Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 34

‘Gaan voort om die weg van die waarheid te volg’

‘Gaan voort om die weg van die waarheid te volg’

‘Gaan voort om die weg van die waarheid te volg.’ – 3 JOH. 4.

LIED 111 Ons redes tot vreugde

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe help dit ons as ons praat oor hoe ons in “die waarheid” gekom het?

 “HOE het jy in waarheid gekom?” Jy het daardie vraag seker al baie keer beantwoord. Dit is een van die eerste vrae wat ’n broer of ’n suster ons sal vra wanneer ons mekaar beter leer ken. Ons geniet dit om te luister hoe ons broers en susters Jehovah leer ken en liefgekry het, en ons geniet dit om vir hulle te vertel wat die waarheid vir ons beteken (Rom. 1:11). Hierdie gesprekke herinner ons aan hoe kosbaar die waarheid is. Ons word ook selfs meer vasbeslote om ‘voort te gaan om die weg van die waarheid te volg’ – dit wil sê om aan te hou om op ’n manier te lewe wat Jehovah se seëning en goedkeuring sal bring. – 3 Joh. 4.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 In hierdie artikel sal ons party van die redes hersien hoekom ons vir die waarheid lief is. Dan sal ons bespreek hoe ons kan aanhou om te wys dat ons lief is vir hierdie kosbare geskenk. Hierdie hersiening sal beslis ons waardering vergroot vir wat Jehovah gedoen het om ons na die waarheid te trek (Joh. 6:44). Dit sal ook ons begeerte versterk om die waarheid met ander te deel.

HOEKOM ONS LIEF IS VIR “DIE WAARHEID”

3. Wat is die belangrikste rede hoekom ons lief is vir die waarheid?

3 Daar is baie redes hoekom ons lief is vir die waarheid. Die belangrikste rede is, ons is lief vir Jehovah God, die Bron van die waarheid. Deur sy Woord, die Bybel, het ons hom nie net leer ken as die almagtige Skepper van die hemel en aarde nie, maar ook as ons liefdevolle hemelse Vader, wat baie vir ons omgee (1 Pet. 5:7). Ons weet dat ons God “genadig is en medelye betoon” en dat hy “nie gou kwaad word nie en vol lojale liefde en waarheid is” (Eks. 34:6). Jehovah is lief vir geregtigheid (Jes. 61:8). Dit maak hom seer om te sien dat ons ly, en hy is gereed – ja, gretig – om op die regte tyd ’n einde te maak aan alle lyding (Jer. 29:11). Ons sien baie uit na daardie wonderlike tyd! Dit is geen wonder dat ons so lief is vir Jehovah nie!

Bybelwaarheid is soos . . . ’n Anker

Net soos ’n anker ’n boot stabiliseer, kan ons Bybelse hoop ons stabiliseer wanneer ons deur moeilike tye in die lewe gaan. Bybelwaarheid motiveer ons ook om ons hoop vir die toekoms met ander te deel (Sien paragraaf 4-7)

4-5. Hoekom het die apostel Paulus ons hoop met ’n anker vergelyk?

4 Wat is nog ’n rede hoekom ons lief is vir die waarheid? Die waarheid kan ons op baie maniere help. Kom ons kyk na ’n voorbeeld. Bybelwaarheid sluit ons hoop vir die toekoms in. Om die waarde van ons hoop te illustreer, het die apostel Paulus geskryf: “Ons het hierdie hoop as ’n anker vir die siel. Dit is seker en vas” (Heb. 6:19). Net soos ’n anker ’n boot stabiliseer, kan ons Bybelse hoop ons stabiliseer wanneer ons deur moeilike tye in die lewe gaan.

5 In hierdie konteks het Paulus die hemelse hoop bespreek wat gesalfde Christene het. Maar sy woorde is ook van toepassing op Christene wat daarna uitsien om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe (Joh. 3:16). Ja, om te leer oor die hoop van die ewige lewe, het ons lewe betekenisvol gemaak.

6-7. Hoe het dit Yvonne gehelp om die waarheid oor die toekoms te leer?

6 Kyk na die voorbeeld van ’n suster met die naam Yvonne. Sy het nie in die waarheid grootgeword nie, en as ’n kind was sy bang vir die dood. Sy onthou dat sy iets gelees het wat sy nie kon vergeet nie: “Eendag sal daar nie ’n môre wees nie.” Sy sê: “Daardie woorde het my snags laat wakker lê omdat ek gedink het oor die toekoms. Ek het gedink: ‘Die lewe moet tog seker ’n dieper betekenis hê. Hoekom is ek hier?’ Ek wou nie doodgaan nie!”

