Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 33

LIED 130 Wees vergewensgesind

Hoe die gemeente Jehovah se beskouing van sondaars weerspieël

Hoe die gemeente Jehovah se beskouing van sondaars weerspieël

“As iemand wel ’n sonde pleeg, het ons ’n helper.”1 JOH. 2:1.

DOEL

Wat ons leer uit hoe ’n geval van ernstige sonde in die eerste eeu in ’n gemeente in Korinte hanteer is.

1. Wat wil Jehovah vir alle mense hê?

 JEHOVAH het mense met vrye wil geskep. Jy gebruik daardie geskenk gereeld wanneer jy besluite maak. Die belangrikste besluit wat enige persoon kan maak, is die besluit om homself aan Jehovah toe te wy en om deel van Sy familie van aanbidders te word. Jehovah wil hê dat almal dit moet doen. Hoekom? Omdat hy lief is vir mense en die beste vir hulle wil hê. Hy wil hê dat hulle ’n vriendskap met hom moet geniet en vir ewig moet lewe. – Deut. 30:​19, 20; Gal. 6:​7, 8.

2. Hoe voel Jehovah oor onberouvolle sondaars? (1 Johannes 2:1)

2 Maar Jehovah dwing niemand om hom te dien nie. Hy laat elke persoon toe om te besluit wat hy sal doen. Sê nou ’n gedoopte Christen breek God se wet en pleeg ’n ernstige sonde? As hy nie berou toon nie moet hy uit die gemeente verwyder word (1 Kor. 5:13). Maar selfs dan wil Jehovah baie graag hê dat die sondaar na hom toe moet terugkeer. Om die waarheid te sê, dit is ’n belangrike rede hoekom hy die losprys voorsien het – om vergifnis moontlik te maak vir berouvolle sondaars. (Lees 1 Johannes 2:1.) Jehovah is ’n baie liefdevolle God wat dié wat ernstig sondig, aanmoedig om berou te toon. – Sag. 1:3; Rom. 2:4; Jak. 4:8.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Jehovah wil hê dat ons sy beskouing van sonde en sondaars moet hê. Hierdie artikel sal bespreek hoe ons dit kan regkry. Terwyl jy die artikel lees, kyk (1) hoe ’n geval van ernstige sonde in die eerste-eeuse gemeente in Korinte hanteer is, (2) watter riglyne die apostel Paulus gegee het toe ’n sondaar berou getoon het en (3) wat hierdie Bybelverslag openbaar oor Jehovah se beskouing van Christene wat ’n ernstige sonde pleeg.

HOE ERNSTIGE SONDE IN DIE EERSTE EEU HANTEER IS

4. Watter situasie het in die eerste-eeuse gemeente in Korinte ontstaan? (1 Korintiërs 5:​1, 2)

4 Lees 1 Korintiërs 5:​1, 2. Gedurende Paulus se derde sendingreis het hy ontstellende nuus oor die nuwe gemeente in Korinte gehoor. ’n Broer in daardie gemeente het by sy stiefma geslaap. Sulke gedrag was skokkend en het “nie eers onder die nasies [voorgekom] nie”. Die gemeente het nie net sy gedrag verdra nie, maar was dalk ook ’n bietjie trots daarop. Dalk het party gedink dat dit wys hoe genadig God teenoor onvolmaakte mense is. Maar Jehovah keur dit nie goed wanneer sy knegte sondig nie. Die man se skaamtelose gedrag het beslis die goeie reputasie van die gemeente beskadig. Hy het dalk ook ander Christene wat met hom geassosieer het, beïnvloed. So, wat het Paulus vir die gemeente gesê om te doen?

5. Wat het Paulus vir die gemeente gesê om te doen, en wat het hy bedoel? (1 Korintiërs 5:13) (Sien ook prent.)

5 Lees 1 Korintiërs 5:13. Jehovah het Paulus geïnspireer om in ’n brief te verduidelik dat die onberouvolle sondaar uit die gemeente verwyder moet word. Hoe moes getroue Christene hom behandel? Paulus het vir hulle gesê “om op te hou assosieer” met hom. Wat het dit beteken? Paulus het verduidelik dat hierdie bevel ingesluit het dat ’n mens nie “eers saam met so iemand [moet] eet nie” (1 Kor. 5:11). As jy saam met iemand eet, kan dit maklik tot verdere assosiasie met hom lei. So, dit is duidelik dat Paulus bedoel het dat die gemeente nie onnodige tyd met daardie man moet spandeer nie. Dit sou die gemeente teen sy slegte invloed beskerm (1 Kor. 5:​5-7). En as hulle assosiasie met die man vermy het, sou dit hom dalk help om te besef hoe ver hy van Jehovah se standaarde afgedwaal het, en hy sou dalk skaam voel en beweeg word om berou te toon.

