Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 51

Hoe goed ken jy Jehovah?

Hoe goed ken jy Jehovah?

“Dié wat u naam ken, sal op u vertrou, want u sal dié wat u soek, beslis nie verlaat nie, o Jehovah.” – PS. 9:10.

LIED 56 Leef die waarheid uit

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Wat leer ons uit Angelito se ondervinding, en wat moet elkeen van ons doen?

WORD jy deur ouers grootgemaak wat Jehovah se Getuies is? Indien wel, hou in gedagte dat jy nie ’n persoonlike verhouding met Jehovah by hulle kan erf nie. Of ons ouers God dien of nie, elkeen van ons moet ons eie vriendskap met Jehovah opbou.

2 Dink aan die ondervinding van ’n broer met die naam Angelito. Hy is grootgemaak deur Getuie-ouers. Maar toe hy jonger was, het hy nie eintlik na aan God gevoel nie. Hy sê: “Ek het Jehovah gedien net omdat ek wou doen wat my familie doen.” Maar Angelito het besluit om meer tyd daaraan te spandeer om God se Woord te lees en daaroor na te dink en hy het meer gereeld tot Jehovah begin bid. Wat was die resultaat? Angelito sê: “Ek het geleer dat ek net nader aan my liefdevolle Vader, Jehovah, sou kom as ek hom self beter leer ken.” Angelito se ondervinding laat ons aan ’n paar belangrike vrae dink: Wat is die verskil tussen om Jehovah te ken en om hom goed te ken? En hoe leer ons Jehovah goed ken?

3. Wat is die verskil tussen om te weet van Jehovah en om hom goed te ken?

3 Ons kan sê dat ’n persoon van Jehovah weet as hy bewus is van God se naam of as hy weet oor party van die dinge wat Hy gesê of gedoen het. Maar om Jehovah goed te ken behels meer. Ons moet tyd spandeer om oor Jehovah en sy wonderlike eienskappe te leer. Dan sal ons eers begin verstaan hoekom hy sekere dinge sê en doen. Dit sal ons help om te sien of Jehovah ons opinies, besluite en dade goedkeur. Wanneer ons weet wat Jehovah van ons verwag, moet ons dit doen.

4. Hoe sal dit ons help as ons nadink oor voorbeelde in die Bybel?

4 Party mense sal ons dalk spot omdat ons Jehovah wil dien en hulle sal ons dalk meer teëstaan wanneer ons vergaderinge begin bywoon. Maar as ons op Jehovah vertrou, sal hy ons nooit in die steek laat nie. Ons sal ’n vriendskap met God begin opbou wat ons vir altyd sal hê. Kan ons Jehovah regtig so goed ken? Ja, ons kan! Die voorbeelde van onvolmaakte manne, soos Moses en koning Dawid, wys dat dit moontlik is. Terwyl ons bespreek wat hulle gedoen het, sal ons twee vrae beantwoord: Hoe het hulle Jehovah leer ken? En watter lesse kan ons uit hulle voorbeelde leer?

MOSES HET “DIE ONSIGBARE” EEN GESIEN

5. Watter keuse het Moses gemaak?

5 Moses het gekies om God te dien. Toe Moses omtrent 40 jaar oud was, het hy gekies om saam met God se volk, die Israeliete, te assosieer eerder as “om die seun van Farao se dogter genoem te word” (Heb. 11:24). Moses het ’n belangrike posisie opgegee. Toe hy die Israeliete, wat slawe in Egipte was, se kant gekies het, het hy geweet dat Farao, ’n magtige heerser wat as ’n god beskou is, woedend sou wees. Wat ’n uitstekende bewys van geloof! Moses het op Jehovah vertrou. Sulke vertroue is baie belangrik om ’n vriendskap met Jehovah op te bou wat vir ewig sal hou. – Spr. 3:5.

6. Wat kan ons uit Moses se voorbeeld leer?

6 Wat is die les vir ons? Net soos Moses het ons almal ’n besluit om te maak: Sal ons kies om God te dien en om saam met sy volk te assosieer? Ons sal dalk opofferings moet maak om God te dien en ons sal dalk teëgestaan word deur dié wat Jehovah nie ken nie. Maar as ons op ons hemelse Vader vertrou, kan ons op hom staatmaak!

7-8. Wat het Moses aanhou leer?

7 Moses het aangehou om oor Jehovah se eienskappe te leer en om Sy wil te doen. Toe Jehovah byvoorbeeld vir Moses gevra het om die nasie Israel uit Egipte te lei, het Moses min selfvertroue gehad en het hy herhaaldelik vir Jehovah gesê dat hy dit nie kan doen nie. God se antwoord het gewys dat hy meegevoel met Moses gehad het en hy het hom gehelp (Eks. 4:10-16). As gevolg daarvan kon Moses kragtige oordeelsboodskappe aan Farao oordra. Moses het gesien hoe Jehovah sy krag gebruik toe Hy die Israeliete gered het, maar Farao en sy leërmagte in die Rooisee vernietig het. – Eks. 14:26-31; Ps. 136:15.

