Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense, julle kan die beste lewe ooit hê

Jongmense, julle kan die beste lewe ooit hê

“U sal my die pad van die lewe bekend maak.” — PS. 16:11.

LIED: 133, 89

1, 2. Hoe wys die voorbeeld van ’n hoërskoolleerling dat dit moontlik is om jou lewe te verander?

TONY, ’n hoërskoolleerling wat sonder ’n pa grootgeword het, het min belangstelling in skool gehad en wou nie meer skoolgaan nie. Hy het daarvan gehou om naweke te gaan fliek of saam met vriende te kuier. Hy was nie gewelddadig nie, en hy was nie verslaaf aan dwelms nie. Hy het net nie ’n doel in die lewe gehad nie. En hy het getwyfel of God bestaan. Toe het hy ’n Getuie-paartjie ontmoet en met hulle gepraat oor die dinge waaroor hy getwyfel het. Hulle het vir hom twee brosjures gegee: Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe en Is lewe geskep?

2 Toe die paartjie Tony weer besoek het, het sy gesindheid verander. Hy het dit so geniet om die brosjures te studeer dat die bladsye gevou en gekreukel was. “Daar moet ’n God wees”, het hy gesê. Hy het ’n Bybelstudie aanvaar, en sy uitkyk op die lewe het geleidelik verander. Hy het ook een van die beste leerlinge in sy skool geword. Selfs die skoolhoof, wat bewus was van Tony se nuwe geloof, was verbaas. Hy het gesê: “Jou gesindheid en punte het baie verbeter. Is dit omdat jy met Jehovah se Getuies assosieer?” Tony het ja gesê en toe vir hom ’n goeie getuienis gegee. Hy het skool klaargemaak, en vandag dien hy as ’n gewone pionier en ’n bedieningskneg. Hy is ook bly omdat hy nou ’n wonderlike Vader, Jehovah, het. — Ps. 68:5.

GEHOORSAAM JEHOVAH, EN JY SAL SUKSESVOL WEES

3. Wat spoor Jehovah jongmense aan om te doen?

3 Tony se ondervinding herinner ons daaraan dat Jehovah baie in jongmense belangstel. Hy wil hê dat jy werklik suksesvol moet wees en ’n bevredigende lewe moet hê. Daarom spoor hy jou aan om te dink “aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid” (Pred. 12:1). In vandag se wêreld is dit nie altyd maklik nie. Maar dit is glad nie onmoontlik nie. Met God se hulp kan jy suksesvol wees, nie net wanneer jy jonk is nie, maar ook regdeur jou lewe. Om ons te help om dit beter te verstaan, gaan ons kyk na watter les ons kan leer uit die voorbeeld van die Israeliete toe hulle die Beloofde Land verower het en uit die voorbeeld van Dawid en Goliat.

4, 5. Watter belangrike les kan ons leer uit die voorbeeld van die Israeliete toe hulle Kanaän verower het en uit die voorbeeld van Dawid en Goliat? (Sien prente aan begin van artikel.)

4 Toe die Israeliete op die punt was om die Beloofde Land binne te gaan, het God nie vir hulle gesê om beter soldate te word of om vir oorlog voor te berei nie (Deut. 28:1, 2). Hy het eerder vir hulle gesê om sy bevele te gehoorsaam en op hom te vertrou (Jos. 1:7-9). Uit ’n menslike oogpunt sou daardie raad glad nie sin gemaak het nie! Maar dit was eintlik die beste raad, want Jehovah het sy volk die een oorwinning na die ander oor die Kanaäniete gegee (Jos. 24:11-13). Ja, om gehoorsaam aan God te wees moet ons geloof hê, maar hierdie geloof lei altyd tot sukses. Hierdie waarheid het oor die jare nie verander nie. Dit is vandag nog steeds die geval.

5 Goliat was ’n magtige vegter. Hy was 2,9 meter lank en goed gewapen (1 Sam. 17:4-7). Maar Dawid het net twee dinge gehad: ’n slinger en geloof in sy God, Jehovah. Diegene wat nie geloof gehad het nie, het seker gedink dat Dawid dwaas is. Maar hulle was verkeerd! Dit was eintlik Goliat wat dwaas was. — 1 Sam. 17:48-51.

