Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 30

Waardeer jou plek in Jehovah se familie

Waardeer jou plek in Jehovah se familie

“U het hom ’n bietjie laer as engele gemaak, en u het hom met heerlikheid en prag gekroon.” – PS. 8:5, vtn.

LIED 123 Lojaal onderdanig aan teokratiese orde

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Waaroor wonder ons dalk wanneer ons kyk na alles wat Jehovah gemaak het?

WANNEER ons dink aan hoe groot die heelal is wat Jehovah gemaak het, voel ons miskien soos die psalmis Dawid, wat in gebed gevra het: “Wanneer ek u hemel sien, die werke van u vingers, die maan en die sterre wat u gemaak het, wat is die sterflike mens dat u aan hom dink, en ’n mensekind dat u vir hom sorg?” (Ps. 8:3, 4). Soos Dawid, dink ons dalk aan hoe klein ons is in vergelyking met die sterre wat Jehovah gemaak het, en miskien is ons verbaas dat Jehovah selfs aandag skenk aan ons. Maar soos ons sal sien, het Jehovah meer gedoen as om net aandag te skenk aan die eerste mense, Adam en Eva – hy het hulle ook deel van sy familie gemaak.

2. Wat was Jehovah se doel vir sy eerste kinders op die aarde?

2 Adam en Eva was Jehovah se eerste kinders op die aarde, en Jehovah was hulle liefdevolle hemelse Vader. Jehovah het verwag dat hulle hulle kant moes bring as lede van sy familie. God het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en word baie, vul die aarde en bewerk dit” (Gen. 1:28). Hulle moes kinders gehad het en na die aarde omgesien het. As Adam en Eva gehoorsaam was en met Jehovah saamgewerk het, sou hulle en hulle kinders vir ewig lede van God se familie gewees het.

3. Hoekom kan ons sê dat Adam en Eva ’n belangrike plek in Jehovah se familie gehad het?

3 Adam en Eva het ’n belangrike plek in Jehovah se familie gehad. In Psalm 8:5 en in die voetnoot lees ons wat Dawid geskryf het oor hoe Jehovah die mens gemaak het. Hy het geskryf: “U het hom ’n bietjie laer as engele gemaak, en u het hom met heerlikheid en prag gekroon.” Dit is waar dat mense nie gemaak is om so sterk en intelligent as engele te wees of om dieselfde vermoëns as hulle te hê nie (Ps. 103:20). Maar mense is net “’n bietjie laer” as die magtige engele. Dink net daaraan! Jehovah het ons eerste ouers ’n wonderlike begin gegee.

4. Wat het Adam en Eva verloor toe hulle ongehoorsaam was, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

 4 Ongelukkig het Adam en Eva hulle plek in Jehovah se familie verloor. Dit het verskriklike gevolge vir hulle nakomelinge gehad, soos ons later in hierdie artikel sal sien. Maar Jehovah se doel het nie verander nie. Hy wil hê dat gehoorsame mense vir ewig sy kinders moet wees. Maar kom ons bespreek eers hoe Jehovah alreeds gewys het dat ons vir hom kosbaar en belangrik is. Dan gaan ons bespreek wat ons nou kan doen om te wys dat ons deel van God se familie wil wees. En laastens gaan ons die seëninge bespreek wat Jehovah se kinders op die aarde vir ewig sal geniet.

HOE JEHOVAH GEWYS HET DAT MENSE VIR HOM BELANGRIK IS

Op watter maniere het Jehovah gewys dat ons vir hom belangrik is? (Sien paragraaf 5-11) *

5. Hoe kan ons vir God wys dat ons dankbaar is dat hy ons na sy beeld gemaak het?

5 Jehovah het gewys dat ons vir hom belangrik is deur ons na sy beeld te maak (Gen. 1:26, 27). Omdat ons na God se beeld gemaak is, kan ons baie van sy pragtige eienskappe, soos liefde, meegevoel, lojaliteit en regverdigheid, ontwikkel en weerspieël (Ps. 86:15; 145:17). Wanneer ons sulke eienskappe ontwikkel, eer ons Jehovah en wys ons vir hom dat ons die dinge waardeer wat hy vir ons gedoen het (1 Pet. 1:14-16). Wanneer ons op ’n manier lewe wat ons hemelse Vader gelukkig maak, is ons gelukkig en tevrede. En deur ons na sy beeld te maak, het Jehovah dit vir ons moontlik gemaak om die soort mense te word wat hy in sy familie wil hê.

