Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 50

Jehovah maak dit vir jou moontlik om vry te wees

Jehovah maak dit vir jou moontlik om vry te wees

“Julle moet . . . vrylating in die land uitroep vir al sy inwoners.” – LEV. 25:10.

LIED 22 Die Koninkryk regeer – Laat dit kom!

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Wat is ’n jubeljaar? (Sien die venster “ Wat was die Jubeljaar?”) (b) Waaroor het Jesus in Lukas 4:16-18 gepraat?

IN PARTY lande word spesiale geleenthede gereël om die 50ste regeringsjaar van ’n koning of koningin te vier. Hierdie 50ste jaar staan dikwels bekend as die heerser se jubeljaar. Die vieringe van die jubeljaar hou dalk vir ’n dag, ’n week of selfs langer aan, maar uiteindelik kom dit tot ’n einde en die mense vergeet gou die vreugdevolle tyd.

2 Ons sal ’n beter jubeljaar bespreek, selfs beter as die jaarlange viering wat elke 50 jaar in eertydse Israel gevier is. Die eertydse Jubeljaar het vryheid aan die Israeliete gegee. Hoekom is dit vir ons belangrik? Omdat die Israeliete se Jubeljaar ons herinner aan ’n voorsiening wat Jehovah vir ons gemaak het. Hierdie voorsiening sal vir ons vryheid bring wat nooit sal ophou nie, en ons kan nou al daarby baat vind. Jesus het oor hierdie wonderlike vryheid gepraat. – Lees Lukas 4:16-18.

Die Jubeljaar was ’n vreugdevolle tyd in Israel omdat dié wat slawe was, na hulle familie en hulle land teruggekeer het (Sien paragraaf 3) *

3. Hoe het die Israeliete volgens Levitikus 25:8-12 by die Jubeljaar baat gevind?

3 As ons eers die Jubeljaar bespreek wat God vir sy eertydse volk gereël het, sal dit vir ons makliker wees om te verstaan wat Jesus bedoel het toe hy van vryheid gepraat het. Jehovah het vir die Israeliete gesê: “Julle moet die vyftigste jaar heilig en vrylating in die land uitroep vir al sy inwoners. Dit moet vir julle ’n Jubeljaar word, en elkeen van julle moet na sy besitting terugkeer en elkeen van julle moet na sy familie terugkeer.” (Lees Levitikus 25:8-12.) In die vorige artikel het ons gesien hoe die Israeliete by die weeklikse Sabbat baat gevind het. Maar hoe het die Israeliete by die Jubeljaar baat gevind? Sê nou ’n Israeliet het baie skuld gehad en as gevolg daarvan moes hy sy land verkoop om sy skuld af te betaal. Gedurende die Jubeljaar moes daardie land aan hom teruggegee word. Die man kon “na sy besitting terugkeer”, en sy kinders kon dus eendag die land erf. Of miskien het ’n man soveel skuld gehad dat hy een van sy kinders of homself as ’n slaaf moes verkoop om sy skuld te betaal. Gedurende die Jubeljaar moes die slaaf “na sy familie terugkeer”. So niemand sou vir ewig ’n slaaf wees sonder enige hoop nie! Hierdie reëling wys dat Jehovah regtig vir sy volk omgegee het!

4-5. Hoekom moet ons in die eertydse Jubeljaar belangstel?

4 Wat was nog ’n voordeel van die Jubeljaar? Jehovah het verduidelik: “Niemand onder jou moet egter arm word nie, want Jehovah sal jou vir seker seën in die land wat Jehovah jou God jou as ’n erfdeel gee om dit in besit te neem” (Deut. 15:4). Dit is soveel anders as wat vandag in die wêreld gebeur! Die rykes word ryker en die armes word armer.

5 As Christene is ons nie onder die Wet van Moses nie. Dit beteken dat ons nie die wet oor die Jubeljaar volg, wat slawe bevry het, skulde gekanselleer het en wat mense hulle familie se land teruggegee het nie (Rom. 7:4; 10:4; Ef. 2:15). Maar ons het rede om in die Jubeljaar belang te stel. Hoekom? Omdat ons vryheid kan geniet wat ons herinner aan die reëling wat Jehovah vir die Israeliete voorsien het.

JESUS HET VRYHEID AANGEKONDIG

6. Waarvan moet die mensdom bevry word?

6 Ons almal moet bevry word omdat ons slawe van sonde is – ’n wrede vorm van slawerny. Omdat ons sondaars is, word ons oud, siek en sterf ons. Baie sien bewyse hiervan wanneer hulle in die spieël kyk of wanneer hulle dokter toe gaan omdat hulle siek is. Ons word ook mismoedig wanneer ons sondig. Die apostel Paulus het erken dat hy ’n “gevangene [is] van die wet van die sonde wat in [sy] lede is”. Hy het verder gesê: “Ellendige mens wat ek is! Wie sal my red van die liggaam wat hierdie dood ondergaan?” – Rom. 7:23, 24.