7 Later, as ’n tiener, het Yvonne in kontak gekom met Jehovah se Getuies. Sy sê: “Ek het begin glo dat ek die hoop kon hê om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe.” Hoe het dit ons suster gehelp toe sy die waarheid leer? Sy sê verder: “Ek Iê nie meer snags wakker omdat ek bekommerd is oor die toekoms of die dood nie.” Ons kan ons net indink hoe kosbaar die waarheid vir Yvonne is, en dit maak haar baie gelukkig om haar hoop vir die toekoms met ander te deel. – 1 Tim. 4:16.

Bybelwaarheid is soos . . . ’n Skat

Om Jehovah nou te dien en om die hoop te hê om dit vir ewig onder die heerskappy van sy Koninkryk te doen, is soos ’n skat. Dit is enige opoffering werd (Sien paragraaf 8-11)

8-9. (a) Hoe waardevol was ’n skat vir ’n man in een van Jesus se vergelykings? (b) Hoe kosbaar is die waarheid vir jou?

8 Bybelwaarheid sluit ook die goeie nuus oor God se Koninkryk in. Jesus het die waarheid oor daardie Koninkryk vergelyk met ’n skat wat weggesteek is. In Matteus 13:44 het Jesus gesê: “Die Koninkryk van die hemel is soos ’n skat wat in die veld weggesteek is, wat ’n man gevind en weggesteek het. Hy was so bly dat hy al sy besittings gaan verkoop het en daardie veld gekoop het.” Let op dat die man nie na die skat gesoek het nie. Maar toe hy dit gevind het, het hy groot opofferings gemaak om dit te kry. Hy het eintlik alles verkoop wat hy gehad het. Hoekom? Hy het geweet hoe waardevol daardie skat was. Dit was baie meer werd as enige iets wat hy moes opgee.

9 Is dit hoe jy oor die waarheid voel? Ja, natuurlik! Ons weet dat niks in hierdie wêreld vergelyk kan word met die vreugde wat ons nou in Jehovah se diens het en met die hoop van die ewige lewe in die toekoms onder God se Koninkryk nie. Die voorreg wat ons het om ’n sterk persoonlike verhouding met Jehovah te hê, is enige opoffering werd. Ons grootste vreugde is om “hom in alles bly [te] maak”. – Kol. 1:10.

10-11. Wat het Michael gemotiveer om groot veranderinge in sy lewe te maak?

10 Baie van ons het groot opofferings gemaak om Jehovah se goedkeuring te kry. Party het goeie loopbane in die wêreld agtergelaat. Ander het ophou probeer om ryk te word. En ander het hulle lewenswyse heeltemal verander toe hulle oor Jehovah geleer het. Dit is wat Michael gedoen het. Hy het nie in die waarheid grootgeword nie. As ’n jong man het hy opleiding gekry in karate. Hy sê: “Dit was vir my baie belangrik om fiks en in ’n fisiese goeie toestand te bly. Soms het ek gevoel asof niks en niemand my kon oorwin nie.” Maar toe hy die Bybel begin studeer het, het Michael geleer hoe Jehovah oor geweld voel (Ps. 11:5). Michael sê oor die Getuiepaartjie wat met hom gestudeer het: “Hulle het nooit vir my gesê dat ek moes ophou om karate te doen nie; hulle het maar net aangehou om vir my die waarheid uit die Bybel te leer.”

11 Hoe meer Michael oor Jehovah geleer het, hoe liewer het hy vir hom geword. Hy was veral geraak deur Jehovah se meegevoel vir sy aanbidders. Later het Michael besef dat hy ’n besluit moes neem wat sy lewe sou verander. Hy sê: “Ek het geweet dat om karate op te gee, die moeilikste ding sou wees wat ek al ooit moes doen. Maar ek het ook geweet dat dit Jehovah gelukkig sou maak, en ek was oortuig dat my diens aan hom enige opoffering werd was.” Michael het die waarde van die waarheid wat hy gevind het, waardeer, en daardie waardering het hom gemotiveer om groot veranderinge in sy lewe te maak. – Jak. 1:25.

Bybelwaarheid is soos . . . ’n Lamp

’n Kragtige lamp help ons om ons pad in die donker te kry. Net so wys God se Woord vir ons hoe om wyse besluite in Satan se slegte wêreld te maak (Sien paragraaf 12-13)

12-13. Hoe het Bybelwaarheid Mayli gehelp?

12 Om die waarde van die waarheid te beklemtoon, vergelyk die Bybel die waarheid met ’n lamp wat in die donker skyn (Ps. 119:105; Ef. 5:8). Mayli, van Azerbeidjan, het groot waardering vir die hulp wat sy uit God se Woord ontvang het. Sy het in ’n godsdienstig verdeelde huis grootgeword. Haar pa was Moslem en haar ma was Joods. Sy sê: “Al het ek nooit getwyfel dat God bestaan nie, het ek baie vrae gehad. Ek het gewonder: ‘Hoekom het God mense gemaak, en hoekom moet iemand sy hele lewe lank ly net om daarna ook vir ewig in die hel te ly?’ Omdat mense gesê het dat alles wat gebeur God se wil is, het ek gewonder: ‘Is God net ’n poppespeler wat dit geniet om te sien hoe mense ly?’”

