Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense—Hou aan om aan julle eie redding te werk

Jongmense—Hou aan om aan julle eie redding te werk

Julle moet, soos julle altyd gehoorsaam was, aanhou om julle eie redding met vrees en bewing te bewerk.’ —FIL. 2:12.

LIED: 133, 135

1. Hoekom is doop so belangrik? (Sien prent aan begin van artikel.)

ELKE jaar word duisende Bybelstudente gedoop. Baie van hulle is jongmense, tieners of selfs jonger. Hulle het dalk in die waarheid grootgeword. Is jy een van hulle? As jy is, moet jy hiervoor geprys word. ’n Christen moet gedoop wees om gered te word en vir ewig te kan lewe.—Matt. 28:19, 20; 1 Pet. 3:21.

2. Hoekom moet jy nie bang wees om jou aan Jehovah toe te wy nie?

2 Al is daar baie seëninge wanneer jy gedoop is, kom dit nie sonder verantwoordelikhede nie. Op die dag toe jy gedoop is, het jy ja gesê toe jy gevra is: “Het jy, op grond van die offerande van Jesus Christus, berou oor jou sondes en het jy jou aan Jehovah toegewy om sy wil te doen?” Toe jy gedoop is, het jy vir almal gewys dat jy jou aan Jehovah toegewy het. Jy het Jehovah belowe dat jy hom sal liefhê en sy wil bo enigiets anders sal stel. Moet jy spyt wees oor die belofte wat jy gemaak het? Nee, glad nie! Dit is nooit die verkeerde besluit om jou lewe in Jehovah se hande te sit nie. Dié wat dit nie doen nie, is deel van Satan se wêreld. En hy gee nie vir hulle of vir jou om nie. Hy sal baie bly wees as jy jou lewe verloor omdat jy sy kant kies en Jehovah se heerskappy verwerp.

3. Hoe het Jehovah jou geseën omdat jy jou aan hom toegewy het?

3 Dink net aan hoe Jehovah jou geseën het omdat jy besluit het om jouself toe te wy en gedoop te word. Noudat jy jou lewe aan Jehovah gegee het, kan jy met vertroue sê: “Jehovah is aan my kant; ek sal nie vrees nie. Wat kan die mens aan my doen?” (Ps. 118:6). Daar is geen groter voorreg as om aan Jehovah se kant te wees en om te weet dat hy trots is op jou nie.

JOU PERSOONLIKE VERANTWOORDELIKHEID

4, 5. (a) Hoekom is toewyding ’n persoonlike verantwoordelikheid? (b) Watter probleme het Christene van alle ouderdomme?

4 As ’n gedoopte Christen, is jou vriendskap met Jehovah nie soos ’n selfoonkontrak waarvoor jou ouers betaal nie. Jy is verantwoordelik vir jou eie redding, al bly jy nog onder jou ouers se dak. Hoekom is dit belangrik om dit te onthou? Want ons weet nie altyd watter probleme ons in die toekoms sal hê nie. Byvoorbeeld, jy is dalk gedoop toe jy baie jonk was. Maar noudat jy ’n tiener is, het jou gevoelens verander en het jy nuwe probleme. Een tienermeisie het gesê: “’n Kind sal nie sommer kwaad raak omdat hy een van Jehovah se Getuies is en nie ’n stukkie verjaarsdagkoek mag eet nie. Maar in ’n paar jaar wanneer die begeerte sterk is om seks te hê, moet hy of sy oortuig wees dat dit altyd die beste besluit is om Jehovah se wette te gehoorsaam.”

5 Maar dit is natuurlik nie net jongmense wat nuwe uitdagings het nie. Selfs dié wat as volwassenes gedoop is, ervaar probleme wat hulle nie verwag het nie. Dit kan probleme in hulle huwelik, by die werk of met hulle gesondheid wees. Dit maak nie saak hoe oud jy is nie, almal moet in alle situasies getrou aan Jehovah bly.—Jak. 1:12-14.

6. (a) Wat het ons Jehovah belowe toe ons ons aan hom toegewy het? (b) Wat kan jy uit Filippense 4:11-13 leer?

6 Om jou te help om aan Jehovah getrou te bly, moet jy onthou dat jy jou toewydingsgelofte sonder enige voorwaardes gemaak het. Dit beteken dat jy die Soewerein van die heelal belowe het dat jy hom vir altyd sal dien, al hou jou vriende of ouers op om hom te dien (Ps. 27:10). Jy kan in enige situasie, met Jehovah se hulp, die krag hê om jou belofte na te kom.—Lees Filippense 4:11-13.