7. Wat het Jesaja oor vryheid voorspel?

7 Gelukkig het God ’n manier voorsien om ons te red, of te bevry van sonde. Jesus is die een wat hierdie vryheid moontlik maak. In die agtste eeu voor die Huidige Jaartelling, het die profeet Jesaja ’n baie beter soort vryheid voorspel as wat die Israeliete gedurende die Jubeljaar gehad het. Hy het geskryf: “Die gees van die Soewereine Heer Jehovah is op my, omdat Jehovah my gesalf het om goeie nuus aan die sagmoediges te verkondig. Hy het my gestuur om die gebrokenes van hart te verbind, om uit te roep dat dié wat gevange geneem is, vrygelaat sal word” (Jes. 61:1). Op wie is hierdie profesie van toepassing?

8. Op wie is Jesaja se profesie oor vryheid van toepassing?

8 Daardie belangrike profesie oor vryheid het in vervulling begin gaan nadat Jesus met sy bediening begin het. Toe Jesus na die sinagoge in sy tuisdorp Nasaret gegaan het, het hy hierdie woorde van Jesaja vir die Jode gelees wat daar bymekaargekom het. Jesus het hierdie woorde op homself toegepas: “Jehovah se gees is op my, want hy het my gesalf om goeie nuus aan die armes bekend te maak, hy het my uitgestuur om ’n vrylating aan die gevangenes te verkondig en ’n herstel van gesig aan die blindes, om die verbryseldes in vryheid weg te stuur, om Jehovah se aanneemlike jaar te verkondig” (Luk. 4:16-19). Hoe het Jesus hierdie profesie vervul?

DIE EERSTE MENSE WAT BEVRY SOU WORD

Jesus kondig vryheid in die sinagoge in Nasaret aan (Sien paragraaf 8-9)

9. Waarvan wou mense in Jesus se tyd bevry word?

9 In die eerste eeu het mense die vryheid begin ontvang wat Jesaja voorspel het en waarvan Jesus gelees het. Jesus het dit bevestig toe hy aangekondig het: “Vandag is hierdie Skrifgedeelte wat julle so pas gehoor het, vervul” (Luk. 4:21). Baie wat gehoor het wat Jesus gelees het, het waarskynlik gehoop dat hulle bevry sou word van die Romeinse regering. Hulle het dalk gevoel soos die twee manne wat gesê het: “Ons het gehoop dat hierdie man die een was wat bestem is om Israel te verlos” (Luk. 24:13, 21). Maar ons weet dat Jesus nie sy volgelinge aangespoor het om teen die wrede heerskappy van die Romeinse regering in opstand te kom nie. Hy het eerder vir hulle gesê: “Betaal dan aan die keiser terug wat aan die keiser behoort” (Matt. 22:21). So hoe het Jesus mense in daardie tyd bevry?

10. Waarvan het Jesus mense bevry?

10 God se Seun het gekom om mense op twee maniere te bevry. Eerstens, Jesus het mense bevry van die verkeerde leerstellings van die godsdiensleiers. Baie Jode in daardie tyd is geforseer om tradisies van mense en verkeerde leerstellings te volg (Matt. 5:31-37; 15:1-11). Dié wat gesê het dat hulle mense help om God te dien, was in ’n sekere sin blind. Omdat hulle die Messias en die waarheid wat hy hulle geleer het, verwerp het, het hulle in duisternis en sonde gebly (Joh. 9:1, 14-16, 35-41). Omdat Jesus mense die waarheid geleer het en ’n goeie voorbeeld gestel het, het hy vir nederige mense gewys hoe hulle bevry kan word van verkeerde leerstellings. – Mark. 1:22; 2:23–3:5.

11. Op watter ander manier het Jesus mense bevry?

11 Tweedens, Jesus het dit vir mense moontlik gemaak om bevry te word van die sonde wat hulle geërf het. Omdat Jesus sy lewe as ’n losprys gegee het, kon God die sondes vergewe van dié wat geloof het en dié wat die losprys aanvaar wat Hy voorsien het (Heb. 10:12-18). Jesus het gesê: “As die Seun julle dan vrymaak, sal julle werklik vry wees” (Joh. 8:36). Daardie vryheid was beslis baie beter as die vryheid wat die Israeliete gedurende die Jubeljaar gehad het! ’n Man wat byvoorbeeld gedurende die Jubeljaar vrygelaat is, kon dalk weer ’n slaaf geword het en hy sou in elk geval uiteindelik sterf.