6. Wat gaan ons nou in meer detail bespreek?

6 In die vorige artikel het ons na vier dinge gekyk wat ons kan help om gelukkiger en suksesvoller te wees. Ons het geleer dat ons ons geestelike behoefte moet bevredig, goeie vriende moet maak wat lief is vir God, betekenisvolle doelwitte moet stel en die vryheid moet waardeer wat God sy volk gee. Kom ons bespreek hierdie onderwerpe in meer detail, en hierdie keer gaan ons kyk na ’n paar beginsels in Psalm 16.

BEVREDIG JOU GEESTELIKE BEHOEFTE

7. (a) Hoe sal jy ’n geestelike persoon beskryf? (b) Wat was Dawid se “deel”, en watter uitwerking het dit op hom gehad?

7 ’n Geestelike persoon het geloof in God en het Sy beskouing van sake. Hy vertrou op God vir leiding en is vasbeslote om hom te gehoorsaam (1 Kor. 2:12, 13). Dawid is ’n goeie voorbeeld van ’n geestelike persoon. Hy het gesing: “Jehovah is die deel van wat aan my toegemeet is en van my beker” (Ps. 16:5). Daardie “deel” het Dawid se hegte verhouding met God ingesluit, die Een na wie hy gegaan het vir beskerming (Ps. 16:1). Watter uitwerking het dit op hom gehad? Dawid het gesê dat dit hom “vreugdevol” gemaak het. Ja, niks het vir Dawid gelukkiger gemaak as sy hegte verhouding met God nie. — Lees Psalm 16:9, 11.

8. Wat is van die dinge wat jou kan help om ’n lewe te hê wat werklik bevredigend is?

8 Mense wie se lewe om geld en plesier draai, sal nooit die vreugde ervaar wat Dawid gehad het nie (1 Tim. 6:9, 10). ’n Broer in Kanada sê: “Ware tevredenheid word verkry, nie uit wat ons uit die lewe kry nie, maar uit wat ons gee aan die Gewer van elke goeie geskenk, Jehovah God” (Jak. 1:17). As jy jou geloof in Jehovah versterk en hom dien, sal jy ’n betekenisvolle en bevredigende lewe hê. Hoe kan jy jou geloof versterk? Jy moet tyd met hom spandeer deur sy Woord te lees, na sy skepping te kyk en te dink aan sy eienskappe, insluitende sy liefde vir jou. — Rom. 1:20; 5:8.

9. Hoe kan jy toelaat dat God se Woord jou vorm, net soos dit Dawid gevorm het?

9 God wys soms sy liefde vir ons deur ons te dissiplineer, net soos ’n liefdevolle vader. Dawid het sulke liefdevolle raad aanvaar. Hy het gesê: “Ek sal Jehovah loof, wat my raad gegee het. Waarlik, in die nagte het my niere my tereggewys” (Ps. 16:7). Ja, hy het nagedink oor God se beskouing van sake en God se denke sy eie gemaak. Hy het toegelaat dat God se denke hom vorm. Wanneer jy dieselfde doen, sal dit jou liefde vir God en jou begeerte om hom te gehoorsaam versterk. Jy sal ook geestelik volwasse word. ’n Suster met die naam Christin het gesê: “Wanneer ek navorsing doen en nadink oor wat ek gelees het, voel ek dat Jehovah dit net vir my laat neerskryf het!”

10. Hoe sal ’n geestelike uitkyk op die lewe, volgens Jesaja 26:3, jou help?

10 ’n Geestelike uitkyk op die lewe gee jou ook buitengewone kennis en insig omdat dit jou help om God se beskouing van die wêreld en die wêreld se toekoms te hê. Hoekom gee God vir jou sulke kennis en insig? Hy wil hê dat jy belangrike dinge eerste in jou lewe moet stel, wyse besluite moet neem en dat jy na die toekoms moet kyk sonder om bang te wees! Die profeet Jesaja het gesê dat Jehovah diegene sal beskerm wat ten volle op hom vertrou, en hy sal vir hulle voortdurende vrede gee. (Lees Jesaja 26:3.) ’n Broer met die naam Joshua, wat in die Verenigde State bly, sê: “As ons naby aan Jehovah bly, help dit ons om die regte uitkyk op die lewe te hê.” Dit is baie waar, en dit laat ons werklik tevrede voel!

