Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 33

Leer uit Daniël se voorbeeld

Leer uit Daniël se voorbeeld

“Jy is ’n baie geliefde man.” – DAN. 9:23.

LIED 73 Gee ons vrymoedigheid, Heer

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Hoekom was die Babiloniërs beïndruk deur die profeet Daniël?

 DIE profeet Daniël was ’n jong man toe die Babiloniërs hom as ’n gevangene na Babilon ver weg van Jerusalem af geneem het. Maar al was hy jonk, het die Babiloniese amptenare Daniël raakgesien. Hulle het “die uiterlike” gesien – dat Daniël “aantreklik en sonder enige gebrek” is en dat hy uit ’n belangrike familie gekom het (1 Sam. 16:7). En daarom het die Babiloniërs hom opgelei om in die paleis te dien. – Dan. 1:3, 4, 6.

2. Hoe het Jehovah oor Daniël gevoel? (Esegiël 14:14)

2 Jehovah was lief vir Daniël, nie as gevolg van hoe hy gelyk het of omdat hy spesiale voorregte in die paleis gehad het nie, maar as gevolg van die tipe persoon wat hierdie jong man gekies het om te wees. Om die waarheid te sê, Daniël was dalk net in sy laat tienerjare of vroeë 20’s toe Jehovah sy naam genoem het saam met Noag en Job, manne wat Hom vir baie jare getrou gedien het. (Gen. 5:32; 6:9, 10; Job 42:16, 17; lees Esegiël 14:14.) En Jehovah het aangehou om Daniël lief te hê regdeur sy lang en merkwaardige lewe. – Dan. 10:11, 19.

3. Wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel gaan ons twee van Daniël se eienskappe ondersoek wat hom ’n geliefde man vir Jehovah gemaak het. Eerstens gaan ons elke eienskap beskryf en kyk na geleenthede toe hy dit gewys het. Dan gaan ons kyk na wat Daniël gehelp het om hierdie eienskappe te ontwikkel. Laastens gaan ons bespreek hoe ons hom kan navolg. Al is hierdie artikel vir jongmense geskryf, kan almal van ons uit Daniël se voorbeeld leer.

VOLG DANIËL SE MOED NA

4. Hoe het Daniël gewys dat hy moedig is? Gee ’n voorbeeld.

4 Moedige mense word dalk bang, maar hulle laat nie toe dat dit hulle keer om te doen wat reg is nie. Daniël was ’n baie moedige jong man. Kyk na twee geleenthede waar hy gewys het dat hy moedig is. Die eerste keer was moontlik omtrent twee jaar nadat die Babiloniërs Jerusalem vernietig het. Koning Nebukadnesar van Babilon het ’n ontstellende droom gehad oor ’n groot beeld. Hy het gedreig om al sy wyse manne, insluitende Daniël, dood te maak as hulle nie vir hom kon sê wat hy gedroom het en wat die droom beteken het nie (Dan. 2:3-5). Daniël moes vinnig iets doen, anders sou baie mense hulle lewens verloor. Hy het “na die koning gegaan en hom gevra om hom tyd te gee sodat hy vir die koning kon sê wat die droom beteken” (Dan. 2:16). Dit wys dat Daniël moedig was en geloof gehad het. Die Bybel sê nie dat Daniël al voorheen gesê het wat drome beteken nie. Hy het vir sy vriende – wie se Babiloniese name Sadrag, Mesag en Abednego was – gevra “om die God van die hemel om genade te smeek en te vra dat Hy die geheim moet openbaar” (Dan. 2:18). Jehovah het daardie gebede beantwoord. Met God se hulp het Daniël vir Nebukadnesar gesê wat sy droom beteken. Daniël en sy vriende is nie doodgemaak nie.

5. Wanneer is Daniël se moed weer getoets?

5 ’n Ruk nadat Daniël gesê het wat die droom oor die groot beeld beteken het, is sy moed weer getoets. Nebukadnesar het nog ’n ontstellende droom gehad. Hy het van ’n massiewe boom gedroom. Daniël het moedig vir die koning verduidelik wat die droom beteken en selfs vir hom gesê dat hy mal sou word en vir ’n ruk lank nie koning sou wees nie (Dan. 4:25). Die koning kon maklik gedink het dat Daniël sy vyand is en kon hom laat doodmaak het. Maar ten spyte daarvan het Daniël gewys dat hy moedig is en die droom verduidelik.

