Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 34

LIED 107 God se voorbeeld van liefde

Hoe om liefde en genade aan sondaars te betoon

Hoe om liefde en genade aan sondaars te betoon

“God [wil] jou in sy goedhartigheid . . . help om berou te toon.”ROM. 2:4.

DOEL

Hoe die ouermanne dié in die gemeente probeer help wat ’n ernstige sonde gepleeg het.

1. Wat is waar van party wat ’n ernstige sonde gepleeg het?

 IN DIE vorige artikel het ons gesien hoe die apostel Paulus ’n geval van ernstige sonde in Korinte hanteer het. Die sondaar was onberouvol en moes uit die gemeente verwyder word. Maar soos ons temateks wys, kan party wat ’n ernstige sonde gepleeg het, bereik word. Hulle kan gehelp word om berou te toon (Rom. 2:4). Hoe kan die ouermanne hulle help om berou te toon?

2-3. Wat moet ons doen as ons uitvind dat ’n medegelowige ’n ernstige sonde gepleeg het, en hoekom?

2 Voordat die ouermanne kan help, moet hulle bewus wees van die saak. So, wat moet ons doen as ons uitvind dat ’n medegelowige ’n ernstige sonde gepleeg het – iets wat kan veroorsaak dat hy uit die gemeente verwyder word? Ons moet die sondaar aanmoedig om na die ouermanne te gaan vir hulp. – Jes. 1:18; Hand. 20:28; 1 Pet. 5:2.

3 Maar wat as die sondaar weier om met die ouermanne te gaan praat? Ons sal dan self na die ouermanne gaan om seker te maak dat die persoon die nodige hulp sal kry. Dit is die liefdevolle ding om te doen omdat ons nie ons broer of suster wil verloor nie. As die sondaar aanhou doen wat sleg is, sal hy sy verhouding met Jehovah verder beskadig. Hy sal dalk ook die reputasie van die gemeente beskadig. So ons tree moedig op uit liefde vir Jehovah en vir die sondaar. – Ps. 27:14.

HOE DIE OUERMANNE DIÉ HELP WAT ’N ERNSTIGE SONDE GEPLEEG HET

4. Wat is die ouermanne se doelwit wanneer hulle met iemand ontmoet wat ’n ernstige sonde gepleeg het?

4 Wanneer iemand in die gemeente ’n ernstige sonde pleeg, kies die liggaam van ouermanne drie bekwame broers onder hulle wat as ’n komitee sal dien. a Hierdie mans moet beskeie en nederig wees. Hulle sal probeer om die persoon te help om berou te toon, maar hulle weet dat hulle iemand nie kan dwing om te verander nie (Deut. 30:19). Die ouermanne verstaan dat alle sondaars nie op ’n positiewe manier sal reageer, soos koning Dawid, nie (2 Sam. 12:13). Party sondaars kies dalk om Jehovah se raad te ignoreer (Gen. 4:​6-8). Maar die ouermanne se doelwit is om die sondaar te help om berou te toon as dit enigsins moontlik is. Watter beginsels lei hulle wanneer hulle met die sondaar ontmoet?

5. Watter raad sal die ouermanne in gedagte hou wanneer hulle met die sondaar ontmoet? (2 Timoteus 2:​24-26) (Sien ook prent.)

5 Die ouermanne beskou die sondaar as ’n kosbare, verlore skaap (Luk. 15:​4, 6). So, wanneer hulle met die persoon ontmoet, praat hulle nie op ’n lelike manier met hom nie, en hulle behandel hom nie liefdeloos nie; hulle beskou ook nie die vergadering as ’n blote roetine waarin hulle ’n vaste prosedure volg nie. Hulle sal eerder die eienskappe openbaar wat genoem word in 2 Timoteus 2:​24-26. (Lees.) Die ouermanne bly sagmoedig en liefdevol terwyl hulle probeer om die sondaar se hart te bereik.

Net soos eertydse herders probeer die ouermanne hulle bes om ’n verlore skaap te vind (Sien paragraaf 5)


6. Hoe sal die ouermanne hulle eie hart voorberei voordat hulle met ’n sondaar ontmoet? (Romeine 2:4)

6 Die ouermanne berei hulle eie hart voor. Hulle probeer om Jehovah na te volg wanneer dit kom by hoe hulle ’n sondaar hanteer en hou Paulus se woorde in gedagte: “God [wil] jou in sy goedhartigheid . . . help om berou te toon.” (Lees Romeine 2:4.) Die ouermanne moet onthou dat hulle hoofsaaklik herders onder die leiding van Christus is (Jes. 11:​3, 4; Matt. 18:​18-20). Voordat die komitee met die sondaar ontmoet, sal hulle bid oor hulle doelwit: om die sondaar te help om berou te toon. Hulle sal navorsing doen in die Bybel en in ons publikasies en sal bid vir goeie oordeel. Hulle sal kyk na wat hulle moet weet omtrent die persoon se agtergrond wat dalk bygedra het tot sy denke, gesindheid en gedrag. – Spr. 20:5.

7-8. Hoe kan ouermanne Jehovah se geduld navolg wanneer hulle met ’n sondaar ontmoet?

