Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 31

LIED 12 Groot God, Jehovah

Wat Jehovah gedoen het om sondige mense te red

Wat Jehovah gedoen het om sondige mense te red

“God het die wêreld so liefgehad dat hy sy eniggebore Seun gegee het.”JOH. 3:16.

DOEL

Ons sal sien hoe Jehovah dit vir ons moontlik gemaak het om hom te dien terwyl ons teen sonde veg. Ons sal ook sien hoe hy dit vir ons moontlik gemaak het om vir ewig te lewe, vry van sonde.

1-2. (a) Wat is sonde, en hoe kan ons ons geveg daarteen wen? (Sien ook “Wat dit beteken”.) (b) Wat sal ons in hierdie artikel en in die ander artikels in hierdie Wagtoring bespreek? (Sien ook “Nota aan lesers” in hierdie nommer.)

 WIL jy graag weet hoe lief Jehovah God jou het? Hier is ’n goeie manier om die antwoord te kry: Ondersoek wat hy gedoen het om jou van sonde en die dood te red. Sonde a is ’n verskriklike vyand, een wat jy nie op jou eie kan oorwin nie. Ons almal sondig daagliks, en as gevolg van sonde sterf ons (Rom. 5:12). Maar daar is goeie nuus. Met Jehovah se hulp kan ons sonde oorwin. Om die waarheid te sê, ons oorwinning is ’n uitgemaakte saak!

2 Jehovah God help mense al omtrent 6 000 jaar lank om teen sonde te veg. Hoekom? Want hy is lief vir ons. Vandat Jehovah mense geskep het, is hy lief vir ons, en daarom het hy baie gedoen om ons te help wanneer ons sondig. God weet dat sonde tot die dood lei, en hy wil nie hê dat ons moet sterf nie. Hy wil hê dat ons vir ewig moet lewe (Rom. 6:23). Dit is wat hy vir jou wil hê. In hierdie artikel sal ons drie vrae bespreek: (1) Watter hoop het Jehovah vir sondige mense gegee? (2) Wat het sondige mense in Bybeltye gedoen om Jehovah se hart bly te maak? (3) Wat het Jesus gedoen om mense van sonde en die dood te red?

WATTER HOOP HET JEHOVAH VIR SONDIGE MENSE GEGEE?

3. Wat het veroorsaak dat Adam en Eva gesondig het?

3 Toe Jehovah die eerste man en vrou geskep het, wou hy hê dat hulle gelukkig moes wees. Hy het hulle ’n pragtige blyplek, die geskenk van die huwelik en ’n fassinerende toewysing gegee. Hulle moes die hele aarde met hulle nakomelinge vul en dit ’n paradys maak soos die tuin van Eden. Hy het hulle net een eenvoudige beperking gegee. En hy het hulle gewaarsku dat hulle sou sterf as hulle sou kies om ongehoorsaam aan sy bevel te wees. Ons weet wat gebeur het. ’n Slegte engel, wat nie God of mense liefgehad het nie, het Adam en Eva in die versoeking gebring om daardie sonde te pleeg. Adam en Eva het ingegee en gedoen wat daardie slegte engel, Satan, wou hê hulle moes doen. Hulle het nie hulle liefdevolle Vader vertrou nie, en eerder as om gehoorsaam aan hom te wees, het hulle gesondig. Soos ons weet, het Jehovah se woorde waar geword. Vanaf daardie dag moes hulle die gevolge dra: Hulle het begin oud word en uiteindelik gesterf. – Gen. 1:​28, 29; 2:​8, 9, 16-18; 3:​1-6, 17-19, 24; 5:5.

4. Hoekom haat Jehovah sonde en help hy ons om daarteen te veg? (Romeine 8:​20, 21)

4 Jehovah het daardie hartseer verslag laat neerskryf sodat ons daarby kan baat vind. Dit help ons om te verstaan hoekom hy sonde soveel haat. Sonde skei ons van ons Vader, en dit lei tot die dood (Jes. 59:2). Dit is hoekom Satan, die rebelse engel wat al hierdie moeilikheid begin het, sonde liefhet en dit wil bevorder. So, toe Adam en Eva gesondig het, het hy dalk gedink dat hy Jehovah se doel vir die mens in die wiele gery het. Maar hy het nie verstaan hoe liefdevol Jehovah is nie. God het nooit sy doel vir die nakomelinge van Adam en Eva verander nie. Hy is lief vir mense, en daarom het hy dadelik vir hulle hoop gegee. (Lees Romeine 8:​20, 21.) Jehovah het geweet dat party van daardie nakomelinge sou kies om hom lief te hê en sy hulp sou soek om teen sonde te veg. En as hulle Vader en Skepper sou hy dit vir hulle moontlik maak om nader aan hom te kom en om van sonde en die dood gered te word. Wat sou Jehovah doen om dit reg te kry?

