Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Ek weet dat hy . . . sal opstaan”

“Ek weet dat hy . . . sal opstaan”

“Ons vriend, het gaan rus, maar ek reis daarheen om hom uit die slaap wakker te maak.”—JOH. 11:11.

LIED: 142, 129

1. Waarvan was Marta oortuig? (Sien prent aan begin van artikel.)

JESUS se goeie vriendin en dissipel Marta was baie hartseer. Haar broer, Lasarus, het gesterf. Was daar enigiets wat haar beter kon laat voel? Ja. Jesus het haar verseker: “Jou broer sal opstaan.” Dit het dalk nie al haar hartseer weggevat nie, maar Marta het nog steeds Jesus se woorde aanvaar. Sy het gesê: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan” (Joh. 11:20-24). Sy was seker dat daar ’n opstanding in die toekoms sal wees. Jesus het toe ’n wonderwerk gedoen. Hy het Lasarus op daardie selfde dag opgewek.

2. Hoekom wil jy graag dieselfde oortuiging as Marta hê?

2 Ons het geen rede om te glo dat Jesus of sy Vader so ’n wonderwerk vir ons vandag sal doen nie. Maar is jy net soos Marta oortuig dat jou geliefdes in die toekoms ’n opstanding sal kry? Dalk is dit jou man of vrou, ma of pa, ouma of oupa wat gesterf het. Of dalk is jou hart gebreek omdat jou kind oorlede is. Jy kan nie wag om weer met jou geliefde te praat, ’n drukkie te gee of saam te lag nie. Maar soos Marta kan jy ook sê: ‘Ek weet dat my geliefde in die opstanding sal opstaan.’ Maar dit sal nog steeds vir elke Christen goed wees om te kyk hoekom hulle hiervan oortuig is.

3, 4. Hoe is Marta se oortuiging dalk versterk ná wat Jesus kort tevore gedoen het?

3 Marta het naby Jerusalem gebly. Sy het dalk nie gesien hoe Jesus die seun van ’n weduwee opgewek het naby Nain in Galilea nie. En miskien ook nie toe Jesus Jaïrus se dogter opgewek het nie. Maar sy het dalk daarvan gehoor. Almal wat by die meisie se huis was, het geweet “dat sy gesterf het”. Tog het Jesus haar handjie gevat en gesê: “Meisie, staan op!”, en sy het onmiddellik opgestaan (Luk. 7:11-17; 8:41, 42, 49-55). Marta en haar suster, Maria, het geweet dat Jesus die siekes kon gesond maak. Daarom het hulle geglo dat hulle broer nie sou gesterf het as Jesus daar was nie. Maar Lasarus het gesterf. Watter hoop het Marta gehad? Let op dat Marta gesê het dat Lasarus in die toekoms, “op die laaste dag”, sal opstaan. Hoekom kon sy dit glo? En hoekom kan jy daarvan seker wees dat jou geliefdes in die toekoms opgewek kan word?

4 Daar is goeie redes om te glo dat daar ’n opstanding gaan wees. Ons gaan nou ’n paar van hulle bespreek. Jy mag dalk dinge oor die opstanding in die Bybel sien waaraan jy nie voorheen gedink het nie. Dit sal jou geloof versterk dat jy weer jou geliefdes sal sien.

GEBEURE WAT ONS HOOP GEE!

5. Wat het Marta oortuig dat Lasarus opgewek sal word?

5 Let op dat Marta nie gesê het: ‘Ek hoop dat my broer sal opstaan’ nie. Sy het gesê: “Ek weet dat hy . . . sal opstaan.” Marta was oortuig daarvan, want sy het geweet van persone wat in die verlede opgewek is. Toe sy jonk was, het sy moontlik daarvan by die huis en by die sinagoge geleer. Ons gaan nou na drie verhale in die Bybel kyk oor persone wat opgewek is.

