Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 52

Ouers – Leer julle kinders om Jehovah lief te hê

Ouers – Leer julle kinders om Jehovah lief te hê

“Seuns is ’n erfdeel van Jehovah.” – PS. 127:3.

LIED 134 Kinders is ’n erfdeel van God

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter verantwoordelikheid het Jehovah ouers gegee?

JEHOVAH het die eerste paartjie gemaak met die begeerte om kinders te hê. Die Bybel sê: “Seuns is ’n erfdeel van Jehovah” (Ps. 127:3). Wat beteken dit? Stel jou voor dat ’n goeie vriend jou vra om na ’n groot bedrag geld te kyk. Hoe sou jy voel? Jy sal heel waarskynlik goed voel omdat hy jou vertrou. Maar jy wonder dalk hoe jy die geld veilig sal hou. Jehovah, ons beste Vriend, gee ouers iets om na te kyk wat baie waardevoller as geld is. Hy gee hulle die verantwoordelikheid om seker te maak dat hulle kinders goed versorg en gelukkig is.

2. Watter vrae sal ons bespreek?

2 Wie moet besluit of en wanneer ’n getroude paartjie kinders sal hê? En wat kan ouers doen om hulle kinders te help om ’n gelukkige lewe te hê? Kyk na net ’n paar beginsels in God se Woord wat Christenpaartjies kan help om wyse besluite te maak.

RESPEKTEER ’N PAARTJIE SE BESLUIT

3. (a) Wie moet besluit of ’n paartjie kinders sal hê? (b) Watter Bybelbeginsel moet ’n paartjie se vriende en familie in gedagte hou?

3 In party kulture word daar van pasgetroude paartjies verwag om so gou as moontlik kinders te hê. Hulle familie en ander sit dalk druk op hulle om hierdie tradisie te volg. Jethro, ’n broer in Asië, sê: “Party in die gemeente wat kinders het, sit druk op paartjies wat nie kinders het nie, om ’n gesin te begin.” Jeffrey, nog ’n broer in Asië, sê: “Party sê vir paartjies wat nie kinders het nie, dat hulle niemand sal hê om na hulle te kyk wanneer hulle oud word nie.” Maar elke paartjie moet self besluit of hulle kinders sal hê. Dit is hulle besluit en verantwoordelikheid (Gal. 6:5). Vriende en familie wil natuurlik hê dat die pasgetroude paartjie gelukkig moet wees. Maar almal moet onthou dat dit die paartjie se besluit is of hulle kinders sal hê of nie. – 1 Tess. 4:11.

4-5. Watter twee onderwerpe moet paartjies bespreek, en wanneer is die beste tyd om dit te bespreek? Verduidelik.

4 ’n Paartjie wat besluit om kinders te hê, moet twee belangrike vrae bespreek: Eerstens, wanneer wil hulle kinders hê? Tweedens, hoeveel kinders wil hulle hê? Wanneer is die beste tyd vir ’n paartjie om dit te bespreek? En hoekom is hierdie twee onderwerpe so belangrik?

5 In die meeste gevalle is dit goed dat ’n paartjie, voordat hulle trou, bespreek of hulle kinders wil hê. Hoekom? Omdat dit baie belangrik is dat al twee dieselfde oor hierdie onderwerp voel. Hulle moet ook bespreek of hulle reg is vir hierdie verantwoordelikheid. Party paartjies het besluit om ’n jaar of twee ná die troue te wag voordat hulle ouers word, iets wat baie van hulle tyd en energie sal neem. Die rede hoekom hulle eers ’n tydjie wag, is sodat hulle tyd kan hê om gewoond te raak aan die getroude lewe en om nader aan mekaar te kom. – Ef. 5:33.

6. Wat het party paartjies besluit as gevolg van die moeilike tye waarin ons lewe?

6 Ander Christene het besluit om die voorbeeld na te volg van Noag se drie seuns en hulle vrouens. Hierdie drie paartjies het nie dadelik kinders gehad nie (Gen. 6:18; 9:18, 19; 10:1; 2 Pet. 2:5). Jesus het ons tyd vergelyk met “die dae van Noag”, en daar is geen twyfel dat ons in “kritieke tye [lewe] wat moeilik is om deur te kom” nie (Matt. 24:37; 2 Tim. 3:1). Met dit in gedagte het party paartjies besluit dat hulle eers sal wag voordat hulle kinders sal hê sodat hulle meer in Jehovah se diens kan doen.

