Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer ’n huweliksmaat na pornografie kyk

Wanneer ’n huweliksmaat na pornografie kyk
  • “Ek het gevoel asof my man oor en oor egbreuk gepleeg het.”

  • “Ek het vernederd, onaantreklik en waardeloos gevoel.”

  • “Ek kon nie met enige iemand daaroor praat nie. Ek het in stilte gely.”

  • “Ek het gevoel asof Jehovah nie vir my omgee nie.”

Die kommentare hierbo wys hoe baie ’n vrou ly wanneer haar man na pornografie kyk. En as hy dit in die geheim gedoen het, dalk al vir maande of jare, voel sy dalk dat sy hom nie meer kan vertrou nie. Een vrou het gesê: “Ek het gewonder: ‘Wie is hierdie man langs my? Is daar ander dinge wat hy vir my wegsteek?’”

Hierdie artikel is voorberei vir ’n vrou wie se man na pornografie kyk. a Dit sal Bybelbeginsels bespreek wat haar kan vertroos, haar van Jehovah se ondersteuning kan verseker en haar kan help om emosioneel en geestelik te herstel. b

WAT KAN ’N ONSKULDIGE MAAT DOEN?

Al kan jy nie alles beheer wat jou man doen nie, is daar ’n paar dinge wat jy kan doen om jou pyn te verminder en om meer innerlike vrede te hê. Kyk na die volgende.

Moenie jouself blameer nie. ’n Vrou voel dalk dat dit haar skuld is dat haar man na pornografie kyk. Alice c het gevoel dat sy nie goed genoeg was vir haar man nie. Sy het gewonder: ‘Hoekom verkies my man om na ander vrouens te kyk eerder as na my?’ Party vrouens blameer hulleself vir hulle reaksie en dink dat hulle die situasie erger maak. Danielle sê: “Ek het myself gesien as ’n bitter vrou wat besig was om ons huwelik te vernietig as gevolg van my onchristelike woede.”

As jy dieselfde voel, onthou dat Jehovah jou nie verantwoordelik hou vir jou man se dade nie. Jakobus 1:14 sê: “Elkeen word getoets wanneer hy deur sy eie begeerte gelok en verlei word” (Rom. 14:12; Fil. 2:12). Jehovah blameer jou nie, hy waardeer eerder jou lojaliteit aan hom. – 2 Kron. 16:9.

Dit sal jou dalk ook help as jy verstaan dat ’n man se gebruik van pornografie nie beteken dat sy vrou nie goed genoeg is nie. Kenners op hierdie gebied verduidelik dat pornografie veroorsaak dat ’n persoon seksuele begeertes het wat geen vrou kan bevredig nie.

Moenie jou te veel bekommer nie. Catherine het gesê dat sy obsessief was oor haar man se gebruik van pornografie en dat sy aan niks anders kon dink nie. Frances het gesê: “Ek word angstig wanneer ek nie weet waar my man is nie. Ek is die hele dag ’n senuweewrak.” Ander vrouens het gesê dat hulle skaam voel wanneer hulle by broers en susters is wat dalk van hulle man se probleem weet. En ander het gesê dat hulle alleen voel omdat hulle dink dat niemand hulle situasie verstaan nie.

Hierdie gevoelens is normaal. Maar as jy die heeltyd daaroor dink, sal jy net angstiger word. Probeer eerder om te fokus op jou verhouding met Jehovah. As jy dit doen, sal dit jou help om die situasie te verduur. – Ps. 62:2; Ef. 6:10.

Dit sal jou dalk help as jy lees en nadink oor Bybelverslae van vrouens wat deur moeilike tye gegaan het en wat vertroos was toe hulle tot Jehovah gebid het. Hy het nie altyd hulle probleme weggeneem nie, maar hy het hulle vrede gegee. Byvoorbeeld, Hanna was “bitter hartseer” oor haar situasie. Maar nadat sy “lank tot Jehovah gebid het,” het sy vrede ondervind, selfs al het sy nie geweet wat in die toekoms sou gebeur nie. – 1 Sam. 1:10, 12, 18; 2 Kor. 1:3, 4.

’n Man sowel as sy vrou sal dalk die ouermanne moet vra om hulle te help

Vra die ouermanne vir hulp. Hulle kan “’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm wees” (Jes. 32:2). Hulle kan selfs ’n suster aanbeveel met wie jy privaat kan praat en wat jou kan vertroos. – Spr. 17:17.

KAN JY HOM HELP?

Kan jy jou man help om sy gewoonte te oorkom om na pornografie te kyk? Dalk. Die Bybel wys dat “twee . . . beter as een [is]” wanneer ’n probleem opgelos moet word of wanneer daar teen ’n kragtige vyand geveg word (Pred. 4:9-12). Studies wys dat daar dikwels goeie resultate is wanneer ’n paartjie saamwerk om ’n verslawing aan pornografie te oorkom en om vertroue in hulle huwelik te herstel.

Baie sal natuurlik daarvan afhang of jou maat regtig wil ophou om na pornografie te kyk en vasbeslote is om dit te doen. Het hy Jehovah gesmeek vir krag en die ouermanne gevra vir hulp? (2 Kor. 4:7; Jak. 5:14, 15). Het hy ’n plan wat hom gaan help om op te hou om na pornografie te kyk? Byvoorbeeld, beperk hy die gebruik van sy elektroniese toestelle, en vermy hy situasies wat hom in die versoeking kan laat kom? (Spr. 27:12). Is hy bereid om jou hulp te aanvaar en om heeltemal eerlik met jou te wees? As dit die geval is, sal jy hom dalk kan help.