6. Van watter wonderwerk het Marta sekerlik geweet?

6 Die eerste opstanding het gebeur in die tyd toe Jehovah sy profeet Elia die krag gegee het om wonderwerke te doen. In Sarfat, ’n Fenisiese kusdorpie, was ’n arm weduwee baie gasvry teenoor die profeet. Jehovah het toe ’n wonderwerk gedoen. Hy het seker gemaak dat haar meel en olie nie opraak nie sodat sy en haar seun nie sou sterf nie (1 Kon. 17:8-16). Haar seun het later siek geword en gesterf. Maar Elia het haar gehelp. Terwyl hy aan die liggaam geraak het, het hy gebid: “God, laat die siel van hierdie kind asseblief in hom terugkeer.” En dit het gebeur! God het Elia se gebed gehoor, en die kind het lewend geword. Dit is die eerste opstanding wat in die Bybel genoem word. (Lees 1 Konings 17:17-24.) Marta het sekerlik van hierdie wonderwerk geweet.

7, 8. (a) Hoe het Elisa ’n vrou vertroos? (b) Wat leer Elisa se wonderwerk ons oor Jehovah?

7 Die tweede opstanding wat in die Bybel genoem word, is deur die profeet Elisa, Elia se opvolger, gedoen. In Sunem was daar ’n Israelitiese vrou wat nie kinders gehad het nie. Omdat sy baie gasvry was teenoor Elisa, het Jehovah haar en haar bejaarde man met ’n kind geseën. Maar ’n paar jaar later het die seun gesterf. Dink net hoe hartseer sy ma moes gewees het. Met haar man se toestemming het sy 30 kilometer gereis na Elisa by die berg Karmel. Die profeet het sy dienaar Gehasi na Sunem gestuur om die seun op te wek. Maar Gehasi kon nie die seun opwek nie. Toe het die ma, wat nog baie hartseer was, saam met Elisa by die huis aangekom.—2 Kon. 4:8-31.

8 Elisa het in die huis by die seun se liggaam gebid. Jehovah het na Elisa se gebed geluister en het die seun opgewek. Dit was ’n wonderwerk. Toe die ma sien dat haar seun weer lewe, was sy baie bly! (Lees 2 Konings 4:32-37.) Sy het dalk Hanna se gebed onthou. Hanna kon ook nie kinders kry totdat Jehovah haar geseën het nie. Toe sy Samuel na die tempel toe geneem het, het sy Jehovah geloof en gesê: “Jehovah . . . laat na Sjeool afdaal, en Hy laat daaruit opkom” (1 Sam. 2:6). Deur die seun in Sunem letterlik op te wek, het Jehovah gewys dat hy die vermoë het om die dooies op te wek.

9. Verduidelik wat gebeur het tydens die derde opstanding wat in die Bybel genoem word.

9 Nog ’n wonderlike ding het ná Elisa se dood gebeur. Hy het 50 jaar lank as ’n profeet gedien en toe het hy “siek geword aan die siekte waaraan hy sou sterf”. Later was al wat van Elisa se liggaam oorgebly het, sy beendere. ’n Paar Israeliete was op pad om ’n man te begrawe. Toe hulle ’n rowerbende sien aankom, het hulle die liggaam in die graf gegooi waar Elisa gelê het. Die Bybel sê: “Toe die man aan die beendere van Elisa raak, het hy onmiddellik lewend geword en op sy voete gaan staan” (2 Kon. 13:14, 20, 21). Hierdie gebeure het aan Marta bewys dat Jehovah mag oor die dood het. En dit moet ons ook oortuig dat God se krag ontsaglik en onbeperk is.