6. Hoe het Jehovah gewys dat mense vir hom belangrik is toe hy die aarde voorberei het?

6 Jehovah het vir ons ’n spesiale tuiste gemaak. Lank voordat Jehovah die eerste man gemaak het, het hy die aarde vir mense voorberei (Job 38:4-6; Jer. 10:12). Omdat Jehovah liefdevol en vrygewig is, het hy vir ons ’n oorvloed goeie dinge gegee wat ons kan geniet (Ps. 104:14, 15, 24). Hy het elke nou en dan na die dinge gekyk wat hy geskep het en “gesien dat dit goed is” (Gen. 1:10, 12, 31). Hy het gewys dat mense vir hom belangrik is deur vir hulle te laat regeer oor alles wat hy op die aarde gemaak het (Ps. 8:6). God se wil is dat volmaakte mense dit vir ewig moet geniet om na sy pragtige skeppingswerke om te sien. Sê jy gereeld vir Jehovah dankie vir daardie wonderlike hoop?

7. Hoe wys Josua 24:15 dat mense vrye wil het?

7 Jehovah het ons die geskenk van vrye wil gegee. Ons kan kies wat ons met ons lewe wil doen. (Lees Josua 24:15.) Die vermoë om te kan kies, word vrye wil genoem. Dit maak ons liefdevolle God se hart baie bly wanneer ons kies om hom te dien (Ps. 84:11; Spr. 27:11). Ons kan ons vrye wil gebruik om baie goeie besluite te neem. Kom ons kyk na Jesus se voorbeeld.

8. Wat is een manier hoe Jesus sy vrye wil gebruik het?

8 Ons kan Jesus se voorbeeld navolg deur te kies om ander eerste te stel. Toe Jesus en sy apostels eenkeer baie moeg was, het hulle na ’n stil plek toe gegaan om te gaan rus. Maar hulle kon toe glad nie rus nie. ’n Groot groep mense het hulle gevind en wou hê dat Jesus hulle moet leer. Maar Jesus het hom nie vererg nie. Hy het eerder jammer vir die mense gevoel. Wat het Jesus toe gedoen? “Hy het hulle baie dinge begin leer” (Mark. 6:30-34). Wanneer ons Jesus navolg deur ons tyd en energie op te offer om ander te help, eer ons ons hemelse Vader (Matt. 5:14-16). En ons wys Jehovah ook dat ons deel van sy familie wil wees.

9. Wat moet ouers in gedagte hou?

9 Jehovah het mense die vermoë gegee om kinders te hê, en ook die verantwoordelikheid om hulle te leer om hom lief te hê en om hom te dien. As jy ’n ouer is, waardeer jy hierdie spesiale geskenk? Alhoewel Jehovah vir die engele baie vermoëns gegee het, het hy nie vir hulle die vermoë gegee om kinders te hê nie. So almal wat kinders grootmaak, moet baie dankbaar wees vir daardie voorreg. Ouers het die heilige voorreg en die belangrike verantwoordelikheid gekry om hulle kinders volgens “die dissipline en riglyne van Jehovah” groot te maak (Ef. 6:4; Deut. 6:5-7; Ps. 127:3). God se organisasie voorsien baie Bybelgebaseerde hulpmiddele, soos publikasies, video’s, musiek en artikels op die webwerf om ouers te help. Dit is duidelik dat ons hemelse Vader en sy Seun baie lief is vir jongmense (Luk. 18:15-17). Dit maak Jehovah baie bly wanneer ouers op hom vertrou en hulle bes doen om vir hulle kosbare kinders te sorg. En sulke ouers gee hulle kinders die geleentheid om vir ewig deel van Jehovah se familie te kan word!

10-11. Wat het Jehovah deur middel van die losprys vir ons moontlik gemaak?

10 Jehovah het sy Seun vir wie hy die liefste was, gegee sodat ons weer lede van sy gesin kan word. Soos ons in  paragraaf 4 genoem het, het Adam en Eva hulle plek in Jehovah se familie verloor, en hulle kinders kon ook nie deel van God se familie wees nie (Rom. 5:12). Adam en Eva was opsetlik ongehoorsaam aan God, en daarom het hulle dit verdien om hulle plek in sy familie te verloor. Maar wat van hulle kinders? Omdat Jehovah lief is vir mense, het hy dit vir gehoorsame mense moontlik gemaak om weer deel van sy familie te kan wees. Hy het dit gedoen deur middel van die offerande van sy eniggebore Seun, Jesus Christus (Joh. 3:16; Rom. 5:19). As gevolg van Jesus se offerande kon 144 000 lojale mense as God se seuns aangeneem word. – Rom. 8:15-17; Op. 14:1.