5. Wanneer het Jehovah die eerste straaltjie van hoop aan sondige mense voorsien? Verduidelik. (Genesis 3:15)

5 Lees Genesis 3:15. Jehovah het die eerste straaltjie van hoop voorsien toe hy gesê het wat met Satan sou gebeur. God het voorspel dat daar ’n “nageslag” sou wees wat mense sou red. Hierdie nageslag sou Satan uiteindelik vernietig en al die probleme oplos wat hy in Eden veroorsaak het (1 Joh. 3:8). Maar Satan sou eers daardie nageslag “wond”, of sy dood veroorsaak. Dit sou Jehovah baie seermaak. Maar die pyn sou op die ou end die moeite werd wees omdat ’n ontelbare hoeveelheid mense van sonde en die dood gered sou word.

HOE HET SONDIGE MENSE IN BYBELTYE JEHOVAH SE HART BLY GEMAAK?

6. Wat het manne van geloof, soos Abel en Noag, gedoen om nader aan Jehovah te kom?

6 Jehovah het dit geleidelik al hoe duideliker gemaak hoe sondige mense nader aan hom kan kom. Abel, die tweede seun van Adam en Eva, was die eerste mens wat geloof in Jehovah gestel het ná die tragedie in Eden. Omdat Abel vir Jehovah lief was, Sy hart wou bly maak en nader aan Hom wou kom, het hy ’n offerande vir Jehovah gebring. Abel was ’n herder, so hy het van sy jong lammetjies geslag en hulle aan Jehovah geoffer. Hoe het Jehovah gereageer? Hy “het Abel en sy offer goedgekeur” (Gen. 4:4). Jehovah was gelukkig met die offerandes van ander mense wat vir hom lief was en op hom vertrou het – soos Noag (Gen. 8:​20, 21). Deur sulke offerandes te aanvaar, het Jehovah gewys dat dit vir sondige mense moontlik is om sy hart bly te maak en om nader aan hom te kom. b

7. Wat leer ons uit Abraham se bereidwilligheid om sy eie seun op te offer?

7 Jehovah het Abraham, ’n man met sterk geloof, gevra om iets te doen wat verskriklik moeilik was – om sy eie seun Isak op te offer. Dit moes Abraham baie ontstel het. Tog was hy bereid om dit te doen. Maar God het hom op die laaste oomblik gestop. Hierdie voorbeeld leer ons wat Jehovah in die toekoms sou doen. Jehovah sou bereid wees om sy eie geliefde Seun op te offer. Jehovah het mense baie lief. – Gen. 22:​1-18.

8. Wat het al die offerandes onder die Wet verteenwoordig? (Levitikus 4:​27-29; 17:11)

8 Honderde jare later het die Wet wat aan die nasie Israel gegee is, vereis dat offerandes gebring word sodat hulle sondes vergewe kon word. (Lees Levitikus 4:​27-29; 17:11.) Sulke offerandes het ’n groter offerande verteenwoordig, een wat die mens heeltemal van sonde sou red. God se profete is geïnspireer om te verduidelik dat die beloofde nageslag, wat eintlik ’n spesiale Seun van God was, sou moes ly en doodgemaak word. Hy sou soos ’n skaap wees wat as ’n offerande geslag word (Jes. 53:​1-12). Dink hieraan: Jehovah het belowe om sy geliefde Seun op te offer om die mens – wat jou insluit – van sonde en die dood te red!

WAT HET JESUS GEDOEN OM MENSE TE RED?

9. Wat het Johannes die Doper oor Jesus gesê? (Hebreërs 9:22; 10:​1-4, 12)

9 In 29 HJ het Johannes die Doper Jesus van Nasaret gesien en gesê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Hierdie woorde het gewys dat Jesus die spesiale nageslag is wat God belowe het. Jesus sou sy lewe opoffer. Uiteindelik het Jehovah se nageslag gekom om die mens heeltemal van sonde te red. – Lees Hebreërs 9:22; 10:​1-4, 12.

10. Hoe het Jesus gewys dat hy gekom het om sondaars “te roep”?

10 Jesus het veral daarop gefokus om mense te help wat sleg gevoel het omdat hulle sondaars was. Hy het hulle genooi om sy volgelinge te word. Hy het geweet dat die hoofoorsaak van mense se swaarkry eintlik sonde was. Daarom het hy uitgereik na mans en vrouens wat swaargekry het omdat hulle sondaars was. Deur middel van ’n illustrasie het hy verduidelik: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie, maar mense wat siek is, het wel.” Hy het ook gesê: “Ek het nie gekom om regverdige mense te roep nie, maar sondaars” (Matt. 9:​12, 13). En dit is wat Jesus gedoen het. Toe ’n vrou sy voete met haar trane gewas het, het hy liefdevol met haar gepraat en haar sondes vergewe (Luk. 7:​37-50). Hy het belangrike waarhede aan die Samaritaanse vrou by die put geleer, al het hy geweet dat sy ’n onsedelike lewe lei (Joh. 4:​7, 17-19, 25, 26). God het Jesus selfs die krag gegee om die eindresultaat van alle sonde – die dood – weg te neem. Hoe? Jesus het mense opgewek – mans, vrouens en kinders. – Matt. 11:5.

