Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 52

Hoe jy teen mismoedigheid kan veg

Hoe jy teen mismoedigheid kan veg

“Gee jou las vir Jehovah, en hy sal jou ondersteun.” – PS. 55:22.

LIED 33 Gee jou laste vir Jehovah

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat kan dalk met ons gebeur as ons mismoedig is?

ONS het elke dag probleme en ons doen ons bes om dit te hanteer. Maar sal jy nie saamstem dat ons ons probleme baie beter hanteer wanneer ons nie mismoedig is nie? So ons moet mismoedigheid sien as ’n dief wat ons selfvertroue, moed en vreugde wil wegneem. Spreuke 24:10 sê: “As jy mismoedig word in moeilike tye, sal jy min krag hê.” So wanneer ons mismoedig is, voel ons dalk ook swak en is dit baie moeiliker om ons probleme te hanteer.

2. Wat kan veroorsaak dat ons mismoedig voel, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Daar is baie dinge wat ons mismoedig kan maak. Party van hierdie dinge sluit in onvolmaakthede, swakhede en gesondheidsprobleme. Of ons is dalk mismoedig omdat ons nie ’n toewysing ontvang wat ons graag in Jehovah se diens wil hê nie of omdat ons in ’n gebied moet preek waar min mense na ons boodskap wil luister. In hierdie artikel gaan ons ’n paar dinge bespreek wat ons kan help wanneer ons mismoedig voel.

WANNEER ONS MET ONVOLMAAKTHEDE EN SWAKHEDE TE DOEN HET

3. Wat kan ons help wanneer ons sleg voel oor onsself en ons foute?

3 Dit is maklik om sleg te voel oor onsself en die foute wat ons maak. So ons dink dalk dat omdat ons foute maak, sal Jehovah ons nie in die Paradys wil hê nie. Dit kan baie gevaarlik wees om so te dink. Hoe moet ons oor ons foute voel? Die Bybel sê dat, behalwe vir Jesus, alle mense “gesondig” het (Rom. 3:23). Maar Jehovah fokus nie op ons foute nie of verwag nie dat ons perfek moet wees nie. Hy is eerder ’n liefdevolle Vader wat ons graag wil help. Hy is ook geduldig. Hy sien hoe moeilik dit vir ons is om teen ons swakhede te veg en om nie sleg oor onsself te voel nie, en hy is gereed om ons te help. – Rom. 7:18, 19.

Jehovah weet van die goeie dinge wat ons in die verlede gedoen het en van die goeie dinge wat ons nou doen (Sien paragraaf 5) *

4-5. Wat sê 1 Johannes 3:19, 20 wat twee susters gehelp het om teen mismoedigheid te veg?

4 Kyk na die voorbeeld van Deborah en Maria. * Toe Deborah ’n kind was, was sy nie op ’n liefdevolle manier behandel nie, en dit het haar sleg oor haarself laat voel. Sy was baie min geprys, en daarom het sy ’n negatiewe opinie oor haarself gehad. Wanneer sy klein foutjies gemaak het, het sy soos ’n mislukking gevoel. Maria het ’n soortgelyke probleem gehad. Haar familie het haar sleg oor haarself laat voel. En daarom het sy gesukkel met gevoelens van waardeloosheid. Selfs nadat sy in die waarheid gekom het, het sy gevoel dat sy nie goed genoeg is om een van Jehovah se Getuies te wees nie!

5 Maar hierdie twee susters het nie opgehou om Jehovah te dien nie. Hoekom nie? Hulle het ernstig tot Jehovah gebid en vir hom gesê hoe hulle voel (Ps. 55:22). Hulle het besef dat ons liefdevolle hemelse Vader weet dat die slegte dinge wat met ons in die verlede gebeur het, kan veroorsaak dat ons sleg oor onsself voel. Maar hy sien ook die goeie in ons hart – eienskappe wat ons dalk nie in onsself sien nie. – Lees 1 Johannes 3:19, 20.

6. Hoe voel iemand dalk wat weer dieselfde fout gemaak het as wat hy voorheen gemaak het?

6 Iemand probeer dalk hard om op te hou om iets verkeerds te doen, maar hy maak dalk weer dieselfde fout en word mismoedig. Dit is natuurlik normaal om sleg te voel wanneer ons gesondig het (2 Kor. 7:10). Maar ons moenie so sleg voel oor die fout wat ons gemaak het en dink: ‘Ek is ’n mislukking. Jehovah kan my nooit vergewe nie.’ Dit is nie waar nie en sulke negatiewe denke kan veroorsaak dat ons ophou om Jehovah te dien. Onthou wat ons in Spreuke 24:10 gelees het – ons krag sal min wees wanneer ons mismoedig is. Stel eerder sake reg met Jehovah deur tot hom te bid en hom te vra om jou te vergewe (Jes. 1:18). Wanneer Jehovah sien dat jy regtig jammer is en dat jy jou bes probeer om te verander, sal hy jou vergewe. Gaan ook na die ouermanne toe. Hulle sal jou geduldig help om weer geestelik gesond te word. – Jak. 5:14, 15.