GEBEURE IN DIE EERSTE EEU

10. Wat het met ’n Christensuster gebeur, en hoe het Petrus haar gehelp?

10 In die Christelike Griekse Geskrifte lees ons ook van God se getroue knegte wat mense opgewek het. Ons het reeds genoem hoe Jesus iemand naby Nain en in die huis van Jaïrus opgewek het. Die apostel Petrus het ook iemand opgewek. Dit was ’n Christenvrou met die naam Dorkas (Tabita). Petrus het na die kamer toe gegaan waar haar liggaam gelê het. Hy het naby die liggaam gestaan en gebid. Toe sê hy: “Tabita, staan op!” Sy het dadelik lewendig geword en Petrus het haar voor die ander Christene ‘lewend voorgestel’. Wat hier gebeur het, was so oortuigend dat baie in die stad “in die Here begin glo” het. Hierdie nuwe dissipels kon vir almal oor die goeie nuus vertel, en dat Jehovah die vermoë het om die dooies op te wek.—Hand. 9:36-42.

11. Wat het met die jong man Eutigus gebeur, en hoe het ander daaroor gevoel?

11 Daar was nog ’n opstanding wat baie gesien het. By een geleentheid het die apostel Paulus ’n vergadering in ’n bovertrek in Troas gehou, wat nou Noordwes-Turkye is. Paulus het tot middernag toe gepraat. ’n Jong man met die naam Eutigus het by die venster gesit en luister. Maar hy het aan die slaap geraak en drie verdiepings ver geval. Dalk was Lukas die eerste persoon wat by Eutigus uitgekom het. Omdat hy ’n dokter was, het hy geweet dat Eutigus nie net seergekry het of bewusteloos was nie. Hy was dood! Paulus het ook na Eutigus toe gegaan en sy arms om Eutigus se liggaam gesit en gesê: “Sy siel is in hom.” Dink net hoe die mense gevoel het wat dit gesien het! Hulle “was uitermate vertroos” omdat hulle geweet het dat die jong man dood was en weer lewend geword het.—Hand. 20:7-12.

’N VASTE HOOP

12, 13. Watter vrae kan ons ons afvra as ons nadink oor die opstandings wat ons nou bespreek het?

12 Die verhale wat ons nou bespreek het, moet ons iets gee wat Marta gehad het. Dit moet ons die versekering gee dat ons God en Lewegewer die vermoë het om mense uit die dood op te wek. Dit is interessant dat getroue knegte van God soos Elia, Jesus of Petrus daar was toe hierdie mense opgewek is. En dit het gebeur gedurende die tyd toe Jehovah wonderwerke gedoen het. Maar wat van persone wat gesterf het toe sulke wonderwerke nie gedoen is nie? Kan getroue manne en vroue verwag dat God die dooies in die toekoms sal opwek as God tydens ’n sekere tyd nie wonderwerke gedoen het nie? Kan hulle soos Marta voel wat gesê het: “Ek weet dat [my broer] in die opstanding op die laaste dag sal opstaan”? Hoekom kon sy dit glo, en hoekom kan jy dit glo?

13 Daar is baie tekste in God se geïnspireerde Woord wat wys dat Jehovah se lojale knegte geweet het dat daar ’n opstanding in die toekoms gaan wees. Kom ons kyk na ’n paar van hulle.

14. Wat leer die verhaal van Abraham ons oor die opstanding?

14 Dink aan wat Jehovah vir Abraham gesê het hy met Isak moes doen, die seun waarvoor hy so lank gewag het. Jehovah het gesê: “Neem asseblief jou seun, jou enigste seun wat jy só liefhet, Isak, en . . . offer hom . . . as ’n brandoffer” (Gen. 22:2). Dink net hoe Abraham oor hierdie opdrag moes gevoel het. Jehovah het belowe dat al die nasies deur Abraham se nageslag geseën sou word (Gen. 13:14-16; 18:18; Rom. 4:17, 18). Jehovah het ook gesê dat hierdie seëninge ‘deur Isak’ sou kom (Gen. 21:12). Maar hoe kon dit gebeur as Abraham sy seun opgeoffer het? Paulus was geïnspireer om te verduidelik dat Abraham geglo het dat God Isak uit die dood sou opwek. (Lees Hebreërs 11:17-19.) Die Bybel sê nie dat Abraham gedink het dat Jehovah Isak dadelik sou opwek, miskien binne ’n paar uur, ’n dag of ’n week nie. Abraham het nie geweet wanneer sy seun ’n opstanding sou kry nie. Maar hy het vertrou dat Jehovah Isak sou opwek.

