Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Sien julle in die Paradys!”

“Sien julle in die Paradys!”

“Jy sal saam met my in die Paradys wees.” — LUK. 23:43.

LIED: 145, 139

1, 2. Watter verskillende idees het mense oor wat ’n paradys is?

DIT was ’n hartroerende toneel. Terwyl buitelandse besoekers die stadion verlaat het ná ’n byeenkoms in Seoel, Korea, het die plaaslike Getuies vir hulle gewaai en uitgeroep: “Sien julle in die Paradys!” Watter paradys het hulle in gedagte gehad?

2 Mense het verskillende idees oor wat ’n paradys is. Party sê dat die idee van ’n paradys net ’n droom is. Ander sê dat ’n paradys verwys na enige plek waar hulle vreugde en tevredenheid vind. ’n Man wat honger ly, sal dalk dink dat hy in ’n paradys is as daar baie kos voor hom is. In die 19de eeu het ’n vrou wat ’n vallei vol veldblomme besoek het, uitgeroep: “Dis ’n paradys!” Tot vandag toe word daardie plek Paradise genoem, al kry dit meer as 15 meter sneeu per jaar. Wat beteken die woord “paradys” vir jou? Glo jy dat daar eendag ’n paradys sal wees?

3. Waar praat die Bybel die eerste keer van ’n paradys?

3 Die Bybel praat van ’n paradys wat in die verlede bestaan het en van ’n paradys wat in die toekoms sal bestaan. Reg in die begin van die Bybel word ’n paradys al genoem. In ’n Katolieke Bybelvertaling, die Douay Version, wat uit Latyn vertaal is, sê Genesis 2:8 dat God Adam in die begin in “’n paradys van genot” geplaas het. Die Hebreeuse teks praat van ‘die tuin van Eden’. Eden beteken “genot”, en daardie tuin was beslis ’n lieflike plek. Dit was pragtig, daar was oorgenoeg kos en vrede tussen mens en dier. — Gen. 1:29-31.

4. Hoekom kan ons die tuin van Eden as ’n paradys beskryf?

4 Die Hebreeuse woord vir “tuin” word in Grieks met pa·raʹdei·sos vertaal. M’Clintock en Strong se Cyclopaedia sê dat pa·raʹdei·sos verwys na ’n groot, oop park sonder enige gevare, met pragtige natuurskoon, groot bome, baie vrugte, helder waterstrome en groot troppe wildsbokke en skape. Dit is waaraan ’n Griekse persoon sou dink as hy die woord pa·raʹdei·sos gehoor het. — Vergelyk Genesis 2:15, 16.

5, 6. Hoe het die mens die Paradys verloor, en watter vraag laat dit ontstaan?

5 God het Adam en Eva in so ’n paradys laat woon, maar hulle moes dit later verlaat. Hoekom? Omdat hulle ongehoorsaam aan God was. Hulle het die Paradys dus vir hulle en hulle nageslag verloor (Gen. 3:23, 24). Daardie tuin het blykbaar tot die Vloed van Noag se dag bestaan, al het niemand daarin gewoon nie.

6 Party mense wonder dalk: ‘Sal enige man, vrou of kind ooit weer in ’n paradys op die aarde kan lewe?’ Wat toon die feite? Jy hoop moontlik om saam met jou geliefdes in die Paradys te lewe, maar het jy ’n vaste grondslag vir jou hoop? Kan jy verduidelik waarom ons seker is dat daar ’n paradys op die aarde sal wees?

WAAROM ONS IN DIE TOEKOMSTIGE PARADYS KAN GLO

7, 8. (a) Watter belofte het God aan Abraham gemaak? (b) Waaraan het God se belofte Abraham dalk laat dink?

7 Die beste plek om antwoorde te soek, is in die boek wat deur die Skepper van die eerste Paradys geïnspireer is. Kyk na wat God vir sy vriend Abraham gesê het. God het gesê dat hy Abraham se nageslag sou vermeerder “soos die sandkorrels wat aan die seestrand is”. En Jehovah het hierdie belangrike belofte gemaak: “Deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën omdat jy na my stem geluister het” (Gen. 22:17, 18). God het hierdie belofte ook aan Abraham se seun en kleinseun gemaak. — Lees Genesis 26:4; 28:14.

