Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense, julle Skepper wil hê julle moet gelukkig wees

Jongmense, julle Skepper wil hê julle moet gelukkig wees

“[Hy] wat jou hele lewe met die goeie versadig.” — PS. 103:5.

LIED: 135, 39

1, 2. Hoekom is dit wys om na ons Skepper te luister wanneer ons besluit wat ons met ons lewe gaan doen? (Sien prente aan begin van artikel.)

AS JY ’n jong persoon is, het jy waarskynlik al baie raad oor jou toekoms gekry. Onderwysers of ander mense het jou dalk aangemoedig om verder te gaan studeer of om ’n loopbaan te kies wat jou sal help om baie geld te maak. Maar dit is nie wat Jehovah vir jou wil hê nie. Hy wil natuurlik hê dat jy hard moet werk terwyl jy op skool is sodat jy vir jouself kan sorg nadat jy skool klaargemaak het (Kol. 3:23). Maar wanneer jy belangrike besluite moet neem wat jou toekoms gaan beïnvloed, wil hy hê dat jy deur sy beginsels gelei moet word. Dit sal jou help om gedurende hierdie laaste dae op ’n manier te lewe wat hom gelukkig sal maak. — Matt. 24:14.

2 Onthou ook dat Jehovah die volle prentjie sien. Hy weet wat in die toekoms gaan gebeur en hy weet hoe naby die einde van hierdie wêreld is (Jes. 46:10; Matt. 24:3, 36). Hy ken ons ook persoonlik. Hy weet wat ons werklik tevrede en gelukkig maak en wat ons teleurstel en ongelukkig maak. Daarom maak dit nie saak hoe goed mense se raad dalk klink nie, as dit nie op God se Woord gebaseer is nie, is dit nie wysheid nie. — Spr. 19:21.

JEHOVAH IS DIE ENIGSTE BRON VAN WYSHEID

3, 4. Watter uitwerking het slegte raad op Adam en Eva en hulle kinders gehad?

3 Slegte raad het al vroeg in die mens se geskiedenis begin toe Satan in die prentjie gekom het. Hy was voorbarig en het vir Eva gesê dat sy en haar man gelukkiger sou wees as hulle self sou besluit hoe hulle wil lewe (Gen. 3:1-6). Maar Satan was selfsugtig! Hy wou hê dat Adam en Eva — en hulle toekomstige kinders — hom moes gehoorsaam en aanbid eerder as Jehovah. Maar wat het hy vir hulle gedoen? Dit is Jehovah wat hulle alles gegee het wat hulle gehad het — mekaar, die pragtige tuin waarin hulle gebly het en ’n volmaakte liggaam met die potensiaal om vir ewig te lewe.

4 Ongelukkig was Adam en Eva ongehoorsaam aan God en het hulle hulleself van hom afgesny. En soos jy weet, het dit tragiese gevolge gehad. Net soos blomme stadig begin verlep en doodgaan nadat dit gepluk is, het Adam en Eva oud geword en gesterf. Hulle kinders het ook as gevolg van sonde gely (Rom. 5:12). Maar die meeste mense kies nog steeds om nie aan God gehoorsaam te wees nie. Hulle wil self besluit hoe hulle hulle lewe wil lei (Ef. 2:1-3). Die gevolge hiervan wys duidelik dat daar “geen wysheid” is wanneer mense Jehovah teëstaan nie. — Spr. 21:30.

5. Watter vertroue het God in mense gehad, en was hy reg?

5 Maar Jehovah het geweet dat party mense, insluitende baie jongmense, hom sou wil leer ken en dien (Ps. 103:17, 18; 110:3). Sulke jongmense is vir hom baie kosbaar! Sien jy jouself as een van hulle? Dan geniet jy sekerlik baie “goeie” dinge wat van God af kom, en dit maak jou gelukkiger. (Lees Psalm 103:5; Spr. 10:22.) Soos ons nou sal sien, sluit hierdie “goeie” dinge die volgende in: ’n oorvloed geestelike voedsel, goeie vriende, betekenisvolle doelwitte en ware vryheid.