Jehovah het Paulus geïnspireer om in ’n brief te verduidelik dat die onberouvolle sondaar uit die gemeente verwyder moet word (Sien paragraaf 5)


6. Watter uitwerking het Paulus se brief op die gemeente en op die sondaar gehad?

6 Nadat Paulus sy brief aan die Christene in Korinte gestuur het, het hy begin wonder hoe die gemeente daarop sou reageer. Later het Titus vir hom goeie nuus gebring. Die gemeente het goed op Paulus se brief gereageer (2 Kor. 7:​6, 7). Hulle het sy instruksies gevolg. En nie lank nadat Paulus sy eerste brief gestuur het nie, het die man berou getoon oor die verkeerde dinge wat hy gedoen het! Hy het sy gedrag en gesindheid verander en het Jehovah se regverdige standaarde begin volg (2 Kor. 7:​8-11). Wat sal Paulus nou vir die gemeente sê om te doen?

HOE DIE GEMEENTE DIE BEROUVOLLE SONDAAR MOES BEHANDEL

7. Watter goeie resultate het dit gehad om die sondaar uit die gemeente te verwyder? (2 Korintiërs 2:​5-8)

7 Lees 2 Korintiërs 2:​5-8. Paulus het gesê: “Die teregwysing wat deur die meerderheid gegee is, is genoeg vir so iemand.” Met ander woorde, die dissipline het sy doel teenoor hom bereik. Wat was die doel? Om hom te help om berou te toon. – Heb. 12:11.

8. Wat het Paulus daarna vir die gemeente gesê om te doen?

8 Omdat die man berou getoon het, het Paulus vir die ouermanne gesê om die man toe te laat om weer terug te kom na die gemeente. Hy het ook vir hulle gesê om hom “vryelik [te] vergewe en [te] vertroos” en hulle “liefde vir hom te bevestig”. Paulus wou hê dat hulle die berouvolle man deur hulle woorde en dade daarvan moes verseker dat hulle hom regtig vergewe het en hom liefhet. As gevolg daarvan sou die broer voel dat hulle bly is dat hy na die gemeente teruggekeer het.

9. Hoekom was party dalk huiwerig om die berouvolle sondaar te vergewe?

9 Was party in daardie gemeente huiwerig om die berouvolle sondaar terug in die gemeente te verwelkom? Die verslag sê nie vir ons nie, maar dit is moontlik. Party was dalk nog steeds kwaad omdat hy probleme vir die hele gemeente veroorsaak het, en ander was dalk nog steeds ontsteld omdat hy hulle persoonlik seergemaak het. Party het dalk gevoel dat dit onregverdig is dat die man so liefdevol as ’n broer verwelkom moet word terwyl hulle so hard geveg het om sedelik rein te bly. (Vergelyk Lukas 15:​28-30.) Maar hoekom was dit belangrik vir die gemeente om opregte liefde aan hulle berouvolle broer te betoon?

10-11. Wat kon gebeur as die ouermanne geweier het om die berouvolle sondaar te vergewe?

10 Dink net wat kon gebeur as die ouermanne geweier het om toe te laat dat die man wat opreg berouvol is, weer deel word van die gemeente of as die gemeente geweier het om liefde aan hom te betoon nadat hy teruggekom het? Paulus het gesê dat die man “so hartseer [kon] word dat dit hom oorweldig”. Hy kon maklik voel dat sy situasie hopeloos is. Hy sou dalk selfs ophou probeer om sy verhouding met God te herstel.

11 Dit sou selfs erger wees as die ander broers en susters in die gemeente geweier het om die berouvolle sondaar te vergewe, want hulle sou hulle eie verhouding met Jehovah in gevaar stel. Hoekom? Omdat hulle nie Jehovah se vergewensgesindheid teenoor berouvolle sondaars sou weerspieël nie, maar Satan se wrede en genadelose gesindheid. Hulle sou in werklikheid deur die Duiwel gebruik kon word om die man geestelik te vernietig. – 2 Kor. 2:​10, 11; Ef. 4:27.

