Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 35

Hou aan om “mekaar op te bou”

Hou aan om “mekaar op te bou”

“Hou dus aan om mekaar aan te moedig en mekaar op te bou.” – 1 TESS. 5:11.

LIED 90 Bemoedig mekaar

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Aan watter werk neem ons almal deel, volgens 1 Tessalonisense 5:11?

 HET julle gemeente al ooit ’n Koninkryksaal gebou of herstel? As julle het, onthou jy seker julle eerste vergadering in die nuwe gebou. Jy was so dankbaar teenoor Jehovah. Jy was dalk so gelukkig dat jy amper begin huil het en gesukkel het om die openingslied te sing. Ons Koninkryksale wat so goed gebou is, bring eer op Jehovah. Maar ons bring selfs groter eer op hom wanneer ons deelneem aan ’n ander soort bouwerk. Daardie werk sluit iets waardevoller in as letterlike geboue. Dit sluit in dat ons die mense opbou wat na daardie plekke van aanbidding kom. Die apostel Paulus het dit in gedagte gehad toe hy die woorde in 1 Tessalonisense 5:11 geskryf het, ons temateks. – Lees.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Die apostel Paulus is ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat geweet het hoe om sy broers en susters op te bou. Hy het meegevoel met hulle gehad. In hierdie artikel sal ons bespreek hoe hy sy broers en susters gehelp het (1) om moeilike tye te hanteer, (2) om in vrede met mekaar te lewe en (3) om hulle geloof in Jehovah te versterk. Kom ons kyk hoe ons hom vandag kan navolg en ons broers en susters kan opbou. – 1 Kor. 11:1.

PAULUS HET SY BROERS EN SUSTERS GEHELP OM MOEILIKE TYE TE HANTEER

3. Watter gebalanseerde beskouing het Paulus gehad?

3 Paulus was baie lief vir sy broers. Hy het ook deur moeilike tye gegaan, so hy kon meegevoel met sy broers en susters hê wanneer hulle deur moeilike tye gegaan het. Eenkeer het Paulus nie meer geld oorgehad nie, en hy moes werk gaan kry om vir homself en dié wat saam met hom was, te sorg (Hand. 20:34). Hy was ’n tentmaker. Toe hy in Korinte aangekom het, het hy aan die begin met ander tentmakers, Aquila en Priscilla, gewerk. Maar hy het “elke sabbat” vir die Jode en die Grieke gepreek. Toe Silas en Timoteus daar aangekom het, “was Paulus druk besig om die woord te verkondig” (Hand. 18:2-5). Paulus het nooit vergeet wat sy hoofdoel in die lewe was nie – om Jehovah te dien. Omdat Paulus so hard gewerk het, was hy in ’n goeie posisie om sy broers en susters aan te moedig. Hy het hulle herinner dat hulle nie moet toelaat dat die druk van die lewe en die feit dat hulle vir hulle families moet sorg, veroorsaak dat hulle “die belangriker dinge” – alle aspekte van Jehovah se aanbidding – afskeep nie. – Fil. 1:10.

4. Hoe het Paulus en Timoteus hulle broers en susters gehelp om vervolging te hanteer?

4 Kort nadat die gemeente in Tessalonika gevorm was, is die nuwe gelowiges erg teëgestaan. Toe ’n groep teenstanders Paulus en Silas nie kon vind nie, het hulle “party broers na die stadsleiers toe gesleep” en uitgeroep: “Hierdie mense kom in opstand teen die bevele van die keiser” (Hand. 17:6, 7). Kan jy jouself net indink hoe bang hierdie nuwe Christene was toe hulle uitgevind het dat die manne van die stad teen hulle gedraai het? Hulle kon minder in hulle diens aan Jehovah begin doen het, maar Paulus wou nie hê dat dit moes gebeur nie. Alhoewel hy en Silas moes weggaan, het hulle seker gemaak dat daar goed vir die nuwe gemeente gesorg word. Paulus het die Tessalonisense herinner: “Ons het Timoteus, ons broer . . . gestuur om julle standvastig te maak en julle in julle geloof te vertroos, sodat niemand deur hierdie moeilike tye verswak word nie” (1 Tess. 3:2, 3). Timoteus is heel moontlik in sy tuisdorp, Listra, vervolg. Hy het gesien hoe Paulus die broers daar versterk. Omdat Timoteus gesien het hoe Jehovah hulle gehelp het, kon hy sy nuwe broers en susters verseker dat alles ook vir hulle goed sou uitdraai. – Hand. 14:8, 19-22; Heb. 12:2.