11. Hoekom het sondige mense van Jesus gehou?

11 Ons kan verstaan hoekom mense wat slegte dinge gedoen het, van Jesus gehou het. Hy het verstaan hoe hulle gevoel het en was liefdevol teenoor hulle. Hulle was nie bang om met hom te praat nie (Luk. 15:​1, 2). En Jesus het sulke persone wat gewys het dat hulle geloof in hom het, geprys en beloon (Luk. 19:​1-10). Hy was genadig, net soos sy Vader (Joh. 14:9). Deur sy woorde en dade het hy gewys dat sy liefdevolle, genadige Vader lief is vir mense en elkeen van hulle wil help om die geveg teen sonde te wen. Jesus het sondige mense gehelp om hulle lewe te wil verander en om hom te volg. – Luk. 5:​27, 28.

12. Wat het Jesus aan ander oor sy eie dood geleer?

12 Jesus het geweet wat vir hom voorlê. Hy het meer as een keer vir sy volgelinge gesê dat hy verraai en aan ’n paal gehang sou word (Matt. 17:22; 20:​18, 19). Hy het geweet dat sy offerande die sonde van die wêreld sou wegneem, net soos Johannes verkondig het en die profete voorspel het. Jesus het ook gesê dat nadat hy gesterf het, hy “alle soorte mense na [hom] toe [sou] trek” (Joh. 12:32). Sondige mense kon Jehovah se hart bly maak deur Jesus as hulle Here te aanvaar en deur sy voetstappe na te volg. As hulle dit doen, sou hulle uiteindelik “van sonde vrygemaak” wees (Rom. 6:​14, 18, 22; Joh. 8:32). So Jesus was moedig en bereid om op ’n pynlike manier te sterf om ons te red. – Joh. 10:​17, 18.

13. Hoe het Jesus gesterf, en wat het sy dood ons oor Jehovah God geleer? (Sien ook prent.)

13 Jesus was verraai, gearresteer, beledig, gelaster, skuldig bevind en selfs gemartel. Uiteindelik het soldate hom aan ’n paal gehang om hom dood te maak. Terwyl hy getrou daardie verskriklike pyn verduur het, was daar Iemand wat selfs meer pyn gevoel het. Dit was Jehovah God. Jehovah het die krag en vermoë gehad om sy Seun se lyding te beëindig, maar hy het nie. Hoekom nie? Wat kon maak dat ’n liefdevolle Vader so optree? In een woord, liefde. Jesus het gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie, maar die ewige lewe kan hê.” – Joh. 3:16.

Deur toe te laat dat sy Seun doodgemaak word, het Jehovah deur verskriklike pyn gegaan om ons van sonde en die dood te bevry (Sien paragraaf 13)


14. Wat leer ons uit Jesus se offerande?

14 Jesus se offerande is die grootste bewys dat Jehovah die nakomelinge van Adam en Eva liefhet. Dit bewys hoe baie Jehovah jou liefhet. Hy het baie moeite gedoen en die ergste pyn denkbaar verduur om jou van sonde en die dood te red (1 Joh. 4:​9, 10). Ja, hy wil elkeen van ons help om teen sonde te veg – en om te wen!

15. Wat moet ons doen sodat ons by God se geskenk van die losprysoffer van Jesus kan baat vind?

15 God se geskenk, die losprysoffer van sy eniggebore Seun, maak dit moontlik dat ons sondes vergewe kan word. Maar om God se vergifnis te kry, moet ons iets doen. Wat moet ons doen? Die antwoord het van Johannes die Doper en toe Jesus Christus self gekom: “Toon berou, want die Koninkryk van die hemel het naby gekom” (Matt. 3:​1, 2; 4:17). So om berou te toon is baie belangrik as ons regtig teen sonde wil veg en nader aan ons liefdevolle Vader wil kom. Maar wat beteken dit om berou te toon, en hoe help dit ons om teen ons sondige toestand te veg? Die volgende studieartikel sal dit beantwoord.

LIED 18 Dankbaar vir die losprys

a WAT DIT BETEKEN: In die Bybel kan die woord “sonde” na verkeerde dade verwys, of om nie in ooreenstemming met Jehovah se sedelike standaarde te lewe of op te tree nie. Maar die woord “sonde” kan ook verwys na die onvolmaakte, of sondige, toestand wat ons van Adam geërf het. Oorgeërfde sonde is die rede hoekom ons almal sterf.

b Jehovah het die offerandes van daardie getroue mense aanvaar omdat hy geweet het dat Jesus Christus in die toekoms sy lewe sou offer en alle mense heeltemal van sonde en die dood sou red. – Rom. 3:25.