Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Jehovah was goed vir ons

Jehovah was goed vir ons

NET nadat ek en my vrou, Danièle, by die hotel aangekom het, het die ontvangsdame vir my gesê: “Meneer, kan jy asseblief die grenspolisie bel?” Ons het ’n paar uur tevore in Gaboen aangekom, ’n land in Wes-Afrika, waar daar in die 1970’s ’n verbod op ons werk was.

Danièle, wat nog altyd vinnig kon dink, het in my oor gefluister: “Jy hoef nie die polisie te bel nie — hulle is al klaar hier!” Reg agter ons het ’n voertuig voor die hotel stilgehou. ’n Paar minute later is ons albei deur soldate gearresteer. Maar as gevolg van Danièle se waarskuwing het ek darem tyd gehad om ’n paar dokumente vir ’n ander broer te gee.

Terwyl ons na die polisiestasie geneem is, het ek gedink aan hoe gelukkig ek is om so ’n moedige en geestelike vrou te hê. Dit was net een van die baie kere dat ek en Danièle as ’n span saamgewerk het. Kom ek verduidelik hoe dit gekom het dat ons lande besoek het waar ons predikingswerk verbied is.

JEHOVAH HET MY OË LAAT OOPGAAN

Ek is in 1930 in Croix gebore, ’n klein dorpie in die noorde van Frankryk. My familie was getroue Katolieke. Ons gesin het elke week die mis bygewoon, en my pa was baie betrokke by die plaaslike kerk. Maar toe ek amper 14 was, het iets gebeur wat my laat sien het hoe skynheilig die kerk is.

Frankryk is gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur die Duitse weermag beset. Ons priester het ons gereeld in sy preke aangespoor om die pro-Nazi-regering van Vichy te ondersteun. Sy preke het ons baie ontstel. Soos baie ander mense in Frankryk, het ons in die geheim geluister na die radiostasie BBC, wat nuus van die Geallieerdes uitgesaai het. Toe het die priester ’n ander deuntjie begin sing en ’n dankdiens gereël om die Geallieerdes se opmars in September 1944 te vier. Dit het my geskok en my vertroue in die geestelikes afgebreek.

My pa is kort ná die oorlog oorlede. My ouer suster was reeds getroud en het in België gewoon, en ek het gevoel dat dit my verantwoordelikheid is om vir my ma te sorg. Ek het ’n werk gekry in die tekstielbedryf. My baas en sy seun was getroue Katolieke. Ek het ’n blink toekoms in hulle maatskappy gehad, maar ek sou binnekort voor ’n toets te staan kom.

My suster Simone, wat ’n Getuie geword het, het in 1953 by ons kom kuier. Sy het haar Bybel gebruik om doeltreffend te bewys dat die Katolieke Kerk se leringe oor die helse vuur, die Drie-eenheid en die onsterflikheid van die siel vals is. Eers het ek gesê dat sy nie die Katolieke Bybel gebruik nie, maar dit was nie lank voordat ek oortuig was dat sy die waarheid praat nie. Later het sy vir my ouer Wagtorings gebring, wat ek saans gretig in my kamer gelees het. Ek het gou besef dat dit die waarheid is, maar ek was bang dat ek dalk my werk sou verloor as ek besluit om ’n Getuie te word.

Ek het ’n paar maande lank die Bybel en die Wagtoring-artikels op my eie bestudeer. Uiteindelik het ek besluit om na ’n Koninkryksaal te gaan. Die liefdevolle atmosfeer in die gemeente het my diep geraak. Nadat ’n ervare broer die Bybel ses maande lank met my studeer het, is ek in September 1954 gedoop. Kort daarna het my ma en my jonger suster Getuies geword, iets wat my baie gelukkig gemaak het.

ONS VERTROU OP JEHOVAH IN DIE VOLTYDSE DIENS

Ongelukkig is my ma in 1958 oorlede, ’n paar weke voor die internasionale byeenkoms in New York. Ek het die voorreg gehad om hierdie byeenkoms by te woon. Toe ek teruggaan huistoe, het ek nie meer gesinsverantwoordelikhede gehad nie, en daarom het ek uit my sekulêre werk bedank en begin pionier. Intussen het ek verloof geraak aan ’n ywerige pioniersuster, Danièle Delie, wat in Mei 1959 my geliefde vrou geword het.

Danièle het haar voltydse diens begin in die plattelandse gebied Bretagne, wat ver van haar huis af was. Sy het moed nodig gehad om in daardie Katolieke gebied te preek en om met ’n fiets na die gebied te ry. Sy was, net soos ek, aangedryf deur ’n diepe gevoel van dringendheid, want ons het nie geweet hoe naby die einde dalk is nie (Matt. 25:13). Haar selfopofferende gees het ons gehelp om in die voltydse bediening te volhard.