6. Wat het Daniël dalk gehelp om moedig te wees?

6 Wat het Daniël dalk gehelp om regdeur sy lewe moedig te wees? Ons kan seker wees dat Daniël se ma en pa vir hom ’n goeie voorbeeld gestel het toe hy jonk was. Hulle was beslis gehoorsaam aan die instruksies wat Jehovah vir Israelitiese ouers gegee het, en hulle het God se Wet aan hulle kind geleer (Deut. 6:6-9). Daniël het nie net die basiese dinge van die Wet, soos die Tien Gebooie, geken nie, maar ook die details oor wat ’n Israeliet kon en nie kon eet nie (Lev. 11:4-8; Dan. 1:8, 11-13). b Daniël het ook geleer oor die geskiedenis van God se volk en het geweet wat met hulle gebeur het toe hulle ongehoorsaam was aan Jehovah se standaarde (Dan. 9:10, 11). Ondervindinge regdeur Daniël se lewe het hom oortuig dat Jehovah en Sy kragtige engele hom ondersteun. – Dan. 2:19-24; 10:12, 18, 19.

Studie, gebed en vertroue in Jehovah het Daniël gehelp om moed te ontwikkel (Sien paragraaf 7)

7. Wat het Daniël nog gehelp om moed te hê? (Sien ook prent.)

7 Daniël het die geskrifte van God se profete, insluitende die profesieë van Jeremia, gestudeer. Uit daardie studie het Daniël later besef dat die lang gevangenskap van die Jode in Babilon binnekort sou eindig (Dan. 9:2). Daniël het gesien dat Jehovah se woorde waar geword het, en dit het sy vertroue in Jehovah versterk, en dié wat sterk vertroue in God het, kan baie moedig wees. (Vergelyk Romeine 8:31, 32, 37-39.) Nog belangriker, Daniël het gereeld tot sy hemelse Vader gebid (Dan. 6:10). Hy het sy sondes aan Jehovah bely en sy gevoelens met Hom gedeel. En Daniël het vir hulp gevra (Dan. 9:4, 5, 19). Hy was ’n mens soos ons, so hy is nie met moed gebore nie. Hy het daardie eienskap eerder ontwikkel deur studie en gebed en deur op Jehovah te vertrou.

8. Hoe kan ons moed ontwikkel?

8 Wat moet ons doen om moed te ontwikkel? Ons ouers sal ons dalk aanmoedig om moedig te wees, maar hulle kan nie hierdie eienskap vir ons gee asof dit ’n familie-erfstuk is nie. Om moed te ontwikkel, is soos om ’n nuwe vaardigheid te leer. Een manier hoe ons daarin kan verbeter, is deur die instrukteur goed dop te hou en dan sy voorbeeld na te volg. Op ’n soortgelyke manier leer ons hoe om moedig te wees deur mooi te kyk na hoe ander hierdie eienskap openbaar en dan hulle voorbeeld na te volg. So, wat het ons by Daniël geleer? Soos hy moet ons God se Woord goed ken. Ons moet ’n sterk vriendskap met Jehovah opbou deur openlik en gereeld met hom te praat. En ons moet op Jehovah vertrou en oortuig wees dat hy ons ondersteun. Dan sal ons moedig wees wanneer ons geloof getoets word.

9. Hoe help dit ons as ons moedig is?

9 Dit help ons op ’n hele paar maniere as ons moedig is. Kyk na die ondervinding van Ben. Hy het ’n skool in Duitsland bygewoon waar almal in evolusie geglo het en gevoel het dat die skeppingsverslag in die Bybel nie waar is nie. Eendag het Ben die geleentheid gekry om voor die klas te staan en te verduidelik hoekom hy glo dat lewe geskep is. Hy was moedig en het vir almal vertel wat hy glo. Wat was die resultaat? Ben sê: “My onderwyser het mooi geluister, en hy het kopieë gemaak van die inligting wat ek gebruik het om my oortuigings te verduidelik, en hy het vir elke student in die klas een gegee.” Hoe het Ben se klasmaats gereageer? Ben sê: “Baie van hulle het geluister na wat ek gesê het, en hulle het gesê dat hulle my bewonder.” Soos Ben se ondervinding wys, wen moedige mense baie keer die respek van ander. Hulle sal dalk ook opregte mense help om Jehovah te leer ken. Ons het beslis goeie redes om moed te ontwikkel.

VOLG DANIËL SE LOJALITEIT NA

10. Wat is lojaliteit?

10 In die Bybel dra die Hebreeuse woord vir “lojaliteit”, of “lojale liefde”, die idee oor van ’n liefdevolle gehegtheid wat dikwels gebruik word om die liefde te beskryf wat God vir sy knegte het. Dieselfde woord word ook gebruik om die liefde te beskryf wat God se knegte aan mekaar bewys (2 Sam. 9:6, 7). Ons lojaliteit kan met verloop van tyd sterker word. Kom ons kyk hoe Daniël se lojaliteit sterker geword het.