12. Wie het eerste baat gevind by die vryheid wat Jesus aangekondig het?

12 Op Pinkster 33 HJ het Jehovah die apostels en ander getroue manne en vroue met heilige gees gesalf. Hy het hulle as seuns aangeneem sodat hulle in die toekoms tot hemelse lewe opgewek sou word om saam met Jesus te regeer (Rom. 8:2, 15-17). Hulle was die eerste mense wat baat gevind het by die vryheid wat Jesus in die sinagoge in Nasaret aangekondig het. Hierdie manne en vroue was nie meer slawe van die valse leerstellings en onskriftuurlike gebruike van die Joodse godsdiensleiers nie. Hulle was ook in God se oë bevry van sonde wat tot die dood lei. Die simboliese Jubeljaar wat begin het toe Christus se volgelinge in 33 HJ met heilige gees gesalf is, sal aan die einde van Jesus se Duisendjarige Heerskappy tot ’n einde kom. Watter goeie dinge sal teen daardie tyd al gebeur het?

MILJOENE ANDER SAL BEVRY WORD

13-14. Wie kan ook die vryheid kry wat Jesus aangekondig het?

13 Vandag is miljoene opregte mense uit al die nasies deel van die “ander skape” (Joh. 10:16). Hulle is nie deur God gekies om saam met Jesus in die hemel te regeer nie. Die Bybel sê eerder dat hulle die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe. Het jy hierdie hoop?

14 Jy kan nou al party van die voordele ontvang wat die gesalfdes geniet. Omdat jy geloof het in Jesus se losprys, kan jy Jehovah vra om jou sondes te vergewe. Dit lei tot God se goedkeuring en ’n goeie gewete (Ef. 1:7; Op. 7:14, 15). Dink ook aan die seëninge wat jy geniet omdat jy bevry is van valse leerstellings. Jesus het gesê: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32). Ons is baie bly om sulke vryheid te geniet!

15. Watter vryheid en seëninge kan ons in die toekoms verwag?

15 Ons kan selfs groter vryheid in die toekoms verwag. Binnekort sal Jesus valse godsdiens en korrupte menseregerings vernietig. God sal “ ’n groot menigte” wat hom dien, beskerm, en dan sal hulle seëninge op ’n aardse paradys geniet (Op. 7:9, 14). Baie mense sal opgewek word en die geleentheid hê om bevry te word van al die gevolge van Adam se sonde. – Hand. 24:15.

16. Watter wonderlike vryheid sal mense in die toekoms ontvang?

16 Gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sal hy en sy medeheersers die mensdom help om volmaakte gesondheid en ’n volmaakte verhouding met God te hê. Hierdie tyd van herstel en bevryding sal soos die Jubeljaar in Israel wees. Dit sal beteken dat alle mense wat Jehovah lojaal dien, heeltemal volmaak sal wees en nie meer sal sondig nie.

In die nuwe wêreld sal ons betekenisvolle werk doen wat ons gelukkig maak (Sien paragraaf 17)

17. Wat voorspel Jesaja 65:21-23 vir God se volk? (Sien prent op voorblad.)

17 Jesaja 65:21-23 beskryf hoe die lewe in die toekoms op die aarde sal wees. (Lees.) Ons sal nie lui wees en niks doen nie. Die Bybel wys eerder dat God se volk gedurende daardie tyd betekenisvolle werk sal doen wat hulle gelukkig sal maak. Aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy kan ons seker wees dat “die skepping self ook van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê”. – Rom. 8:21.

18. Hoekom kan ons seker wees dat ons ’n gelukkige toekoms sal hê?

18 Net soos Jehovah seker gemaak het dat die Israeliete genoeg tyd vir werk en rus gehad het, sal hy dieselfde vir sy volk doen gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy. Daar sal sekerlik tyd wees vir geestelike dinge. Om God te aanbid is baie belangrik vir ons geluk, en dit sal ook so in die nuwe wêreld wees. Alle getroue mense sal gelukkig wees gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy omdat ons almal God sal dien en werk sal hê wat ons geniet.

LIED 142 Ons hoop is ’n anker

^ par. 5 Jehovah het ’n manier voorsien vir die Israeliete om bevry te word. Dit was die Jubeljaar. Christene is nie onder die Wet van Moses nie, maar dit is belangrik vir ons om oor die Jubeljaar te leer. In hierdie artikel sal ons sien hoe die eertydse Jubeljaar ons herinner aan ’n voorsiening wat Jehovah vir ons gemaak het en hoe ons daarby kan baat vind.

^ par. 61 BESKRYWING VAN PRENT: Manne wat slawe was, is gedurende die Jubeljaar bevry en kon na hulle familie en hulle land terugkeer.