7. Wat beteken dit om aan te hou werk aan jou eie redding “met vrees en bewing”?

7 Jehovah wil hê dat jy sy vriend moet wees. Maar jy sal moet hard werk om daardie vriendskap te behou en om aan jou eie redding te werk. Filippense 2:12 sê: ‘Hou aan om julle eie redding met vrees en bewing te bewerk.’ Hierdie woorde wys dat ons moet nadink oor hoe ons ons vriendskap met Jehovah sterk kan hou en getrou aan hom kan bly, selfs wanneer ons probleme het. Maar jy moenie dink dat dit net vanself sal gebeur nie. Selfs persone wat Jehovah baie jare lank getrou gedien het, het hom verlaat. Maar wat moet jy doen om aan te hou werk aan jou eie redding?

BYBELSTUDIE IS BELANGRIK

8. Wat is deel van persoonlike studie, en hoekom is dit belangrik?

8 Om Jehovah se vriend te wees, moet ons na hom luister en met hom praat. Die belangrikste manier hoe ons na Jehovah luister, is deur persoonlike studie van die Bybel. Dit beteken dat ons God se Woord en Bybelpublikasies moet lees en daaroor nadink. Maar Bybelstudie beteken nie dat jy net ’n klomp feite moet memoriseer soos vir ’n skooleksamen nie. Dit is eerder soos ’n reis waartydens jy nuwe dinge oor Jehovah se persoonlikheid kan leer en ontdek. Dit sal jou help om nader aan Jehovah te kom, en dan sal hy ook nader aan jou kom.—Jak. 4:8.

Hoe goed kommunikeer jy met Jehovah? (Sien paragraaf 8-11)

9. Wat het jou al in jou persoonlike studie gehelp?

9 Jehovah se organisasie het baie hulpmiddele voorsien wat jou kan help met jou persoonlike studie. Byvoorbeeld, “Bybelstudieaktiwiteite” wat onder die afdeling vir “Tieners” op jw.org is, kan jou help om toe te pas wat jy uit Bybelverhale leer. Daar is ook studiehulpe op jw.org, “Wat leer die Bybel werklik?”, wat jou kan help om oortuig te wees van wat jy glo. Hierdie studiehulpe kan jou help om aan ander te verduidelik wat jy glo. Jy kan nog idees vir persoonlike studie kry in die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek Bybellees aangenaam maak?” in die Ontwaak! van April 2009. Dit is belangrik om die Bybel te studeer en daaroor na te dink as jy wil aanhou werk aan jou eie redding.—Lees Psalm 119:105.

GEBED IS BELANGRIK

10. Hoekom is gebed belangrik vir ’n gedoopte Christen?

10 Wanneer ons persoonlike studie doen, luister ons na Jehovah. En wanneer ons bid, praat ons met hom. Gebed moenie vir ’n Christen net ’n gewoonte of soos ’n ‘gelukbringer’ wees nie. Gebed is eerder ’n werklike manier hoe ons met ons Skepper praat. Jehovah wil graag van jou hoor. (Lees Filippense 4:6.) Wanneer jy probleme ervaar of angstig voel, gee die Bybel ons wyse raad. Dit sê: “Werp jou las op Jehovah” (Ps. 55:22). Miljoene broers en susters kan jou verseker dat hierdie raad hulle gehelp het. En dit kan jou ook help!

11. Hoekom moet jy altyd vir Jehovah dankie sê?

11 Ons moenie net bid wanneer ons Jehovah se hulp nodig het nie. Die Bybel sê: “Toon dat julle dankbaar is” (Kol. 3:15). Partykeer voel ons dat ons probleme te veel is en dan vergeet ons so maklik van al die seëninge wat ons het. Probeer om elke dag aan ten minste drie dinge te dink waarvoor jy dankbaar is, en sê dan vir Jehovah dankie vir al die seëninge. ’n Tiener met die naam Abigail, wat gedoop is toe sy 12 jaar oud was, sê: “Ek voel dat Jehovah ons dankbaarheid meer as enigiemand anders in die heelal verdien. Ons moet by elke geleentheid vir hom dankie sê vir die geskenke wat hy ons gegee het. Soms dink ek aan hierdie goeie herinnering: ‘As ons môre wakker word met net die dinge waarvoor ons vir Jehovah dankie gesê het, wat sou ons hê?’”

HOE PERSOONLIKE ONDERVINDING JOU HELP

12, 13. Hoekom is dit belangrik om na te dink oor hoe goed Jehovah vir jou was?

12 Jehovah het koning Dawid gehelp om baie moeilike situasies te verduur. Daarom kon Dawid uit persoonlike ondervinding hierdie woorde sê: “Smaak en sien dat Jehovah goed is; gelukkig is die man wat sy toevlug tot hom neem” (Ps. 34:8). Hierdie vers wys hoe belangrik dit is om self Jehovah se goedheid te ervaar. Wanneer jy die Bybel en ons publikasies lees en na die vergaderinge toe gaan, hoor jy hoe God ander gehelp het om getrou te bly. Maar soos jou verhouding met Jehovah sterker word, moet jy kan sien hoe hy jou help. Hoe het jy persoonlik ervaar dat Jehovah goed is?