8 Nadat Moses die Israeliete uit Egipte gelei het, het hulle gedurig iets gevind om oor te kla. Maar Moses het gesien hoeveel geduld Jehovah met die volk gehad het wat Hy uit slawerny bevry het (Ps. 78:40-43). Moses het ook gesien hoe nederig Jehovah is toe Hy besluit het om nie die Israeliete te vernietig nie nadat Moses Hom gevra het om dit nie te doen nie. – Eks. 32:9-14.

9. Hoe sterk was Moses se verhouding met Jehovah volgens Hebreërs 11:27?

9 Nadat Moses die Israeliete uit Egipte gelei het, het sy verhouding met Jehovah so sterk geword dat dit was asof hy sy hemelse Vader kon sien. (Lees Hebreërs 11:27.) Die Bybel wys hoe sterk daardie vriendskap was. Dit sê: “Jehovah het van aangesig tot aangesig met Moses gepraat, soos ’n man met sy naaste sou praat.” – Eks. 33:11.

10. Wat moet ons doen om Jehovah goed te ken?

10 Wat is die les vir ons? Om Jehovah goed te ken, moet ons nie net oor sy eienskappe leer nie, ons moet ook sy wil doen. Jehovah se wil is dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Tim. 2:3, 4). Een manier hoe ons Jehovah se wil doen, is deur ander van hom te leer.

11. Hoe leer ken ons Jehovah beter wanneer ons ander van hom leer?

11 Dit is gewoonlik wanneer ons ander van Jehovah leer dat ons hom self beter leer ken. Byvoorbeeld, ons sien duidelike bewyse van Jehovah se meegevoel wanneer hy ons help om persone te vind wat sy vriende wil wees (Joh. 6:44; Hand. 13:48). Ons sien hoe kragtig God se Woord is wanneer dit ons Bybelstudente help om slegte gewoontes af te leer en hulle help om hulle lewe te verander (Kol. 3:9, 10). En ons sien bewyse van Jehovah se geduld omdat hy mense in ons gebied baie geleenthede gee om van hom te leer en gered te word. – Rom. 10:13-15.

12. Wat het Moses volgens Eksodus 33:13 gevra, en hoekom?

12 Moses het sy verhouding met Jehovah waardeer. Selfs nadat Jehovah Moses gebruik het om kragtige werke te doen, het Moses Jehovah op ’n respekvolle manier gevra of hy hom beter kan leer ken. (Lees Eksodus 33:13.) Moses was in sy 80’s toe hy Jehovah dit gevra het, maar hy het geweet dat daar nog baie is om oor sy hemelse Vader te leer.

13. Wat is een manier hoe ons kan wys dat ons ons vriendskap met Jehovah waardeer?

13 Wat is die les vir ons? Dit maak nie saak hoe lank ons Jehovah al dien nie, ons moet altyd ons vriendskap met hom waardeer. Een manier hoe ons kan wys dat ons ons vriendskap met God waardeer, is deur in gebed met hom te praat.

14. Hoekom is gebed belangrik as ons meer oor God wil leer?

14 As jy goeie vriende met iemand wil wees, moet jy gereeld met die persoon gesels. So as jy ’n goeie vriendskap met God wil hê, moet jy gereeld tot hom bid en nie bang wees om vir hom te vertel wat jy dink en hoe jy voel nie (Ef. 6:18). Krista, wat in Turkye bly, sê: “My liefde vir Jehovah en my vertroue in hom word al hoe sterker elke keer wanneer ek in gebed vir hom sê hoe ek voel en dan sien hoe hy my help. Wanneer ek sien hoe Jehovah my gebede beantwoord, help dit my om Jehovah as ’n Pa en Vriend te beskou.”

’N MAN NA AAN JEHOVAH SE HART

15. Hoe het Jehovah koning Dawid beskryf?

15 Koning Dawid is in ’n nasie gebore wat aan Jehovah God toegewy was. Maar Dawid het meer gedoen as om net sy familie se godsdienstradisies te volg. Hy het sy eie verhouding met Jehovah opgebou, en God het hom baie liefgehad. Jehovah het Dawid beskryf as “’n man na [Sy] hart” (Hand. 13:22). Hoe het Dawid so na aan Jehovah gekom?

16. Wat het Dawid oor Jehovah geleer deur na die skepping te kyk?

16 Dawid het by die skepping oor Jehovah geleer. Toe Dawid jonk was, het hy baie tyd buite spandeer om na sy pa se skape te kyk. Hy het dalk toe begin om na te dink oor die dinge wat Jehovah gemaak het. Toe Dawid byvoorbeeld saans op na die hemelruim gekyk het, het hy meer as net duisende sterre gesien. Hy het die eienskappe gesien van die Een wat hulle gemaak het. Dawid het geskryf: “Die hemele maak die heerlikheid van God bekend; en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Ps. 19:1, 2). Toe Dawid nadink oor die wonderlike manier hoe die mens gemaak is, het hy Jehovah se wysheid gesien (Ps. 139:14). Toe Dawid gedink het oor die dinge wat Jehovah gemaak het, het hy besef hoe klein hy in vergelyking met Jehovah is. – Ps. 139:6.