’n Paar dae nadat ons getroud is, is ons gevra om op die kring te dien. Ons het aangepas by lewensomstandighede wat nogal eenvoudig was. Die eerste gemeente wat ons besoek het, het net 14 verkondigers gehad, en die broers kon ons nie huisves nie. Ons het toe op matrasse op die verhoog in die Koninkryksaal geslaap. Dit was nie juis gemaklik of ideaal nie, maar dit was baie goed vir die rug!

Ons het gemeentes in ons karretjie besoek

Al het ons ’n besige rooster gehad, het Danièle goed aangepas by die reisende werk. Sy moes dikwels vir my in ons karretjie wag wanneer daar ’n onbeplande ouermanvergadering was, maar sy het nooit gekla nie. Ons was net twee jaar op die kring, en gedurende hierdie tyd het ons geleer hoe belangrik dit vir ’n egpaar is om openhartig te kommunikeer en om as ’n span saam te werk. — Pred. 4:9.

NUWE TOEWYSINGS

In 1962 is ons genooi na die tien maande lange kursus van die 37ste klas van die Gileadskool, in Brooklyn, New York. Uit die 100 studente was daar 13 getroude paartjies, en daarom was dit vir ons ’n voorreg om die klas saam by te woon. Ek het nog steeds goeie herinneringe van ons tye saam met steunpilare in die geloof, soos Frederick Franz, Ulysses Glass en Alexander H. Macmillan.

Ons was so bly om die Gileadskool saam by te woon!

Gedurende ons opleiding is ons aangemoedig om oplettend te wees. Party Saterdagmiddae, wanneer die klas verby was, het ons as deel van ons opleiding interessante plekke in die stad New York besoek. Ons het geweet dat ons Maandag ’n toets sou skryf oor wat ons gesien het. Ons het gewoonlik Saterdagaand moeg by die huis gekom, maar ons toergids, ’n vrywilliger by Bethel, het vir ons hersieningsvrae gevra om ons te help om belangrike punte vir die toets te onthou. Een Saterdag het ons die hele middag in die stad rondgeloop. Ons het ’n observatorium besoek waar ons geleer het van meteore en meteoriete. Ons het by die Amerikaanse Museum van Natuurgeskiedenis die verskil geleer tussen ’n alligator en ’n krokodil. Toe ons terug was by Bethel, het ons toergids gevra: “So, wat is die verskil tussen ’n meteoor en ’n meteoriet?” Danièle was moeg en het geantwoord: “Wel, meteoriete het langer tande!”

Ons het dit geniet om ons getroue broers en susters in Afrika te besoek

Ons was baie verras toe ons toegewys is na die takkantoor in Frankryk, waar ons meer as 53 jaar lank saam gedien het. In 1976 is ek as koördineerder van die Takkomitee aangestel en ook aangewys om lande in Afrika en die Midde-Ooste te gaan besoek waar daar ’n verbod of beperkings op ons predikingswerk was. Dit is hoekom ons toe Gaboen gaan besoek het, waar die ondervinding aan die begin van die artikel plaasgevind het. Om eerlik te wees, ek het soms gevoel dat ek nie hierdie onverwagse verantwoordelikhede kan nakom nie. Maar danksy Danièle se waardevolle hulp, het ek gevoel dat ek enige toewysing kan aanpak.

Ek tolk ’n toespraak deur broer Theodore Jaracz by die “Goddelike geregtigheid”-streekbyeenkoms wat in 1988 in Parys gehou is

ONS VERDUUR ’N BAIE MOEILIKE TYD

Van die begin af was ons baie lief vir ons lewe by Bethel. Danièle, wat binne vyf maande voordat ons Gilead toe is, Engels geleer het, het ’n goeie vertaler van ons publikasies geword. Ons het ons Bethelwerk baie geniet, maar omdat ons baie betrokke was by die gemeente, het ons selfs groter vreugde ondervind. Ek het sulke goeie herinneringe van hoe ek en Danièle laat in die aand met die ondergrondse trein in Parys gery het. Ons was moeg, maar baie bly dat ons saam Bybelstudies kon hou met studente wat goeie vordering gemaak het. Maar ongelukkig het Danièle se gesondheid skielik agteruitgegaan en kon sy nie meer so bedrywig wees as wat sy wou wees nie.

In 1993 is sy met borskanker gediagnoseer. Die behandeling was baie erg, en sy moes geopereer word en aggressiewe chemoterapie ontvang. Vyftien jaar later is sy weer met kanker gediagnoseer, ’n aggressiewer soort. Maar sy was so lief vir haar toewysing as ’n vertaler dat sy weer begin werk het nadat haar toestand gestabiliseer het.