MAAK WARE VRIENDE

11. Hoe het Dawid vir ons gewys wat die geheim is om ware vriende te maak?

11 Lees Psalm 16:3. Dawid het geweet wat die geheim is om ware vriende te maak. Hy het “behae” daarin gehad, of dit het hom baie gelukkig gemaak, om vriende te hê wat lief was vir Jehovah. Hulle word beskryf as “heiliges” omdat hulle sedelik rein was. ’n Ander psalmskrywer het dieselfde gevoel oor sy keuse van vriende. Hy het geskryf: “Ek is ’n metgesel van almal wat u vrees, en van dié wat u bevele onderhou” (Ps. 119:63). Soos ons in die vorige artikel gesien het, kan jy ook goeie vriende vind onder diegene wat Jehovah vrees en gehoorsaam. Dit sluit natuurlik mense van verskillende ouderdomme in.

12. Hoekom was Dawid en Jonatan goeie vriende?

12 Die psalmskrywer Dawid was nie net vriende met mense van sy eie ouderdom nie. Kan jy onthou wie een van Dawid se goeie vriende was? Jy dink miskien aan Jonatan. Hulle het een van die pragtigste vriendskappe gehad wat in die Bybel opgeteken is. Maar het jy geweet dat Jonatan omtrent 30 jaar ouer as Dawid was? Hoekom was hulle dan sulke goeie vriende? Hulle het geloof in God en respek vir mekaar gehad. Hulle het ook mekaar se goeie eienskappe waardeer, soos die moed wat hulle gehad het toe hulle teen God se vyande geveg het. — 1 Sam. 13:3; 14:13; 17:48-50; 18:1.

13. Hoe kan jy meer vriende maak? Gee ’n voorbeeld.

13 Net soos dit Dawid en Jonatan gelukkig gemaak het, maak dit ons ook baie gelukkig om lief te wees vir diegene wat lief is vir Jehovah en wat wys dat hulle geloof in hom het. Kiera, wat Jehovah al jare lank dien, sê: “Ek het vriende gemaak met mense van regoor die wêreld, mense van verskillende agtergronde en kulture.” Wanneer jy dieselfde doen, sal jy duidelik sien dat God se Woord en gees die krag het om ons te verenig.

STEL BETEKENISVOLLE DOELWITTE

14. (a) Wat kan jou help om betekenisvolle doelwitte te stel? (b) Hoe het party jongmense daaroor gevoel om geestelike doelwitte te stel?

14 Lees Psalm 16:8. Dawid se lewe het gedraai om sy diens aan God. Jy sal ook ’n lewe hê wat werklik bevredigend is as jy Jehovah se diens die eerste plek in jou lewe gee en aan hom dink wanneer jy doelwitte stel. ’n Broer met die naam Steven het gesê: “As ek aan ’n doelwit werk en dit bereik, en dan terugkyk en die vordering sien wat ek gemaak het, gee dit my ’n gevoel van tevredenheid.” ’n Jong broer van Duitsland wat nou in ’n ander land dien, sê: “Wanneer ek oud is, wil ek nie terugkyk op my lewe en sien dat alles wat ek gedoen het net oor my gegaan het nie.” Ons hoop dat jy dieselfde voel. As jy so voel, moet jy jou talente gebruik om God te eer en om dinge vir ander mense te doen (Gal. 6:10). Stel geestelike doelwitte vir jouself, en vra Jehovah in gebed om jou te help om dit te bereik. Dit maak hom baie bly om sulke gebede te beantwoord. — 1 Joh. 3:22; 5:14, 15.

15. Watter doelwitte kan jy vir jou stel? (Sien die venster “ ’n Paar praktiese doelwitte”.)

15 Watter doelwitte kan jy stel? Jy kan dit miskien ’n doelwit maak om by die vergaderinge in jou eie woorde te antwoord, te pionier of om Bethel toe te gaan. Jy kan dalk probeer om ’n ander taal te leer sodat jy met meer mense oor die goeie nuus kan praat. Barak, ’n jong persoon wat in die voltydse diens is, sê: “Om elke dag wakker te word en te weet dat ek al my krag vir Jehovah gee, is ’n gevoel wat geen ander aktiwiteit my kan gee nie.”