7. Hoekom moet ons nie mismoedig voel as ons sukkel om die regte ding te doen nie?

7 Jean-Luc, ’n ouerman in Frankryk, sê vir persone wat met ’n swakheid sukkel: “’n Regverdige persoon in Jehovah se oë is nie iemand wat nooit foute maak nie, maar iemand wat jammer is oor die foute wat hy maak en wat hard probeer om te verander” (Rom. 7:21-25). So moenie dink dat jy niks werd is as jy met ’n swakheid sukkel nie. Onthou dat nie een van ons ’n regverdige posisie voor God kan verdien nie. Ons almal het God se onverdiende goedheid deur middel van die losprys nodig. – Ef. 1:7; 1 Joh. 4:10.

8. Vir wie kan ons vra om ons te help wanneer ons mismoedig voel?

8 Ons broers en susters in die gemeente sal ons aanmoedig! Hulle kan na ons luister wanneer ons iemand nodig het om mee te praat en hulle kan ons aanmoedig (Spr. 12:25; 1 Tess. 5:14). Joy, ’n suster in Nigerië wat met mismoedigheid gesukkel het, sê: “Waar sal ek sonder my broers en susters wees? Hulle is ’n bewys dat Jehovah my gebede beantwoord. Ek het selfs by hulle geleer hoe om ander aan te moedig wat ook mismoedig is.” Maar ons moet in gedagte hou dat ons broers en susters dalk nie altyd weet wanneer ons aanmoediging nodig het nie. So ons moet dalk na ’n broer of suster gaan wat sterk in die waarheid is en vir hom of haar sê dat ons hulp nodig het.

WANNEER ONS SIEK IS

9. Hoe moedig Psalm 41:3 en 94:19 ons aan?

9 Jehovah kan ons ondersteun. Wanneer ons nie lekker voel nie en veral as ons ’n chroniese siekte het, is dit dalk vir ons moeilik om positief te wees. Alhoewel Jehovah nie nou wonderwerke doen om ons gesond te maak nie, vertroos hy ons en gee hy ons die krag wat ons nodig het om te volhard. (Lees Psalm 41:3; 94:19.) Byvoorbeeld, hy kan dalk ons broers en susters gebruik om ons te help wanneer ons hulp nodig het met takies by die huis of met inkopies. Hy motiveer dalk ons broers om saam met ons te bid. Of hy kan ons help om vertroostende gedagtes in sy Woord te onthou, soos ons wonderlike hoop om in die nuwe wêreld ’n volmaakte lewe te hê sonder siekte en pyn. – Rom. 15:4.

10. Hoekom het Isang nie mismoedig gebly ná sy ongeluk nie?

10 Isang, wat in Nigerië bly, is verlam nadat hy in ’n ongeluk was. Sy dokter het vir hom gesê dat hy nooit weer sal loop nie. Isang het gesê: “Ek was baie hartseer en mismoedig.” Maar het hy mismoedig gebly? Nee! Wat het hom gehelp? Isang verduidelik: “Ek en my vrou het nooit opgehou om tot Jehovah te bid en om sy Woord te studeer nie. Ons was ook vasbeslote om dankbaar te wees vir die goeie dinge wat ons het, insluitende ons hoop om in God se nuwe wêreld te lewe.”

Selfs persone wat fisiese beperkings het, kan maniere vind om te preek en om die bediening te geniet (Sien paragraaf 11-13)

11. Wat het Cindy gehelp om gelukkig te wees toe sy baie siek was?

11 Cindy, wat in Mexiko bly, was gediagnoseer met ’n lewensgevaarlike siekte. Wat het sy gedoen om te volhard? Toe sy haar behandeling ontvang het, het sy dit haar doelwit gemaak om elke dag vir iemand te getuig. Sy het geskryf: “Dit het my gehelp om op ander te fokus in plaas van op die operasie, die pyn of hoe sleg ek gevoel het. Dit is wat ek gedoen het: Wanneer ek met dokters of verpleegsters gepraat het, het ek hulle gevra hoe dit met hulle families gaan. Dan het ek hulle gevra hoekom hulle so ’n moeilike werk gekies het. Daarna was dit vir my makliker om te sien watter onderwerpe dalk hulle hart sal raak. Baie het gesê dat dit ongewoon is vir ’n pasiënt om te vra: ‘Hoe gaan dit met jou?’ En baie het vir my dankie gesê dat ek vir hulle omgee. Party het selfs hulle adres of telefoonnommer vir my gegee. So gedurende hierdie moeilike tyd in my lewe, het Jehovah vir my ’n diep innerlike vreugde gegee wat my selfs verbaas het!” – Spr. 15:15.

