Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 35

LIED 123 Lojaal onderdanig aan teokratiese orde

Hulp vir dié wat uit die gemeente verwyder word

Hulp vir dié wat uit die gemeente verwyder word

“Daar [sal] in die hemel meer vreugde wees oor een sondaar wat berou getoon het as oor 99 regverdiges wat geen berou nodig het nie.”LUK. 15:7.

DOEL

Hoekom party individue uit die gemeente verwyder moet word en hoe ouermanne sulke persone kan help om berou te toon en weer Jehovah se goedkeuring te geniet.

1-2. (a) Hoe beskou Jehovah opsetlike sonde? (b) Watter hoop het Jehovah vir sondaars?

 JEHOVAH aanvaar nie alle soorte gedrag nie; hy keur nie sonde goed nie (Ps. 5:​4-6). Hy verwag dat ons sy regverdige standaarde respekteer, wat hy vir ons in sy Woord uiteengesit het. Jehovah verwag natuurlik nie volmaaktheid van onvolmaakte mense nie (Ps. 130:​3, 4). Terselfdertyd duld hy nie ‘goddelose mense wat sy onverdiende goedheid in ’n verskoning vir skaamtelose gedrag verander’ nie (Jud. 4). Ja, die Bybel praat van die “vernietiging van die goddelose mense” by God se oorlog van Armageddon. – 2 Pet. 3:7; Op. 16:16.

2 Maar Jehovah wil nie hê dat enige iemand vernietig moet word nie. Soos ons vroeër in hierdie reeks artikels bespreek het, sê die Bybel duidelik dat hy “wil hê dat almal berou moet toon” (2 Pet. 3:9). Christenouermanne volg Jehovah na terwyl hulle sondaars geduldig probeer help om hulle gedrag te verander en weer Jehovah se goedkeuring te geniet. Maar nie alle sondaars reageer goed nie (Jes. 6:9). Party hou aan om verkeerde dinge te doen, al probeer die ouermanne hulle herhaaldelik help om berou te toon. Wat moet in so ’n situasie gedoen word?

“VERWYDER DIE GODDELOSE MENS”

3. (a) Wat sê die Bybel moet met onberouvolle sondaars gedoen word? (b) Hoekom kan ons sê dat die sondaar, in ’n sekere sin, gekies het om uit die gemeente verwyder te word?

3 Wanneer ’n sondaar onberouvol is, het die ouermanne geen ander keuse as om die riglyn in 1 Korintiërs 5:13 te volg nie: “Verwyder die goddelose mens onder julle uit.” In ’n sekere sin het die sondaar daardie gevolg gekies; hy oes wat hy a gesaai het (Gal. 6:7). Hoekom kan ons dit sê? Omdat hy geweier het om te reageer op die herhaalde pogings van die ouermanne om hom te help om berou te toon (2 Kon. 17:​12-15). Sy dade wys dat hy gekies het om nie aan Jehovah se standaarde gehoorsaam te wees nie. – Deut. 30:​19, 20.

4. Hoekom word ’n aankondiging gemaak wanneer ’n onberouvolle sondaar uit die gemeente verwyder word?

4 Wanneer ’n onberouvolle sondaar uit die gemeente verwyder word, word ’n aankondiging gemaak om die gemeente in kennis te stel dat hy nie meer een van Jehovah se Getuies is nie. b Die doel van daardie aankondiging is nie om die sondaar te verneder nie. Dit word eerder gemaak sodat die gemeente die Skriftuurlike raad kan volg om ‘op te hou assosieer’ met daardie persoon en ‘nie eers saam met hom te eet nie’ (1 Kor. 5:​9-11). Daar is goeie redes hoekom Jehovah daardie bevel gegee het. Die apostel Paulus het geskryf dat “’n bietjie suurdeeg al die deeg laat gis” (1 Kor. 5:6). Onberouvolle sondaars kan die vasbeslotenheid verswak van dié wat probeer om volgens Jehovah se regverdige standaarde te lewe. – Spr. 13:20; 1 Kor. 15:33.

