Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die regverdige sal hom in Jehovah verbly”

“Die regverdige sal hom in Jehovah verbly”

DIANA is meer as 80 jaar oud. Haar man het aan Alzheimer se siekte gely en was ’n paar jaar lank in ’n verpleeginrigting voordat hy gesterf het. Haar twee seuns is ook oorlede, en sy het ’n stryd teen borskanker gehad. Maar wanneer lede van Diana se gemeente haar by die Koninkryksaal of in die bediening sien, let hulle op dat sy altyd gelukkig is.

John was meer as 43 jaar lank ’n reisende opsiener. Hy was baie lief vir hierdie diensvoorreg — dit was sy lewe! Maar hy kon nie langer as ’n reisende opsiener dien nie omdat hy vir ’n siek familielid moes sorg, en nou dien hy in ’n plaaslike gemeente. Wanneer mense wat John ken hom by byeenkomste sien, lyk dit of hy glad nie verander het nie. Hy straal nog steeds van vreugde.

Hoe is dit moontlik dat Diana en John vreugdevol kan wees? Hoe kan iemand met emosionele en fisiese pyn vreugde ervaar? En hoe kan iemand nog steeds gelukkig wees as hy ’n diensvoorreg verloor waarvoor hy baie lief is? Die Bybel gee ons insig wanneer dit sê: “Die regverdige sal hom in Jehovah verbly” (Ps. 64:10). Ons kan hierdie belangrike waarheid beter verstaan as ons besef watter dinge innerlike vreugde verskaf en watter dinge nie.

VREUGDE WAT TYDELIK IS

Jy weet ongetwyfeld dat sekere dinge amper altyd vreugde verskaf. Dink aan ’n verliefde paartjie wat gaan trou. Of dink aan iemand wat ’n baba gaan hê of ’n teokratiese voorreg ontvang. Sulke dinge maak mense gelukkig, en met goeie rede, want hierdie aspekte van die lewe kom van Jehovah af. Hy het die huwelik ingestel, hy het dit moontlik gemaak om kinders te hê en hy gee toewysings deur die Christengemeente. — Gen. 2:18, 22; Ps. 127:3; 1 Tim. 3:1.

Maar party dinge wat vreugde verskaf, kan tydelik wees. Ongelukkig kan ’n huweliksmaat ontrou wees of sterf (Eseg. 24:18; Hos. 3:1). Party kinders is ongehoorsaam aan hulle ouers en aan God en word dalk selfs uitgesit. Samuel se seuns het Jehovah nie op ’n aanvaarbare manier gedien nie, en Dawid se dade het tot probleme in sy eie huis gelei (1 Sam. 8:1-3; 2 Sam. 12:11). Sulke dinge kan hartseer en bekommernisse veroorsaak. Dit maak ons beslis nie vreugdevol nie.

Net so kan diensvoorregte onder God se volk tot ’n einde kom, moontlik weens swak gesondheid, gesinsverantwoordelikhede of teokratiese veranderinge. Baie wat sulke veranderinge moes deurmaak, het erken dat hulle verlang na die bevrediging wat hulle werk hulle gegee het.

Dit is duidelik dat sulke bronne van vreugde tot ’n sekere mate relatief of tydelik kan wees. Is daar dan ’n ander soort vreugde, ’n soort wat nie verdwyn nie, selfs al versleg omstandighede? Daar moet wees, want Samuel, Dawid en ander het ’n mate van vreugde behou selfs toe hulle moeilike tye deurgemaak het.

VREUGDE WAT PERMANENT IS

Jesus het geweet wat ware vreugde is. Gedurende sy voormenslike bestaan in die hemel, toe omstandighede beslis goed was, was hy “die hele tyd voor [Jehovah] verheug” (Spr. 8:30). Maar op die aarde moes hy soms tye deurmaak wat baie moeilik was. Tog het dit vir Jesus vreugde verskaf om sy Vader se wil te doen (Joh. 4:34). Wat van sy laaste pynlike ure? Ons lees: “Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur” (Heb. 12:2). Dit sal dus goed wees as ons nadink oor twee van Jesus se kommentare oor ware vreugde.

Eenkeer het 70 dissipels na Jesus teruggekeer nadat hulle gestuur is om te gaan preek. Hulle was vreugdevol omdat hulle kragtige werke gedoen het en selfs demone uitgedryf het. Toe het Jesus vir hulle gesê: “Julle moet nietemin nie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderwerp word nie, maar wees bly omdat julle name in die hemele opgeskryf is” (Luk. 10:1-9, 17, 20). Ja, Jehovah se goedkeuring was belangriker as ’n spesiale voorreg. Die getroue dissipels sou ’n goeie reputasie by Jehovah hê — ’n bron van veel groter vreugde.