JEHOVAH BEVREDIG JOU GEESTELIKE BEHOEFTE

6. Hoekom moet jy na jou geestelike behoefte omsien, en wat gee Jehovah jou om jou daarmee te help?

6 Anders as diere, het jy ’n geestelike behoefte, en net jou Skepper kan dit bevredig (Matt. 4:4). Wanneer jy na hom luister, kry jy meer insig, wysheid en maak dit jou gelukkig. Jesus het gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matt. 5:3). God bevredig jou geestelike behoefte deur middel van sy Woord en deur die oorvloed geestelike voedsel wat hy deur “die getroue en verstandige slaaf” gee (Matt. 24:45). Ons het beslis ’n groot verskeidenheid geestelike voedsel om van te kies! — Jes. 65:13, 14.

7. Hoe help dit jou as jy die geestelike voedsel inneem wat God voorsien?

7 Die geestelike voedsel wat God voorsien, sal vir jou wysheid en denkvermoë gee, wat jou op verskillende maniere kan beskerm. (Lees Spreuke 2:10-14.) Byvoorbeeld, hierdie eienskappe help jou om leuens te identifiseer, soos die leuen dat daar nie ’n Skepper is nie of die leuen dat geld en materiële dinge ons gelukkig sal maak. Hierdie eienskappe help jou ook om verkeerde begeertes en gewoontes te vermy wat jou lewe in gevaar kan stel. Daarom moet jy aanhou om wysheid van God en denkvermoë te verkry. Terwyl jy dit doen, sal jy self sien dat Jehovah lief is vir jou en net die beste vir jou wil hê. — Ps. 34:8; Jes. 48:17, 18.

8. Hoekom moet jy nou nader aan God kom, en hoe sal dit jou in die toekoms help?

8 Binnekort sal elke deel van Satan se wêreld vernietig word, en net Jehovah sal ons kan beskerm en vir ons kan gee wat ons nodig het. Om die waarheid te sê, daar sal dalk ’n tyd kom dat ons op hom sal vertrou vir ons volgende bord kos! (Hab. 3:2, 12-19). Ja, dit is nou die tyd om nader aan ons hemelse Vader te kom en om ons vertroue in hom te versterk (2 Pet. 2:9). As jy dit doen, dan sal jy, maak nie saak wat rondom jou gebeur nie, net soos die psalmskrywer Dawid voel. Hy het geskryf: “Ek het Jehovah voortdurend voor my gestel. Omdat hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.” — Ps. 16:8.

JEHOVAH GEE JOU DIE BESTE VRIENDE

9. (a) Wat doen Jehovah volgens Johannes 6:44? (b) Hoekom is dit ’n unieke ondervinding om ander Getuies te ontmoet?

9 Jehovah trek opregte mense op ’n liefdevolle manier na ware aanbidding sodat hulle deel kan word van sy geestelike gesin. (Lees Johannes 6:44.) Wanneer jy iemand wat nie in die waarheid is nie vir die eerste keer ontmoet, wat weet jy van daardie persoon? Behalwe sy naam en hoe hy lyk, weet jy seker baie min oor die persoon. Maar dit is nie die geval wanneer jy iemand ontmoet wat Jehovah ken en liefhet nie. Selfs al is daardie persoon van ’n ander agtergrond, land, stam of kultuur, weet jy alreeds baie oor hom — en hy oor jou!

Jehovah wil hê dat jy die beste vriende moet hê en betekenisvolle doelwitte stel (Sien paragraaf 9-12)

10, 11. Wat het Jehovah se volk in gemeen, en hoe help dit ons?

10 Byvoorbeeld, julle kom gou agter dat julle dieselfde “taal” praat — die “suiwer taal” van die waarheid (Sef. 3:9). Daarom weet albei van julle wat die ander een glo oor God, sedelike standaarde en die hoop vir die toekoms, om maar net ’n paar dinge te noem. Dit is die belangrikste dinge om oor iemand te weet, die dinge wat julle help om mekaar te vertrou. Hierdie dinge help ook om ’n sterk vriendskap op te bou wat vir ewig sal bestaan.