8 Daar is niks in die Bybel wat wys dat Abraham gedink het dat mense hulle beloning uiteindelik in ’n hemelse paradys sou ontvang nie. Toe God dus gesê het dat “al die nasies van die aarde” geseën sal word, het Abraham sekerlik gedink aan seëninge op die aarde. Hierdie belofte van God het beteken dat daar beter toestande vir “al die nasies van die aarde” sou wees. Is daar nog bewyse in die Bybel wat toon dat daar ’n paradys op die aarde sal wees?

9, 10. Watter ander beloftes gee ons rede om te glo dat daar ’n paradys op die aarde sal wees?

9 Dawid, een van Abraham se nakomelinge, het gepraat van ’n tyd in die toekoms wanneer “kwaaddoeners” en “dié wat onregverdigheid bedryf” verwyder sal word. Wat sal die gevolg wees? “Die goddelose sal daar nie meer wees nie” (Ps. 37:1, 2, 10). “Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.” Dawid het ook voorspel: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (Ps. 37:11, 29; 2 Sam. 23:2). Waarvan het hierdie beloftes mense verseker wat God se wil wou doen? Dit het hulle verseker dat daar eendag net regverdige mense op die aarde sou wees en dat dit weer ’n paradys, soos die tuin van Eden, sou word.

10 Later in die Bybel lees ons dat die meeste Israeliete Jehovah en ware aanbidding verlaat het. Daarom het God toegelaat dat die Babiloniërs sy volk verower, hulle land verwoes en baie van hulle as gevangenes wegvoer (2 Kron. 36:15-21; Jer. 4:22-27). Maar God se profete het voorspel dat sy volk ná 70 jaar na hulle tuisland sou terugkeer. Hierdie profesieë is reeds vervul. Maar dit is ook vir ons van belang. Kom ons kyk hoe van hierdie profesieë bewys dat daar ’n paradys op die aarde gaan wees.   

11. Hoe is Jesaja 11:6-9 vervul, maar watter vraag ontstaan?

11 Lees Jesaja 11:6-9. God het deur Jesaja voorspel dat Sy volk na hulle tuisland sou terugkeer en dat hulle nie gevare daar sou teëkom nie. Hulle sou byvoorbeeld nie deur diere of wrede mense aangeval word nie. Jonk en oud sou veilig wees. Laat dit jou nie dink aan die toestande in die tuin van Eden nie? (Jes. 51:3). Jesaja het ook in hierdie profesie gesê dat die hele aarde — nie net die nasie Israel nie — “vol [sal] wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek”. Wanneer sal dit gebeur?

12. (a) Watter seëninge het die Jode geniet toe hulle uit Babilon teruggekeer het? (b) Wat wys dat Jesaja 35:5-10 nog ’n vervulling het?

12 Lees Jesaja 35:5-10. Jesaja het weer beklemtoon dat die Jode wat teruggekeer het, nie deur diere of mense bedreig sou word nie. Hulle land sou vrugbaar wees, want daar sou genoeg water wees, net soos in die tuin van Eden (Gen. 2:10-14; Jer. 31:12). Sou dit die enigste vervulling wees? Daar is geen bewyse dat die Jode wat teruggekeer het, op ’n wonderdadige manier genees is nie. Byvoorbeeld, die blindes is nie genees nie. Daarom weet ons dat God verwys het na letterlike genesings wat in die toekoms sou plaasvind.

13, 14. Hoe is Jesaja 65:21-23 in die tyd van die Jode vervul, maar watter deel van hierdie profesie moet nog vervul word? (Sien prent aan begin van artikel.)