12-13. Hoe het party wat siek of oud is, dit reggekry om deel te neem aan die predikingswerk, en wat was die resultate?

12 Party wat siek of oud is, voel dalk mismoedig omdat hulle nie meer so baie in die bediening kan doen nie. Maar baie van hulle het maniere gevind om nog steeds te preek. In die Verenigde State was ’n suster met die naam Laurel 37 jaar lank in ’n ysterlong! Sy het kanker, groot operasies en chroniese velsiektes gehad. Maar hierdie baie ernstige probleme het haar nie gekeer om te preek nie. Sy het vir verpleegsters en ander mediese werkers wat na haar huis toe gekom het, gepreek. Wat was die resultate? Sy het ten minste 17 mense gehelp om van Jehovah te leer! *

13 Richard, ’n ouerman in Frankryk, het ’n goeie voorstel vir persone wat nie hulle huis kan verlaat nie of wat in ’n ouetehuis is. “Ek stel voor dat hulle van ons boeke en tydskrifte uitstal waar ander mense dit kan sien. Wanneer mense verbyloop, sal hulle dit sien en daaroor vra. Dit kan ons dierbare broers en susters aanmoedig wat nie meer van huis tot huis kan gaan nie.” Persone wat nie die huis kan verlaat nie, kan ook deelneem aan die bediening deur briewe te skryf en telefoongetuieniswerk te doen.

WANNEER ONS NIE ’N VOORREG KRY NIE

14. Watter uitstekende voorbeeld het koning Dawid gestel?

14 Daar is baie redes hoekom ons dalk nie ’n toewysing in Jehovah se diens kry nie. Byvoorbeeld, ons is dalk te oud of ons het dalk gesondheidsprobleme, of daar is dalk ander omstandighede. As ons in hierdie situasie is, kan ons uit koning Dawid se voorbeeld leer. Toe daar vir hom gesê is dat hy nie gekies is om God se tempel te bou nie – iets wat Dawid baie graag gehoop het om te doen – het hy sy volle ondersteuning gegee aan die een wat God gekies het vir hierdie toewysing. Dawid het selfs baie goud en silwer tot hierdie projek bygedra. Dawid is werklik ’n uitstekende voorbeeld vir ons! – 2 Sam. 7:12, 13; 1 Kron. 29:1, 3-5.

15. Wat het Hugues gehelp om nie meer mismoedig te wees nie?

15 As gevolg van gesondheidsprobleme kon Hugues, ’n broer in Frankryk, nie meer as ’n ouerman dien nie en hy kon nie eers eenvoudige takies by die huis doen nie. Hy skryf: “Ek het eers waardeloos en baie mismoedig gevoel. Maar later het ek gesien dat dit baie belangrik is om nie meer hartseer te wees oor die dinge wat ek nie meer kon doen nie. Toe kon ek gelukkig wees oor wat ek nog steeds in Jehovah se diens kon doen. Ek is vasbeslote om nie op te gee nie. Net soos Gideon en sy 300 manne – wat almal moeg was – sal ek aanhou veg!” – Rigt. 8:4.

16. Wat kan ons uit die voorbeeld van die engele leer?

16 Die getroue engele is ’n goeie voorbeeld. Toe koning Agab regeer het, het Jehovah die engele vir voorstelle gevra oor hoe om die slegte koning te mislei. ’n Hele paar engele het voorstelle gegee. Maar God het een engel gekies en vir hom gesê dat sy voorstel suksesvol sou wees (1 Kon. 22:19-22). Het die ander getroue engele mismoedig geword en dalk gedink: ‘Hoekom het ek my tyd gemors en ’n voorstel gegee?’ Natuurlik nie. Die engele is werklik nederig en hulle wil hê dat Jehovah alle eer moet ontvang. – Rigt. 13:16-18; Op. 19:10.