By ’n ander geleentheid het Jesus met ’n groep mense gepraat. ’n Joodse vrou het gesê dat die ma van hierdie merkwaardige onderrigter, Jesus, baie gelukkig moet wees. Maar Jesus het haar reggehelp deur te sê: “Nee, gelukkig is eerder dié wat die woord van God hoor en dit nakom!” (Luk. 11:27, 28). Dit kan ’n wonderlike ondervinding wees om ’n trotse ouer te wees, maar ’n verhouding met Jehovah op grond van gehoorsaamheid is ’n veel groter bron van vreugde.

Wat is dan die sleutel tot diep innerlike vreugde? Dit is wanneer iemand kan aanvoel dat hy Jehovah se goedkeuring het. As so iemand deur ’n moeilike tyd gaan, is dit nie iets wat hy geniet nie, maar hy weet nog steeds dat hy Jehovah se goedkeuring het. Om die waarheid te sê, as ons lojaal volhard, is dit ’n oorwinning wat tot ’n goeie hartstoestand lei (Rom. 5:3-5). Jehovah gee ook sy gees aan dié wat op hom vertrou, en vreugde is ’n deel van die vrug van die gees (Gal. 5:22). Dit help ons om te verstaan waarom Psalm 64:10 reguit sê: “Die regverdige sal hom in Jehovah verbly.”

Wat het John gehelp om diep innerlike vreugde te behou?

Dit verduidelik waarom Diana en John, wat vroeër genoem is, nog steeds vreugdevol kon wees toe hulle moeilike tye deurgemaak het. Diana sê: “Jehovah was vir my ’n toevlug, soos ’n ouer vir ’n kind.” Hoe weet sy dat sy God se goedkeuring het? “Ek voel dat hy my geseën het met die vermoë om gereeld te bly preek met ’n glimlag op my gesig.” Toe die reisende werk waarvoor John so lief was tot ’n einde gekom het, het hy besig gebly in die bediening. Hy verduidelik wat hom baie gehelp het en sê: “Sedert ek in 1998 toegewys is as ’n instrukteur vir die Bedieningsopleidingskool, het ek meer persoonlike studie gedoen as ooit tevore.” Hy praat namens homself en sy vrou wanneer hy sê: “Ons algemene gesindheid oor die jare was om Jehovah te dien op enige manier wat ons kon, en dit het hierdie verandering relatief maklik gemaak. Ons het dit gedoen en ons is glad nie spyt nie.”

Baie ander het ook ondervind hoe waar Psalm 64:10 is. Neem byvoorbeeld ’n paartjie wat 30 jaar lank by Bethel in die Verenigde State gedien het. Hulle is toe as spesiale pioniers aangestel. Hulle erken realisties: “Dit is net natuurlik om baie hartseer te wees wanneer jy iets verloor waarvoor jy baie lief is.” Maar hulle voeg by: “Jy kan nie vir ewig hartseer wees nie.” Hulle het gou betrokke geraak in die bediening saam met die gemeente. Die paartjie het ook gesê: “Ons was baie spesifiek toe ons oor sekere dinge gebid het. Toe ons sien hoe ons gebede beantwoord word, het dit ons aangemoedig en bly gemaak. Kort nadat ons daar aangekom het, het ander in die gemeente ook begin pionier, en ons is geseën met twee Bybelstudies wat goeie vordering gemaak het.”

“WEES VIR EWIG BLY”

Ja, dit is nie altyd maklik om vreugdevol te wees nie, en daar sal goeie en slegte tye wees. Maar Jehovah het die vertroostende woorde in Psalm 64:10 laat opteken. Selfs wanneer ons mismoedig is, kan ons hiervan seker wees: Dié wat bewys dat hulle ‘regverdig’ is deur getrou te bly, al verander hulle omstandighede, sal ‘hulle in Jehovah verbly’. En ons kan uitsien na die vervulling van Jehovah se belofte van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”. Dan sal onvolmaaktheid heeltemal iets van die verlede wees. Al God se knegte sal hulle ‘verheug en vir ewig bly wees’ oor wat hy skep en voorsien. — Jes. 65:17, 18.

Stel jou voor wat dit sal beteken: Ons sal volmaakte gesondheid geniet en elke dag vol energie begin. Dit maak nie saak hoe diep ons emosionele wonde was nie, ons sal nie meer hierdie pynlike herinneringe hê nie. Ons kan seker wees dat ‘die vorige dinge nie onthou sal word nie en ook nie in die hart sal opkom nie’. Die wonderwerk van die opstanding sal geliefdes met mekaar herenig. Miljoene mense sal voel soos die ouers van die 12-jarige meisie wat deur Jesus opgewek is: “Hulle [was] buite hulleself van groot ekstase” (Mark. 5:42). Uiteindelik sal elke persoon op die aarde in die volste sin van die woord ‘regverdig’ wees en hulle tot in ewigheid “in Jehovah verbly”.