Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Ek het die hoop op God”

“Ek het die hoop op God”

“Die laaste Adam het ’n lewegewende gees geword.”—1 KOR. 15:45.

LIED: 151, 147

1-3. (a) Wat moet ingesluit word as een van die belangrikste dinge waarin ons glo? (b) Waarom is die opstanding so belangrik? (Sien prent aan begin van artikel.)

WAT sal jy antwoord as iemand jou sou vra: ‘Waarin glo jy?’ Jy sal sekerlik sê dat Jehovah die Skepper en Lewegewer is. Jy sal seker ook sê jy glo in Jesus Christus, wat as ’n losprys vir ons gesterf het. Jy sal ook die Paradysaarde noem, waar God se knegte vir ewig sal lewe. Maar sou jy sê dat jou geloof in die opstanding ook vir jou kosbaar is?

2 Ons het goeie rede om te sê dat ons geloof in die opstanding vir ons kosbaar is, selfs al het ons die hoop om die groot verdrukking te oorleef en om vir ewig op die aarde te lewe. Die apostel Paulus het gewys waarom die opstanding so belangrik is. Hy het gesê: “As daar werklik geen opstanding van die dooies is nie, is Christus ook nie opgewek nie.” As Christus nie opgewek is nie, kan hy nie nou as Koning in die hemel regeer nie, en ons boodskap daaroor sal dan niks beteken nie. (Lees 1 Korintiërs 15:12-19.) Maar ons weet dat Jesus opgewek is. Ons geloof hierin verskil van wat die Joodse Sadduseërs geglo het. Hulle het glad nie in die opstanding geglo nie. Ons geloof in die opstanding bly sterk, selfs al spot mense ons daaroor.—Mark. 12:18; Hand. 4:2, 3; 17:32; 23:6-8.

3 Toe Paulus van die “grondleer oor die Christus” geskryf het, het hy “die leer oor . . . die opstanding van die dooies” ingesluit (Heb. 6:1, 2). Hy het dit duidelik gemaak dat hy geloof in die opstanding gehad het (Hand. 24:10, 15, 24, 25). Maar die feit dat die opstanding ingesluit word in die grondleer, een van die “elementêre dinge van die heilige verklarings van God”, beteken nie dat dit maklik is om te verstaan nie (Heb. 5:12). Hoekom nie?

4. Watter vrae het ons miskien oor die opstanding?

4 Wanneer mense die Bybel begin studeer, lees hulle van persone wat opgewek is, soos Lasarus. Hulle leer ook dat Abraham, Job en Daniël geglo het dat die dooies weer in die toekoms sal lewe. Maar wat sal jy sê as iemand jou vra om te bewys dat ons in die belofte van die opstanding kan glo, selfs al is dit honderde jare gelede belowe? En sê die Bybel wanneer die opstanding sal gebeur? Die antwoord op hierdie vrae sal ons geloof versterk. Kom ons kyk wat die Bybel daaroor sê.

’N OPSTANDING WAT HONDERDE JARE TEVORE VOORSPEL IS

5. Wat sal ons eerste bespreek?

5 Dit is dalk maklik vir ons om te dink dat iemand weer kan lewe kort nadat hy dood is (Joh. 11:11; Hand. 20:9, 10). Maar kan ons glo dat iemand jare, selfs honderde jare later, opgewek kan word? Kan jy dit glo selfs al is die belofte gemaak oor ’n persoon wat kort te vore gesterf het of wat al baie lank dood is? Eintlik glo jy alreeds in ’n opstanding wat honderde jare nadat dit voorspel is, gebeur het. Watter opstanding was dit? En wat het dit te doen met jou geloof in ’n opstanding wat in die toekoms sal gebeur?