5. Hoe moet ons ’n persoon beskou wat uit die gemeente verwyder is, en hoekom?

5 Hoe moet ons dan ’n medegelowige beskou wat uit die gemeente verwyder is? Al assosieer ons nie met hom nie, moet ons hom beskou as ’n verlore skaap, nie ’n verlore saak nie. ’n Skaap wat van die kudde afgedwaal het, kan wel terugkeer. Onthou, daardie verlore skaap het homself aan Jehovah toegewy. Ongelukkig kom hy nie op die oomblik sy toewydingsbelofte na nie, en dit plaas hom in ’n gevaarlike posisie (Eseg. 18:31). Maar solank Jehovah se genade nog beskikbaar is, is daar hoop dat die persoon sal terugkeer. Hoe weerspieël die ouermanne daardie hoop selfs teenoor ’n sondaar wat uit die gemeente verwyder is?

HOE DIE OUERMANNE DIÉ HELP WAT VERWYDER WORD

6. Watter stappe sal die ouermanne neem om iemand te help wat uit die gemeente verwyder is?

6 Word die persoon wat uit die gemeente verwyder is, afgeskryf – heeltemal op sy eie gelaat om self sy pad terug na Jehovah te vind? Glad nie! Wanneer die komitee van ouermanne vir ’n onberouvolle sondaar sê dat hy uit die gemeente verwyder sal word, sal hulle aan hom verduidelik watter stappe hy kan neem om terug te keer na die gemeente. Maar die ouermanne sal selfs meer doen. In die meeste gevalle sal hulle vir die sondaar sê dat hulle graag oor ’n paar maande weer met hom sal wil ontmoet om te sien of sy gesindheid verander het. As die sondaar bereid is om weer met hulle te ontmoet, sal die ouermanne hom by daardie volgende vergadering aanmoedig om berou te toon en terug te keer. Selfs al het sy gesindheid teen daardie tyd nog nie verander nie, sal die ouermanne hom in die toekoms van tyd tot tyd kontak.

7. Hoe kan die ouermanne Jehovah se meegevoel navolg wanneer ’n persoon uit die gemeente verwyder word? (Jeremia 3:12)

7 Die ouermanne volg Jehovah na, wat meegevoel het met dié wat uit die gemeente verwyder is. Byvoorbeeld, Jehovah het nie gewag dat sy hardkoppige volk in eertydse Israel die eerste stap neem nie. Hy het eerder die inisiatief geneem om na hulle toe uit te reik, selfs voordat hulle enige tekens van berou getoon het. Soos die tweede artikel in hierdie reeks verduidelik het, het Jehovah sy meegevoel gewys deur vir die profeet Hosea te sê om sy vrou te vergewe en haar terug te vat, al was sy nog steeds besig om ’n ernstige sonde te pleeg (Hos. 3:1; Mal. 3:7). Christenouermanne volg Jehovah na en wil opreg dat die sondaar moet terugkeer, en hulle maak dit nie vir hom moeilik om dit te doen nie. – Lees Jeremia 3:12.

8. Hoe help Jesus se illustrasie van die verlore seun ons om Jehovah se meegevoel en genade beter te verstaan? (Lukas 15:7)

8 Dink aan Jesus se illustrasie van die verlore seun, soos bespreek word in die tweede artikel in hierdie reeks. Die oomblik toe die pa sien dat sy seun terugkeer huis toe, het hy “gehardloop en hom omhels en hom gesoen” (Luk. 15:20). Let op dat die pa nie gewag het dat sy seun hom smeek om hom te vergewe nie. Hy het eerder die inisiatief geneem, soos enige liefdevolle pa sou. Die ouermanne probeer om ’n soortgelyke gesindheid te hê teenoor dié wat afgedwaal het. Hulle wil hê dat hierdie verlore skape moet “terugkom huis toe” (Luk. 15:​22-24, 32). Daar is vreugde in die hemel wanneer ’n sondaar terugkeer, en daar is ook vreugde op die aarde! – Lees Lukas 15:7.

