Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 33

Jehovah gee om vir sy volk en beskerm hulle

Jehovah gee om vir sy volk en beskerm hulle

“Die oog van Jehovah waak oor dié wat hom vrees.” – PS. 33:18.

LIED 4 “Jehovah is my Herder”

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom het Jesus Jehovah gevra om sy volgelinge te beskerm?

 OP DIE aand voor sy dood het Jesus sy hemelse Vader gevra om sy volgelinge te beskerm (Joh. 17:15, 20). Jehovah het natuurlik nog altyd vir sy volk omgegee en hulle beskerm. Maar Jesus het geweet dat Satan sy volgelinge erg sou teëstaan. Jesus het ook besef dat hulle Jehovah se hulp nodig sou hê om die Duiwel se wrede aanvalle te weerstaan.

2. Hoekom hoef ons nie bang te wees wanneer ons deur moeilike tye gaan nie, volgens Psalm 33:18-20?

2 Satan se wêreld sit vandag verskriklike druk op ware Christene. Ons gaan deur moeilike tye wat ons mismoedig kan maak en wat selfs ons lojaliteit aan Jehovah kan toets. Maar soos ons in hierdie artikel sal sien, het ons niks om voor bang te wees nie. Jehovah gee vir ons om, en hy beskerm ons. Hy sien die uitdagings wat ons deurmaak, en hy is gereed om ons daarmee te help. Kom ons kyk na twee Bybelvoorbeelde wat wys hoe Jehovah “waak oor dié wat hom vrees”. – Lees Psalm 33:18-20.

WANNEER ONS ALLEEN VOEL

3. Wanneer voel ons dalk alleen?

3 Alhoewel ons deel is van ’n groot familie van aanbidders, voel ons dalk soms alleen. Byvoorbeeld, jongmense voel dalk alleen wanneer hulle hulle geloof voor hulle klasmaats by die skool moet verduidelik of wanneer hulle na ’n nuwe gemeente toe trek. Sommige van ons voel dalk hartseer en sukkel met negatiewe gevoelens, en ons dink dat ons hierdie gevoelens alleen moet hanteer. Ons twyfel dalk of ons vir ander moet sê hoe ons voel omdat ons bekommerd is dat hulle dalk nie sal verstaan nie. En soms wonder ons selfs dalk of enige iemand regtig vir ons omgee. Wanneer ons alleen voel – wat ook al die rede daarvoor is – kan dit ons hulpeloos en angstig laat voel. Jehovah wil nooit hê dat ons so moet voel nie. Hoekom kan ons dit sê?

4. Hoekom het die profeet Elia gesê: “Ek is die enigste een wat oorgebly het”?

4 Dink aan die voorbeeld van die getroue man Elia. Isebel het gesê het dat sy hom gaan doodmaak, so hy het vir meer as 40 dae vir sy lewe gevlug (1 Kon. 19:1-9). Toe hy uiteindelik alleen in ’n grot was, het hy vir Jehovah gesê: “Ek is die enigste [profeet] wat oorgebly het” (1 Kon. 19:10). Daar was ander profete in die land. Byvoorbeeld, Obadja het gekeer dat 100 profete deur Isebel doodgemaak word (1 Kon. 18:7, 13). Hoekom het Elia dan so alleen gevoel? Het hy gedink dat die profete wat deur Obadja gered was, nou almal dood was? Het hy dalk alleen gevoel omdat niemand Jehovah saam met hom begin dien het selfs nadat Jehovah bewys het dat Hy die ware God was nie? Het hy gevoel dat niemand geweet het in hoeveel gevaar hy was nie, of het hy dalk gewonder of enigiemand vir hom omgee? Die verslag verduidelik nie hoekom Elia so gevoel het nie. Maar wat ons wel weet, is dat Jehovah verstaan het hoekom Elia alleen gevoel het en dat hy presies geweet het hoe om hom te help.

