Vrae van lesers
Die Bybel sê dat ten minste twee getuies nodig is om ’n saak te bevestig (Num. 35:30; Deut. 17:6; 19:15; Matt. 18:16; 1 Tim. 5:19). Maar volgens die Wet, as ’n man ’n verloofde meisie “in die veld” verkrag en sy geskree het, was sy nie skuldig aan egbreuk nie, maar hy was wel. Aangesien ander nie die verkragting gesien het nie, hoekom was sy onskuldig maar hy skuldig?
Die verslag in Deuteronomium 22:25-27 was nie om te bewys dat die man skuldig is nie, want in hierdie verslag was die man alreeds skuldig. Hierdie wet het daarop gefokus om te bevestig dat die vrou onskuldig is. Kyk na die konteks.
Die vorige verse praat van ’n man wat “in die stad” seks gehad het met ’n verloofde vrou. Deur dit te doen, was hy skuldig aan egbreuk omdat die verloofde vrou as getroud beskou is. Maar wat van die vrou? “Sy [het] nie in die stad geskreeu” nie. As sy dit gedoen het, sou ander haar sekerlik gehoor en haar gehelp het. Maar sy het nie geskree nie. Sy het dus ook egbreuk gepleeg, en hulle al twee is skuldig bevind. – Deut. 22:23, 24.
In die volgende verse beskryf die Wet ’n ander situasie: “As die man die verloofde meisie egter in die veld gevind het, en die man het haar gegryp en by haar gaan lê, dan moet die man wat by haar gaan lê het, alleen sterf, en aan die meisie mag jy niks doen nie. Die meisie het geen sonde wat die dood verdien nie, want net soos wanneer ’n man teen sy medemens opstaan en hom inderdaad vermoor, ja, ’n siel, so is hierdie geval. Want hy het haar in die veld gevind. Die verloofde meisie het geskreeu, maar daar was niemand om haar te red nie.” – Deut. 22:25-27.
In hierdie geval het die regters aangeneem dat die vrou onskuldig is. Hoekom? Hulle het aangeneem dat sy “geskreeu [het], maar daar was niemand om haar te red nie”. So sy het nie egbreuk gepleeg nie. Maar die man was skuldig aan verkragting en egbreuk omdat hy die verloofde vrou “gegryp en by haar gaan lê” het.
Maar alhoewel hierdie wet op die vrou se onskuld gefokus het, sê die verslag met goeie rede dat die man skuldig is aan verkragting en egbreuk. Ons kan seker wees dat die regters die saak “deeglik [sou] ondersoek” en ’n besluit sou maak wat gebaseer is op God se duidelike riglyne wat hy herhaaldelik gegee het. – Deut. 13:14; 17:4; Eks. 20:14.