Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Stem die gebruik van ’n IUD (intra-uteriene apparaat) as geboortebeperking deur getroude Christene ooreen met Bybelbeginsels?

Elke Christenegpaar moet self die feite en Bybelbeginsels wat hierby betrokke is, oorweeg. Dan moet hulle ’n besluit maak wat hulle sal help om ’n goeie gewete voor God te behou.

Toe daar net twee mense op die aarde was (en agt ná die Vloed), het Jehovah gesê: “Wees vrugbaar en word baie” (Gen. 1:28; 9:1). Die Bybel sê nie dat hierdie woorde ook op Christene van toepassing is nie. Daarom moet elke egpaar besluit of hulle geboortebeperking gaan gebruik om te beheer hoeveel kinders hulle gaan hê of wanneer hulle kinders gaan hê. Maar wat is van die dinge wat hulle in gedagte moet hou?

Christene moet seker maak dat enige geboortebeperking wat hulle gebruik, met Bybelbeginsels ooreenstem. Daarom aanvaar Christene nie aborsie as ’n vorm van geboortebeperking nie. Dit is verkeerd om vrywilliglik ’n aborsie te ondergaan, want die Bybel sê dat ons respek vir lewe moet hê. Christene sal nie kies om ’n lewe te beëindig wat normaalweg tot die geboorte van ’n persoon sou lei nie (Eks. 20:13; 21:22, 23; Ps. 139:16; Jer. 1:5). Wat van die gebruik van ’n IUD?

Hierdie onderwerp was bespreek in Die Wagtoring van 15 Augustus 1979 bladsy 23-24. Die meeste IUD’s wat toe algemeen beskikbaar was, was onaktiewe plastiekvoorwerpe wat in die uterus (baarmoeder) geplaas is om swangerskappe te voorkom. Die artikel het erken dat daar nie ten volle verstaan was hoe sulke IUD’s werk nie. Baie spesialiste het gesê dat onaktiewe IUD’s ’n reaksie in die uterus veroorsaak wat dit moeilik maak vir sperm om ’n vrou se eiersel te bereik en te bevrug. As bevrugting nie plaasgevind het nie, het ’n nuwe lewe nie begin nie.

Maar volgens bewyse wil dit voorkom asof ’n eiersel tog soms bevrug kan word. Die pasbevrugte eiersel ontwikkel dalk in ’n Fallopius-buis (’n ektopiese swangerskap) of beweeg dalk tot in die baarmoeder. In die laasgenoemde geval kan die IUD inmeng met die inplanting van die bevrugte eiersel in die wand van die baarmoeder en die ontwikkeling daarvan tot ’n normale swangerskap. Om die ontwikkelende lewe te beëindig, is dieselfde as ’n aborsie. Daardie artikel het afgesluit: “Die opregte Christen wat besorg is oor die regmatigheid daarvan om ’n IUD te gebruik, moet sulke informasie ernstig oorweeg in die lig van ’n Bybelgebaseerde eerbied vir die heiligheid van lewe.”—Ps. 36:9.

Was daar betekenisvolle wetenskaplike of mediese ontwikkeling sedert daardie artikel in 1979 gedruk is?

Twee nuwe soorte IUD’s is nou beskikbaar. Een soort IUD wat koper bevat, het teen 1988 in die Verenigde State algemeen beskikbaar geword. En IUD’s wat ’n hormoon vrystel, het teen 2001 op die mark gekom. Wat weet ons oor hoe hierdie twee IUD’s werk?

Koper: Soos genoem is, lyk dit asof IUD’s dit vir sperm moeilik maak om deur die uterus te beweeg om ’n eiersel te bereik. En die koper wat deur hierdie soort IUD vrygestel word, is giftig vir sperm, en dit dien as ’n spermdoder. * IUD’s wat koper bevat, kan blykbaar ook sekere veranderinge in die wand van die uterus veroorsaak.

Hormoon: Daar is verskillende soort IUD’s wat ’n hormoon bevat wat soortgelyk is aan die hormoon wat dikwels in voorbehoedpille is. Hierdie IUD’s stel die hormoon in die uterus vry. Dit lyk asof hierdie IUD’s ovulasie in party vroue onderdruk. As ’n eiersel nie vrygestel word nie, kan bevrugting natuurlik nie plaasvind nie. Behalwe hiervoor, word daar gemeen dat die hormoon in hierdie IUD’s ook die wand van die uterus verdun. * Dit verdik ook die slym van die serviks, wat dan die sperm verhoed om van die vagina tot in die uterus te beweeg. Hierdie uitwerkings wat so pas genoem is, is bo en behalwe dit wat gewoonlik deur onaktiewe IUD’s veroorsaak word.

Soos genoem is, lyk dit asof albei soorte IUD’s sekere veranderinge in die wand van die uterus veroorsaak. Maar sê nou ovulasie vind wel plaas en ’n eiersel word bevrug? Dit kan dalk in die uterus ingaan, maar die veranderde wand sal nie vatbaar wees vir die inplanting van die bevrugte eiersel nie. Op hierdie manier sal die swangerskap op ’n vroeë stadium beëindig word. Maar daar word gemeen dat sulke “mislukte” inplantings baie min plaasvind, wat ook soms die geval met mondelikse voorbehoedpille is.

Niemand kan met ander woorde met sekerheid sê dat die bevrugting van ’n eiersel nooit sal plaasvind wanneer IUD’s wat koper of ’n hormoon bevat, gebruik word nie. Maar wetenskaplike bewyse toon dat die kanse op ’n swangerskap baie min is met die gebruik van sulke IUD’s as gevolg van die verskillende uitwerkings wat in hierdie artikel bespreek is.

’n Christenegpaar wat dit oorweeg om ’n IUD te gebruik, moet dalk met ’n gekwalifiseerde mediese deskundige praat oor die IUD-produkte wat plaaslik beskikbaar is. Dit sal ook goed wees om uit te vind wat die moontlike voordele en gevare vir die vrou kan wees. Die egpaar moenie verwag of toelaat dat iemand anders, selfs nie eers ’n dokter, besluit wat hulle moet doen nie (Rom. 14:12; Gal. 6:4, 5). Dit is ’n persoonlike besluit. Wanneer die egpaar hierdie besluit neem, moet dit vir hulle belangrik wees om God gelukkig te maak en ’n goeie gewete voor hom te behou.—Vergelyk 1 Timoteus 1:18, 19; 2 Timoteus 1:3.

^ par. 4 ’n Boek deur Engeland se Nasionale Gesondheidsdiens sê: “IUD’s wat meer koper bevat, is meer as 99% effektief. Dit beteken dat minder as 1 uit 100 vroue wat ’n IUD gebruik, in ’n jaar swanger sal raak. IUD’s met minder koper is minder effektief.”

^ par. 5 Omdat dit die wand van die uterus verdun, word IUD’s wat ’n hormoon bevat, soms voorgeskryf vir getroude of ongetroude vroue om baie swaar menstruasie te beheer.