6. Hoe het Jesus Psalm 118 vervul?

6 Kom ons bespreek ’n opstanding wat honderde jare vooruit voorspel is. Psalm 118, wat dalk deur Dawid geskryf is, sluit hierdie woorde in: “Jehovah, red tog asseblief! . . . Geseënd is Hy wat in die naam van Jehovah kom.” Jy kan dalk onthou dat mense op Nisan 9, toe Jesus kort voor sy dood by Jerusalem ingery het, hierdie profesie oor die Messias aangehaal het (Ps. 118:25, 26; Matt. 21:7-9). Maar hoe het die woorde in Psalm 118 gewys dat daar ’n opstanding baie jare later sou gebeur? Kyk wat hierdie psalm nog sê: “Die steen wat die bouers verwerp het, het die hoof van die hoek geword.”—Ps. 118:22.

“Die bouers” het die Messias verwerp (Sien paragraaf 7)

7. Hoe het die Jode Jesus verwerp?

7 “Die bouers”, die Joodse leiers, het die Messias verwerp. Hulle het hom nie net geïgnoreer of geweier om hom as die Christus te aanvaar nie. Baie Jode het Jesus verwerp deur aan te dring dat hy doodgemaak word (Luk. 23:18-23). Ja, hulle was ook verantwoordelik vir Jesus se dood.

Jesus is opgewek om die “hoof van die hoek” te word (Sien paragraaf 8, 9)

8. Hoe kon Jesus “die hoof van die hoek” word?

8 As Jesus verwerp en doodgemaak is, hoe kon hy dan “die hoof van die hoek” word? Dit kon slegs gebeur het as hy opgewek is. Jesus het hierdie punt gemaak toe hy ’n storie vertel het van ’n man wat ’n wingerd geplant het en dit aan landbouers verhuur het. Die landbouers het die boodskappers wat die eienaar gestuur het, sleg behandel, net soos die Israeliete die profete van God sleg behandel het. Uiteindelik het die eienaar sy eie seun gestuur. Maar het hulle na die seun geluister? Glad nie. Die landbouers het hom doodgemaak. Nadat Jesus die storie vertel het, het hy die profesie in Psalm 118:22 aangehaal (Luk. 20:9-17). Die apostel Petrus het dieselfde vers gebruik toe hy met “heersers en ouer manne en skrifgeleerdes in Jerusalem” gepraat het. Hy het gepraat oor “Jesus Christus die Nasarener, wat julle aan die paal gehang het maar wat God uit die dode opgewek het”. Toe het Petrus gesê: “Dit is ‘die steen wat deur julle, die bouers, behandel is asof hy van geen belang was nie, wat die hoof van die hoek geword het’.”—Hand. 3:15; 4:5-11; 1 Pet. 2:5-7.

9. Watter wonderlike gebeurtenis het Psalm 118:22 voorspel?

9 Ja, Psalm 118:22 het honderde jare vooruit voorspel dat ’n opstanding sou gebeur. Die Messias sou verwerp word en sterf, maar hy sou opgewek word om die hoof van die hoek te word. Hierdie Seun wat opgewek is, het die enigste een geword wat ’n “naam . . . onder die mense gegee is waardeur ons gered moet word”.—Hand. 4:12; Ef. 1:20.

10. (a) Wat het Psalm 16:10 voorspel? (b) Hoekom kan ons seker wees dat Psalm 16:10 nie na Dawid verwys nie?

10 Kom ons kyk na nog ’n teks wat ’n opstanding voorspel het. Dit het ’n duisend jaar later waar geword. Dit behoort ons te oortuig dat ’n opstanding kan gebeur lank nadat dit voorspel of belowe is. In Psalm 16 het Dawid geskryf: “U sal my siel nie in Sjeool laat nie. U sal nie toelaat dat hy wat teenoor u lojaal is, die kuil sien nie” (Ps. 16:10). Dawid het nie gesê dat hy nooit sou sterf of in die Graf sal wees nie. God se Woord sê baie duidelik dat Dawid oud geword en gesterf het en dat hy saam met sy voorvaders “in die Stad van Dawid begrawe” is (1 Kon. 2:1, 10). Na wie verwys Psalm 16:10 dan?

