Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wat bedoel die apostel Paulus wanneer hy sê dat hy “na die derde hemel” en “tot in die paradys weggeruk is”? — 2 Kor. 12:2-4.

In 2 Korintiërs 12:2, 3 verwys Paulus na ’n mens wat “na die derde hemel weggeruk is”. Na wie het Paulus verwys? In sy brief aan die gemeente in Korinte beklemtoon Paulus dat God hom as ’n apostel gebruik het (2 Kor. 11:5, 23). Dan praat hy van “visioene en openbarings van die Here”. Paulus het hier nie van ander broers gepraat nie. Ons kan sien dat Paulus hier eintlik van homself praat as die een wat die visioene en openbarings gehad het. — 2 Kor. 12:1, 5.

Dit was Paulus wat “na die derde hemel” en “tot in die paradys weggeruk is” (2 Kor. 12:2-4). Die woord “openbarings” wat Paulus hier gebruik, verwys na dinge in die toekoms.

Wat was “die derde hemel” wat Paulus gesien het?

Volgens die Bybel kan die woord “hemel” na die fisiese hemel, of die lug, verwys (Gen. 11:4; 27:28; Matt. 6:26). Die woord “hemel” kan ook na ander dinge verwys. Partykeer verwys dit na menseheerskappy (Dan. 4:20-22). Of dit kan na goddelike heerskappy verwys, soos heerskappy deur middel van die Koninkryk van God. — Op. 21:1.

Paulus het “die derde hemel” gesien. Wat het hy bedoel? Partykeer word iets in die Bybel drie keer herhaal om klem, intensiteit of groter krag aan te dui (Jes. 6:3; Eseg. 21:27; Op. 4:8). Toe Paulus van “die derde hemel” gepraat het, het hy blykbaar ’n oortreffende trap gebruik om die hoogste vorm van heerskappy te beskryf — die Messiaanse Koninkryk onder Jesus Christus en sy 144 000 medeheersers. (Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bl. 1059, 1062.) Soos die apostel Petrus gesê het, verwag ons die “nuwe hemele”, net soos Jehovah belowe het. — 2 Pet. 3:13.

Maar wat het Paulus met “paradys” bedoel?

Die woord “paradys” kan ook baie dinge beteken: (1) Dit kan verwys na die letterlike Paradys wat binnekort op die aarde sal bestaan. (2) Dit kan ook verwys na die geestelike paradys wat God se volk in die nuwe wêreld sal geniet. (3) En dit kan verwys na die wonderlike toestande in die hemel, “die paradys van God”, wat in Openbaring 2:7 beskryf word. — Sien Die Wagtoring van 15 Julie 2015, bl. 4, par. 8.

In 2 Korintiërs 12:4 het Paulus heel moontlik na al drie hierdie aspekte verwys toe hy sy ondervinding beskryf het.

Om op te som:

“Die derde hemel” in 2 Korintiërs 12:2 verwys heel waarskynlik na die Messiaanse Koninkryk in die hande van Jesus Christus en die 144 000. Dit word ook die “nuwe hemele” genoem. — 2 Pet. 3:13.

Dit word as “die derde hemel” beskryf, want die Koninkryk is die hoogste vorm van heerskappy.

Die “paradys” waarheen Paulus in ’n visioen “weggeruk is”, verwys waarskynlik na (1) die fisiese Paradys wat op die aarde gaan wees, (2) die geestelike paradys wat dan sal bestaan, wat baie groter gaan wees as die geestelike paradys wat vandag bestaan en (3) die “paradys van God” wat terselfdertyd in die hemel sal bestaan.

Gevolglik sal die nuwe wêreld ’n kombinasie van die nuwe hemele en die nuwe aarde wees. Dit sal ’n nuwe reëling wees wat bestaan uit die hemelse Koninkryksregering en mense wat Jehovah op ’n paradysaarde dien.