Watter vertroostende les kan ons leer uit die manier hoe Jehovah Elia gehelp het wanneer ons alleen voel? (Sien paragraaf 5-6)

5. Hoe het Jehovah Elia verseker dat hy nie alleen was nie?

5 Jehovah het Elia op verskillende maniere gehelp. Hy het Elia aangemoedig om te praat. Hy het twee keer vir Elia gevra: “Wat maak jy hier?” (1 Kon. 19:9, 13). Jehovah het elke keer geluister terwyl Elia sy hart voor hom uitgestort het. Hy het vir Elia gewys dat Hy daar is en baie magtig is. Hy het Elia ook verseker dat hy baie medeaanbidders het (1 Kon. 19:11, 12, 18). Elia het beslis verlig gevoel nadat hy sy hart voor Jehovah uitgestort het en nadat Jehovah hom geantwoord het. Jehovah het vir Elia ’n hele paar toewysings gegee. Hy het hom gevra om Hasael as koning oor Sirië, Jehu as koning oor Israel en Elisa as profeet te salf (1 Kon. 19:15, 16). Deur Elia daardie toewysings te gee, het Jehovah hom gehelp om op positiewe dinge te fokus. God het ook vir hom ’n goeie vriend, Elisa, gegee. Hoe kan jy Jehovah se hulp ontvang wanneer jy alleen voel?

6. Waaroor kan jy bid wanneer jy alleen voel? (Psalm 62:8)

6 Jehovah nooi jou om tot hom te bid. Hy sien watter probleme jy het, en hy verseker jou dat hy enige tyd na jou gebede sal luister (1 Tess. 5:17). Dit maak hom gelukkig om na sy aanbidders te luister (Spr. 15:8). Waaroor kan jy bid wanneer jy alleen voel? Stort jou hart voor Jehovah uit soos Elia gedoen het. (Lees Psalm 62:8.) Vertel hom van jou bekommernisse en hoe dit jou laat voel. Vra Jehovah om jou te help om jou gevoelens te hanteer. Byvoorbeeld, as jy alleen en bang voel wanneer jy by die skool moet getuig, vra Jehovah om jou die moed te gee om jou oortuigings te verduidelik. Jy kan hom selfs vra om jou die wysheid te gee om jou oortuigings op ’n taktvolle manier te verduidelik (Luk. 21:14, 15). As jy met negatiewe emosies sukkel, vra Jehovah om jou te help om met ’n volwasse Christen daaroor te praat. Jy kan Jehovah vra om die persoon met wie jy gaan praat, te help om te verstaan hoe jy voel. Stort jou hart voor Jehovah uit, kyk hoe hy jou gebede beantwoord en aanvaar die hulp van ander. Dan sal jy nie so alleen voel nie.

Soek jy na maniere om jou bediening uit te brei en om met ander daaraan deel te neem? (Sien paragraaf 7)

7. Wat leer jy uit Mauricio se voorbeeld?

7 Jehovah het ons almal betekenisvolle werk gegee. Jy kan seker wees dat hy alles wat jy in die gemeente en in die bediening doen, raaksien en waardeer (Ps. 110:3). Hoe kan hierdie werk jou help wanneer jy alleen voel? Kyk na die voorbeeld van ’n jong broer met die naam Mauricio. * Kort nadat Mauricio gedoop is, het een van sy beste vriende geleidelik die waarheid begin verlaat. Mauricio sê: “Toe ek sien hoe hy van Jehovah af wegdryf, het ek my selfvertroue begin verloor. Ek het gewonder of ek my toewydingsbelofte kon nakom en deel van Jehovah se familie kon bly. Ek het alleen gevoel en gedink dat niemand my gevoelens sou verstaan nie.” Wat het Mauricio gehelp? Hy sê: “Ek het meer in my bediening gedoen. Dit het my gehelp om nie te veel op myself en op my negatiewe gevoelens te fokus nie. Wanneer ek saam met ander in die bediening gewerk het, was ek gelukkig en het ek nie so alleen gevoel nie.” Ja, selfs wanneer ons nie in persoon saam met ons broers en susters kan preek nie, word ons versterk deur saam met hulle aan aktiwiteite deel te neem soos om briewe te skryf en telefoongetuieniswerk te doen. Wat het Mauricio nog gehelp? Hy sê verder: “Ek het ook besig gebly in die gemeente. Wanneer ek studentetoewysings voorberei het en gegee het, het ek my hart en siel daarin gesit. Hierdie toewysings het my laat voel dat Jehovah en ander my waardeer.”

WANNEER ONS OORWELDIG VOEL AS GEVOLG VAN BAIE MOEILIKE TYE

8. Hoe voel ons dalk wanneer ons deur baie moeilike tye gaan?

8 Ons verwag om gedurende hierdie laaste dae deur moeilike tye te gaan (2 Tim. 3:1). Maar ons word dalk onkant gevang deur die soort probleem, of dit gebeur dalk op ’n tyd dat ons dit nie verwag nie. Miskien het ons skielik geldprobleme, miskien sê die dokter vir ons dat ons ’n ernstige siekte het of miskien sterf iemand vir wie ons lief is. Gedurende sulke tye voel ons dalk baie hartseer en oorweldig, veral wanneer dit lyk asof ons die een probleem ná die ander of selfs ’n hele paar baie moeilike probleme op een slag ondervind. Maar onthou dat Jehovah vir ons omgee en ons beskerm en dat hy ons kan help om enige probleem met vertroue te hanteer.