5. Hoe het ’n ouerman ’n broer met die naam Bryant gehelp?

5 Hoe het Paulus nog sy broers en susters versterk? Toe Paulus en Barnabas weer Listra, Ikonium en Antiogië besoek het, het hulle “in elke gemeente . . . ouermanne aangestel” (Hand. 14:21-23). Daardie ouermanne het beslis die gemeentes vertroos, net soos die ouermanne vandag die gemeentes vertroos. Kyk wat ’n broer met die naam Bryant gesê het: “Toe ek 15 geword het, het my pa ons verlaat en is my ma uitgesit. Ek het alleen en hartseer gevoel.” Wat het Bryant gehelp om hierdie moeilike tyd te hanteer? Hy sê: “Tony, ’n ouerman, het by vergaderinge en ander tye met my gesels. Hy het my vertel van persone wat deur moeilike tye gegaan het en tog gelukkig was. Hy het vir my Psalm 27:10 gelees en gereeld oor Hiskia gepraat, wat getrou gebly het al was sy pa nie ’n goeie voorbeeld nie.” Hoe het Tony se ondersteuning Bryant gehelp? Bryant sê: “As gevolg van Tony se aanmoediging, het ek uiteindelik ’n bevredigende loopbaan in die voltydse diens begin.” Ouermanne, wees op die uitkyk vir dié wat, soos Bryant, dalk “’n goeie woord” van aanmoediging nodig het. – Spr. 12:25.

6. Hoe het Paulus lewensverhale gebruik om sy broers en susters aan te moedig?

6 Paulus het sy broers en susters herinner dat “’n groot wolk van getuies” moeilike tye met Jehovah se hulp verduur het (Heb. 12:1). Paulus het geweet dat die lewensverhale van dié wat in die verlede allerhande moeilike tye suksesvol deurgemaak het, sy broers en susters moed kon gee, en hulle kon help om gefokus te bly op die “stad van die lewende God” (Heb. 12:22). Dit is vandag ook so. Ons almal word versterk wanneer ons lees oor hoe Jehovah Gideon, Barak, Dawid, Samuel en baie ander gehelp het (Heb. 11:32-35). En dit is dieselfde wanneer dit kom by voorbeelde van geloof in ons dag. By die wêreldhoofkwartier kry ons gereeld briewe van broers en susters wie se geloof versterk was nadat hulle ’n lewensverhaal gelees het van een van Jehovah se lojale knegte van vandag.

PAULUS HET SY BROERS EN SUSTERS GEWYS HOE OM IN VREDE MET MEKAAR TE LEWE

7. Wat leer jy uit Paulus se raad in Romeine 14:19-21?

7 Ons bou ons broers en susters op wanneer ons vrede in die gemeente bevorder. Ons laat nie toe dat verskillende opinies ons verdeel nie. En ons dring nie aan op ons regte wanneer daar nie Bybelbeginsels betrokke is nie. Kom ons kyk na ’n voorbeeld. Daar was Joodse en nie-Joodse Christene in die gemeente in Rome. Toe die Wet van Moses nie meer van toepassing was nie, was dit nie meer vir aanbidders van Jehovah nodig om gehoorsaam te wees aan die wette wat gesê het watter kosse hulle nie mag eet nie (Mark. 7:19). Van toe af het party Joodse Christene vry gevoel om alle soorte kosse te eet. Maar ander Joodse Christene het nie gevoel dat dit reg was om daardie kosse te eet nie. Dit het die gemeente verdeel. Paulus het beklemtoon hoe belangrik dit is om die vrede te bewaar en het gesê: “Dit is beter om nie vleis te eet of wyn te drink of enigiets te doen wat jou broer laat struikel nie.” (Lees Romeine 14:19-21.) Op hierdie manier het Paulus sy broers en susters gehelp om te sien hoe sulke onenighede sleg kan wees vir individue en vir die hele gemeente. Hy was ook bereid om sy eie gedrag te verander sodat hy nie ander sal laat struikel nie (1 Kor. 9:19-22). Ons kan ook ander opbou en vrede bewaar as ons nie stry oor persoonlike voorkeure nie.

8. Hoe het Paulus gereageer toe ’n belangrike saak die vrede in die gemeente in gevaar gestel het?

8 Paulus het ’n goeie voorbeeld daarin gestel om die vrede te bewaar wanneer mense nie oor belangrike sake saamgestem het nie. Byvoorbeeld, party in die eerste-eeuse gemeente het daarop aangedring dat nie-Jode wat Christene geword het, besny moes word dalk sodat die Jode hulle nie sou kritiseer nie (Gal. 6:12). Paulus het glad nie daarmee saamgestem nie, maar eerder as om op sy manier aan te dring, het hy nederig vir die apostels en ouermanne in Jerusalem raad gevra (Hand. 15:1, 2). Omdat Paulus die situasie op hierdie manier hanteer het, het hy daardie Christene gehelp om hulle vreugde en vrede in die gemeente te behou. – Hand. 15:30, 31.