Jehovah beloon Daniël se lojaliteit deur ’n engel te stuur en deur die leeus se bekke toe te maak (Sien paragraaf 11)

11. Hoe was Daniël se lojaliteit getoets toe hy oud was? (Sien prent op voorblad.)

11 Daniël se lojaliteit aan Jehovah was regdeur sy lewe getoets. Maar een van die grootste toetse het gekom toe hy in sy 90’s was. Teen hierdie tyd was Babilon al deur die Mede en die Perse oorgeneem en was Darius die koning. Lede van die koninklike hof het nie van Daniël gehou nie en het min respek gehad vir die God wat hy aanbid het. Daarom het hulle beplan om Daniël te laat doodmaak. Hulle het die koning ’n wet laat teken wat sou toets of Daniël lojaal sou wees aan sy God of aan die koning. Al wat Daniël moes doen om sy lojaliteit aan die koning te bewys en om soos die ander mense te wees, was om 30 dae lank nie tot Jehovah te bid nie. Daniël het geweier om dislojaal aan Jehovah te wees. As gevolg daarvan is hy in die leeukuil gegooi. Maar Jehovah het Daniël se lojaliteit beloon deur hom uit die bek van die leeus te red (Dan. 6:12-15, 20-22). Hoe kan ons lojaal aan Jehovah bly soos Daniël?

12. Wat het Daniël gehelp om lojaal aan Jehovah te bly?

12 Soos vroeër genoem is, word lojaliteit gemotiveer deur sterk liefde. Daniël het lojaal aan Jehovah gebly omdat hy sy hemelse Vader baie liefgehad het. Daniël het beslis daardie liefde ontwikkel deur te dink oor Jehovah se eienskappe en oor die manier hoe Hy dit geopenbaar het (Dan. 9:4). Daniël het ook nagedink oor al die goeie dinge wat Jehovah vir hom en Sy volk gedoen het, en hy was dankbaar daarvoor. – Dan. 2:20-23; 9:15, 16.

Soos Daniël kan jy lojaal aan Jehovah bly as jy baie lief is vir Hom (Sien paragraaf 13)

13. (a) Hoe word ons jongmense se lojaliteit getoets? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook prent.) (b) Soos die video wys, hoe kan jy reageer wanneer ander vra of Jehovah se Getuies dié ondersteun wat kies om ’n homoseksuele lewe te lei?

13 Soos Daniël is ons jongmense omring deur mense wat geen respek vir Jehovah en sy standaarde het nie. Sulke mense hou dalk nie van enige een wat sê dat hulle God liefhet nie. Party probeer selfs om ons jongmense te boelie sodat hulle hulle lojaliteit aan Jehovah sal breek. Byvoorbeeld, kyk wat gebeur het met ’n jong man met die naam Graeme, wat in Australië bly. Hy het ’n moeilike situasie deurgemaak toe hy op hoërskool was. Die onderwyser het die klas gevra hoe hulle sou reageer as ’n vriend vir hulle sê dat hy homoseksueel is. Die onderwyser het gesê dat almal wat ’n vriend sou ondersteun wat kies om so ’n lewe te lei, aan die een kant van die klaskamer moet staan en dat dié wat dit nie sou doen nie, aan die ander kant moet staan. Graeme sê: “Die hele klas het aan die kant gestaan wat daardie leefstyl ondersteun behalwe ek en ’n ander Getuie.” Wat volgende gebeur het, het regtig Graeme se lojaliteit aan Jehovah getoets. Hy sê: “Vir die res van die uur lange klas het die ander studente en selfs die onderwyser ons gespot en beledig. Ek het my bes gedoen om my geloof op ’n kalm en redelike manier te verdedig, maar hulle het nie na ’n woord geluister wat ek gesê het nie.” Watter uitwerking het hierdie toets van lojaliteit op Graeme gehad? Hy sê: “Dit was nie vir my lekker toe hulle daardie lelike dinge gesê het nie, maar ek het baie gelukkig gevoel omdat ek lojaal aan Jehovah gebly het en my oortuigings verdedig het.” c

14. Wat is een manier hoe ons lojaal aan Jehovah kan bly?

14 Ons kan lojaal aan Jehovah bly as ons, soos Daniël, ’n diep liefde vir Hom ontwikkel. Ons ontwikkel daardie liefde deur oor Jehovah se eienskappe te leer. Byvoorbeeld, ons kan die dinge bestudeer wat hy gemaak het (Rom. 1:20). As jy graag jou liefde en respek vir Jehovah wil vergroot, kan jy die kort artikels lees in die reeks “Is dit ontwerp?” of na die video’s kyk. Jy kan ook deur die inligting gaan in die brosjures Is lewe geskep? en Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe. Kyk wat ’n jong Deense suster met die naam Esther oor daardie publikasies sê: “Die redenasies is fantasties. Die brosjures sê nie vir jou wat om te glo nie; dit gee eenvoudig die feite en laat dit aan jou oor om ’n besluit te maak.” Ben, wat vroeër aangehaal is, sê: “Die inligting het my geloof baie versterk. Dit het aan my bewys dat God lewe geskep het.” Nadat jy hierdie inligting gestudeer het, sal jy moontlik saamstem met wat die Bybel sê: “U is waardig, Jehovah ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep.” – Op. 4:11. d