9. Beskryf party van die moeilike tye waardeur Job gegaan het.

9 Kyk hoe Jehovah die getroue man Job gehelp het. Hy het in ’n kort tydjie deur baie moeilike tye gegaan. In een dag het Job uitgevind dat al sy diere of gesteel of doodgemaak is en dat sy knegte en sy kinders doodgemaak is (Job 1:13-19). Kort daarna, terwyl hy nog baie hartseer was, het hy ’n baie pynlike siekte gekry (Job 2:7). Job se situasie was so erg dat hy gesê het: “Ek haat my lewe; ek wil nie meer lewe nie.” – Job 7:16.

Jehovah verseker Job van Sy liefdevolle sorg deur met hom te praat oor die baie maniere waarop Hy vir Sy skepping sorg (Sien paragraaf 10)

10. Hoe het Jehovah Job gegee wat hy nodig gehad het om sy moeilike tye te verduur? (Sien prent op voorblad.)

10 Jehovah het vir Job omgegee en hom beskerm. Omdat Jehovah vir Job lief was, het hy hom gegee wat hy nodig gehad het om sy moeilike tye suksesvol te verduur. Jehovah het met Job gepraat en hom herinner aan Sy oneindige wysheid en Sy liefdevolle sorg vir die dinge wat hy geskep het. Hy het van baie indrukwekkende diere gepraat (Job 38:1, 2; 39:9, 13, 19, 27; 40:15; 41:1, 2). Jehovah het ook ’n getroue jong man met die naam Elihu gebruik om Job te versterk en te vertroos. Elihu het hom verseker dat Jehovah altyd Sy aanbidders vir hulle volharding beloon. Maar Jehovah het Elihu ook gemotiveer om Job liefdevolle raad te gee. Elihu het hom gehelp om op die groot prentjie te fokus deur hom te herinner aan sy posisie in vergelyking met Jehovah, die Skepper van die heelal (Job 37:14). Jehovah het Job ook ’n toewysing gegee; hy moes bid vir sy drie vriende wat gesondig het (Job 42:8-10). Hoe ondersteun Jehovah ons vandag wanneer ons deur moeilike tye gaan?

11. Hoe vertroos die Bybel ons wanneer ons deur moeilike tye gaan?

11 Jehovah praat nie direk met ons soos hy met Job gedoen het nie, maar Hy praat met ons deur middel van Sy Woord die Bybel (Rom. 15:4). Hy vertroos ons deur ons ’n hoop vir die toekoms te gee. Kyk na net ’n paar gedagtes uit die Bybel wat ons kan vertroos wanneer ons deur moeilike tye gaan. In die Bybel verseker Jehovah ons dat niks – en dit sluit baie moeilike tye in – “ons sal kan skei van [sy] liefde” nie (Rom. 8:38, 39). Hy verseker ons ook dat hy “naby almal [is] wat hom aanroep” in gebed (Ps. 145:18). Jehovah sê vir ons dat ons enige probleem kan verduur as ons op hom vertrou en dat ons selfs gelukkig kan wees wanneer ons deur moeilike tye gaan (1 Kor. 10:13; Jak. 1:2, 12). God se Woord herinner ons ook dat ons probleme tydelik en kort is in vergelyking met die ewige beloning wat hy ons belowe (2 Kor. 4:16-18). Jehovah gee ons die vaste hoop dat hy die oorsaak van al ons probleme – Satan die Duiwel en dié wat net so sleg soos hy is – sal wegneem (Ps. 37:10). Het jy party vertroostende Bybeltekste gememoriseer om jou te help om moeilike tye in die toekoms te verduur?

12. Wat verwag Jehovah van ons as ons ten volle by sy Woord wil baat vind?

12 Jehovah verwag dat ons tyd opsy moet sit om die Bybel gereeld te studeer en om diep na te dink oor wat ons lees. As ons toepas wat ons leer, word ons geloof sterker en kom ons nader aan ons hemelse Vader. Dan word ons versterk om moeilike tye te verduur. Jehovah gee ook sy gees aan dié wat op sy Woord vertrou. En daardie gees kan ons “die krag wat bo die normale is,” gee om moeilike tye te verduur. – 2 Kor. 4:7-10.