Wanneer wyse paartjies besluit of hulle kinders sal hê en hoeveel kinders hulle wil hê, sal hulle eers “die koste bereken” (Sien paragraaf 7) *

7. Hoe kan die beginsels in Lukas 14:28, 29 en Spreuke 21:5 ’n paartjie help?

7 Wanneer wyse paartjies besluit of hulle kinders wil hê en hoeveel kinders hulle wil hê, sal hulle eers “die koste bereken”. (Lees Lukas 14:28, 29.) Ouers wat al kinders grootgemaak het, weet dat dit nie net geld kos om kinders groot te maak nie, maar dit kos ook tyd en energie. Daarom is dit belangrik dat ’n paartjie aan die volgende vrae dink: ‘Sal al twee van ons moet werk om die basiese dinge te koop wat die gesin nodig sal hê? Stem ons saam oor wat die “basiese dinge” is? As ons al twee moet werk, wie sal na ons kinders kyk? Wie sal ’n invloed hê op wat hulle dink en doen?’ Paartjies wat hierdie vrae op ’n kalm manier bespreek, pas die woorde in Spreuke 21:5 toe. – Lees.

’n Liefdevolle man doen alles wat hy kan om sy vrou te ondersteun (Sien paragraaf 8)

8. Watter uitdagings moet Christenpaartjies verwag, en wat sal ’n liefdevolle man doen?

8 ’n Kind verdien en het baie tyd en energie van albei ouers nodig. So as ’n paartjie ’n hele paar kinders kort ná mekaar het, kan dit vir hulle ’n uitdaging wees om elke kind die nodige aandag te gee. Party paartjies wat ’n hele paar jong kinders gehad het, het gesê dat hulle oorweldig gevoel het. ’n Ma voel dalk fisies en emosioneel uitgeput. Kan dit veroorsaak dat sy nie die energie het om te studeer, te bid en gereeld velddiens te doen nie? Dit kan ook vir haar moeilik wees om by die vergaderinge aandag te skenk en daarby baat te vind. ’n Liefdevolle man sal natuurlik doen wat hy kan om sy vrou te ondersteun wanneer hulle kinders aandag nodig het, by die vergaderinge en by die huis. Byvoorbeeld, hy kan sy vrou help met takies by die huis. Hy sal ook sy bes doen om seker te maak dat almal by ’n gereelde program van Gesinsaanbidding baat vind. En hy sal gereeld saam met sy gesin velddiens doen.

LEER JULLE KINDERS OM JEHOVAH LIEF TE HÊ

9-10. Wat is belangrik as ouers hulle kinders wil help?

9 Wat is ’n paar dinge wat ouers kan doen om hulle kinders te help om te leer om Jehovah lief te hê? Hoe kan hulle hulle kinders teen die gevare van hierdie slegte wêreld beskerm? Kom ons bespreek ’n paar dinge wat ouers kan doen.

10 Bid vir Jehovah se hulp. Kyk na die voorbeeld van Manoag en sy vrou, die ouers van Simson. Toe Manoag en sy vrou uitvind dat hulle ’n seun gaan hê, het hy Jehovah gesmeek vir leiding oor hoe om hulle kind groot te maak.

11. Hoe kan ouers Manoag se voorbeeld navolg, soos beskryf word in Rigters 13:8?

11 Nihad en Alma, van Bosnië-Herzegowina, het uit Manoag se voorbeeld geleer. Hulle sê: “Net soos Manoag het ons Jehovah gesmeek om ons te help om goeie ouers te wees. En Jehovah het ons gebede op verskillende maniere beantwoord – deur die Bybel, Bybellektuur, gemeentelike vergaderinge en streekbyeenkomste.” – Lees Rigters 13:8.

