Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 51

“Jehovah . . . red dié wat mismoedig is”

“Jehovah . . . red dié wat mismoedig is”

“Jehovah is naby dié wie se hart gebreek is. Hy red dié wat mismoedig is.” – PS. 34:18.

LIED 30 My Vader, my God en Vriend

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

SOMS dink ons dalk aan die feit dat die lewe kort is en ons dae “vol probleme” is (Job 14:1). So dit is verstaanbaar dat ons soms mismoedig voel. ’n Hele paar van Jehovah se knegte van die verlede het so gevoel. Party wou selfs sterf (1 Kon. 19:2-4; Job 3:1-3, 11; 7:15, 16). Maar Jehovah – die God op wie hulle vertrou het – het hulle oor en oor vertroos en versterk. Hierdie verhale is in die Bybel neergeskryf om ons te vertroos en sodat ons daaruit kan leer. – Rom. 15:4.

2 In hierdie artikel gaan ons na ’n paar knegte van Jehovah kyk wat deur moeilike tye gegaan het wat hulle mismoedig gemaak het. Hierdie knegte is Jakob se seun Josef, die weduwee Naomi en haar skoondogter Rut, die Leviet wat Psalm 73 geskryf het en die apostel Petrus. Hoe het Jehovah hulle versterk? En watter lesse kan ons persoonlik uit hulle voorbeelde leer? Die antwoorde op hierdie vrae verseker ons dat “Jehovah . . . naby dié [is] wie se hart gebreek is” en dat hy “dié [red] wat mismoedig is”. – Ps. 34:18.

JOSEF IS WREED EN ONREGVERDIG BEHANDEL

3-4. Wat het met Josef gebeur toe hy ’n jong man was?

3 Toe Josef omtrent 17 jaar oud was, het hy twee drome gehad wat van God af gekom het. Hierdie drome het gewys dat Josef ’n belangrike persoon sou word en dat hy deur sy familie gerespekteer sou word (Gen. 37:5-10). Maar kort nadat Josef hierdie drome gehad het, het sy lewe drasties verander. In plaas daarvan dat sy broers hom gerespekteer het, het hulle hom as ’n slaaf verkoop. Later het hy ’n slaaf geword in die huis van ’n Egiptiese amptenaar met die naam Potifar (Gen. 37:21-28). In ’n kort tydjie het Josef se lewe heeltemal verander. Hy was nie meer by die huis saam met sy pa wat vir hom lief was nie. Hy het ’n onbelangrike slaaf in Egipte geword en vir ’n man gewerk wat Jehovah nie geken het nie. – Gen. 39:1.

4 Toe het dinge vir Josef selfs erger geword. Potifar se vrou het hom valslik beskuldig dat hy haar probeer verkrag het. Sonder om uit te vind of dit waar is, het Potifar Josef in die tronk laat gooi, waar hy met kettings vasgebind was (Gen. 39:14-20; Ps. 105:17, 18). Dink net hoe die jong Josef moes gevoel het toe hy valslik daarvan beskuldig is dat hy Potifar se vrou probeer verkrag het. En dink aan die oneer wat hierdie beskuldiging dalk op Jehovah se naam kon gebring het. Josef het beslis rede gehad om mismoedig te voel!

5. Wat het Josef gedoen om nie so mismoedig te voel nie?

5 Terwyl Josef ’n slaaf was en toe hy in die tronk was, kon hy niks doen om sy situasie te verander nie. Wat het hom gehelp om positief te bly? In plaas daarvan om te fokus op al die dinge wat hy nie kon doen nie, het hy eerder gefokus op die werk wat hy gegee is om te doen. Maar nog belangriker, Josef het gesorg dat Jehovah die belangrikste Persoon in sy lewe is, en daarom het Jehovah alles geseën wat Josef gedoen het. – Gen. 39:21-23.

6. Hoe is Josef dalk deur sy drome vertroos?

6 Josef is dalk ook aangemoedig deur aan die profetiese drome te dink wat hy vroeër gehad het. Hierdie drome het gewys dat hy weer sy familie sou sien en dat sy situasie sou verbeter. En dit is wat gebeur het. Toe Josef omtrent 37 jaar oud was, het sy profetiese drome op ’n wonderlike manier begin waar word! – Gen. 37:7, 9, 10; 42:6, 9.