15. Watter hoop het die getroue man Job gehad?

15 Die getroue man Job het ook geweet dat daar ’n opstanding in die toekoms sal wees. Hy het geweet dat ’n boom weer kan groei al word dit afgekap. Maar dit is nie dieselfde vir die mens nie (Job 14:7-12; 19:25-27). ’n Persoon wat sterf, kan homself nie weer lewend maak nie (2 Sam. 12:23; Ps. 89:48). Maar dit beteken nie dat God nie ’n persoon kan opwek nie. Job het geglo dat Jehovah hom sal onthou. (Lees Job 14:13-15.) Hy het nie geweet wanneer in die toekoms dit sal gebeur nie. Nogtans het hy vertrou dat die Een wat die mens geskep het, hom kon en sal onthou en hom sal opwek.

16. Hoe het ’n engel Daniël aangemoedig?

16 Daniël is nog ’n getroue kneg waarvan ons in die Bybel lees. Hy het sy hele lewe lank Jehovah getrou gedien, en Jehovah het hom ondersteun. ’n Engel het Daniël ’n “besonder geliefde man” genoem en gesê dat hy ‘vrede moes hê’ en ‘sterk moes wees’.—Dan. 9:22, 23; 10:11, 18, 19.

17, 18. Wat het Jehovah Daniël belowe?

17 Daniël was amper ’n 100 jaar oud en naby aan die einde van sy lewe. Hy het dalk gewonder wat met hom sou gebeur. Sal hy weer lewe? Natuurlik! Aan die einde van die boek Daniël, lees ons die belofte wat God hom gegee het: “En wat jou betref, gaan die einde tegemoet; en jy sal rus” (Dan. 12:13). Die bejaarde Daniël het geweet dat die dooies rus en dat daar geen “beplanning of kennis of wysheid in Sjeool” is nie, waar hy binnekort sou wees (Pred. 9:10). Maar ons sal hom weer sien. Jehovah het Daniël ’n wonderlike toekoms belowe.

18 Jehovah se engel het verder gesê: “Jy sal opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae.” Daniël het nie geweet presies wanneer dit sou wees nie. Hy het geweet dat hy sou sterf en sou rus. Maar deur te sê dat hy sou ‘opstaan tot sy bestemming’ in die toekoms, is ’n duidelike belofte dat hy wel ’n opstanding sal kry—lank nadat hy dood is. Dit sal “aan die einde van die dae” gebeur.

Ons kan net soos Marta oortuig wees dat daar ’n opstanding sal wees (Sien paragraaf 19, 20)

19, 20. (a) Wat het die gebeure wat ons nou bespreek het, te doen met Marta se woorde aan Jesus? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

19 Marta het goeie rede gehad om te glo dat haar getroue broer, Lasarus, “in die opstanding op die laaste dag sal opstaan”. Jehovah se belofte aan Daniël, en Marta se vaste geloof dat daar ’n opstanding in die toekoms sal wees, moet ons ook daarvan oortuig. Daar sal ’n opstanding wees.

20 Ons het gebeure van die verlede bespreek wat wys dat ’n opstanding moontlik is. Dit is ’n bewys dat die dooies weer kan lewe. Ons het ook gesien dat manne en vroue wat Jehovah getrou gedien het, uitgesien het na ’n opstanding in die toekoms. Maar is daar enige bewyse dat ’n opstanding kan gebeur lank nadat dit belowe is? Indien wel, gee dit ons selfs meer rede om te glo dat daar ’n opstanding in die toekoms sal wees. Maar wanneer sal dit gebeur? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.