9. Wat wil Jehovah hê moet sondaars doen?

9 Uit wat ons sover bespreek het, is dit duidelik dat Jehovah nie onberouvolle sonde goedkeur nie. Maar hy draai nie sy rug op sondaars nie. Hy wil hê dat hulle moet terugkeer. Jehovah se gevoelens teenoor berouvolle sondaars word gesien in Hosea 14:4: “Ek sal hulle ontrouheid genees. Ek sal hulle uit vrye wil liefhê, want ek is nie meer kwaad . . . nie.” Omdat die ouermanne weet hoe Jehovah voel, soek hulle na enige tekens van berou. En hierdie woorde moet enige iemand wat Jehovah verlaat het, daarvan verseker dat Hy vir hulle lief is en wil hê dat hulle moet terugkeer.

10-11. Hoe sal die ouermanne dié wat in die verlede uit die gemeente verwyder is, probeer help?

10 Wat van individue wat in die verlede uit die gemeente verwyder is, dalk baie jare gelede? Sulke individue beoefen dalk nie meer die sonde waarvoor hulle verwyder is nie. In party situasies onthou hulle dalk nie eens hoekom hulle verwyder is nie. Wat ook al die geval is, die ouermanne sal hierdie individue probeer opspoor en besoek. Gedurende sulke besoeke sal die ouermanne selfs aanbied om saam met hulle te bid en hulle aanmoedig om na die gemeente terug te keer. Natuurlik sal ’n persoon wat jare lank van die gemeente af weg was, beslis geestelik baie swak wees. Daarom sal die ouermanne, as hy sê dat hy na die gemeente wil terugkeer, dalk reël dat iemand ’n Bybelstudie met hom hou, al is hy nog nie herstel nie. In alle gevalle is dit die ouermanne wat reël vir die Bybelstudie.

11 Die ouermanne volg Jehovah se meegevoel na en wil soveel as moontlik bereik en help om te weet dat die deur oop is vir hulle om terug te kom. Sodra ’n sondaar wys dat hy sy denke en gedrag verander het, kan hy herstel word. – 2 Kor. 2:​6-8.

12. (a) In watter situasies moet ouermanne veral versigtig wees? (b) Hoekom moet ons nie voel dat dit onmoontlik is vir sekere soort sondaars om Jehovah se genade te ontvang nie? (Sien ook voetnoot.)

12 In sekere omstandighede moet die ouermanne veral versigtig wees voordat hulle iemand herstel. Byvoorbeeld, as iemand skuldig was aan kindermishandeling of afvalligheid of as hy slinkse planne gemaak het om ’n huwelik te beëindig, moet die ouermanne seker maak dat hy opreg berouvol is (Mal. 2:14; 2 Tim. 3:6). Hulle moet die kudde beskerm. Terselfdertyd moet ons besef dat Jehovah enige sondaar weer sal aanvaar as hy opregte berou toon en ophou met sy verkeerde gedrag. So al wil die ouermanne seker maak dat iemand wat bedrieglik teenoor ander opgetree het, opreg berouvol is, moet hulle nie dink dat so ’n persoon nooit Jehovah se genade kan ontvang nie. c1 Pet. 2:10.

WAT DIE GEMEENTE KAN DOEN

13. Wat is die verskil tussen hoe ons iemand behandel wat deur die ouermanne tereggewys is en hoe ons iemand behandel wat uit die gemeente verwyder is?

13 Soos ons in die vorige artikel gesien het, word daar soms ’n aankondiging gemaak wanneer ’n persoon tereggewys is. In so ’n geval kan ons aanhou om met hom te assosieer omdat ons weet dat hy berou getoon het en opgehou het om te doen wat sleg is (1 Tim. 5:20). Hy is steeds deel van die gemeente en het die aanmoediging nodig wat ’n mens kry wanneer jy met medegelowiges assosieer (Heb. 10:​24, 25). Maar die situasie is baie anders met ’n persoon wat uit die gemeente verwyder is. Ons ‘hou op om te assosieer’ met daardie persoon en ‘eet nie eers saam met so iemand nie’. – 1 Kor. 5:11.

14. Hoe kan Christene hulle Bybelopgeleide gewete gebruik wanneer hulle te doen het met dié wat uit die gemeente verwyder is? (Sien ook prent.)