WAARDEER DIE VRYHEID WAT GOD JOU GEE

16. Hoe het Dawid oor Jehovah se regverdige standaarde gevoel, en hoekom?

16 Lees Psalm 16:2, 4Soos ons in die vorige artikel gesien het, bevry God se regverdige wette en beginsels ons deurdat dit ons help om lief te word vir wat goed is en te haat wat sleg is (Amos 5:15). In Psalm 16:2 het die psalmskrywer Dawid erken dat Jehovah die Bron van sy goedheid is. Goedheid is sedelike voortreflikheid, of deug. Dawid het hard gewerk om God se voorbeeld van goedheid na te volg. Dawid het ook geleer om die dinge te haat wat sleg is in God se oë. Dit sluit afgodediens in, iets wat die mens verlaag en God beroof van die heerlikheid wat hy verdien. — Jes. 2:8, 9; Op. 4:11.

17, 18. (a) Wat het Dawid opgelet omtrent die gevolge van valse aanbidding? (b) Wat veroorsaak vandag dat mense se ‘pyne baie word’?

17 In Bybelse tye was seksuele onsedelikheid dikwels deel van valse aanbidding (Hos. 4:13, 14). Baie mense het van valse aanbidding gehou omdat hulle dit geniet het om onsedelik te wees. Maar het dit hulle werklik gelukkig gemaak? Glad nie! Dawid het gesê dat diegene wat valse gode aanbid se ‘pyne baie word’. Hulle het ook veroorsaak dat hulle kinders verskriklik ly (Jes. 57:5). Jehovah het sulke wreedheid gehaat! (Jer. 7:31). As jy in daardie tyd gelewe het, sou jy seker baie dankbaar gewees het as jou ouers geloof in Jehovah gehad het en hom gehoorsaam het.

18 In ons dag aanvaar valse godsdiens ook dikwels seksuele onsedelikheid, insluitende homoseksualiteit. Mense wat hierdie dinge doen, dink dalk dat hulle vry is, maar in werklikheid veroorsaak hulle dat hulle ‘pyne baie word’, soos jy al miskien opgelet het (1 Kor. 6:18, 19). Jongmense, luister na julle hemelse Vader. Oortuig jouself dat dit vir jou eie beswil is om aan hom gehoorsaam te wees. Dink mooi na oor die slegte gevolge van onsedelikheid, dan sal jy besef dat enige tydelike plesier wat dit jou gee nie die moeite werd is nie (Gal. 6:8). Joshua, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ons kan ons vryheid gebruik soos ons wil, maar om dit te misbruik is nie bevredigend nie.”

19, 20. Watter seëninge sal jongmense geniet as hulle geloof in Jehovah het en hom gehoorsaam?

19 Jesus het vir sy volgelinge gesê: “As julle in my woord bly, is julle werklik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:31, 32). Hierdie vryheid sluit vryheid van valse godsdiens, onkunde en bygelowe in. En soos ons gesien het, sal dit uiteindelik ook “die glorieryke vryheid van die kinders van God” insluit (Rom. 8:21). Jy kan selfs nou van hierdie vryheid geniet deur in Christus se woord, of leringe, te bly. Op hierdie manier sal jy “die waarheid ken”, nie net deur daaroor te leer nie, maar ook deur daarvolgens te lewe.

20 Jongmense, waardeer die vryheid wat God jou gegee het. Gebruik jou vryheid wyslik en berei so ’n goeie toekoms vir jou voor. ’n Jong broer het gesê: “As jy jou vryheid wyslik gebruik terwyl jy jonk is, sal dit jou later baie help wanneer jy groot besluite moet neem, soos wanneer jy ’n werk moet soek of moet besluit of jy gaan trou of vir ’n ruk lank enkel gaan bly.”

21. Hoe kan jy op die pad bly wat na die “werklike lewe” lei?

21 In hierdie ou wêreld, is selfs die sogenaamde goeie lewe kort en onvoorspelbaar. Ons weet nie wat môre gaan gebeur nie (Jak. 4:13, 14). Daarom is dit wys om op die pad te bly wat lei na die “werklike lewe” — die ewige lewe (1 Tim. 6:19). God forseer ons natuurlik nie om daardie pad te kies nie. Ons moet self besluit. Maak Jehovah jou “deel”. Waardeer al die “goeie” dinge wat hy vir jou gegee het (Ps. 103:5). Wees verseker daarvan dat Jehovah vir jou oorvloedige vreugde en geluk vir ewig kan gee. — Ps. 16:11.