17. Wat moet ons doen as ons mismoedig voel omdat ons nie sekere voorregte in Jehovah se diens het nie?

17 Onthou, die grootste voorreg wat ons kan hê, is om een van Jehovah se Getuies te wees en om oor sy Koninkryk te preek. Toewysings sal dalk kom en gaan, maar dit is nie ons toewysing wat ons kosbaar in God se oë maak nie. Dit is wanneer ons nederig is dat ons werklik kosbaar word vir Jehovah en ons broers en susters. So smeek Jehovah om jou te help om nederig te bly. Dink na oor al die goeie voorbeelde van nederige knegte van Jehovah in die Bybel. Wees bereid om jou broers te dien op enige manier wat jy kan. – Ps. 138:6; 1 Pet. 5:5.

WANNEER MENSE NIE IN DIE GOEIE NUUS BELANGSTEL NIE

18-19. Hoe kan jy gelukkig wees in jou bediening selfs wanneer dit lyk asof mense in jou gebied nie in die goeie nuus belangstel nie?

18 Is jy soms mismoedig omdat dit lyk asof mense in jou gebied nie in die goeie nuus belangstel nie of omdat jy min mense by die huis kry? Wat kan ons doen om gelukkig te bly of om gelukkiger te word in ons bediening? Daar is ’n paar praktiese voorstelle in die venster “ Maniere om jou bediening te geniet”. Dit is ook belangrik om die regte beskouing van die bediening te hê. Wat beteken dit?

19 Onthou, die hoofrede hoekom ons preek, is om God se naam bekend te maak en om mense van sy Koninkryk te vertel. Jesus het dit duidelik gemaak dat min mense hom sal volg (Matt. 7:13, 14). Wanneer ons velddiens doen, het ons die voorreg om saam met Jehovah, Jesus en die engele te werk (Matt. 28:19, 20; 1 Kor. 3:9; Op. 14:6, 7). Jehovah trek persone wat hom wil dien (Joh. 6:44). So as ’n persoon dalk die eerste keer nie na ons boodskap wil luister nie, sal hy dalk ’n volgende keer luister wanneer ons weer met hom praat.

20. Hoe kan Jeremia 20:8, 9 ons help om teen mismoedigheid te veg?

20 Ons kan baie uit die voorbeeld van die profeet Jeremia leer. Hy moes in ’n baie moeilike gebied preek. Die mense het hom “die hele dag lank” beledig en bespot. (Lees Jeremia 20:8, 9.) Hy het eenkeer so mismoedig geword dat hy wou opgee. Maar hy het nie. Hoekom nie? “Die woord van Jehovah” was soos ’n vuur in Jeremia en hy kon dit nie inhou nie! Ons voel dieselfde wanneer ons ons gedagtes en hart met God se Woord vul. Dit is nog ’n rede vir ons om die Bybel elke dag te studeer en daaroor na te dink. So wanneer ons dit doen, sal ons meer vreugde in die bediening hê en meer mense sal dalk na ons wil luister. – Jer. 15:16.

21. Hoe kan ons teen mismoedigheid veg, maak nie saak wat die oorsaak daarvan is nie?

21 Deborah, wat vroeër genoem is, sê: “Mismoedigheid kan ’n kragtige wapen wees wat deur Satan gebruik word.” Maar Jehovah God is baie kragtiger as Satan en al sy wapens. So wanneer ons mismoedig voel, maak nie saak wat die rede daarvoor is nie, moet ons Jehovah smeek om ons te help. Hy sal jou help as jy sukkel met jou onvolmaakthede en swakhede. Hy sal jou ondersteun wanneer jy siek is. Hy sal jou help om die regte beskouing te hê van toewysings in sy diens. En hy sal jou help om ’n positiewe beskouing van jou bediening te hê. Bid tot jou liefdevolle Vader en sê vir hom presies hoe jy voel. Met sy hulp kan jy die geveg teen mismoedigheid wen. 

LIED 41 Hoor my gebed

^ par. 5 Ons almal word soms mismoedig. In hierdie artikel sal ons ’n paar spesifieke dinge bespreek wat ons kan doen wanneer ons mismoedig voel. Soos ons sal sien, kan ons met Jehovah se hulp die geveg teen mismoedigheid wen.

^ par. 4 Party name is verander.

^ par. 12 Lees Laurel Nisbet se lewensverhaal in die Ontwaak! van 22 Januarie 1993.

^ par. 69 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster was ’n tyd lank mismoedig, maar sy dink na oor wat sy in die verlede gedoen het en sy bid tot Jehovah. Sy is seker dat hy die dinge onthou wat sy gedoen het en nog steeds doen.