11 En daar is ook miljoene ander lojale mense wat gehoorsaam is aan God en wat sy wil doen. Hulle het die hoop om deel van God se familie te word ná die finale toets aan die einde van die duisend jaar (Ps. 25:14; Rom. 8:20, 21). Omdat hulle hierdie hoop het, noem hulle Jehovah, hulle Skepper, alreeds hulle “Vader” (Matt. 6:9). En almal wat in die toekoms opgewek word, sal die geleentheid kry om te leer wat Jehovah van hulle verwag. Dié wat kies om hom te gehoorsaam, sal uiteindelik ook deel word van sy familie.

12. Watter vraag sal ons nou beantwoord?

12 Soos ons gesien het, het Jehovah baie dinge gedoen om te wys dat mense vir hom belangrik is. Hy het die gesalfdes alreeds as sy seuns aangeneem, en hy het vir die “groot menigte” die hoop gegee om deel van sy familie te kan word in die nuwe wêreld (Op. 7:9). Wat kan ons nou doen om vir Jehovah te wys dat ons vir ewig deel van sy familie wil wees?

WYS VIR JEHOVAH DAT JY DEEL VAN SY FAMILIE WIL WEES

13. Wat kan ons doen om deel van God se familie te wees? (Markus 12:30)

13 Wys dat jy Jehovah liefhet deur hom met jou hele hart te dien. (Lees Markus 12:30.) Een van die grootste geskenke wat God vir ons gegee het, is die vermoë om hom te aanbid. Ons wys vir Jehovah dat ons hom liefhet deur “sy gebooie [te] gehoorsaam” (1 Joh. 5:3). Een van die gebooie wat Jehovah wil hê ons moet gehoorsaam, is Jesus se bevel om dissipels te maak en om hulle te doop (Matt. 28:19). Hy het ons ook beveel om mekaar lief te hê (Joh. 13:35). Jehovah sal gehoorsame mense deel van sy wêreldwye familie van aanbidders maak. – Ps. 15:1, 2.

14. Hoe kan ons wys dat ons ander liefhet? (Matteus 9:36-38; Romeine 12:10)

14 Wys dat jy ander liefhet. Liefde is Jehovah se belangrikste eienskap (1 Joh. 4:8). Jehovah het gewys dat hy ons liefhet selfs voordat ons hom geken het (1 Joh. 4:9, 10). Ons volg sy voorbeeld na wanneer ons wys dat ons ander liefhet (Ef. 5:1). Een van die beste maniere om te wys dat ons vir mense lief is, is deur hulle te help om Jehovah te leer ken terwyl daar nog tyd is. (Lees Matteus 9:36-38.) Wanneer ons dit doen, gee ons hulle die kans om deel van God se familie te kan word. Nadat ’n persoon gedoop word, moet ons aanhou om te wys dat ons hom liefhet en respekteer (1 Joh. 4:20, 21). Hoe kan ons dit doen? Een manier is deur vir hom te wys dat ons hom vertrou. Byvoorbeeld, as ons nie verstaan hoekom hy iets gedoen het nie, sal ons nooit aanneem dat hy dit vir selfsugtige redes gedoen het nie. Ons sal eerder eer betoon aan ons broer en hom as hoër as onsself beskou. – Lees Romeine 12:10; Fil. 2:3.

15. Teenoor wie moet ons genadig en liefdevol wees?

15 Wees genadig en liefdevol teenoor alle mense. As ons deel van Jehovah se familie wil wees, dan moet ons God se Woord in ons lewe toepas. Byvoorbeeld, Jesus het ons geleer dat ons genadig en liefdevol teenoor alle mense moet wees, selfs teenoor ons vyande (Luk. 6:32-36). Soms sal dit dalk vir ons moeilik wees om dit te doen. As dit die geval is, moet ons leer om soos Jesus te dink en op te tree. Wanneer ons ons bes doen om Jehovah te gehoorsaam en Jesus na te volg, wys ons vir ons hemelse Vader dat ons vir ewig deel van sy familie wil wees.