11 Daar is geen twyfel dat jy, as ’n aanbidder van Jehovah, die beste vriende het nie, en hulle is regoor die wêreld. Jy moet nog net die meeste van hulle ontmoet! Wie behalwe Jehovah se volk geniet hierdie kosbare geskenk?

JEHOVAH GEE JOU BETEKENISVOLLE DOELWITTE

12. Watter betekenisvolle doelwitte kan jy vir jou stel?

12 Lees Prediker 11:9–12:1. Het jy een of meer geestelike doelwitte wat jy probeer bereik? Miskien probeer jy om elke dag ’n gedeelte uit die Bybel te lees, om beter antwoorde by die vergaderinge te gee of om beter toesprake te hou. Of miskien probeer jy om die Bybel beter te gebruik wanneer jy velddiens doen. Hoe voel jy wanneer jy verbeter of wanneer ander vir jou sê dat jy goed doen? Jy voel waarskynlik dat jy iets bereik het, en dit maak jou gelukkig. Hoekom? Omdat jy Jehovah eerste stel, net soos Jesus gedoen het. — Ps. 40:8; Spr. 27:11.

13. Hoekom is dit beter om God te dien as om doelwitte in die wêreld te hê?

13 Deur op geestelike doelwitte te fokus, doen jy iets wat jou gelukkig maak, en dit gee jou ’n doel in die lewe. Die apostel Paulus het geskryf: “Word standvastig, onbeweeglik, terwyl julle altyd baie het om in die werk van die Here te doen, in die wete dat julle arbeid in verband met die Here nie tevergeefs is nie” (1 Kor. 15:58). Maar mense wat op doelwitte in die wêreld fokus, is nie werklik gelukkig nie, selfs al lyk dit of hulle suksesvol is. Die lewe wat hulle lei, is tevergeefs (Luk. 9:25). Iemand wat dit aan homself bewys het, en aan ons, was koning Salomo. — Rom. 15:4.

14. Wat kan jy leer uit Salomo se eksperiment met plesier?

14 Salomo, wat baie ryk en magtig was, het besluit om ’n eksperiment te doen. Hy het gesê: “Laat ek plesier soek en kyk of dit iets goeds inhou” (Pred. 2:1-10, NW). Hy het huise gebou, parke en tuine gemaak en gedoen wat hy ook al wou. Hoe het hy agterna gevoel? Het dit hom tevrede en gelukkig gemaak? Ons hoef nie te wonder nie. Salomo het self vir ons gesê: “Ek . . . het my gewend tot al my werke wat my hande verrig het . . . en kyk! alles was nietigheid . . . en daar was niks voordeligs onder die son nie” (Pred. 2:11). Wat ’n kragtige les vir ons! Sal jy uit sy eksperiment leer?

15. Hoekom is geloof belangrik, en hoe sal dit jou help, volgens Psalm 32:8?

15 Jehovah wil nie hê dat jy lewenslesse op die harde manier moet leer nie. Hy wil hê dat jy hom moet gehoorsaam en sy wil eerste in jou lewe stel. Maar om dit te doen het jy geloof nodig. Hierdie geloof is van onskatbare waarde, en dit stel nooit teleur nie. Ja, Jehovah sal nooit “die liefde wat [jy] vir sy naam getoon het”, vergeet nie (Heb. 6:10). Daarom moet jy hard werk om jou geloof te versterk. Dan sal jy self sien dat jou hemelse Vader net die beste vir jou wil hê. — Lees Psalm 32:8.

GOD GEE JOU WARE VRYHEID

16. Hoekom moet vryheid vir ons kosbaar wees, en hoekom moet ons dit wyslik gebruik?

16 Paulus het geskryf: “Waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid” (2 Kor. 3:17). Ja, Jehovah is lief vir vryheid, en hy het daardie liefde in jou hart gesit. Maar op dieselfde tyd wil hy hê dat jy jou vryheid op ’n verantwoordelike manier moet gebruik, en dit is ’n beskerming vir jou. Dalk ken jy jongmense wat na pornografie kyk, seksueel onsedelik is, deelneem aan gevaarlike sport of dwelms en alkohol misbruik. Aan die begin is dit dalk vir hulle lekker en opwindend. Maar baie keer lei dit tot slegte gevolge, soos siekte, verslawing of selfs die dood (Gal. 6:7, 8). Jongmense wat by hierdie dinge betrokke is, dink miskien dat hulle vry is, maar hulle is nie. — Tit. 3:3.