15. Wat is nog ’n manier hoe ons ’n sterk vriendskap met Jehovah kan ontwikkel?

15 Nog ’n manier om ’n diep liefde vir Jehovah te ontwikkel, is deur die lewe van sy Seun, Jesus, te bestudeer. ’n Jong suster met die naam Samira, wat in Duitsland bly, het dit gedoen. Sy sê: “Ek het Jehovah beter leer ken deur middel van Jesus.” Toe sy ’n kind was, het Samira gesukkel om te verstaan hoe Jehovah gevoelens kan hê. Maar sy kon verstaan hoe Jesus gevoel het. Sy sê verder: “Ek het van Jesus gehou omdat hy vriendelik was en kinders liefgehad het.” Hoe meer sy oor Jesus geleer het, hoe meer het sy Jehovah leer ken en hom liefgekry. Hoekom? Sy sê: “Ek het stadig maar seker begin verstaan dat Jesus sy Vader volmaak navolg. Hulle is baie dieselfde. Ek het besef dat dit een van die redes is hoekom Jehovah Jesus aarde toe gestuur het – om dit vir mense moontlik te maak om Jehovah beter te leer ken” (Joh. 14:9). As jy jou vriendskap met Jehovah wil versterk, kan jy tyd opsysit om soveel as moontlik oor Jesus te leer. As jy dit doen, sal jou liefde vir Jehovah en jou lojaliteit aan hom sterker word.

16. Hoe help dit ons as ons lojaal is? (Psalm 18:25; Miga 6:8)

16 Dié wat lojaal is, ontwikkel dikwels sterk en blywende vriendskappe (Rut 1:14-17). En mense wat lojaal aan Jehovah is, het goeie rede om kalm en tevrede te voel. Hoekom? Omdat Jehovah belowe dat hy lojaal sal wees aan dié wat lojaal aan hom is. (Lees Psalm 18:25; Miga 6:8.) Dink net – die almagtige Skepper is bereid om ’n sterk emosionele band met ons te vorm! En wanneer hy dit doen, kan geen toets, geen teenstander en nie eens die dood daardie band breek nie (Dan. 12:13; Luk. 20:37, 38; Rom. 8:38, 39). Dit is so belangrik dat ons Daniël navolg en lojaal aan Jehovah bly!

HOU AAN OM BY DANIËL TE LEER

17-18. Wat kan ons nog by Daniël leer?

17 In hierdie artikel het ons net twee van Daniël se eienskappe ondersoek. Maar daar is baie meer wat ons by hom kan leer. Byvoorbeeld, Jehovah het Daniël ’n reeks visioene en drome gegee, en Hy het hom die vermoë gegee om te sê wat profetiese boodskappe beteken. Baie van daardie profesieë is alreeds vervul. Ander gee details oor toekomstige gebeure wat elke persoon op die aarde sal affekteer.

18 In die volgende artikel sal ons na twee profesieë kyk wat deur Daniël opgeteken is. As ons dit verstaan, kan dit almal van ons, jonk en oud, help om nou wyse besluite te maak. Daardie profesieë kan ook ons moed en ons lojaliteit versterk sodat ons voorbereid is om die toetse wat vir ons voorlê, te hanteer.

LIED 119 Ons moet geloof hê

a Vandag ondervind jong knegte van Jehovah uitdagings wat hulle moed toets, asook hulle lojaliteit aan Jehovah. Hulle klasmaats spot hulle dalk omdat hulle aan die skepping glo. Of ander jongmense spot hulle dalk omdat hulle God dien en volgens sy standaarde lewe. Maar soos hierdie artikel sal wys, is dié wat die profeet Daniël navolg en wat Jehovah met moed en lojaliteit dien, werklik wys.

b Daniël het drie moontlike redes gehad hoekom hy geweier het om die Babiloniese kos te eet: (1) Die vleis het dalk van diere gekom wat deur die Wet verbied is (Deut. 14:7, 8). (2) Die vleis is dalk nie behoorlik gebloei nie (Lev. 17:10-12). (3) As hy die kos geëet het, kon dit gesien word as deel van die aanbidding van ’n valse god. – Vergelyk Levitikus 7:15 en 1 Korintiërs 10:18, 21, 22.

c Kyk op jw.org na die video Die resultaat van ware regverdigheid sal vrede wees”.

d Om jou liefde vir Jehovah te versterk, kan jy ook die boek Kom nader aan Jehovah studeer, wat jou sal help om meer oor Jehovah se eienskappe en persoonlikheid te leer.