17. Wat kan ons leer as ons oor die skepping nadink?

17 Wat is die les vir ons? Stel in die skepping belang. Moenie net in hierdie pragtige wêreld bestaan wat Jehovah gemaak het nie, waardeer Jehovah se pragtige skeppingswerke! Dink elke dag na oor wat die skepping rondom jou – die plante, diere en mense – jou oor Jehovah leer. Dan sal jy elke dag iets nuuts oor jou liefdevolle Vader leer (Rom. 1:20). En jy sal elke dag sien hoe jou liefde vir hom al hoe sterker word.

18. Wat het Dawid volgens Psalm 18 erken?

18 Dawid het erken dat Jehovah hom help. Byvoorbeeld, toe Dawid sy pa se skape teen ’n leeu en ’n beer beskerm het, het hy erken dat Jehovah hom gehelp het om daardie wilde diere dood te maak. Toe hy die reus Goliat doodgemaak het, het hy duidelik gesien dat Jehovah die een was wat hom gelei het (1 Sam. 17:37). En toe hy van die jaloerse koning Saul gevlug het, het hy erken dat Jehovah hom gered het (Ps. 18, opskrif). As Dawid trots was, sou hy dalk gedink het dat hy hierdie dinge op sy eie reggekry het. Maar omdat hy nederig was, kon hy Jehovah se hand in sy lewe sien. – Ps. 138:6.

19. Wat kan ons uit Dawid se voorbeeld leer?

19 Wat is die les vir ons? Ons moet meer doen as om net vir Jehovah te vra om ons te help. Ons moet ook probeer sien hoe en wanneer hy ons help. As ons nederig erken dat ons nie alles self kan doen nie, sal ons duidelik sien hoe Jehovah ons help. En elke keer wanneer ons sien hoe Jehovah ons help, word ons verhouding met hom al hoe sterker. Isaac, ’n broer in Fidji wat Jehovah al baie jare dien, het gesien dat dit waar is. Hy sê: “As ek terugkyk, kan ek sien hoe Jehovah my gehelp het vandat ek die Bybel begin studeer het tot vandag toe. Daarom is Jehovah ’n werklike persoon vir my.”

20. Wat kan ons leer uit Dawid se verhouding met God?

20 Dawid het Jehovah se eienskappe nagevolg. Jehovah het ons gemaak met die vermoë om sy eienskappe na te volg (Gen. 1:26). Hoe meer ons oor Jehovah se eienskappe leer, hoe beter sal ons hom kan navolg. Dawid het sy hemelse Vader goed leer ken, en daarom kon hy Hom navolg in die manier hoe hy ander behandel het. Kyk na net een voorbeeld. Dawid het teen Jehovah gesondig toe hy egbreuk met Batseba gepleeg het en haar man laat doodmaak het (2 Sam. 11:1-4, 15). Maar Jehovah het gekies om genadig teenoor Dawid te wees, ’n man wat genadig teenoor ander was. Omdat Dawid so ’n goeie verhouding met Jehovah gehad het, was die Israeliete baie lief vir hom en het Jehovah hom as ’n voorbeeld vir ander konings van Israel gebruik. – 1 Kon. 15:11; 2 Kon. 14:1-3.

21. Wat sal die resultate volgens Efesiërs 4:24 en 5:1 wees as ons “navolgers van God” is?

21 Wat is die les vir ons? Ons moet “navolgers van God” wees. Deur dit te doen, bevoordeel ons nie net onsself nie, maar dit help ons ook om hom beter te leer ken. Wanneer ons God se eienskappe navolg, wys ons dat ons sy kinders is. – Lees Efesiërs 4:24; 5:1.

HOU AAN OM JEHOVAH BETER TE LEER KEN

22-23. Wat sal gebeur as ons toepas wat ons oor Jehovah leer?

22 Soos ons gesien het, kan die skepping en die Bybel ons meer oor Jehovah leer. In die Bybel is daar baie voorbeelde van getroue knegte van God wat ons kan navolg, soos Moses en Dawid. Jehovah het sy deel gedoen. Ons moet ons deel doen en soveel as moontlik oor hom leer deur ons oë, ore en hart oop te hou.

23 Ons sal altyd meer oor Jehovah leer (Pred. 3:11). Wat belangrik is, is nie hoeveel ons oor hom weet nie, maar wat ons doen met wat ons weet. As ons toepas wat ons leer en probeer om ons liefdevolle Vader na te volg, sal hy aanhou om nader aan ons te kom (Jak. 4:8). Deur sy Woord verseker hy ons dat hy nooit dié sal verlaat wat probeer om hom goed te leer ken nie.

LIED 80 ‘Kom ondervind dat Jehovah goed is’

^ par. 5 Baie mense glo dat God bestaan, maar hulle ken hom nie regtig nie. Wat beteken dit om Jehovah te ken, en wat kan ons uit Moses en koning Dawid se voorbeelde leer oor hoe om ’n sterk verhouding met Hom op te bou? Hierdie artikel sal hierdie vrae beantwoord.