13. Hoe help die geestelike voedsel wat “die getroue en verstandige slaaf” voorsien ons om moeilike tye te verduur?

13 Met Jehovah se hulp voorsien “die getroue en verstandige slaaf” ’n oorvloed artikels, video’s en musiek wat ons kan help om sterk geloof op te bou en om geestelik wakker te bly (Matt. 24:45). Ons moet goed gebruik maak van al die voorsienings wat Jehovah vir ons op die regte tyd gee. ’n Suster van die Verenigde State het onlangs gesê hoe baie sy hierdie geestelike voedsel waardeer. Sy het gesê: “Gedurende die 40 jaar dat ek Jehovah dien, is my integriteit al oor en oor getoets.” Sy het deur baie moeilike tye gegaan – haar oupa is dood as gevolg van ’n dronkbestuurder, haar ouers het baie siek geword en het gesterf, en sy het twee keer kanker gehad. Wat het haar gehelp om te volhard? Sy verduidelik: “Jehovah het nog altyd vir my omgegee. Die geestelike voedsel wat hy deur middel van die getroue en verstandige slaaf voorsien het, het my gehelp om te volhard. As gevolg daarvan kan ek voel soos Job gevoel het toe hy gesê het: ‘Totdat ek sterf, sal ek nie my integriteit prysgee nie!’” – Job 27:5.

Hoe kan ons vir ander in die gemeente ’n seëning wees? (Sien paragraaf 14)

14. Hoe gebruik Jehovah ons broers en susters om ons te ondersteun gedurende moeilike tye? (1 Tessalonisense 4:9).

14 Jehovah het sy volk opgelei om mekaar gedurende moeilike tye lief te hê en te vertroos. (2 Kor. 1:3, 4; lees 1 Tessalonisense 4:9.) Soos Elihu is ons broers en susters gretig om ons te help om getrou te bly wanneer ons deur moeilike tye gaan (Hand. 14:22). Byvoorbeeld, kyk hoe Diane se gemeente haar aangemoedig het en gehelp het om geestelik sterk te bly nadat haar man ernstig siek geword het. Sy sê: “Dit was moeilik. Maar ons het Jehovah se sterk en liefdevolle arms gedurende daardie moeilike maande gevoel. Ons gemeente het baie dinge gedoen om ons te ondersteun. Die besoeke, die telefoonoproepe en die drukkies van ons broers en susters het ons gehelp om aan die gang te bly. Omdat ek nie bestuur nie, het die broers en susters seker gemaak dat ek by die vergaderinge uitkom en velddiens doen wanneer ek kon.” Dit is ’n groot seëning om deel te wees van so ’n liefdevolle geestelike familie!

DANKBAAR VIR JEHOVAH SE LIEFDEVOLLE SORG

15. Hoekom is ons oortuig dat ons moeilike tye kan verduur?

15 Ons almal sal die een of ander tyd probleme ondervind. Maar soos ons geleer het, sal ons nooit probleme op ons eie hoef te hanteer nie. Soos ’n liefdevolle vader gee Jehovah altyd vir ons om en beskerm hy ons. Hy is na aan ons, gereed om na ons te luister en gretig om ons te ondersteun (Jes. 43:2). Ons is oortuig dat ons enige probleme kan hanteer omdat hy ons alles gegee het wat ons nodig het om te volhard. Hy het ons die geskenk van gebed, die Bybel, ’n oorvloed geestelike voedsel en ’n liefdevolle broederskap gegee om ons in moeilike tye te help.

16. Hoe kan ons onder Jehovah se liefdevolle sorg bly?

16 Ons is baie dankbaar dat ons ’n hemelse Vader het wat vir ons omgee en ons beskerm! “Ons harte is bly danksy hom” (Ps. 33:21). Ons kan vir Jehovah wys dat ons sy liefdevolle sorg waardeer deur gebruik te maak van al sy voorsienings om ons te help. Ons moet ook ons deel doen om onder God se sorg te bly. Met ander woorde, as ons aanhou om ons bes te doen om Jehovah te gehoorsaam en om te doen wat reg is in sy oë, sal hy vir ewig vir ons omgee en ons beskerm! – 1 Pet. 3:12.

LIED 30 My Vader, my God en Vriend

^ Ons het Jehovah se hulp nodig om die probleme wat ons vandag het, te hanteer. Hierdie artikel verseker ons dat Jehovah vir sy volk omgee. Hy sien die probleme wat elkeen van ons het, en hy help ons om dit te hanteer.

^ Party name is verander.