Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Is die merking wat in 2 Tessalonisense 3:14 genoem word, iets wat die gemeente doen of iets wat deur individuele Christene gedoen word?

Die apostel Paulus het aan die Christene in Tessalonika geskryf en gesê: “As iemand nie gehoorsaam is aan ons woorde in hierdie brief nie, moet julle hom merk” (2 Tess. 3:14). Voorheen het ons gesê dat dit aan die ouermanne gerig is. As iemand aangehou het om Bybelbeginsels te ignoreer ten spyte van herhaalde raad, het die ouermanne dalk ’n waarskuwingstoespraak aan die gemeente gegee. Daarna het individuele verkondigers nie met die persoon wat gemerk is, geassosieer nie.

Maar ’n aanpassing is nodig. Paulus se raad verwys heel moontlik na iets wat individuele Christene onder sekere omstandighede moet doen. So dit is nie vir die ouermanne nodig om ’n waarskuwingstoespraak te gee nie. Hoekom die verandering? Kyk na Paulus se raad in die konteks daarvan.

Paulus het opgelet dat party in die gemeente hulle “wanordelik gedra”. Hulle het geïnspireerde raad geïgnoreer. Gedurende ’n vorige besoek het hy hierdie bevel gegee: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” Maar party het nog steeds geweier om te werk om hulleself te onderhou, al kon hulle dit doen. Hulle het ook in ander se sake ingemeng. Hoe moes Christene sulke wanordelikes behandel? – 2 Tess. 3:​6, 10-12.

“Julle [moet] hom merk”, het Paulus gesê. Die Griekse woord dra die idee oor dat jy so ’n persoon moet identifiseer en moet oppas dat hy jou nie beïnvloed nie. Paulus het hierdie raad aan die hele gemeente gegee, en nie net aan die ouermanne nie (2 Tess. 1:1; 3:6). So individuele Christene wat dalk opgelet het dat ’n mede-Christen ongehoorsaam is aan geïnspireerde raad, het gekies om ‘op te hou assosieer’ met die wanordelike.

Het dit beteken dat die persoon behandel is soos iemand wat uit die gemeente verwyder is? Nee, want Paulus het bygevoeg: “Hou aan om hom raad te gee as ’n broer.” So individuele Christene het nog steeds by vergaderinge en in die bediening met die gemerkte persoon geassosieer, maar hulle het gekies om nie by sosiale geleenthede of gedurende ontspanning met hom te assosieer nie. Hoekom nie? “Sodat hy skaam kan kry”, het Paulus gesê. As gevolg van die feit dat hy gemerk is, het die wanordelike Christen dalk skaam gekry oor wat hy doen en sy gedrag verander. – 2 Tess. 3:​14, 15.

Hoe sal Christene hierdie raad dalk vandag toepas? Eerstens, ons moet seker maak dat die persoon se gedrag wel “wanordelik” is, soos Paulus beskryf het. Hy het nie gepraat van dié wat met ons verskil wanneer dit kom by gewetensake of persoonlike voorkeur nie. En hy het nie gepraat van dié wat net ons gevoelens seergemaak het nie. Paulus het eerder spesifiek gepraat van dié wat opsetlik gekies het om ongehoorsaam te wees aan God se duidelike raad.

As ons vandag sien dat ’n mede-Christen so ’n ongehoorsame gees openbaar, a sal ons ’n persoonlike besluit maak om nie by sosiale geleenthede of gedurende ontspanning met hom te assosieer nie. Aangesien dit ’n persoonlike besluit is, sal ons dit nie met ander bespreek wat nie familie is en saam met ons in een huis bly nie. En ons sal nog steeds by ons vergaderinge en in ons bediening met daardie persoon assosieer. Wanneer hy sy gedrag verander, sal ons dan weer by sosiale geleenthede en gedurende ontspanning met hom assosieer.

a Byvoorbeeld, ’n mede-Christen weier dalk om te werk om homself te onderhou al kan hy, dring dalk daarop aan om met ’n ongelowige uit te gaan, sê dalk dinge wat die gemeente kan verdeel of versprei dalk skadelike skinderpraatjies (1 Kor. 7:39; 2 Kor. 6:14; 2 Tess. 3:​11, 12; 1 Tim. 5:13). Dié wat aanhou om sulke dinge te doen, is “wanordelik”.