelangrik is en dat dit nie jou tyd verdien nie. Probeer hard om jou werk al hoe beter te doen (Spr. 22:29). Hoe harder jy vir Jehovah werk, hoe vinniger sal jy vordering maak, en dan sal jy meer vreugde hê (Gal. 6:4). Dan sal dit ook vir jou makliker wees om saam met ander bly te wees wanneer hulle ’n voorreg ontvang wat jy graag wil hê. – Rom. 12:15; Gal. 5:26.

12. Wat het twee Getuies gedoen om meer vreugde te kry?

12 Melissa, wat vroeër genoem is, wou mos by Bethel dien of die Skool vir Koninkrykspredikers bywoon. Al is dit nie vir haar moontlik om hierdie dinge te doen nie, sê sy: “Ek doen my bes in my pionierdiens en ek probeer om aan al die aspekte van die bediening deel te neem. Dit gee my groot vreugde.” En hoe het Nick die teleurstelling hanteer toe hy nie as ’n bedieningskneg aangestel is nie? “Ek het gefokus op die voorregte wat ek wel gehad het – soos om velddiens te doen en om betekenisvolle kommentare by die vergaderinge te gee. Ek het ook aansoek gedoen om Bethel toe te gaan, en ek is toe die volgende jaar aanvaar.”

13. Wat sal gebeur as jy jou bes doen in die toewysing wat jy nou het? (Prediker 2:24)

13 Sal jy meer verantwoordelikhede in die toekoms kry as jy jou bes doen in die toewysing wat jy nou het? Net soos in Nick se geval, kan dit gebeur. Maar as dit nie gebeur nie, soos in Melissa se geval, sal jy nog steeds meer vreugde kry en sal jy tevredenheid vind in wat jy vir Jehovah doen. (Lees Prediker 2:24.) En jy sal beslis groot vreugde vind omdat jy weet dat wat jy doen, ons Meester, Jesus Christus, gelukkig maak.

DOELWITTE WAT TOT MEER VREUGDE LEI

14. Wat moet ons in gedagte hou wanneer dit kom by ons geestelike doelwitte?

14 Soos ons gesien het, wil ons fokus op die voorregte wat ons nou het. Maar beteken dit dat ons nie meer geestelike doelwitte vir onsself moet stel nie? Glad nie! Ons kan en ons moet vir ons doelwitte stel wat ons kan help om beter in die bediening te doen en om ons broers en susters meer te kan help. As ons dit wil regkry, moet ons fokus op hoe ons ander kan dien in plaas daarvan om op onsself te fokus. – Spr. 11:2; Hand. 20:35.

15. Wat is ’n paar doelwitte wat jou kan help om meer vreugde te hê?

15 Watter doelwitte kan jy vir jouself stel? Vra Jehovah om jou te help om te weet watter doelwitte binne jou bereik is (Spr. 16:3; Jak. 1:5). Kan jy vir jouself een van die doelwitte stel wat in die  eerste paragraaf van hierdie artikel genoem word – soos om hulppionierdiens, gewone pionierdiens of Betheldiens te doen of om te help met teokratiese bouprojekte? Of miskien kan jy ’n nuwe taal leer om die goeie nuus te versprei, of dalk kan jy selfs in ’n ander gebied gaan preek. Jy kan meer oor hierdie doelwitte uitvind deur hoofstuk 10 te lees van die boek Georganiseer om Jehovah se wil te doen en deur met die ouermanne in jou gemeente te praat. * As jy probeer om hierdie doelwitte te bereik, sal ander sien dat jy vordering maak, en jy sal meer vreugde kry.

16. Wat kan jy doen as jy nie op die oomblik ’n spesifieke doelwit kan bereik nie?

16 Maar wat kan jy doen as jy nie op die oomblik ’n spesifieke doelwit kan bereik nie? Stel vir jou ’n ander doelwit, een wat jy wel kan bereik. Kyk na die volgende doelwitte wat jy dalk vir jouself kan stel.

Watter doelwit kan jy dalk bereik? (Sien paragraaf 17) *

17. Volgens 1 Timoteus 4:13, 15, wat kan ’n broer dalk doen om ’n beter onderrigter te word?

17 Lees 1 Timoteus 4:13, 15. As jy ’n gedoopte broer is, kan jy miskien probeer om ’n beter spreker of onderrigter te word. Hoekom? Want as jy hard probeer om ’n beter leser, spreker en onderrigter te word, sal jy almal wat na jou luister beter kan help. Stel vir jou die doelwit om elke les van die brosjure Leer hoe om beter te lees en onderrig te studeer. Studeer een les op ’n slag, oefen goed by die huis en probeer om die voorstelle in daardie les in jou toesprake toe te pas. Vra die bykomende raadgewer of ander ouermanne “wat hard werk in woord en onderrigting” vir voorstelle (1 Tim. 5:17). * Moenie net fokus op hoe jy die inligting moet toepas nie, maar fokus ook op hoe jy jou gehoor se geloof kan versterk en hoe jy hulle kan motiveer om toe te pas wat hulle leer. As jy dit doen, sal almal wat na jou luister meer vreugde hê.