12. Hoe kon die gemeente Jehovah navolg?

12 So, hoe kon die gemeente in Korinte Jehovah navolg, nie Satan nie? Deur berouvolle sondaars te behandel soos Jehovah hulle behandel. Let op wat party Bybelskrywers van Jehovah gesê het. Hy is “goed en vergewe vryelik”, het Dawid gesê (Ps. 86:5). Miga het geskryf: “Wie is ’n God soos u, wat sondes vergewe en die oortredings . . . oorsien?” (Miga 7:18). En Jesaja het gesê: “Laat die goddelose sy weg verlaat, en die slegte mens sy gedagtes. Laat hom na Jehovah terugkeer, wat genade aan hom sal betoon, na ons God, want hy sal ryklik vergewe.” – Jes. 55:7.

13. Hoekom was dit gepas om die berouvolle sondaar te herstel? (Sien die venster “ Wanneer is die man in Korinte herstel?”)

13 Om Jehovah na te volg, moes die gemeente in Korinte die berouvolle man terugverwelkom en hom van hulle liefde verseker. Die gemeente het Paulus se raad gevolg om die berouvolle sondaar terug te verwelkom en so hulle “gehoorsaamheid in alles” gewys (2 Kor. 2:9). Ja, dit was net ’n paar maande nadat hy uit die gemeente verwyder is, maar die dissipline was suksesvol en het hom gehelp om berou te toon. So dit was nie nodig dat die ouermanne moes wag voordat hulle hom herstel nie.

WEERSPIEËL JEHOVAH SE GEREGTIGHEID EN GENADE

14-15. Wat het ons geleer uit hoe die geval in eertydse Korinte hanteer is? (2 Petrus 3:9) (Sien ook prent.)

14 Die verslag oor hoe die geval in eertydse Korinte hanteer is, is geskryf en bewaar “sodat ons daaruit kan leer” (Rom. 15:4). Uit daardie verslag leer ons dat Jehovah nie ernstige sonde onder sy volk duld nie. Hy keur dit nie goed dat onberouvolle sondaars “genadiglik” toegelaat moet word om met sy getroue aanbidders te bly assosieer nie. Jehovah is genadig, maar hy aanvaar nie alle soorte gedrag nie; en hy verlaag ook nie sy standaarde nie (Jud. 4). Om dit te doen, sou eintlik glad nie genadig wees nie omdat dit die hele gemeente in gevaar sou stel. – Spr. 13:20; 1 Kor. 15:33.

15 Maar ons leer dat Jehovah nie wil hê dat enige iemand vernietig moet word nie. Hy wil mense red wanneer dit ook al moontlik is. Hy betoon genade aan mense wat hulle denke en gedrag verander en hulle verhouding met hom wil herstel. (Eseg. 33:11; lees 2 Petrus 3:9.) So toe die man in Korinte berou getoon het en sy gedrag verander het, het Jehovah Paulus gebruik om aan die gemeente te verduidelik dat hulle die man moet vergewe en moet terugverwelkom.

Die gemeente weerspieël Jehovah se liefde en genade deur dié wat herstel is, liefdevol terug te verwelkom (Sien paragraaf 14-15)


16. Hoe voel jy oor hoe die geval in Korinte hanteer is?

16 Ons hersiening van hoe die geval in Korinte hanteer is, het ons gehelp om Jehovah se liefde, regverdigheid en geregtigheid in aksie te sien (Ps. 33:5). Beweeg dit jou nie om ons God selfs meer te prys nie? Ons is sondaars – elkeen van ons – en ons het sy vergifnis nodig. Elkeen van ons het rede om dankbaar te wees teenoor Jehovah vir die losprys, wat vergifnis moontlik maak. Dit is so vertroostend om te weet dat Jehovah regtig lief is vir sy volk en die beste vir hulle wil hê.

17. Wat sal in die volgende artikels bespreek word?

17 Maar wat van hoe gevalle van sonde vandag hanteer word? Hoe kan gemeentelike ouermanne Jehovah se begeerte weerspieël om ’n sondaar te help om berou te toon? Hoe moet die gemeente reageer wanneer die ouermanne besluit om iemand te verwyder of te herstel? Hierdie vrae sal in die volgende artikels bespreek word.

LIED 109 Toon intense liefde uit die hart