11. Wanneer het Petrus Psalm 16:10 verduidelik?

11 Meer as ’n duisend jaar nadat Dawid hierdie woorde geskryf het, het Petrus verduidelik na wie Psalm 16:10 verwys. ’n Paar weke ná Jesus se dood en opstanding, het Petrus met duisende Jode en proseliete gepraat. (Lees Handelinge 2:29-32.) Hy het bevestig dat Dawid wel gesterf het en begrawe is. Dié wat na Petrus geluister het, het dit geweet. En nêrens in die verslag sê dit dat hulle nie met hom saamgestem het toe hy gesê het dat Dawid “die opstanding van die Christus vooraf gesien en daaroor gepraat” het nie.

12. Hoe is Psalm 16:10 vervul, en wat bevestig dit oor die belofte van die opstanding?

12 Petrus het sy punt bevestig deur Dawid se woorde in Psalm 110:1 aan te haal. (Lees Handelinge 2:33-36.) Petrus se verduideliking uit die Skrif het daardie groot skare oortuig dat Jesus “Here sowel as Christus” was. Die mense het erken dat Psalm 16:10 vervul was toe Jesus uit die dode opgewek is. Die apostel Paulus het later dieselfde redenasie gebruik toe hy met die Jode in die stad Antiogië in Pisidië gepraat het. Die bewyse wat hy gegee het, het hulle beïndruk, en hulle wou meer weet. (Lees Handelinge 13:32-37, 42.) Dit moet ons ook beïndruk dat daardie Bybelprofesieë oor ’n opstanding in die toekoms, betroubaar was, selfs al was dit eers honderde jare later vervul.

WANNEER SAL DIE OPSTANDING GEBEUR?

13. Watter vrae het ons miskien oor die opstanding?

13 Dit moet ons aanmoedig om te weet dat ’n opstanding honderde jare nadat dit belowe is, kan gebeur. Maar party wonder dalk: ‘Beteken dit dat ek lank sal moet wag om my geliefde weer te sien? Wanneer sal die opstanding waarvoor ek wag, gebeur?’ Wel, Jesus het vir sy apostels gesê dat daar dinge was wat hulle nie geweet het nie en wat hulle nie kon geweet het nie. Hy het vir hulle gesê: “Dit is nie vir julle om kennis te verkry van die tye of tydperke wat die Vader onder sy eie regsmag geplaas het nie” (Hand. 1:6, 7; Joh. 16:12). Maar dit beteken nie dat ons nie inligting het oor wanneer die opstanding gaan gebeur nie.

14. Hoe het Jesus se opstanding van vorige opstandings verskil?

14 Jesus se opstanding is die belangrikste opstanding wat in die Bybel opgeteken is. As hy nie opgewek is nie, sou niemand die hoop hê om hulle geliefdes weer te sien nie. Persone wat voor Jesus opgewek is, soos deur Elia en Elisa, het weer gesterf en stof geword. Maar Jesus is “uit die dode opgewek” en ‘sterf nie meer nie’; “die dood is nie meer meester oor hom nie.” Hy “lewe vir ewig en altyd” in die hemel.—Rom. 6:9; Op. 1:5, 18; Kol. 1:18; 1 Pet. 3:18.

15. Hoekom word Jesus die “eersteling” genoem?

15 Jesus se opstanding na die hemel as ’n geespersoon, is die eerste van sy soort en die belangrikste (Hand. 26:23). Maar hy is nie die enigste persoon wat opgewek sal word en hemel toe sal gaan nie. Jesus het sy getroue apostels belowe dat hulle saam met hom in die hemel sal regeer (Luk. 22:28-30). Maar hulle sal slegs daardie beloning kry nadat hulle gesterf het. Dan sal hulle, net soos Jesus, met ’n geesliggaam opgewek word. Paulus het geskryf dat “Christus . . . uit die dode opgewek [is], die eersteling van dié wat ontslaap het”. Paulus het gesê dat daar ander persone sal wees wat opgewek sal word en hemel toe sal gaan. Hy het gesê: “Elkeen in sy eie rangorde: Christus, die eersteling, daarna dié wat aan die Christus behoort gedurende sy teenwoordigheid.”1 Kor. 15:20, 23.