Al was Danièle baie siek, het ons dit nooit oorweeg om Bethel te verlaat nie. Maar om siek te wees by Bethel het sy eie uitdagings, veral as ander nie weet hoe ernstig die toestand is nie (Spr. 14:13). Selfs toe Danièle in haar laat 70’s was, kon ’n mens as gevolg van haar vriendelike gesig en natuurlike elegansie nie sien hoe siek sy was nie. Sy het haarself nie jammer gekry nie. Sy het eerder daarop gefokus om ander te help. Sy het geweet dat ’n mens ander baie kan help deur na hulle te luister (Spr. 17:17). Danièle het nooit gemaak asof sy ’n berader is nie, maar tog het sy haar ondervinding gebruik om baie susters te help om nie bang te wees vir kanker nie.

Ons moes ook ander uitdagings hanteer. Toe Danièle nie meer voltyds kon werk nie, het sy dit haar doel gemaak om my op meer maniere te ondersteun. Sy het baie gedoen om my lewe makliker te maak, wat my in staat gestel het om 37 jaar lank as die koördineerder van die Takkomitee te dien. Byvoorbeeld, sy het gewoonlik alles voorberei sodat ons elke dag middagete saam kon geniet en ’n bietjie kon ontspan. — Spr. 18:22.

ONS STRYD MET DAAGLIKSE BEKOMMERNISSE

Danièle was altyd besonder optimisties, met ’n sterk begeerte om te lewe. Toe kry sy ’n derde keer kanker. Ons het magteloos gevoel. Die chemoterapie en bestraling het haar so uitgeput dat sy soms skaars kon loop. Dit het my hart gebreek toe my dierbare vrou, wat ’n goeie vertaler was, gesukkel het om die regte woorde te vind wanneer sy praat.

Al het ons verlore gevoel, het ons aangehou bid en was ons oortuig dat Jehovah nooit sal toelaat dat ons meer ly as wat ons kan verdra nie (1 Kor. 10:13). Ons het probeer om altyd die hulp te waardeer wat Jehovah deur sy Woord, die mediese personeel by Bethel en die liefdevolle ondersteuning van ons geestelike familie voorsien het.

Ons het dikwels Jehovah se leiding gevra wanneer ons moes besluit watter behandeling om te aanvaar. Op een stadium was Danièle nie onder enige behandeling nie. Die dokter wat Danièle 23 jaar lank behandel het, kon nie verduidelik waarom sy haar bewussyn verloor elke keer wanneer sy chemoterapie ontvang het nie. Hy kon geen alternatiewe behandeling voorstel nie. Ons het alleen gevoel en het gewonder hoe dinge sou uitdraai. Toe het ’n ander onkoloog ingestem om Danièle te help. Dit was asof Jehovah die uitweg voorsien het om ons te help om minder angstig te wees.

Ons het geleer om ons angstigheid te verminder deur een dag op ’n slag aan te pak. Soos Jesus gesê het: “Elke dag het genoeg van sy eie kwaad” (Matt. 6:34). ’n Positiewe uitkyk en ’n sin vir humor het ook gehelp. Byvoorbeeld, toe Danièle twee maande lank sonder chemoterapie was, het sy met haar stout glimlag vir my gesê: “Weet jy wat, ek het nog nooit so goed gevoel nie!” (Spr. 17:22). Al het sy baie gely, het sy dit geniet om die nuwe Koninkryksliedere met ’n stem vol selfvertroue te oefen.

Haar positiewe gesindheid het my gehelp om my eie beperkings te hanteer. Om eerlik te wees, in die 57 jaar dat ons getroud was, het sy na al my behoeftes omgesien. Sy wou nie eers vir my wys hoe om eiers te bak nie! En toe sy bitter min kon doen, moes ek leer hoe om die skottelgoed en die wasgoed te was en hoe om eenvoudige maaltye voor te berei. Ek het al ’n paar glase gebreek, maar ek het dit baie geniet om dinge te doen wat haar gelukkig maak. *

DANKBAAR VIR JEHOVAH SE LIEFDE EN GOEDHARTIGHEID

Wanneer ek terugkyk, kan ek sien dat ek belangrike lesse geleer het uit die beperkings wat gesondheidsprobleme en die ouderdom op ons geplaas het. Eerstens, ons moet nooit te besig wees om vir ons huweliksmaat te wys hoe baie ons hulle liefhet en waardeer nie. Ons moet goed gebruik maak van die jare wanneer ons baie energie het om na ons geliefdes om te sien (Pred. 9:9). Tweedens, ons moenie te bekommerd wees oor klein dingetjies nie; anders sal ons dalk die baie seëninge wat ons elke dag geniet, miskyk. — Spr. 15:15.

Wanneer ek dink aan ons lewe in die voltydse diens, is ek daarvan oortuig dat Jehovah ons meer geseën het as wat ons ons kon voorstel. Ek voel soos die psalmis wat gesê het: “Jehovah was goed vir my.” — Ps. 116:7NW.

^ par. 32 Suster Danièle Bockaert het gesterf terwyl hierdie artikel voorberei is. Sy was 78 jaar oud.