9. Hoe kan ons Paulus se voorbeeld volg?

9 As daar wel ’n ernstige onenigheid is, kan ons vrede bevorder deur raad te soek by dié wat deur Jehovah aangestel is om na die gemeente om te sien. Baie keer kan ons Bybelse raad kry in ons publikasies of riglyne wat deur die organisasie voorsien word. As ons hard probeer om daardie riglyne te volg eerder as om ons persoonlike beskouing te bevorder, sal ons bydra tot die vrede van die gemeente.

10. Wat het Paulus nog gedoen om vrede in die gemeente te bevorder?

10 Paulus het vrede bevorder deur die positiewe eienskappe van sy broers en susters te beklemtoon, nie hulle negatiewe eienskappe nie. Byvoorbeeld, aan die einde van sy brief aan die Romeine het Paulus baie mense by naam genoem en in die meeste gevalle het hy iets positiefs of iets persoonliks oor hulle genoem. Ons kan Paulus navolg deur vryelik oor die goeie eienskappe van ons broers en susters te praat. Wanneer ons dit doen, bou ons sterker vriendskappe op en versterk ons die liefde tussen die broers en susters in die gemeente.

11. Hoe kan ons die vrede herstel wanneer daar geskille is?

11 Soms sal selfs volwasse Christene nie met mekaar saamstem nie of met mekaar stry. Dit is wat met Paulus en sy goeie vriend Barnabas gebeur het. Hierdie twee manne het gestry oor of hulle Markus moet saamneem op hulle volgende sendingreis. Hulle het “vir mekaar kwaad geword en begin stry,” en hulle het uitmekaargegaan (Hand. 15:37-39). Maar Paulus, Barnabas en Markus het vrede gemaak, en hulle het gewys dat die vrede en eenheid van die gemeente vir hulle kosbaar is. Paulus het later goeie dinge van Barnabas en Markus gesê (1 Kor. 9:6; Kol. 4:10). Ons moet ook enige geskille wat ons dalk met ander in die gemeente het, oplos en aanhou om te fokus op hulle goeie eienskappe. As ons dit doen, sal ons vrede en eenheid bevorder. – Ef. 4:3.

PAULUS HET SY BROERS EN SUSTERS SE GELOOF VERSTERK

12. Wat is party van die uitdagings wat ons broers en susters deurmaak?

12 Ons bou ons broers en susters op wanneer ons hulle geloof in Jehovah versterk. Party word gespot deur ongelowige familielede of deur werksmaats of skoolmaats. Ander sukkel met ernstige gesondheidsprobleme of sukkel om seergemaakte gevoelens te oorkom. En ander is al jare lank gedoop en wag al lank vir die einde om te kom. Vandag kan hierdie situasies Christene se geloof toets. Christene in die eerste eeu het deur soortgelyke uitdagings gegaan. Wat het Paulus gedoen om sy broers en susters te versterk?

Hoe kan ons, net soos die apostel Paulus, ander opbou? (Sien paragraaf 13) *

13. Hoe het Paulus dié gehelp wat gespot was vir wat hulle geglo het?

13 Paulus het die Bybel gebruik om sy broers en susters se geloof op te bou. Byvoorbeeld, Joodse Christene het dalk nie geweet wat om te sê vir ongelowige familielede wat gesê het dat Judaïsme belangriker is as die Christelike godsdiens nie. Paulus se brief aan die Hebreërs het beslis daardie Christene baie versterk (Heb. 1:5, 6; 2:2, 3; 9:24, 25). Sy kragtige redenasies kon hulle help om te weet wat om vir hulle ongelowige familielede te sê. Vandag kan ons ons broers en susters wat gespot word, help om ons Bybelpublikasies te gebruik om hulle oortuigings te verduidelik. En as ons jongmense gespot word omdat hulle in die skepping glo, kan ons hulle help om inligting te vind in die brosjures Is lewe geskep? en Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe om te wys hoekom hulle glo dat lewe geskep is.

Hoe kan ons, net soos die apostel Paulus, ander opbou? (Sien paragraaf 14) *

14. Wat het Paulus gedoen al was hy besig met die predikings- en onderrigtingswerk?

14 Paulus het sy broers en susters aangemoedig om liefde te wys deur “goeie werke” (Heb. 10:24). Hy het sy broers en susters gehelp, nie net deur wat hy gesê het nie, maar ook deur wat hy gedoen het. Byvoorbeeld, toe sy broers en susters in Judea deur ’n hongersnood gegaan het, het Paulus vir hulle dinge gebring wat hulle nodig gehad het (Hand. 11:27-30). Om die waarheid te sê, al was Paulus besig met die predikings- en onderrigtingswerk het hy altyd na maniere gesoek om dié te help wat materiële hulp nodig gehad het (Gal. 2:10). Deur dit te doen, het hy sy broers en susters se vertroue versterk dat Jehovah vir hulle sou sorg. As ons vandag aanbied om ons tyd, energie en vaardighede te gebruik om met noodlenigingswerk te help, bou ons ook ons broers en susters se geloof op. Ons kan dit ook doen deur gereeld bydraes te maak vir die wêreldwye werk. Op hierdie en ander maniere, help ons ons broers en susters om te vertrou dat Jehovah hulle nooit sal verlaat nie.