16. Watter inligting het ons oor wanneer die hemelse opstanding sal gebeur?

16 Paulus se woorde gee ons ’n idee wanneer die hemelse opstanding sal gebeur. Dit sal tydens “sy teenwoordigheid” gebeur. Jehovah se Getuies bewys al jare lank uit die Bybel dat Christus se “teenwoordigheid” in 1914 begin het. Dit is nog steeds aan die gang, en die einde van hierdie goddelose wêreld is baie naby.

17, 18. Wat sal met party gesalfdes tydens Christus se teenwoordigheid gebeur?

17 Die Bybel gee nog inligting oor die hemelse opstanding: “Ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees aangaande dié wat ontslaap nie . . . Want as ons glo dat Jesus gesterf en weer opgestaan het, dan ook dat God dié wat ontslaap het . . . saam met hom sal bring . . . Ons, die lewendes wat tot die teenwoordigheid van die Here bly lewe, [sal] die ontslapenes hoegenaamd nie . . . voorgaan nie; want die Here self sal uit die hemel neerdaal met ’n gebiedende roep, . . . en dié wat dood is in eenheid met Christus, sal eerste opstaan. Daarna sal ons, die lewendes wat oorbly, saam met hulle in wolke weggeruk word om die Here in die lug te ontmoet; en so sal ons altyd by die Here wees.”—1 Tess. 4:13-17.

18 Die eerste opstanding, die hemelse opstanding, het begin nadat Christus se “teenwoordigheid” begin het. Gesalfdes wat op die aarde lewe tydens die groot verdrukking, sal “in wolke weggeruk word”. Dié wat “weggeruk word”, sal nie dood wees vir ’n lang tyd nie. Hulle sal “in ’n oomblik, in ’n oogwink [verander word], gedurende die laaste trompet”.—Matt. 24:31; 1 Kor. 15:51, 52.

19. Wat is die “beter opstanding”?

19 Vandag is die meeste getroue Christene nie gesalfdes nie en is hulle nie gekies om saam met Christus in die hemel te regeer nie. Hulle sien eerder uit na “Jehovah se dag”, wanneer hy hierdie goddelose wêreld sal vernietig. Niemand weet wanneer die einde sal kom nie, maar ons het bewyse dat dit naby is (1 Tess. 5:1-3). Daarna sal ’n ander opstanding gebeur. Mense sal opgewek word en op die aarde lewe en die hoop hê om volmaak te word en nooit weer dood te gaan nie. Dit sal “’n beter opstanding” wees as die opstandings wat in die verlede gebeur het, want daardie persone het later weer gesterf.—Heb. 11:35.

20. Hoekom kan ons seker wees dat die opstanding ordelik sal gebeur?

20 Die Bybel sê dat dié wat hemel toe gaan, “elkeen in sy eie rangorde” opgewek sal word (1 Kor. 15:23). Daarom kan ons seker wees dat die aardse opstanding ook ordelik sal wees. Dit is ’n interessante punt. Sal dié wat onlangs gesterf het, opgewek word kort ná die begin van Christus se Duisendjarige Heerskappy en deur hulle geliefdes terugverwelkom word? Sal getroue manne van die verlede wat goeie leiers was, vroeër opgewek word om te help om God se knegte te organiseer? Wat van persone wat Jehovah nooit gedien het nie? Waar en wanneer sal hulle opgewek word? Ons kan baie sulke vrae vra. Maar ons hoef ons nie nou daaroor te bekommer nie. Is dit nie beter om te wag en te sien wat gebeur nie? Ons kan seker wees dat dit opwindend sal wees om te sien hoe Jehovah dinge sal doen.

21. Wat is jou hoop oor die opstanding?

21 Tot dan moet ons ons geloof in Jehovah versterk. Hy het deur Jesus belowe dat die dooies in sy geheue is en dat hulle weer sal lewe (Joh. 5:28, 29; 11:23). Jesus het gesê dat Abraham, Isak en Jakob vir Jehovah lewend is. Dit is nog ’n bewys dat Jehovah die dooies gaan opwek (Luk. 20:37, 38). Ons het baie redes om net soos Paulus te sê: “Ek het die hoop op God . . . dat daar ’n opstanding . . . sal wees.”—Hand. 24:15.