Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ouers—Help julle kinders om wys te word vir redding

Ouers—Help julle kinders om wys te word vir redding

“Dat jy van kleintyd af die heilige geskrifte geken het, wat jou wys kan maak tot redding.”—2 TIM. 3:15.

LIED: 141, 134

1, 2. Hoekom is party ouers dalk bekommerd wanneer hulle kinders besluit om hulle toe te wy en gedoop te word?

ELKE jaar besluit duisende Bybelstudente om hulle aan Jehovah toe te wy en gedoop te word. Baie is jongmense wat in die waarheid grootgeword het en die beste lewe gekies het (Ps. 1:1-3). As ’n Christenouer, sien jy seker uit na die dag wanneer jou seun of dogter gedoop sal word.—Vergelyk 3 Johannes 4.

2 Maar jy is dalk ’n bietjie bekommerd. Jy het dalk al gesien dat party jongmense gedoop word, maar later het hulle begin twyfel of dit nog steeds vir hulle die beste lewe is. ’n Paar het selfs besluit om Jehovah nie meer te dien nie. Daarom is jy dalk bekommerd dat jou kind ook later sy liefde vir die waarheid sal verloor, nadat hy gedoop is. Jou kind kan dalk soos die Christene in Efese word. Jesus het van hulle gesê: ‘Julle het die liefde wat julle eers gehad het, verlaat’ (Op. 2:4). Hoe kan jy jou kind help om sy liefde sterk te hou sodat hy “tot redding kan groei”? (1 Pet. 2:2). Kom ons kyk wat ons uit die voorbeeld van Timoteus kan leer.

‘JY HET DIE HEILIGE GESKRIFTE GEKEN’

3. (a) Hoe het Timoteus ’n Christen geword, en hoe het hy toegepas wat hy geleer het? (b) Watter drie dinge het Paulus vir Timoteus genoem?

3 In die jaar 47 het die apostel Paulus Listra vir die eerste keer besoek. Dit is moontlik waar Timoteus, wat toe ’n tiener was, van Jesus geleer het. Timoteus het toegepas wat hy geleer het, en toe twee jaar later saam met Paulus begin reis. Omtrent 16 jaar later het Paulus aan Timoteus geskryf: “Bly . . . in die dinge wat jy geleer het en oortuig is om te glo, aangesien jy weet by watter persone jy dit geleer het en dat jy van kleintyd af die heilige geskrifte [die Hebreeuse Geskrifte] geken het, wat jou wys kan maak tot redding deur die geloof in verband met Christus Jesus” (2 Tim. 3:14, 15). Let op dat Paulus gesê het dat Timoteus (1) die heilige geskrifte geken het, (2) oortuig was om te glo wat hy geleer het en (3) wys geword het vir redding deur geloof in Christus Jesus.

4. Wat het jou gehelp om jou kinders te leer? (Sien prent aan begin van artikel.)

4 As ’n Christenouer, wil jy hê dat jou kind die heilige geskrifte moet ken. Vandag sluit dit die Hebreeuse Geskrifte en die Christelike Griekse Geskrifte in. Selfs jong kinders kan oor die mense en gebeure in die Bybel leer. Jehovah se organisasie gee baie boeke, brosjures en video’s wat ouers kan gebruik om hulle kinders te help. Kan jy aan ’n paar dink wat in jou taal beskikbaar is? Onthou, jou kind moet weet wat in die Bybel staan om ’n goeie vriend van Jehovah te word.

‘OORTUIG OM TE GLO’

5. (a) Wat beteken dit om ‘oortuig te wees om te glo’? (b) Hoe weet ons dat Timoteus oortuig was om die goeie nuus oor Jesus te glo?

5 Kennis van die Bybel is belangrik. Maar dit is nie genoeg om jou kinders net van die mense en gebeure in die Bybel te leer nie. Timoteus was ook ‘oortuig om te glo’. Hierdie uitdrukking in die oorspronklike taal beteken “om verseker te word van” of “om seker te wees dat iets waar is”. Timoteus het die Hebreeuse Geskrifte van kleintyd af geken. Maar later was hy oortuig dat Jesus die Messias was. Timoteus se geloof was so sterk, dat hy gedoop is en ’n sendeling geword het saam met Paulus.

6. Hoe kan jy jou kinders help om hulle geloof in God se Woord op te bou?

6 Hoe kan jy jou kinders help om geloof soos Timoteus te hê sodat hulle ook oortuig is om te glo? Eerstens, wees geduldig. ’n Mens word nie oornag oortuig nie. En net omdat jy geloof het in iets, beteken dit nie dat dit na jou kinders oorgedra sal word nie. Elke kind moet sy eie “denkvermoë” gebruik om geloof in die Bybel op te bou. (Lees Romeine 12:1.) As ’n ouer, speel jy ’n belangrike rol om jou kinders se geloof te versterk, veral as hulle vrae het. Kom ons kyk na ’n voorbeeld.