7 Die ouermanne volg Jehovah se geduld na. Hulle hou in gedagte hoe Jehovah sondaars in die verlede probeer help het. Byvoorbeeld, Jehovah het geduldig met Kain geredeneer en hom gewaarsku oor die gevolge van sonde en gesê dat hy geseën sou word as hy gehoorsaam is (Gen. 4:​6, 7). Jehovah het Dawid raad gegee deur middel van die profeet Natan, wat ’n illustrasie gebruik het wat die koning se hart geraak het (2 Sam. 12:​1-7). En Jehovah het sy profete “keer op keer” na die hardkoppige nasie Israel “bly stuur” (Jer. 7:​24, 25). Hy het nie gewag dat sy volk berou toon voordat hy hulle gehelp het nie. Hy het eerder die inisiatief geneem deur hulle aan te moedig om berou te toon.

8 Ouermanne volg Jehovah se voorbeeld na wanneer hulle dié wat ’n ernstige sonde gepleeg het, probeer help. Hulle behandel hulle “met alle geduld” net soos 2 Timoteus 4:2 sê. Daarom moet ’n ouerman altyd kalm en geduldig wees om die sondaar te help om te wil doen wat reg is. As die ouerman kwaad of gefrustreerd word, sal die persoon dalk nie na die raad luister nie of dalk weier om berou te toon.

9-10. Hoe kan ouermanne die sondaar help om te redeneer oor wat hy gedoen het?

9 Die ouermanne probeer vasstel watter omstandighede tot die sonde gelei het. Byvoorbeeld, het die Christen stadig swak geword omdat hy persoonlike studie of die bediening afgeskeep het? Het sy gebede tot Jehovah ongereeld of oppervlakkig geword? Het hy toegelaat dat verkeerde begeertes hom lei? Het hy onwyse keuses gemaak wanneer dit by sy assosiasie of vermaak kom? Hoe het sulke keuses dalk sy hart geraak? Besef hy hoe sy onlangse besluite en dade sy Vader, Jehovah, raak?

10 Die ouermanne kan die persoon vrae vra wat hom help om te dink oor die dinge wat sy verhouding met Jehovah verswak het en veroorsaak het dat hy sondig. Hulle doen dit op ’n liefdevolle manier en vra hom nie uit oor persoonlike inligting wat hulle nie hoef te weet nie (Spr. 20:5). En hulle gebruik dalk illustrasies om die persoon te help om te redeneer en om te sien hoe verkeerd sy dade is, soos Natan met Dawid gedoen het. Die persoon sal dalk gedurende die eerste vergadering opreg begin jammer voel oor wat hy gedoen het. Hy toon dalk selfs berou.

11. Hoe het Jesus sondaars hanteer?

11 Die ouermanne probeer om Jesus na te volg. Nadat Jesus opgewek is, het hy vir Saulus van Tarsus hierdie goeie vraag gevra: “Saul, Saul, hoekom vervolg jy my?” Deur dit te doen, het Jesus hom gehelp om te redeneer oor die verkeerde dinge wat hy gedoen het (Hand. 9:​3-6). En in die geval van “daardie vrou Isebel” het Jesus gesê: “Ek het haar tyd gegee om berou te toon.” – Op. 2:​20, 21.

12-13. Hoe gee die ouermanne dalk ’n sondaar tyd om berou te toon? (Sien ook prent.)

12 Die ouermanne volg Jesus na en kom nie oorhaastig tot die gevolgtrekking dat ’n sondaar nie berou sal toon nie. Party toon dalk berou gedurende die komitee se eerste vergadering met hulle, maar ander het moontlik meer tyd nodig. Daarom reël die ouermanne dalk om meer as een keer met die sondaar te ontmoet. Die Christen wat gesondig het, sal miskien ná daardie eerste vergadering ernstig begin dink oor wat hulle vir hom gesê het. Hy bid dalk nederig tot Jehovah (Ps. 32:5; 38:18). Daarom het die sondaar dalk ’n ander gesindheid by die volgende vergadering as wat hy by die eerste vergadering gehad het.

13 Die ouermanne betoon empatie en liefde om die sondaar te help om berou te toon. Hulle hoop en bid dat Jehovah hulle pogings sal seën en dat die persoon dalk tot sy sinne sal kom en berou sal toon. – 2 Tim. 2:​25, 26.

Die ouermanne ontmoet dalk meer as een keer met ’n sondaar om hom tyd te gee om berou te toon (Sien paragraaf 12)


14. Wie moet die eer daarvoor kry wanneer ’n sondaar berou toon, en hoekom?

14 As die sondaar berou toon, is ons baie bly! (Luk. 15:​7, 10). Wie moet die eer daarvoor kry? Die ouermanne? Onthou wat Paulus oor sondaars geskryf het: “Miskien sal God hulle toelaat om berou te toon” (2 Tim. 2:25). So Jehovah, en nie enige mens nie, is die een wat ’n Christen help om sy denke en gesindheid te verander. Paulus verduidelik watter goeie dinge gebeur nadat ’n persoon berou getoon het. Daardie persoon kan ’n akkurater kennis van die waarheid hê, hy kom weer tot sy sinne en kan uit Satan se strikke ontsnap. – 2 Tim. 2:26.