14 Beteken wat ons bespreek het dat ons ’n persoon wat uit die gemeente verwyder is, heeltemal sal ignoreer? Nie noodwendig nie. Ons sal beslis nie assosieer met hom nie. Maar Christene kan hulle Bybelopgeleide gewete gebruik om te besluit of hulle ’n persoon wat uit die gemeente verwyder is – dalk ’n familielid of iemand wat voorheen ’n goeie vriend was – na ’n gemeentelike vergadering wil nooi. Sê nou hy kom? In die verlede sou ons nie so ’n persoon groet nie. Hier moet elke Christen weer sy Bybelopgeleide gewete in hierdie saak gebruik. Party voel miskien gemaklik daarmee om die persoon te groet of by die vergadering te verwelkom. Maar ons sal nie ’n lang gesprek met die individu hê of met hom assosieer nie.

Christene kan hulle Bybelopgeleide gewete gebruik om te besluit of hulle ’n persoon wat uit die gemeente verwyder is, na ’n vergadering sal nooi of hom by die vergadering sal groet (Sien paragraaf 14)


15. Watter soort sondaars word beskryf in 2 Johannes 9-11? (Sien ook die venster “ Het Johannes en Paulus dieselfde soort sonde bespreek?”)

15 Party wonder dalk: ‘Sê die Bybel nie dat ’n Christen wat so ’n persoon groet, ’n deel aan sy goddelose werke het nie?’ (Lees 2 Johannes 9-11.) Die konteks van hierdie vers wys dat hierdie riglyn na afvalliges en ander verwys wat verkeerde gedrag aktief bevorder (Op. 2:20). Daarom sal die ouermanne nie reël om ’n persoon te besoek as hy afvallige leringe of ander verkeerde gedrag aktief bevorder nie. Daar is natuurlik hoop dat hy tot sy sinne sal kom. Maar totdat dit gebeur, sal ons nie so ’n persoon groet of hom nooi om ’n gemeentelike vergadering by te woon nie.

VOLG JEHOVAH SE MEEGEVOEL EN GENADE NA

16-17. (a) Wat wil Jehovah hê moet sondaars doen? (Esegiël 18:32) (b) Hoe kan ouermanne wys dat hulle medewerkers met Jehovah is wanneer hulle sondaars probeer help?

16 Wat het ons in hierdie vyfdelige reeks geleer? Jehovah wil nie hê dat enige iemand vernietig moet word nie! (Lees Esegiël 18:32.) Hy wil hê dat sondaars met hom versoen moet raak (2 Kor. 5:20). Daarom het Jehovah sy hardkoppige volk – sowel as hardkoppige individue – regdeur die geskiedenis herhaaldelik aangemoedig om berou te toon en na hom terug te keer. Gemeentelike ouermanne het die voorreg om medewerkers met Jehovah te wees wanneer hulle sondaars probeer help om berou te toon. – Rom. 2:4; 1 Kor. 3:9.

17 Dink net hoeveel vreugde daar in die hemel is wanneer sondaars berou toon! Ons hemelse Vader, Jehovah, ondervind daardie vreugde persoonlik elke keer dat een van sy verlore skape na die gemeente terugkeer. Ons liefde vir Jehovah word al hoe sterker wanneer ons nadink oor sy meegevoel, genade en onverdiende goedheid. – Luk. 1:78.

LIED 111 Ons redes tot vreugde

a In hierdie artikel verwys ons na die sondaar as ’n man. Maar die inligting wat bespreek word, is ook op vrouens van toepassing.

b Ons sal nie meer sê dat sulke persone uitgesit is nie. In ooreenstemming met Paulus se woorde in 1 Korintiërs 5:13 sal ons nou sê dat hulle uit die gemeente verwyder is.

c Volgens die Bybel is ’n onvergeeflike sonde nie ’n spesifieke soort sonde nie, maar ’n sonde wat gepleeg is met ’n verharde gesindheid wat permanent teen God gekant is. Of ’n persoon nou so ’n sonde gepleeg het of nie, is nie vir ons om te oordeel nie. – Mark. 3:29; Heb. 10:​26, 27.