13 Mayli het aangehou om na antwoorde op haar vrae te soek. Later het sy ’n Bybelstudie aanvaar en in die waarheid gekom. Sy sê: “Die Bybel se logiese antwoorde het my gehelp om ’n gelukkiger mens te word. Die oortuigende verduidelikings wat ek in God se Woord gekry het, het vir my innerlike vrede gegee.” Soos Mayli, loof ons almal Jehovah, “die Een wat [ons] uit die duisternis tot in sy wonderlike lig geroep het”. – 1 Pet. 2:9.

14. Hoe kan ons ons liefde vir die waarheid versterk? (Sien ook die venster “ Nog vergelykings”.)

14 Hierdie is net ’n paar voorbeelde wat wys hoe kosbaar die waarheid is. Jy kan seker aan baie ander dink. Hoekom maak jy dit nie ’n persoonlike studieprojek om aan ander redes te dink hoekom ons vir die waarheid moet lief wees nie? Hoe liewer ons vir die waarheid is, hoe meer redes sal ons vind om ons liefde daarvoor te wys.

HOE ONS WYS DAT ONS LIEF IS VIR DIE WAARHEID

15. Wat is een manier hoe ons kan wys dat ons lief is vir die waarheid?

15 Ons kan wys dat ons lief is vir die waarheid deur die Bybel en Bybelpublikasies te studeer. Maak nie saak hoe lank ons al in die waarheid is nie, daar sal altyd meer wees om te leer. Die heel eerste nommer van hierdie tydskrif het gesê: “Waarheid is, soos ’n beskeie blommetjie in die wildernis van die lewe, omring en amper verstik deur die oorvloedige onkruid van valsheid. As jy dit wil vind, moet jy altyd op die uitkyk wees. . . . As jy dit wil hê, moet jy afbuk om dit te kry. Moenie met een blommetjie van waarheid tevrede wees nie. . . . Hou aan om bymekaar te maak, soek meer.” Om te studeer, is harde werk, maar dit is beslis die moeite werd.

16. Watter studiemetode vind jy effektief? (Spreuke 2:4-6)

16 Nie almal van ons is lief vir lees en studeer nie. Maar Jehovah nooi ons om te “bly soek” sodat ons die waarheid beter kan verstaan. (Lees Spreuke 2:4-6.) Wanneer ons dit doen, sal dit ons altyd help. Corey sê dat hy op een vers op ’n slag fokus wanneer hy sy persoonlike Bybellees doen. Hy verduidelik: “Ek lees elke voetnoot, kyk na elke kruisverwysing en doen ekstra navorsing. . . . Hierdie metode help my om baie dinge te leer!” Of ons nou hierdie metode of ’n ander een gebruik, ons wys dat ons die waarheid waardeer wanneer ons tyd opsysit en moeite doen om dit te studeer. – Ps. 1:1-3.

17. Wat beteken dit om die waarheid uit te leef? (Jakobus 1:25)

17 Ons weet natuurlik dat dit nie genoeg is om net die waarheid te studeer nie. As ons wil hê dat die waarheid ons moet help, moet ons dit uitleef, dit wil sê om die dinge wat ons leer, in ons lewe toe te pas. Slegs dan sal die waarheid ons regtig gelukkig maak. (Lees Jakobus 1:25.) Hoe kan ons seker maak dat ons die waarheid uitleef? Een broer het voorgestel dat ons selfondersoek moet doen om te kyk of ons toepas wat ons leer en waar ons moet verbeter. Die apostel Paulus het dit so gestel: “Net soos ons reeds vordering gemaak het, moet ons aanhou om ordelik op hierdie weg voort te gaan.” – Fil. 3:16.

18. Hoekom doen ons ons bes om ‘voort te gaan om die weg van die waarheid te volg’?

18 Dink net aan hoe dit ons help wanneer ons ons bes doen om ‘voort te gaan om die weg van die waarheid te volg’! Ons verbeter nie net die gehalte van ons eie lewe nie, maar ons maak ook Jehovah en ons broers en susters gelukkig (Spr. 27:11; 3 Joh. 4). Hierdie is die beste redes om lief te wees vir die waarheid en om die waarheid uit te leef!

LIED 144 Hou jou oë op die prys!

^ Ons praat dikwels van ons oortuigings en ons manier van lewe as “die waarheid”. Of ons nou nuut is in die waarheid en of ons dit ons hele lewe lank ken, dit kan ons baie help as ons nadink oor hoekom ons lief is vir die waarheid. As ons dit doen, sal dit ons meer vasbeslote maak om Jehovah se goedkeuring te kry.