15. Hoe hou die ouermanne dalk aan om ’n berouvolle sondaar te help?

15 Wanneer ’n sondaar berou toon, sal die komitee herdersbesoeke reël sodat die persoon kan aanhou om die hulp te ontvang wat hy nodig het om teen Satan se strikke te veg en om reguit paaie vir sy voete te maak (Heb. 12:​12, 13). Die ouermanne gee natuurlik vir niemand besonderhede oor wat die sondaar gedoen het nie. Maar wat moet die gemeente dalk weet?

‘WYS HULLE VOOR ALMAL TEREG’

16. Wie is die “almal” waarna Paulus verwys het in 1 Timoteus 5:20?

16 Lees 1 Timoteus 5:20. Paulus het daardie woorde aan sy mede-ouerman Timoteus geskryf in verband met hoe om “dié wat sonde beoefen,” te hanteer. Wat het hy bedoel? Toe Paulus hier van “almal” gepraat het, het hy verwys na almal wat van die sonde weet. Soms kon hulle ooggetuies wees, of hulle kon dié wees wat die sondaar in sy vertroue geneem het. Die ouermanne sal net vir hulle sê dat die saak hanteer is.

17. Watter aankondiging sal gemaak word as baie in die gemeente alreeds weet dat iemand ’n ernstige sonde gepleeg het of heel moontlik daarvan sal uitvind, en hoekom?

17 Partykeer weet baie in die gemeente alreeds dat iemand ’n ernstige sonde gepleeg het, of hulle sal heel moontlik daarvan uitvind. In so ’n geval sal “almal” die hele gemeente insluit. Daarom sal ’n ouerman ’n aankondiging aan die gemeente maak dat die broer of die suster tereggewys is. Hoekom? Paulus antwoord: “As ’n waarskuwing vir die res” om nie ’n ernstige sonde te pleeg nie.

18. Hoe sal die ouermanne situasies hanteer waarby gedoopte minderjariges betrokke is? (Sien ook prent.)

18 Wat van gedoopte minderjariges – dié jonger as 18 – wat ’n ernstige sonde gepleeg het? Die liggaam van ouermanne sal reël dat twee ouermanne met die minderjarige en sy Christenouers ontmoet. b Die ouermanne sal uitvind watter stappe die ouers alreeds geneem het om hulle kind te help om berou te toon. As die minderjarige na sy ouers se raad luister en sy denke en gedrag verander, besluit die twee ouermanne dalk dat dit nie nodig is om die saak verder te vat nie. Die ouermanne weet dat Jehovah die ouers die verantwoordelikheid gegee het om hulle kinders op ’n liefdevolle manier reg te help (Deut. 6:​6, 7; Spr. 6:20; 22:6; Ef. 6:​2-4). Daarna sal die ouermanne elke nou en dan met die ouers opvolg om seker te maak dat die minderjarige die hulp kry wat hy nodig het. Maar wat as ’n gedoopte minderjarige onberouvol is en aanhou doen wat sleg is? In daardie geval sal ’n komitee van ouermanne met hom en sy Christenouers ontmoet.

Wanneer ’n minderjarige ’n ernstige sonde pleeg, sal twee ouermanne met die minderjarige en sy Christenouers ontmoet (Sien paragraaf 18)


“JEHOVAH [IS] BAIE LIEFDEVOL EN GENADIG”

19. Hoe probeer ouermanne Jehovah navolg wanneer hulle met ’n sondaar ontmoet?

19 Ouermanne wat op komitees dien, het ’n verantwoordelikheid voor Jehovah om die gemeente skoon te hou (1 Kor. 5:7). Hulle wil ook hê dat sondaars berou moet toon as dit moontlik is. Daarom bly ouermanne positief en hoopvol. Hoekom? Omdat hulle Jehovah wil navolg, wat “baie liefdevol en genadig” is (Jak. 5:11). Let op hoe die bejaarde apostel Johannes so ’n gesindheid geopenbaar het. Hy het geskryf: “My kindertjies, ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie ’n sonde pleeg nie. Maar as iemand wel ’n sonde pleeg, het ons ’n helper by die Vader, naamlik Jesus Christus, wat regverdig is.” – 1 Joh. 2:1.

20. Wat sal ons in die laaste artikel van hierdie reeks bespreek?

20 Ongelukkig is daar tye wanneer ’n Christen weier om berou te toon. As dit gebeur, moet hy uit die gemeente verwyder word. Hoe hanteer die ouermanne sulke ernstige gevalle? Ons sal dit in die laaste artikel van hierdie reeks bespreek.

LIED 103 Herders — Gawes in mense

a In die verlede is hierdie groepe regterlike komitees genoem. Maar aangesien die werk om te oordeel net een aspek van hulle werk is, sal ons nie meer daardie uitdrukking gebruik nie. Ons sal eerder net na hierdie groep verwys as ’n komitee van ouermanne.

b Hierdie inligting vir ouers is ook van toepassing op wettige voogde of persone wat n kind grootmaak wat nie hulle eie is nie.