13 Elke Christen het al Jehovah se goedheid op ’n spesiale manier ervaar. Hy het ons genooi om nader aan hom en sy Seun te kom. Jesus het gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie” (Joh. 6:44). Voel jy dat Jehovah jou getrek het? ’n Jong persoon dink dalk: ‘Jehovah het my ouers getrek, en ek het hulle maar net gevolg.’ Maar toe jy jouself aan Jehovah toegewy het en gedoop is, het jy ’n spesiale vriendskap met Jehovah begin. Die Bybel verseker ons: “As iemand God liefhet, word dié deur hom geken” (1 Kor. 8:3). Waardeer altyd jou plek in Jehovah se organisasie.

14, 15. Hoe kan velddiens jou help om jou geloof te versterk?

14 Nog ’n manier hoe jy Jehovah se goedheid ervaar, is wanneer hy jou help om jou geloof met ander te deel. Jy kan dit in velddiens of by die skool doen. Dit kan moeilik wees om vir jou skoolmaats te preek. Jy wonder dalk oor wat hulle gaan sê. Dit is moeiliker om vir ’n groot groep mense te vertel wat jy glo as om net met een persoon te praat. Wat kan jou help?

15 Begin deur jouself te vra hoekom jy oortuig is van die dinge waarin jy glo. Gebruik die studiehulpe wat op jw.org beskikbaar is. Dit is daar om jou te help om na te dink oor wat jy glo, hoekom jy dit glo en hoe jy aan ander kan verduidelik wat jy glo. Wanneer jy oortuig is van wat jy glo en goed voorbereid is, sal jy vir ander van Jehovah wil vertel.—Jer. 20:8, 9.

16. Wat kan jou die moed gee om vir ander te vertel waarin jy glo?

16 Al is jy goed voorbereid, kan jy nog steeds huiwer om vir ander te vertel waarin glo. ’n Agtienjarige suster, wat gedoop is toe sy 13 jaar oud was, erken: “Ek weet waarin ek glo, maar partykeer is dit moeilik om my gedagtes in woorde om te sit.” Daarom probeer sy om meer informeel met haar klasmaats te praat. Sy sê: “My klasmaats praat vryelik oor die dinge wat hulle doen, en ek moet ook dieselfde kan doen. Ek sal byvoorbeeld iets sê soos: ‘Ek het die ander dag vir iemand iets uit die Bybel geleer en . . .’ Dan gaan ek aan met my storie. Hoewel die gesprek nie oor die Bybel gaan nie, wonder ander gewoonlik wat ek doen wanneer ek mense van die Bybel leer. Partykeer vra hulle vrae daaroor. Hoe meer ek hierdie manier gebruik, hoe makliker raak dit. En later voel ek altyd goed daaroor!”

17. Wat kan jou nog help om met ander te praat?

17 Wanneer ander voel dat jy regtig vir hulle omgee en respekteer, is hulle meer geneig om jou en dit waarin jy glo, te respekteer. Olivia wat 17 jaar oud is, en gedoop is voordat sy ’n tiener was, sê: “Ek was altyd bang dat mense sou dink dat ek fanaties is as ek oor die Bybel met hulle praat.” Toe het sy anders begin dink. In plaas daarvan om te dink oor hoe bang sy is, het Olivia gesê: “Daar is baie jongmense wat niks van Jehovah se Getuies weet nie. Ons is die enigste Getuies wat hulle ken. So wat ons doen, kan bepaal hoe hulle sal reageer. Wat as ons skaam is of dit moeilik vind om vir mense te vertel waarin ons glo? Of wat as jy wel met mense praat, maar nie baie oortuigend klink nie? Hulle kan dalk dink dat ons nie trots is op wie ons is nie. Of as ons nie baie selfvertroue het nie, sal hulle dalk onvriendelik wees. Maar as ons gemaklik en met oortuiging praat oor wat ons glo, asof dit ’n normale gesprek is, sal hulle meer geneig wees om ons te respekteer.”

HOU AAN OM AAN JOU EIE REDDING TE WERK

18. Wat moet jy doen om aan jou eie redding te werk?

18 Ons het gesien dat dit ’n ernstige verantwoordelikheid is om aan jou eie redding te werk. Om dit te doen, moet jy God se Woord lees en daaroor nadink, met Jehovah praat in gebed en nadink oor hoe Jehovah jou al gehelp het. Dit sal jou help om meer oortuig te wees dat Jehovah jou Vriend is. En dit sal jou motiveer om met ander oor jou geloof te praat.—Lees Psalm 73:28.

19. Hoekom is dit die moeite werd om aan jou eie redding te werk?

19 Jesus het gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Matt. 16:24). Om Jesus te volg, moet elke Christen homself aan Jehovah toewy en gedoop word. Dit is die begin van wonderlike seëninge nou, en sal lei tot ewige lewe in God se nuwe wêreld. Daarom moet jy alles in jou vermoë doen om aan te hou werk aan jou eie redding!