12. Watter voorbeeld het Josef en Maria vir hulle kinders gestel?

12 Stel ’n goeie voorbeeld. Wat jy sê is belangrik; maar wat jy doen sal waarskynlik ’n groter invloed op jou kind hê. Ons kan seker wees dat Josef en Maria ’n uitstekende voorbeeld vir hulle kinders gestel het, insluitende Jesus. Josef het hard gewerk om vir sy gesin te sorg. Hy het hulle ook aangespoor om geestelike dinge te waardeer (Deut. 4:9, 10). Alhoewel Josef nie volgens die Wet verplig was om sy gesin “van jaar tot jaar” saam met hom na Jerusalem te neem om die Pasga te vier nie, het hy dit nog steeds gedoen (Luk. 2:41, 42). Dalk het ander pa’s gedink dat dit te moeilik sou wees, te veel tyd sou neem en te duur sou wees om die hele gesin op so ’n reis te vat. Maar dit is duidelik dat Josef geestelike dinge waardeer het en sy kinders geleer het om dit ook te doen. En Maria het die Skrif goed geken. Sy het ongetwyfeld haar kinders geleer om lief te wees vir God se Woord deur wat sy gesê en gedoen het.

13. Hoe het ’n paartjie die voorbeeld van Josef en Maria nagevolg?

13 Nihad en Alma, wat vroeër genoem is, wou die voorbeeld van Josef en Maria navolg. Hoe het dit hulle gehelp om hulle seun groot te maak om God lief te hê en hom te dien? Hulle sê: “Ons het deur die manier waarop ons lewe vir ons seun probeer wys hoe goed dit is om volgens Jehovah se beginsels te lewe.” Nihad sê verder: “Wees die soort mens wie jy wil hê jou kind moet wees.”

14. Hoekom moet ouers weet wie hulle kinders se vriende is?

14 Help jou kinders om goeie vriende te kies. Die ma en die pa moet weet wie hulle kinders se vriende is en waarmee hulle kinders besig is. Dit beteken dat die ouers ook moet weet met wie hulle kinders praat op sosiale media en op hulle foon. Hierdie vriende kan ’n invloed hê op wat die kinders dink en doen. – 1 Kor. 15:33.

15. Wat kan ouers uit die voorbeeld van Jessie leer?

15 Wat kan ouers doen as hulle nie baie weet oor rekenaars en elektroniese toestelle nie? Jessie, ’n pa in die Filippyne, sê: “Ons het nie baie oor tegnologie geweet nie. Maar dit het ons nie gekeer om ons kinders bewus te maak van die moontlike gevare van elektroniese toestelle nie.” Jessie het nie sy kinders verbied om hierdie toestelle te gebruik net omdat hy nie baie daarvan geweet het nie. Hy verduidelik: “Ek het my kinders aangespoor om hulle elektroniese toestelle te gebruik om ’n nuwe taal te leer, om vir die vergaderinge voor te berei en om die Bybel elke dag te lees.” Het julle as ouers al die goeie raad oor teksboodskappe en om foto’s aanlyn te stuur met jou kinders gelees en bespreek wat op jw.org® onder die afdeling vir “Tieners” beskikbaar is? Het julle al die video’s Wie is in beheer – Jy of tegnologie? en Werk slim met sosiale netwerke met hulle gekyk? * Hierdie inligting kan julle help terwyl julle julle kinders leer hoe om elektroniese toestelle wyslik te gebruik. – Spr. 13:20.

16. Wat het baie ouers gedoen, en wat was die resultaat?

16 Baie ouers doen hulle bes om seker te maak dat hulle kinders tyd spandeer met dié wat ’n goeie voorbeeld in God se diens stel. Byvoorbeeld, N’Déni en Bomine, ’n paartjie in Côte d’Ivoire, het dikwels die kringopsiener genooi om by hulle te bly. N’Déni sê: “Dit het ’n goeie uitwerking op ons seun gehad. Hy het begin pionier en dien nou as ’n instaankringopsiener.” Kan julle soortgelyke assosiasie vir julle kinders reël?

17-18. Wanneer moet ouers hulle kinders begin leer?

17 Begin julle kinders so gou as moontlik leer. Hoe vroeër ouers hulle kinders begin leer, hoe beter (Spr. 22:6). Dink aan Timoteus, wat saam met die apostel Paulus gereis het toe hy ouer was. Timoteus se ma, Eunice, en sy ouma, Loïs, het hom “van kleintyd af” geleer. – 2 Tim. 1:5; 3:15.