7, 8. (a) Hoe wys ’n Christenpa dat hy geduld het wanneer hy sy dogter leer? (b) Wanneer moes jy geduldig met jou kind wees?

7 Thomas, die pa van ’n 11-jarige dogter, vertel dat sy dogter hom soms vrae vra, soos: “Kon Jehovah evolusie gebruik het om lewe op die aarde te skep?” of “Hoekom help ons nie in die gemeenskap om dinge beter te maak nie, soos om te stem?” Hy sê: “Soms moet ek myself keer om nie net vir haar te sê wat sy moet glo nie. Dit is nie net een groot ding wat jou oortuig nie. Dit is ’n klomp klein stukkies bewyse wat jou van iets oortuig.”

8 Thomas weet ook dat hy geduldig moet wees wanneer hy sy dogter leer. Maar eintlik het alle Christene geduld nodig (Kol. 3:12). Thomas besef dat hy ’n hele paar gesprekke oor ’n lang tyd met sy dogter sal moet hê. Hy moet met haar redeneer oor wat sy uit die Bybel leer sodat sy ook oortuig kan wees. Thomas sê: “Ek en my vrou wil graag weet of ons dogter werklik glo wat sy leer en dit verstaan, veral oor belangrike dinge. Dit is goed as sy vrae het. Ek sal nogal bekommerd wees as sy net iets aanvaar sonder om vrae te vra.”

9. Hoe kan jy jou kinders help om te glo wat God se Woord sê?

9 As ouers hulle kinders geduldig leer, sal die kinders met tyd “die breedte en lengte en hoogte en diepte” van geloof verstaan (Ef. 3:18). Ons kan hulle op ’n manier leer wat hulle sal verstaan en wat by hulle ouderdom sal pas. As hulle oortuig is van wat hulle leer, sal dit vir hulle makliker wees om hulle geloof voor ander te verdedig, selfs voor hulle skoolmaats (1 Pet. 3:15). Byvoorbeeld, kan jou kinders uit die Bybel verduidelik wat met ons gebeur wanneer ons sterf? Verstaan hulle die Bybel se verduideliking? * Onthou dat jy geduldig moet wees om jou kind te help om in God se Woord te glo, maar dit is die moeite werd.—Deut. 6:6, 7.

10. Wat moet ’n belangrike deel van jou onderrigting wees?

10 Jou voorbeeld is ook belangrik om jou kinders te help om hulle geloof op te bou. Stephanie, ’n ma van drie dogters, sê: “Vandat my kinders baie klein was, moes ek my afvra: ‘Vertel ek my kinders hoekom ek oortuig is dat Jehovah bestaan, van sy liefde en dat hy regverdig is? Kan my kinders sien dat ek regtig vir Jehovah lief is?’ Ek kan nie verwag dat my kinders oortuig moet wees as ek nie oortuig is nie.”

‘WORD WYS VIR REDDING’

11, 12. Wat is wysheid, en hoe weet ons dat dit nie afhang van hoe oud ’n persoon is nie?

11 Soos ons gesien het, het Timoteus (1) kennis van die Skrif gehad en (2) was hy oortuig van wat hy geglo het. Maar wat het Paulus bedoel toe hy gesê het dat die heilige geskrifte Timoteus ‘wys kon maak vir redding’?

12 Insight on the Scriptures, Deel 2, verduidelik dat, in die Bybel, wysheid “die vermoë [is] om kennis en insig te gebruik om probleme op te los, gevare te vermy of te voorkom, doelwitte te bereik of goeie raad te gee. Dit is die teenoorgestelde van dwaasheid.” Die Bybel sê: “Dwaasheid sit vas in die hart van ’n seun” (Spr. 22:15). Omdat wysheid die teenoorgestelde van dwaasheid is, kan ons sê dat wysheid ’n bewys van volwassenheid is. ’n Persoon word geestelik volwasse omdat hy Jehovah vrees en gehoorsaam aan hom wil wees, nie net omdat hy ouer word nie.—Lees Psalm 111:10.

13. Hoe kan jongmense toon dat hulle wys is vir redding?

13 Jongmense wat tot geestelike volwassenheid groei word nie ‘rondgeslinger soos deur golwe, hiernatoe en daarnatoe’ deur hulle begeertes of ander jongmense se invloed nie (Ef. 4:14). Hulle “waarnemingsvermoëns” word eerder “deur gebruik geoefen . . . om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Heb. 5:14). Daarom maak hulle wyse besluite, selfs wanneer hulle ouers of ander volwassenes hulle nie kan sien nie (Fil. 2:12). Sulke wysheid is nodig om gered te word. (Lees Spreuke 24:14.) Hoe kan jy jou kinders help om sulke wysheid te hê? Jy moet seker maak dat jou kinders weet wat jou waardes is. Wat jy sê en doen moet vir hulle wys dat jy volgens Bybelstandaarde probeer lewe.—Rom. 2:21-23.