16. Hoe kan ons die reputasie van Jehovah se familie beskerm?

16 Beskerm die reputasie van Jehovah se familie. In ’n familie sal ’n seuntjie baie keer doen wat hy sy ouer broer sien doen. As die ouer broer Bybelbeginsels in sy lewe toepas, sal hy ’n goeie voorbeeld vir sy jonger broer wees. As die ouer broer begin doen wat verkeerd is, sal die jonger broer dalk sy slegte voorbeeld volg. Dit is dieselfde in Jehovah se familie. As ’n Christen wat eers lojaal was, ’n afvallige word of ’n onsedelike lewe begin lei, sal ander miskien in die versoeking kom om ook te begin doen wat sleg is. Dié wat dit doen, sleep die reputasie van Jehovah en van sy familie van aanbidders deur die modder (1 Tess. 4:3-8). Ons moenie slegte voorbeelde volg nie en ons moenie toelaat dat enigiets vir ons van ons liefdevolle hemelse Vader skei nie.

17. Wat moet ons nie doen nie, en hoekom nie?

17 Vertrou op Jehovah, nie op materiële dinge nie. Jehovah belowe dat hy vir ons kos, klere en behuising sal gee as ons sy Koninkryk eerste stel en volgens sy regverdige standaarde lewe (Ps. 55:22; Matt. 6:33). Daarom sal ons nooit dink dat die materiële dinge wat hierdie wêreld bied, vir ons sekuriteit kan gee of ons gelukkig kan maak nie. Ons weet dat die enigste manier om innerlike vrede te kry, is deur Jehovah se wil te doen (Fil. 4:6, 7). En al het ons die geld om baie dinge te koop, moet ons vasstel of ons die nodige tyd en energie het om daardie dinge te gebruik en in stand te hou. Kan ons dalk te geheg raak aan ons besittings? Ons moet onthou dat God vir ons werk gegee het om te doen omdat ons deel van sy familie is. Daarom moet ons nie toelaat dat ons aandag afgetrek word nie. Ons wil nie soos die jong man wees wat so geheg was aan sy besittings dat hy besluit het om Jesus nie te volg nie. Hy het toe die geleentheid verloor om Jehovah te dien en om as een van sy seuns aangeneem te word! – Mark. 10:17-22.

WAT JEHOVAH SE KINDERS VIR EWIG SAL GENIET

18. Watter groot voorreg en watter seëninge sal gehoorsame mense vir ewig geniet?

18 Gehoorsame mense sal die grootste voorreg ooit geniet – die voorreg om Jehovah vir ewig lief te hê en te aanbid! Almal met die aardse hoop sal dit ook geniet om om te sien na hierdie pragtige planeet, die perfekte tuiste wat Jehovah vir hulle gegee het. Binnekort sal God se Koninkryk die aarde en alles daarop weer pragtig maak. Jesus sal al die probleme oplos wat veroorsaak is deur Adam en Eva se besluit om God se familie te verlaat. Jehovah sal miljoene mense opwek en vir hulle die geleentheid gee om vir ewig te lewe met volmaakte gesondheid in die Paradys (Luk. 23:42, 43). Wanneer almal wat Jehovah dien, volmaak word, sal hulle die “heerlikheid en prag” hê waaroor Dawid geskryf het. – Ps. 8:5.

19. Wat moet ons in gedagte hou?

19 As jy deel is van die “groot menigte”, het jy ’n wonderlik hoop. God is lief vir jou – hy wil hê dat jy deel van sy familie moet wees. So doen alles wat jy kan om hom gelukkig te maak. Lewe elke dag met God se beloftes in jou verstand en hart. Waardeer jou voorreg om ons liefdevolle hemelse Vader te aanbid en die hoop om hom vir ewig te kan loof!

LIED 107 God se voorbeeld van liefde

^ par. 5 As ’n familie gelukkig wil wees, moet almal in die familie weet wat van hulle verwag word en goed met mekaar saamwerk. Die pa neem die leiding op ’n liefdevolle manier, die ma ondersteun hom en die kinders is gehoorsaam en werk saam met hulle ouers. Dit is dieselfde in Jehovah se familie. Ons God het ’n doel vir ons, en as ons met hom saamwerk, sal ons vir ewig aan Jehovah se familie van aanbidders behoort.

^ par. 55 BESKRYWING VAN PRENT: As gevolg van die feit dat ons na God se beeld gemaak is, kan ’n paartjie wys dat hulle mekaar en hulle seuns liefhet en dat hulle meegevoel vir mekaar het. Die paartjie is lief vir Jehovah. En hulle wys dat hulle die voorreg waardeer om kinders te kan hê deur vir hulle seuns te leer om Jehovah lief te hê en om hom te dien. Hulle gebruik ’n video om vir hulle seuns te verduidelik hoekom Jehovah Jesus as ’n losprys vir ons gegee het. Hulle leer ook vir hulle seuns dat ons in die Paradys vir ewig na die aarde sal omsien en vir die diere sal sorg