18 Jean-Claude en Peace, nog ’n paartjie in Côte d’Ivoire, wat ses kinders het, kon hulle almal grootmaak om Jehovah lief te hê en hom te dien. Wat het hulle gehelp om suksesvol te wees? Hulle het die voorbeeld van Eunice en Loïs nagevolg. Hulle sê: “Ons het God se Woord by ons kinders van kleins af ingeskerp. Ons het begin kort nadat hulle gebore is.” – Deut. 6:6, 7.

19. Wat beteken dit om God se Woord by jou kinders in te skerp?

19 Wat beteken dit om Jehovah se Woord by jou kinders ‘in te skerp’? ‘Om in te skerp’ beteken ‘om te leer deur dikwels te herhaal’. Om dit te doen, moet ouers gereeld tyd met hulle kinders spandeer. Partykeer kan ouers gefrustreerd raak omdat hulle heeltyd instruksies vir hulle kinders moet herhaal. Maar ouers kan dit as ’n geleentheid sien om hulle kinders te help om God se Woord te verstaan en toe te pas.

Ouers moet besluit hoe hulle elke kind gaan leer (Sien paragraaf 20) *

20. Verduidelik hoe Psalm 127:4 toegepas kan word wanneer jy kinders grootmaak.

20 Ken jou kinders goed. Psalm 127 vergelyk kinders met pyle. (Lees Psalm 127:4.) Net soos pyle van verskillende materiaal gemaak word en in grootte verskil, is daar nie een kind wat presies dieselfde as die ander een is nie. So ouers moet besluit hoe hulle elke kind gaan leer. ’n Paartjie in Israel wat twee kinders suksesvol grootgemaak het om Jehovah te dien, sê wat hulle gehelp het: “Ons het ’n Bybelstudie met elke kind apart gehou.” Elke gesinshoof sal natuurlik besluit of dit nodig of moontlik is om op hierdie manier te studeer.

JEHOVAH SAL JULLE HELP

21. Watter hulp kan ouers van Jehovah verwag?

21 Ouers voel soms dat dit te moeilik is om hulle kinders te leer, maar kinders is ’n geskenk van Jehovah. Hy is altyd gereed om ouers te help. Hy luister graag na die gebede van ouers. En hy beantwoord hierdie gebede deur middel van die Bybel, ons publikasies en die voorbeelde en raad van ervare ouers in die gemeente.

22. Wat is van die beste dinge wat ouers hulle kinders kan gee?

22 Party mense het al gesê dat om kinders groot te maak ’n 20 jaar lange projek is, maar ouers hou nooit regtig op om ouers te wees nie. Van die beste dinge wat hulle hulle kinders kan gee, is liefde, tyd en onderrigting uit die Bybel. Elke kind sal anders reageer op hulle ouers se onderrigting. Maar baie van hulle wat deur ouers grootgemaak is wat Jehovah liefhet, voel soos Joanna Mae, ’n suster in Asië. Sy sê: “Wanneer ek terugdink aan die onderrigting wat my ouers my gegee het, is ek so dankbaar dat hulle my gedissiplineer het en geleer het om Jehovah lief te hê. Hulle het my nie net lewe gegee nie, hulle het my ’n betekenisvolle lewe gegee” (Spr. 23:24, 25). Miljoene van ons broers en susters voel dieselfde.

LIED 59 Loof Jah met my

^ par. 5 Moet ’n getroude paartjie kinders hê? As hulle wel besluit om kinders te hê, hoeveel kinders moet hulle hê? En hoe kan hulle hulle kinders leer om Jehovah lief te hê en hom te dien? In hierdie artikel gaan ons na voorbeelde in ons dag kyk, asook na Bybelbeginsels wat ons kan help om hierdie vrae te beantwoord.

^ par. 15 Sien ook Vrae wat jongmense vra – Antwoorde wat werk, Deel 1, hfst. 36, en Deel 2, hfst. 11.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Christenpaartjie bespreek of hulle kinders sal hê en dink aan die vreugdes en verantwoordelikhede.

^ par. 64 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Paartjie studeer apart met hulle kinders omdat hulle kinders verskillende ouderdomme is en verskillende vermoëns het.