Hoe? Kyk na ’n voorbeeld. Felicia het met Ethan getrou, wat aan pornografie verslaaf geword het toe hy jonk was. Felicia maak dit vir hom maklik om met haar te praat wanneer hy die begeerte het om na pornografie te kyk. Ethan verduidelik: “Ek praat eerlik en openlik met my vrou. Sy help my liefdevol om versoekings te vermy en vra my gereeld hoe dit gaan. En sy help my om my gebruik van die internet te beperk.” Felicia voel natuurlik seergemaak omdat Ethan aangetrokke is tot pornografie. Sy sê: “Maar wanneer ek kwaad is en seergemaak voel, help dit hom nie om hierdie verskriklike gewoonte te bly vermy nie. Nadat ons sy uitdagings bespreek het, is hy gereed om my te help om my eie pyn te oorkom.”

Sulke besprekings kan nie net ’n man help om op te hou om na pornografie te kyk nie, maar dit kan ook sy vrou help om hom weer te vertrou. As ’n man bereid is om sy vrou te vertel van sy begeertes, waarheen hy gaan en wat hy doen, dan is dit vir ’n vrou makliker om hom te vertrou omdat hy nie meer enige iets vir haar wegsteek nie.

Dink jy dat jy jou man op ’n soortgelyke manier kan help? As dit die geval is, hoekom lees en bespreek julle nie hierdie artikel saam nie? Sy doelwitte sal wees om op te hou om na pornografie te kyk en om jou ’n rede te gee om hom te vertrou. Hy moenie kwaad wees omdat jy graag oor hierdie probleem wil praat nie; hy moet eerder probeer verstaan hoe die probleem jou laat voel. Jy moet sy pogings ondersteun om op te hou met die gewoonte en hom die geleentheid gee om jou vertroue weer te wen. Julle sal albei moet leer wat veroorsaak dat mense na pornografie kyk en hoe die probleem oorkom kan word. d

As jy bang is dat julle sal begin stry, oorweeg dit om ’n ouerman met wie julle gemaklik is, te vra om vir ’n ruk lank daar te wees wanneer julle die situasie bespreek. Selfs nadat ’n huweliksmaat ’n verslawing aan pornografie oorkom het, wees bewus daarvan dat dit dalk ’n lang ruk sal neem voordat jy hom weer kan vertrou. Moenie opgee nie. Wees op die uitkyk vir klein verbeteringe in julle verhouding. Verwag dat julle huwelik met tyd en geduld uiteindelik weer sterk sal word. – Pred. 7:8; 1 Kor. 13:4.

WAT AS HY AANHOU?

Beteken dit dat jou man nie berouvol is nie of dat die situasie hopeloos is as hy weer na pornografie kyk nadat hy ’n ruk lank daarmee opgehou het? Nie noodwendig nie. Veral as hy aan pornografie verslaaf is, sal hy dalk vir die res van sy lewe sukkel om op te hou met hierdie gewoonte. Dit kan gebeur dat hy dalk weer na pornografie begin kyk nadat hy vir jare daarmee opgehou het. Om te keer dat dit gebeur, sal hy meer beperkings vir homself moet stel, en hy sal dalk nog streng daarby moet bly selfs nadat dit lyk asof die probleem verby is (Spr. 28:14; Matt. 5:29; 1 Kor. 10:12). Hy sal ’n nuwe “denkwyse” moet ontwikkel en moet leer om te “haat wat sleg is” – pornografie sowel as enige onrein gewoontes soos masturbasie (Ef. 4:23; Ps. 97:10; Rom. 12:9). Is hy bereid om hierdie dinge te doen? As dit die geval is, is sy situasie dalk nie so hopeloos nie. e

Fokus op jou verhouding met Jehovah

Maar wat as jou maat nie sy probleem wil oorkom nie? Dit is te verstane dat jy dalk baie keer teleurgesteld en kwaad sal voel en sal voel dat jou maat jou verraai het. As jy die saak in Jehovah se hande los, sal dit jou help om innerlike vrede te kry (1 Pet. 5:7). Hou aan om nader aan Jehovah te kom deur studie, gebed en bepeinsing. Wanneer jy dit doen, kan jy seker wees dat hy ook nader aan jou kom. Jesaja 57:15 sê dat hy by dié woon wat “gebroke en nederig” is en hulle nuwe krag gee. Probeer om die beste Christen te wees wat jy kan wees. Vra die ouermanne om jou te help. En hou aan hoop dat jou man dalk op die een of ander tyd in die toekoms ’n opregte verandering sal maak. – Rom. 2:4; 2 Pet. 3:9.

a In hierdie artikel gaan ons praat van die man as die een wat na pornografie kyk. Maar baie van die beginsels wat in hierdie artikel bespreek word, sal ’n man help wie se vrou na pornografie kyk.

b Om na pornografie te kyk, is nie ’n Skriftuurlike grondslag vir egskeiding nie. – Matt. 19:9.

c Name is verander.

d Inligting wat julle kan help, kan op jw.org en in ons publikasies gevind word. Byvoorbeeld, sien “Pornografie kan jou huwelik vernietig” op jw.org; “Jy kan versoeking weerstaan!” in Die Wagtoring van 1 April 2014, bl. 10-12; en “Pornografie—Onskadelik of gevaarlik?” in Die Wagtoring van 1 Augustus 2013, bl. 3-7.

e Omdat pornografie baie verslawend kan wees, het party paartjies besluit om professionele hulp te kry buiten die hulp van die ouermanne.