Hoekom moet ouers aanhou om hulle kinders te help? (Sien paragraaf 14-18)

14, 15. (a) Waaraan moet ’n jong persoon dink wat gedoop wil word? (b) Hoe kan jy jou kinders help om na te dink oor die seëninge wat hulle sal geniet as hulle gehoorsaam is aan God se wette?

14 Maar jy moet meer doen as om net vir jou kinders te wat reg en verkeerd is. Jy moet hulle ook help om oor vrae te redeneer soos: ‘Hoekom sê die Bybel dat sekere dinge wat vir jou dalk lekker lyk, verkeerd is? Hoe kan ek seker wees dat die Bybel se standaarde altyd goed is vir my?’—Jes. 48:17, 18.

15 As jou kind gedoop wil word, moet jy hom ook help om te verstaan wat die verantwoordelikheid van ’n gedoopte Christen is. Wat is die voordele? Watter probleme kan daar dalk wees? Hoekom is dit alles die moeite werd? (Mark. 10:29, 30). Daarom is dit belangrik om eers mooi oor hierdie dinge te dink voordat jy gedoop word. Help jou kinders om na te dink oor die seëninge wat hulle sal geniet as hulle gehoorsaam is en oor die gevolge as hulle ongehoorsaam is. Dit sal hulle help om daarvan oortuig te wees dat dit altyd goed is om volgens die Bybel se standaarde te lewe.—Deut. 30:19, 20.

AS ’N GEDOOPTE JONGMENS BEGIN TWYFEL

16. Wat moet ouers doen as hulle gedoopte kind se geloof begin verswak?

16 Wat kan jy doen as jou kind oor die waarheid begin twyfel nadat hy gedoop is? Byvoorbeeld, miskien begin jou seun of dogter van die dinge in die wêreld hou. Of hulle begin dalk twyfel of dit regtig beter is om volgens Bybelstandaarde te lewe (Ps. 73:1-3, 12, 13). As ’n ouer, moet jy besef dat die manier hoe jy op sulke vrae reageer, jou kind se keuse om Jehovah te dien of nie, sal beïnvloed. Probeer om nie met jou kind hieroor te baklei nie, maak nie saak of hy baie jonk of ’n tiener is nie. Maak eerder seker dat jou kind weet dat jy vir hom lief is en hom wil help.

17, 18. Hoe kan ouers hulle kind help as hy begin twyfel?

17 ’n Jong persoon wat gedoop is, het hulle lewe aan Jehovah toegewy. Dit is ’n belofte om Jehovah te dien en hom lief te hê bo alle ander dinge. (Lees Markus 12:30.) Jehovah neem hierdie belofte baie ernstig op, en ons moet ook (Pred. 5:4, 5). Jy moet jou kind, op die regte tyd en op ’n mooi manier, hieraan herinner. Maar voordat jy dit doen, moet jy eers ’n bietjie navorsing gaan doen in die publikasies wat Jehovah se organisasie vir ouers gee. As jy dit doen, sal dit jou help om vir jou kind te sê dat sy toewyding aan Jehovah en sy doop baie ernstig is, maar dat dit vir hom baie seëninge sal bring.

18 Byvoorbeeld, daar is goeie raad in die aanhangsel “Vrae wat ouers vra”, agter in die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1. Dit sê: “In die eerste plek moet jy nie te gou tot die gevolgtrekking kom dat jou tiener jou geloof verwerp het nie. In baie gevalle is daar ’n onderliggende probleem.” Dit kan dalk druk van ander kinders wees of hulle voel dalk baie alleen. Miskien voel hulle dat ander jong Christene geestelik beter doen as hulle. Die aanhangsel sê verder: “Let daarop dat hierdie dinge min te doen het met jou geloofsoortuigings. Dit het eerder te doen met omstandighede wat dit—ten minste nou—vir jou kind moeilik maak om sy geloof na te leef.” Dan gee die aanhangsel voorstelle wat ouers kan help as hulle kind dalk oor die waarheid twyfel.

19. Hoe kan ouers hulle kinders help om wys te word vir redding?

19 As ’n ouer, het jy die belangrike verantwoordelikheid en voorreg om jou kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” groot te maak (Ef. 6:4). Soos ons gesien het, beteken dit dat jy jou kinders moet leer wat die Bybel sê en hulle moet help om daarvan oortuig te wees. As hulle oortuig is en sterk geloof het, sal hulle hulle lewe aan Jehovah toewy en hulle beste vir hom gee. Mag Jehovah se Woord, sy gees en die hulp wat jy jou kinders gee, hulle help om wys te word vir redding.

^ par. 9 Die studiehulpe vir “Wat leer die Bybel werklik?” is ’n wonderlike manier om jonk en oud te help om Bybelwaarhede te verstaan en te verduidelik. Jy kan dit op jw.org in baie tale kry. Kyk onder BYBELLERINGE > BYBELSTUDIEHULPE.