Hoe kan ons, net soos die apostel Paulus, ander opbou? (Sien paragraaf 15-16) *

15-16. Hoe moet ons dié behandel wie se geloof swak geword het?

15 Paulus het nie dié afgeskryf wie se geloof swak geword het nie. Hy het meegevoel met hulle gehad en op ’n liefdevolle en positiewe manier met hulle gepraat (Heb. 6:9; 10:39). Byvoorbeeld, regdeur sy brief aan die Hebreërs het hy die woord “ons” gereeld gebruik, en so het hy gewys dat hy ook die raad wat hy gegee het, moes toepas (Heb. 2:1, 3). Net soos Paulus, skryf ons nie dié af wie se geloof swak geword het nie. Ons bou hulle eerder op deur opreg in hulle belang te stel. Op hierdie manier wys ons dat ons hulle regtig liefhet. Ons liefdevolle en kalm stemtoon kan net so opbouend wees soos enige iets wat ons dalk sê.

16 Paulus het sy broers en susters verseker dat Jehovah bewus was van die goeie dinge wat hulle doen (Heb. 10:32-34). Ons kan iets soortgelyks doen wanneer ons ’n broer help wie se geloof swak geword het. Ons kan hom vra hoe hy in die waarheid gekom het of hom aanmoedig om te dink aan tye toe hy Jehovah se ondersteuning gevoel het. Ons kan die geleentheid gebruik om hom te verseker dat Jehovah nie vergeet het hoe hy in die verlede gewys het dat hy Jehovah liefhet nie en dat hy hom nie in die toekoms sal verlaat nie (Heb. 6:10; 13:5, 6). Hierdie gesprekke sal dalk hierdie dierbare broers se begeerte versterk om aan te hou om Jehovah te dien.

‘HOU AAN OM MEKAAR AAN TE MOEDIG’

17. Aan watter vaardighede kan ons aanhou werk?

17 Net soos ’n bouer met verloop van tyd sy vaardighede verbeter, kan ons ook meer effektief daarin raak om mekaar op te bou. Ons kan ander help om moeilike tye te verduur deur hulle van voorbeelde te vertel van dié wat dit in die verlede verduur het. Ons kan vrede bevorder deur die goeie dinge te noem wat ons in ander sien, vrede bewaar wanneer dit bedreig word en vrede maak wanneer daar geskille is. En ons kan aanhou om die geloof van ons broers en susters op te bou deur belangrike Bybelwaarhede met hulle te deel, deur praktiese hulp te voorsien en deur dié te help wie se geloof swak geword het.

18. Wat is jy vasbeslote om te doen?

18 Dié wat met teokratiese bouprojekte help, voel gelukkig en tevrede. Ons kan gelukkig en tevrede wees wanneer ons met die geestelike bouwerk in die gemeente help. Anders as fisiese geboue wat uiteindelik sal vergaan, kan die resultate van ons werk vir ewig bestaan. Mag ons vasbeslote wees om ‘aan te hou om mekaar aan te moedig en mekaar op te bou’. – 1 Tess. 5:11.

LIED 100 Ontvang hulle gasvry

^ Die lewe in hierdie wêreld is moeilik. Ons broers en susters is onder baie druk. Ons kan hulle regtig help as ons na maniere soek om hulle aan te moedig. Met dit in gedagte, sal dit ons help as ons die voorbeeld van die apostel Paulus bespreek.

^ BESKRYWING VAN PRENT: ’n Pa wys vir sy dogter hoe sy die wenke in ons publikasies kan gebruik om die druk te weerstaan om Kersfees te vier.

^ BESKRYWING VAN PRENT: ’n Paartjie het na ’n ander deel van die land gereis om met noodlenigingswerk te help.

^ BESKRYWING VAN PRENT: ’n Ouerman besoek ’n broer wie se geloof swak geword het. Hy wys vir die broer ’n paar foto’s van die Pionierdiensskool wat hulle jare gelede saam bygewoon het. Wanneer die broer na die foto’s kyk, onthou hy die goeie tye wat hulle gehad het. Die broer begin verlang na die vreugde wat hy gevoel het toe hy Jehovah gedien het. Later, keer hy terug na die gemeente.