Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Toon dat julle dankbaar is”

“Toon dat julle dankbaar is”

DINK jy dat jy ’n dankbare persoon is? Dit is ’n vraag waaroor ons almal moet dink. Die Bybel het voorspel dat baie mense in ons dag “ondankbaar” sal wees (2 Tim. 3:2). Jy het sekerlik al mense ontmoet wat verwag dat ander vir hulle dinge moet doen of gee. Dit lyk of hulle dink dat hulle nie dankbaar hoef te wees vir die dinge wat hulle kry nie. Jy sal seker saamstem dat dit nie lekker is om rondom sulke mense te wees nie.

Maar daar word vir Jehovah se knegte gesê: “Toon dat julle dankbaar is.” Ons moet dankbaar wees vir alles (Kol. 3:15; 1 Tess. 5:18). Dit is eintlik goed vir ons om dankbaar te wees. Daar is ’n hele paar redes hoekom dit waar is.

DANKBAARHEID EN ’N POSITIEWE BESKOUING VAN JOUSELF

’n Belangrike rede hoekom ons altyd dankbaar wil wees, is omdat dit ons help om ’n positiewe beskouing van onsself te hê. ’n Persoon wat dankie sê vir iets, is meer geneig om goed oor homself te voel, en die een wat dit ontvang, voel ook goed. Hoekom maak dit ons sowel as ander gelukkig wanneer ons dankbaar is? Wel, dink aan hierdie voorbeeld: As iemand bereid is om die tyd te neem om iets vir jou te doen, is dit omdat hulle voel dat jy die moeite werd is. Hulle gee vir jou om. Wanneer jy dit besef, sal jy goed voel oor jouself. Ons kan ons net indink dat dit is hoe Rut gevoel het. Boas was vrygewig teenoor Rut. Dit moes Rut sekerlik baie bly gemaak het om te weet dat iemand vir haar omgee. – Rut 2:10-13.

Jy moet veral dankbaar teenoor God wees. Jy het ongetwyfeld al gedink aan die baie geestelike en fisiese dinge wat hy gegee het en nog steeds gee (Deut. 8:17, 18; Hand. 14:17). Maar in plaas daarvan om net kortliks oor God se goedheid te dink, hoekom neem jy nie die tyd om na te dink oor al die dinge wat God vir jou en jou geliefdes gee nie. As jy nadink oor jou Skepper se vrygewigheid, sal dit jou waardering vir hom vergroot en jou verseker van hoeveel hy jou liefhet en waardeer. – 1 Joh. 4:9.

Maar moenie net nadink oor sy vrygewigheid en die goeie dinge wat hy jou gee nie; sê vir Jehovah dankie vir sy goedheid (Ps. 100:4, 5). Daar is al gesê dat “om te wys dat jy dankbaar is, ’n belangrike manier is om by te dra tot mense se geluk”.

DANKBAARHEID VERSTERK VRIENDSKAPPE

Nog ’n rede hoekom dit goed is vir jou om dankbaar te wees, is omdat dit vriendskappe versterk. Ons almal wil voel dat ons waardeer word. Wanneer jy vir iemand opreg dankie sê, bring dit julle nader aan mekaar (Rom. 16:3, 4). En mense wat dankbaar is, is meer geneig om ander te help. Hulle sien die goeie dinge wat ander vir hulle doen, en dit motiveer hulle om ook goeie dinge vir hulle te doen. Ja, dit sal jou gelukkig maak om ander te help. Dit is net soos Jesus gesê het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.” – Hand. 20:35.

Om dankbaar te wees, moet ons verstaan dat ons mekaar nodig het. Soms gee ons en soms ontvang ons, volgens Robert Emmons, ’n mededirekteur van ’n studieprojek oor dankbaarheid wat by die Universiteit van Kalifornië gedoen is. Die feit is dat ander ons op baie maniere help en dat ons op hulle staatmaak om aan die lewe te bly. Hulle gee ons byvoorbeeld kos of mediese hulp (1 Kor. 12:21). Dit is duidelik dat ’n dankbare persoon waardeer wat ander vir hom doen. Met dit in gedagte, het jy dit ’n gewoonte gemaak om te wys dat jy dankbaar is vir wat ander vir jou doen?

DANKBAARHEID EN JOU BESKOUING VAN DIE LEWE

Nog ’n rede hoekom ons dankbaar wil wees, is omdat dit ons help om op die positiewe eerder as om op die negatiewe te fokus. In ’n sekere sin is jou verstand soos ’n filter. Dit laat jou toe om op sekere dinge te fokus terwyl jy ander dinge ignoreer. Jy is meer geneig om positiewe dinge raak te sien en fokus minder op probleme. Hoe dankbaarder jy is, hoe meer sien jy die goeie raak, en dit help jou om nog dankbaarder te wees. As jy fokus op die dinge waarvoor jy dankbaar kan wees, sal dit jou help om te doen wat die apostel Paulus ons aangespoor het om te doen: “Verbly julle altyd in die Here.” – Fil. 4:4.

Om dankbaar te wees, help jou om negatiewe denke te vermy. Dit is baie moeilik om dankbaar te wees terwyl jy jaloers, hartseer of kwaad is. Mense wat dankbaar is, is ook geneig om minder materialisties te wees. Hulle waardeer wat hulle het en fokus nie daarop om meer te kry nie. – Fil. 4:12.

TEL JOU SEËNINGE!

As ’n Christen besef jy dat Satan graag wil hê dat jy hartseer en mismoedig moet wees oor die probleme wat jy in hierdie laaste dae ondervind. Hy sal baie daarvan hou as jy negatief is en oor alles kla. As jy hierdie houding het, sal dit vir mense moeilik wees om na jou te luister wanneer jy die goeie nuus verkondig. Dankbaarheid gaan eintlik hand aan hand met die vrug van God se gees, insluitende vreugde oor die goeie dinge wat God jou gegee het en geloof in al sy beloftes. – Gal. 5:22, 23.

As een van Jehovah se knegte stem jy moontlik saam met wat in hierdie artikel oor dankbaarheid gesê is. Nogtans besef jy dat dit nie altyd maklik is om dankbaar en positief te wees nie. Maar moenie toelaat dat dit jou mismoedig maak nie. Jy kan leer om dankbaar te wees. Hoe? Neem elke dag tyd om te dink aan dinge in jou lewe waarvoor jy dankbaar kan wees. Hoe meer jy dit doen, hoe makliker sal dit vir jou wees om dankbaar te wees. Jy sal baie gelukkiger wees as dié wat op die lewe se probleme fokus. Dink aan die goeie dinge wat God en ander vir jou doen wat jou gelukkig maak. Miskien kan jy dit in ’n dagboek begin neerskryf. Jy kan elke dag twee of drie dinge neerskryf waarvoor jy dankbaar is.

Navorsers het ontdek dat wanneer ons gereeld vir ander dankie sê, dit die manier hoe ons brein funksioneer verander sodat dit makliker is om positief oor ons lewe te voel. ’n Dankbare persoon is ’n gelukkige persoon. So tel jou seëninge, geniet die positiewe dinge wat met jou gebeur en wees altyd dankbaar! Eerder as om die goeie dinge mis te kyk, moet jy ‘Jehovah dank, want hy is goed’. Ja, toon dat jy dankbaar is. – 1 Kron. 16:34; 1 Tess. 5:18.