Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 49

‘Daar is ’n vasgestelde tyd’ vir werk en rus

‘Daar is ’n vasgestelde tyd’ vir werk en rus

“Kom . . . na ’n eensame plek en rus ’n bietjie.” – MARK. 6:31.

LIED 143 Hou aan waak, bly wakker en ywerig

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe voel baie mense oor werk?

HOE voel die meeste mense waar jy bly oor werk? In baie lande werk mense harder en baie meer as ooit tevore. Mense wat te veel werk, is gewoonlik te besig om te rus, tyd te spandeer met hulle families of meer oor God te leer (Pred. 2:23). Aan die ander kant is daar party mense wat glad nie hou van werk nie en hulle maak verskonings hoekom hulle nie werk nie. – Spr. 26:13, 14.

2-3. Watter voorbeeld het Jehovah en Jesus gestel wanneer dit by werk kom?

2 Die meeste mense in die wêreld werk of te veel of te min, maar kyk hoe Jehovah en Jesus oor werk voel. Ons weet dat Jehovah daarvan hou om te werk. Jesus het dit duidelik gemaak toe hy gesê het: “My Vader het tot nou toe aangehou werk, en ek hou aan werk” (Joh. 5:17). Dink aan al die werk wat God gedoen het toe hy ontelbare engele, asook die sterre en planete geskep het. Ons sien ook baie voorbeelde van God se skeppingswerke op die pragtige aarde waar ons bly. Die psalmis het met goeie rede gesê: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak. Die aarde is vol van wat u voortgebring het.” – Ps. 104:24.

3 Jesus het sy Vader nagevolg. Hy het gehelp toe God “die hemele berei het”. Hy was saam met Jehovah as “’n meesterwerker” (Spr. 8:27-31). Baie jare later, toe Jesus op die aarde was, het hy uitstekende werk gedoen. Daardie werk was soos voedsel vir hom, en alles wat hy op die aarde gedoen het, het bewys dat God hom gestuur het. – Joh. 4:34; 5:36; 14:10.

4. Wat kan ons by Jehovah en Jesus oor rus leer?

4 Beteken die feit dat Jehovah en Jesus hard werk dat dit nie vir ons nodig is om te rus nie? Glad nie. Jehovah word nooit moeg nie, en daarom is dit nie vir hom nodig om te rus nie. Die Bybel sê wel dat nadat Jehovah die hemel en aarde gemaak het, het “hy gerus en voortgegaan om hom te verkwik” (Eks. 31:17). Maar dit beteken blykbaar dat Jehovah opgehou het om dinge te maak en tyd geneem het om dit te geniet. En alhoewel Jesus hard gewerk het toe hy op die aarde was, het hy nog steeds die tyd geneem om te rus en etes saam met sy vriende te geniet. – Matt. 14:13; Luk. 7:34.

5. Waarmee sukkel baie van God se knegte?

5 Die Bybel spoor God se knegte aan om harde werkers te wees en om nie lui te wees nie (Spr. 15:19). Dalk werk jy om vir jou gesin te sorg. En alle dissipels van Christus het die verantwoordelikheid om die goeie nuus te verkondig. Maar jy moet ook genoeg rus kry. Sukkel jy soms om seker te maak dat jy genoeg tyd het vir werk, velddiens en rus? Hoe weet ons hoeveel tyd ons aan werk en aan rus moet spandeer?

HOE OM DIE REGTE BESKOUING TE HÊ

6. Hoe wys Markus 6:30-34 dat Jesus die regte beskouing van werk en rus gehad het?

6 Dit is belangrik om die regte beskouing van werk te hê. Koning Salomo was geïnspireer om te skryf: “Daar [is] ’n vasgestelde tyd . . . vir elke aangeleentheid.” Hy het genoem dat daar ’n tyd is om te plant, bou, huil, lag, dans, asook vir ander dinge (Pred. 3:1-8). Dit is duidelik dat werk en rus twee belangrike aspekte van die lewe is. Jesus het die regte beskouing van werk en rus gehad. Toe die apostels eenkeer van ’n predikingsreis teruggekeer het, was hulle so besig dat hulle “nie eens vrye tyd gehad [het] om te eet nie”. Jesus het gesê: “Kom julle alleen na ’n eensame plek en rus ’n bietjie.” (Lees Markus 6:30-34.) Al kon Jesus en sy dissipels nie altyd die rus kry wat hulle wou hê nie, het hy geweet dat hulle moet rus.

7. Wat kan dit ons help om te doen as ons oor die Sabbatswet leer?

7 Soms is dit vir ons nodig om te rus of om ons daaglikse roetine te verander. Dit kan duidelik gesien word uit ’n reëling wat God vir sy eertydse volk gemaak het – die weeklikse Sabbat. Ons is nie meer onder die Wet van Moses nie, maar dit kan ons nog steeds help om te leer wat oor die Sabbat gesê word. Wat ons oor hierdie wet leer, kan ons help om te sien of ons die regte beskouing van werk en rus het.