17, 18. (a) Hoe maak gehoorsaamheid aan God ons werklik vry? (b) Hoe vergelyk die vryheid wat Adam en Eva aan die begin gehad het met die vryheid wat mense vandag het?

17 Maar in vergelyking hiermee, hoeveel mense ken jy wat siek geword het omdat hulle aan Jehovah gehoorsaam was? Dit is duidelik dat gehoorsaamheid aan Jehovah goed is vir ons gesondheid en dat dit ons werklik vrymaak (Ps. 19:7-11). En wanneer jy jou vryheid wyslik gebruik, dit wil sê wanneer jy kies om gehoorsaam te wees aan God se volmaakte wette en beginsels, wys jy vir God sowel as jou ouers dat hulle jou met meer vryheid kan vertrou. Dit is God se voorneme om uiteindelik vir sy getroue knegte volmaakte vryheid te gee, wat in die Bybel beskryf word as “die glorieryke vryheid van die kinders van God”. — Rom. 8:21.

18 Adam en Eva het sulke vryheid gehad. In die tuin van Eden was daar net een ding wat God vir hulle gesê het om nie te doen nie. Hy het vir hulle gesê dat hulle nie die vrugte van ’n spesifieke boom mag eet nie (Gen. 2:9, 17). Sou jy sê dat daardie een beperking te streng of onregverdig was? Natuurlik nie! Vergelyk dit met die ontelbare hoeveelheid mensgemaakte wette wat mense gedwing word om te leer en te gehoorsaam.

19. Hoe word ons geleer om ’n volk te wees wat vry is?

19 Jehovah behandel sy volk op ’n baie wyse manier. In plaas daarvan om vir ons ’n lang lys wette te gee, leer hy ons op ’n geduldige manier om die wet van liefde te gehoorsaam. Hy wil hê dat ons volgens sy beginsels moet lewe en moet haat wat sleg is (Rom. 12:9). Jesus het byvoorbeeld in sy Bergpredikasie vir ons gehelp om te verstaan hoekom mense slegte dinge doen (Matt. 5:27, 28). As die Koning van God se Koninkryk, sal Christus aanhou om ons in die nuwe wêreld te leer sodat ons gesindheid teenoor regverdigheid en wetteloosheid syne volmaak sal weerspieël (Heb. 1:9). Hy sal ons ook ’n volmaakte liggaam en verstand gee. Dink net, jy sal nooit weer versoek word om slegte dinge te doen nie of die aaklige gevolge van sonde ervaar nie. Dan sal jy uiteindelik “die glorieryke vryheid” geniet wat Jehovah jou belowe.

20. (a) Hoe gebruik Jehovah sy vryheid? (b) Hoe kan God se voorbeeld jou help?

20 Ons vryheid sal natuurlik altyd perke hê. Dit sal gerig word deur ons liefde vir God en ons naaste. Om die waarheid te sê, al wat Jehovah vra, is dat ons hom moet navolg. Hy het onbeperkte vryheid, maar hy kies dat liefde hom rig in die manier hoe hy ons behandel (1 Joh. 4:7, 8). Daarom maak dit sin dat ons slegs ware vryheid kan hê as ons God navolg.

21. (a) Hoe het Dawid oor Jehovah gevoel? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

21 Waardeer jy al die “goeie” dinge wat Jehovah jou gegee het, soos ’n oorvloed geestelike voedsel, goeie vriende, betekenisvolle doelwitte en die vooruitsig om volmaakte vryheid te hê? (Ps. 103:5). Jy voel heel moontlik soos Dawid toe hy gebid het: “U sal aan my die pad van die lewe bekend maak. Blydskap tot versadiging toe is voor u aangesig; daar is lieflikheid aan u regterhand, vir ewig” (Ps. 16:11). In die volgende artikel gaan ons ander geestelike skatte uit Psalm 16 bespreek wat jou sal help om te sien hoe jy werklik gelukkig kan wees.