Watter doelwit kan jy dalk bereik? (Sien paragraaf 18) *

18. Wat kan ons help om ons doelwitte in die bediening te bereik?

18 Ons almal het die belangrike toewysing om te preek en om dissipels te maak (Matt. 28:19, 20; Rom. 10:14). Wil jy graag ’n beter onderrigter word en beter in die bediening doen? Terwyl jy die Onderrig-brosjure studeer, kan jy vir jou spesifieke doelwitte stel om jou te help om toe te pas wat jy leer. Jy kan ook praktiese voorstelle kry in die Ons Christelike Lewe en Bediening – Vergaderingwerkboek en in die video’s van die voorgestelde gesprekke wat gedurende die Lewe en Bediening-vergadering gewys word. Probeer verskillende dinge en kyk wat die beste werk. Wanneer jy hierdie voorstelle toepas, sal jy ’n beter onderrigter word en sal jy meer vreugde hê. – 2 Tim. 4:5.

Watter doelwit kan jy dalk bereik? (Sien paragraaf 19) *

19. Hoe kan ons eienskappe ontwikkel wat God gelukkig maak?

19 Een van die belangrikste doelwitte wat jy vir jouself kan stel, is om eienskappe te ontwikkel wat God gelukkig maak (Gal. 5:22, 23; Kol. 3:12; 2 Pet. 1:5-8). Wat kan jy doen om daardie doelwit te bereik? Byvoorbeeld, sê nou jy wil sterker geloof hê. Jy kan dalk artikels in ons publikasies lees wat praktiese voorstelle gee oor hoe om jou geloof te versterk. Dit sal jou beslis help as jy gedeeltes van die JW Broadcasting®-programme kyk van broers en susters wat deur baie moeilike tye gegaan het, maar wat baie sterk geloof gehad het. Soek dan na maniere hoe jy hulle geloof kan navolg.

20. Wat kan ons doen om meer vreugde te hê en om gevoelens van teleurstelling te verminder?

20 Ons almal wil graag meer vir Jehovah doen as wat ons op die oomblik kan doen. In God se nuwe wêreld sal ons hom ten volle kan dien. Maar as ons nou al ons bes doen in enige toewysing wat ons kry, sal ons meer vreugde hê en enige gevoelens van teleurstelling verminder. En nog belangriker, ons sal ons “gelukkige God,” Jehovah, eer en loof (1 Tim. 1:11). So laat ons vreugde vind in die voorregte wat ons het!

LIED 82 ‘Laat julle lig skyn’

^ par. 5 Ons is baie lief vir Jehovah en ons wil ons beste gee in ons diens aan hom. En daarom sal ons dalk ons bediening wil uitbrei of wil uitreik om te kwalifiseer vir voorregte in die gemeente. Maar wat as dit nie moontlik is om party van ons doelwitte te bereik nie? Wat kan ons help om besig te bly in Jehovah se diens en om ons vreugde te behou? Ons sal die antwoorde vind in Jesus se illustrasie van die talente.

^ par. 2 Party name is verander.

^ par. 7 WAT DIT BETEKEN: ’n Talent was gelyk aan wat ’n gewone werker oor omtrent 20 jaar verdien het.

^ par. 15 Gedoopte broers word aangemoedig om uit te reik sodat hulle as bedieningsknegte en ouermanne kan kwalifiseer. Vir ’n bespreking van die kwalifikasies, sien hoofstuk 5 en 6 van die boek Georganiseer om Jehovah se wil te doen.

^ par. 17 WAT DIT BETEKEN: Die bykomende raadgewer is ’n ouerman wat die verantwoordelikheid het om, indien nodig, privaat aan ouermanne of bedieningsknegte raad te gee oor enige toesprake wat hulle gee.

^ par. 64 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer doen navorsing in ons publikasies om sy doelwit te bereik om ’n beter onderrigter te word.

^ par. 66 BESKRYWING VAN PRENT: Nadat ’n suster die doelwit gestel het om informele getuieniswerk te doen, gee sy ’n kontakkaartjie aan die kelnerin wat haar bedien.

^ par. 68 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster wat vir haarself die doelwit gestel het om meer vrygewig te wees, verras ’n ander suster met ’n geskenk.