DIE SABBAT – ’N TYD VIR RUS EN AANBIDDING

8. Wat moes die Israeliete volgens Eksodus 31:12-15 op die Sabbat doen?

8 God se Woord sê dat God ná die sesde “dag” opgehou het om dinge op die aarde te maak (Gen. 2:2). Maar Jehovah hou daarvan om te werk, en op ander maniere het hy ‘aanhou werk’ (Joh. 5:17). Die reëling van die weeklikse Sabbat is soortgelyk aan Jehovah se dag van rus wat in Genesis beskryf word. God het gesê dat dit ’n teken is tussen hom en Israel. Dit was ’n dag van “volkome rus . . . iets heiligs vir Jehovah”. (Lees Eksodus 31:12-15.) Niemand was toegelaat om te werk nie, insluitende kinders, slawe en selfs plaasdiere (Eks. 20:10). Dit het mense die geleentheid gegee om meer aandag te gee aan geestelike dinge.

9. Watter verkeerde beskouing het party in Jesus se dag oor die Sabbat gehad?

9 Die Sabbatdag was iets goeds vir God se volk, maar die godsdiensleiers in Jesus se dag het streng reëls oor die Sabbat gemaak. Hulle het gesê dat dit verkeerd is om op die Sabbat graanare te pluk of om ’n persoon wat siek is, gesond te maak (Mark. 2:23-27; 3:2-5). Maar dit is nie wat God wou hê nie, en Jesus het dit duidelik gemaak aan dié wat wou luister.

Jesus se gesin het die Sabbat gebruik om op geestelike dinge te fokus (Sien paragraaf 10) *

10. Wat kan ons uit Matteus 12:9-12 oor Jesus se beskouing van die Sabbat leer?

10 Jesus en sy Joodse volgelinge het die Sabbatswet gehoorsaam omdat hulle onder die Wet van Moses was. * Maar Jesus het baie dinge gesê en gedoen wat gewys het dat dit nie verkeerd was om op die Sabbat goeie dinge te doen en ander te help nie. Hy het reguit gesê: “Dit is . . . geoorloof om iets goeds op die sabbat te doen.” (Lees Matteus 12:9-12.) Hy het nie gedink dat dit verkeerd is om op die Sabbat goeie dinge te doen en ander te help nie. Die dinge wat Jesus gedoen het, het gewys dat hy ’n baie belangrike rede vir die Sabbat verstaan het. Omdat God se volk van hulle daaglikse werk kon rus, kon hulle op hulle aanbidding van God fokus. Jesus het in ’n gesin grootgeword wat die Sabbat gebruik het om God te aanbid. Ons weet dit, want ons lees die volgende oor Jesus toe hy in sy tuisdorp Nasaret was: “Volgens [Jesus se] gewoonte op die sabbatdag het hy in die sinagoge ingegaan, en hy het opgestaan om te lees.” – Luk. 4:15-19.

HOE VOEL JY OOR WERK?

11. Watter goeie voorbeeld het Jesus gehad wanneer dit by werk kom?

11 Josef het sekerlik God se beskouing van werk gehad terwyl hy Jesus, sy seun wat hy aangeneem het, geleer het om ’n timmerman te wees (Matt. 13:55, 56). En Jesus sou gesien het hoe Josef elke dag hard werk om vir sy groot gesin te sorg. Interessant genoeg, Jesus het later vir sy dissipels gesê: “Die werker is sy loon werd” (Luk. 10:7). Ja, Jesus het geweet hoe om hard te werk.

12. Watter tekste wys wat die Bybel oor harde werk sê?

12 Die apostel Paulus het ook geweet hoe om hard te werk. Sy hoofwerk was om ander van Jesus en sy boodskap te vertel. Maar Paulus het ook gewerk om vir homself te sorg. Die Tessalonisense het geweet van sy “arbeid en geswoeg” en dat hy “nag en dag gewerk” het sodat hy nie ’n “duur las” op enigeen sou wees nie (2 Tess. 3:8; Hand. 20:34, 35). Paulus het dalk gepraat van sy werk as ’n tentmaker. Terwyl hy in Korinte was, het hy by Aquila en Priscilla gebly en saam met hulle gewerk, “want hulle was tentmakers van ambag”. Toe Paulus gesê het dat hy “nag en dag” gewerk het, het hy nie bedoel dat hy nie gerus het nie. Hy het byvoorbeeld nie op die Sabbat gewerk nie. Daardie dag het hom die geleentheid gegee om vir Jode te getuig, wat ook nie op die Sabbat gewerk het nie. – Hand. 13:14-16, 42-44; 16:13; 18:1-4.