13 Lees Jesaja 65:21-23. Die Jode het nie teruggekeer na gemaklike huise nie, en daar was nie bewerkte landerye en wingerde nie. Maar dit het verander, want God het hulle geseën. Dink net hoe wonderlik dit vir hulle was om huise te bou en daarin te woon! Hulle het hulle landerye bewerk en die opbrengs daarvan geniet.

14 Hierdie profesie noem iets belangriks. Dit sê dat ons dae “soos die dae van ’n boom” sal wees. Party bome lewe duisende jare lank. Mense sal gesond moet wees om so lank te kan lewe. As hulle onder die toestande lewe wat Jesaja voorspel het, sal dit soos ’n droom wees wat waar geword het — ’n paradys! En hierdie profesie sal vervul word.

Hoe sal Jesus se belofte oor die Paradys vervul word? (Sien paragraaf 15, 16)

15. Wat is van die seëninge wat in die boek Jesaja genoem word?

15 Die beloftes wat ons nou bespreek het, wys dat die aarde ’n paradys sal wees: Mense sal regoor die aarde deur God geseën word. Daar sal geen gevaarlike diere of wrede mense wees nie. Die blindes, dowes en kreupeles sal genees wees. Mense sal hulle eie huise bou, hulle landerye bewerk en gesonde kos geniet. Hulle sal langer lewe as bome. Ja, die Bybel wys dat so ’n toekoms vir ons voorlê. Maar party mense sê dalk dat hierdie profesieë nie regtig bewys dat daar ’n paradys op die aarde sal wees nie. Wat sal jy vir hulle sê? Hoekom kan jy glo dat daar wel ’n paradys op die aarde sal wees? Die grootste mens wat nog ooit gelewe het, het vir ons ’n vaste rede gegee om dit te glo.

JY SAL IN DIE PARADYS WEES!

16, 17. Met wie het Jesus oor die Paradys gepraat?

16 Al was Jesus onskuldig, is hy veroordeel en aan ’n paal gehang om te sterf. ’n Kwaaddoener het aan sy regterkant gehang, en een aan sy linkerkant. Voordat die een kwaaddoener gesterf het, het hy erken dat Jesus ’n koning is en gesê: “Jesus, dink aan my wanneer u in u koninkryk kom” (Luk. 23:39-42). Jesus se antwoord in Lukas 23:43 raak jou toekoms. Party geleerdes vertaal sy woorde so: “Voorwaar, ek sê vir jou: Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.” Let op die woord “vandag”. Wat het Jesus daarmee bedoel? Daar is verskillende menings hieroor.

17 In ons tyd gebruik baie tale leestekens, soos ’n komma of ’n dubbelpunt, om die betekenis van ’n sin oor te dra of duideliker te maak. Maar in die vroegste Griekse manuskripte wat beskikbaar is, is leestekens nie altyd gebruik nie. Daarom ontstaan die vraag: Het Jesus gesê: “Ek sê vir jou: Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees”? Of het hy gesê: “Ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees”? Vertalers sal ’n leesteken insit volgens wat hulle dink Jesus bedoel het, en jy sal vind dat verskillende Bybelvertalings die leesteken op verskillende plekke het.

18, 19. Wat help ons om te verstaan wat Jesus bedoel het?

18 Onthou wat Jesus eenkeer vir sy volgelinge gesê het: “Die Seun van die mens [sal] drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.” Hy het ook gesê: “Die Seun van die mens is bestem om deur verraad in die hande van die mense oorgelewer te word, en hulle sal hom doodmaak, en op die derde dag sal hy opgewek word” (Matt. 12:40; 16:21; 17:22, 23; Mark. 10:34). Die apostel Petrus het bevestig dat dit gebeur het (Hand. 10:39, 40). Daarom weet ons dat Jesus beslis nie na ’n paradys gegaan het op die dag toe hy en daardie kwaaddoener gesterf het nie. Jesus was vir dele van drie dae “in Hades”, dit wil sê in die Graf. Daarna het God hom opgewek. — Hand. 2:31, 32. *

19 Dit is dus duidelik dat Jesus se belofte aan die kwaaddoener begin het met die woorde: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag.” Hierdie uitdrukking is selfs in Moses se tyd gebruik. Moses het gesê: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees.” — Deut. 6:6; 7:11; 8:1, 19; 30:15.