13. Wat kan ons uit Paulus se voorbeeld leer?

13 Die apostel Paulus stel ’n goeie voorbeeld vir ons. Hy moes werk, maar hy het nog steeds seker gemaak dat hy gereeld deelneem “aan die heilige werk van die goeie nuus van God” (Rom. 15:16; 2 Kor. 11:23). Hy het ander aangemoedig om dieselfde te doen. Daarom was Aquila en Priscilla sy “medewerkers in Christus Jesus” (Rom. 12:11; 16:3). Paulus het die Korintiërs aangespoor om “baie [te hê] om in die werk van die Here te doen” (1 Kor. 15:58; 2 Kor. 9:8). Jehovah het die apostel Paulus selfs geïnspireer om te skryf: “As iemand nie wil werk nie, laat hom dan ook nie eet nie.” – 2 Tess. 3:10.

14. Wat beteken Jesus se woorde in Johannes 14:12?

14 Die belangrikste werk in hierdie laaste dae is om te preek en dissipels te maak. Om die waarheid te sê, Jesus het voorspel dat sy dissipels selfs groter werke as hy sou doen! (Lees Johannes 14:12.) Hy het nie bedoel dat ons soos hy wonderwerke sou doen nie. Hy het eerder bedoel dat sy volgelinge in baie meer plekke, vir meer mense, en vir ’n langer tydperk as hy sou preek en onderrig.

15. Watter vrae moet ons ons afvra, en hoekom?

15 As jy ’n werk het, vra jouself die volgende vrae: ‘Ken mense by die werk my as iemand wat hard werk? Maak ek my werk op tyd klaar en doen ek dit tot die beste van my vermoë?’ As jy ja op hierdie vrae kan antwoord, dan sal jou baas jou waarskynlik vertrou. Mense by jou werk sal ook meer geneig wees om na die goeie nuus te luister. Wanneer dit kom by die predikings- en onderrigtingswerk, vra jouself die volgende vrae: ‘Ken mense my as iemand wat hard werk in die bediening? Berei ek goed voor vir eerste besoek? Gaan ek gou terug na mense wat belangstel? En neem ek gereeld deel aan verskillende vorme van die bediening?’ As jy ja op hierdie vrae kan antwoord, sal jy jou bediening geniet.

HOE VOEL JY OOR RUS?

16. Hoe het Jesus en die apostels rus beskou, en hoe verskil dit van hoe baie dit vandag beskou?

16 Jesus het geweet dat hy en sy apostels soms moes rus. Maar baie mense in daardie tyd en baie vandag kan vergelyk word met die ryk man in Jesus se illustrasie. Daardie man het homself oortuig: “Ontspan, eet, drink, wees vrolik” (Luk. 12:19; 2 Tim. 3:4). Hy het gedink dat rus en plesier die belangrikste dinge in die lewe is. Maar Jesus en sy apostels het nie plesier die belangrikste ding in hulle lewe gemaak nie.

Die regte beskouing van werk en rus sal ons help om daarop te fokus om goeie dinge te doen wat ons nuwe krag sal gee (Sien paragraaf 17) *

17. Hoe gebruik ons die tyd wat ons by die werk afkry?

17 Vandag probeer ons om Jesus na te volg deur die tyd wat ons by die werk afkry te gebruik om nie net te rus nie, maar ook om velddiens te doen en Christelike vergaderinge by te woon. Dit is vir ons baie belangrik om dissipels te maak en vergaderinge by te woon, en daarom doen ons alles wat ons kan om hierdie dinge vir Jehovah te doen (Heb. 10:24, 25). Selfs wanneer ons met vakansie is, woon ons nog steeds die vergaderinge by waar ons ook al is en soek ons na geleenthede om met mense oor die Bybel te praat. – 2 Tim. 4:2.

18. Wat wil ons Koning, Christus Jesus, hê moet ons doen?

18 Ons is baie dankbaar dat ons Koning, Christus Jesus, redelik is en ons help om die regte beskouing van werk en rus te hê! (Heb. 4:15). Hy wil hê dat ons die rus moet kry wat ons nodig het. Hy wil ook hê dat ons hard moet werk om vir onsself te sorg en om deel te neem aan die vreugdevolle werk om dissipels te maak. In die volgende artikel sal ons bespreek wat Jesus gedoen het om ons te bevry van ’n wrede vorm van slawerny.

LIED 38 Hy maak jou sterk

^ par. 5 Die Bybel leer ons hoe om die regte beskouing van werk en rus te hê. Hierdie artikel sal die weeklikse Sabbat wat aan die Israeliete gegee is, as ’n voorbeeld gebruik om ons te help sien of ons die regte beskouing van werk en rus het.

^ par. 10 Die dissipels het soveel respek vir die Sabbatswet gehad dat hulle opgehou het met die voorbereiding van die speserye vir Jesus se liggaam totdat die Sabbat verby was. – Luk. 23:55, 56.

^ par. 55 BESKRYWING VAN PRENT: Josef neem sy gesin na die sinagoge op die Sabbat.

^ par. 57 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Pa wat werk om vir sy gesin te sorg, gebruik sy tyd af om velddiens te doen en vergaderinge by te woon, selfs wanneer hy en sy gesin met vakansie is.