20. Wat bevestig dat ons Jesus se woorde reg verstaan?

20 ’n Bybelvertaler van die Midde-Ooste het oor Jesus se woorde aan die kwaaddoener gesê: “Die klem in hierdie teks is op die woord ‘vandag’. Dit moet sê: ‘Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees.’ Die belofte is op daardie dag gemaak en sou later vervul word.” Hy het ook genoem dat mense in die Ooste hierdie uitdrukking dikwels gebruik het en dat dit beteken het dat die belofte op ’n sekere dag gemaak is en beslis nagekom sou word. ’n Siriese vertaling van die vyfde eeu vertaal Jesus se woorde soos volg: “Amen, ek sê vir jou vandag dat jy saam met my sal wees in die Tuin van Eden.” Hierdie belofte is vir ons almal aanmoedigend.

21. Watter voorreg sou die kwaaddoener nie hê nie, en hoe weet ons dit?

21 Daardie kwaaddoener het nie geweet dat Jesus ’n verbond met sy getroue apostels gesluit het om saam met hom in die hemelse Koninkryk te wees nie (Luk. 22:29). Die kwaaddoener sou dus nie daardie voorreg hê nie. Hy was nie eers gedoop nie (Joh. 3:3-6, 12). Daarom weet ons dat Jesus se belofte na ’n aardse paradys verwys het. Jare later het die apostel Paulus gepraat van ’n visioen waarin ’n man “tot in die paradys weggeruk is” (2 Kor. 12:1-4). Paulus en die ander getroue apostels is wel gekies om saam met Jesus in die hemelse Koninkryk te regeer. Maar Paulus het na ’n toekomstige “paradys” verwys. * Sou daardie paradys op die aarde wees? En kan jy daar wees?

WAT JY KAN VERWAG

22, 23. Waarna kan jy uitsien?

22 Onthou dat Dawid gepraat het van die tyd wanneer ‘die regverdiges die aarde sal besit’ (Ps. 37:29; 2 Pet. 3:13). Dawid het verwys na ’n tyd wanneer mense op die aarde volgens God se regverdige standaarde sou lewe. Die profesie in Jesaja 65:22 sê: “Die dae van my volk sal wees soos die dae van ’n boom.” Dit impliseer dat mense duisende jare lank gaan lewe. Sal dit regtig gebeur? Ja, want volgens Openbaring 21:1-4 sal God die mensdom seën, en een van die seëninge vir mense wat God in sy regverdige nuwe wêreld dien, is dat ‘die dood nie meer daar sal wees nie’.

23 Wat die Bybel oor die Paradys leer, is duidelik. Adam en Eva het die Paradys verloor, maar daar sal weer ’n paradys wees. Soos God belowe het, sal mense op die aarde geseën word. Dawid het onder inspirasie voorspel dat sagmoedige en regverdige mense die aarde sal besit en vir ewig daarop sal woon. En die profesieë in die boek Jesaja laat ons uitsien na die wonderlike toestande wat daar sal wees. Wanneer? Wanneer Jesus se belofte aan die kwaaddoener vervul word. Jy kan in daardie Paradys wees. Dan sal die woorde aan die besoekers in Korea waar word: “Sien julle in die Paradys!”

^ par. 18 Professor C. Marvin Pate het geskryf dat daar oor die algemeen aanvaar word dat Jesus met die woord “vandag” bedoel het dat hy op daardie dag, of binne 24 uur, in die Paradys sou wees. Professor Pate het bygevoeg dat dit nie die geval kan wees nie, want die Bybel sê op ander plekke dat Jesus ná sy dood in Hades neergedaal het en dat hy eers daarna opgevaar het hemel toe. — Matt. 12:40; Hand. 2:31; Rom. 10:7.

^ par. 21 Sien “Vrae van lesers” in hierdie nommer.