7. Wat sal ons help om deur moeilike tye te kom, volgens 1 Petrus 5:10?

7 Lesse vir ons. Josef se verhaal herinner ons daaraan dat hierdie wêreld wreed is en dat mense ons onregverdig sal behandel. Selfs ’n broer of ’n suster sal ons dalk seermaak. Maar as ons Jehovah as ons Rots, of Skuilplek, sien, sal ons nie te mismoedig word of hom ophou dien nie. (Ps. 62:6, 7; lees 1 Petrus 5:10.) Hou ook in gedagte dat Josef dalk omtrent 17 was toe Jehovah hierdie drome vir hom gegee het. So dit is duidelik dat Jehovah vertroue in sy jong knegte het. Baie jongmense is vandag soos Josef. Hulle het ook geloof in Jehovah. Party van hulle is selfs onregverdig in die tronk gegooi omdat hulle lojaal aan God wil bly. – Ps. 110:3.

TWEE VROUENS WAT VERSKRIKLIK HARTSEER WAS

8. Wat het met Naomi en Rut gebeur?

8 As gevolg van ’n groot hongersnood het Naomi en haar gesin uit Juda getrek en in Moab as vreemdelinge gaan bly. Daar het Naomi se man, Elimeleg, gesterf en was sy op haar eie met hulle twee seuns. Later het al twee mans met Moabitiese vrouens, Rut en Orpa, getrou. Omtrent tien jaar later het Naomi se seuns ook gesterf, en hulle het nie kinders gehad nie (Rut 1:1-5). Dink net hoe hartseer hierdie drie vrouens moes gewees het! Rut en Orpa kon natuurlik weer trou. Maar wie sou na Naomi kyk, wat besig was om ouer te word? Naomi was so depressief dat sy eenkeer gesê het: “Moenie my Naomi noem nie. Noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak.” Ná al hierdie hartseer ondervindinge het Naomi besluit om na Betlehem terug te gaan, en Rut het saam met haar gegaan. – Rut 1:7, 18-20.

God het aan Naomi en Rut bewys dat hy sy aanbidders kan help om nie meer mismoedig en hartseer te wees nie. Kan hy dit vir jou ook doen? (Sien paragraaf 8-13) *

9. Hoe het Rut Naomi aangemoedig, volgens Rut 1:16, 17, 22?

9 Lojale liefde het Naomi in hierdie hartseer situasie gehelp. Byvoorbeeld, Rut het lojale liefde aan Naomi bewys deur by haar te bly. (Lees Rut 1:16, 17, 22.) In Betlehem het Rut hard gewerk om graanare vir haar en Naomi bymekaar te maak. As gevolg hiervan het die jong vrou ’n goeie reputasie gekry. – Rut 3:11; 4:15.

10. Hoe het Jehovah gewys dat hy lief is vir mense wat arm is, soos Naomi en Rut?

10 Jehovah het die Israeliete ’n wet gegee wat gewys het dat hy meegevoel het vir mense wat arm is, soos Naomi en Rut. Hy het vir sy volk gesê dat wanneer hulle oes, moes hulle nie die rand van hulle landery heeltemal afoes nie sodat die armes die oorblyfsels van die oes bymekaar kon maak (Lev. 19:9, 10). So Naomi en Rut kon kos kry sonder om daarvoor te bedel.

11-12. Hoe het Boas Naomi en Rut gelukkig gemaak?

11 Die eienaar van die landery waar Rut graan bymekaargemaak het, was ’n ryk man met die naam Boas. Hy was baie beïndruk toe hy sien hoe lojaal Rut aan Naomi was en hoe lief sy haar skoonma gehad het. Daarom het hy hulle familie se erfdeel teruggekoop en met Rut getrou (Rut 4:9-13). Die paartjie het ’n kind gehad wat hulle Obed genoem het; hy het die oupa van koning Dawid geword. – Rut 4:17.

12 Dink net hoe gelukkig Naomi was toe sy klein Obed in haar arms vasgehou het en vir Jehovah gesê het hoe dankbaar sy is! Maar in die opstanding gaan Naomi en Rut selfs gelukkiger wees wanneer hulle uitvind dat Obed ’n voorouer was van die Beloofde Messias, Jesus Christus!

13. Watter belangrike lesse kan ons uit die verhaal van Naomi en Rut leer?

13 Lesse vir ons. Wanneer ons deur moeilike tye gaan, voel ons dalk mismoedig, selfs hartseer. Dalk voel ons dat daar nie ’n oplossing vir ons probleme is nie. Gedurende sulke tye moet ons heeltemal op ons hemelse Vader vertrou en na aan ons broers en susters bly. Dit is waar dat Jehovah nie altyd ons probleem sal wegneem nie. Byvoorbeeld, hy het nie Naomi se man en seuns wat gesterf het, teruggebring nie. Maar hy sal ons help, soms deur middel van die liefdevolle dinge wat ons broers en susters vir ons doen. – Spr. 17:17

’N LEVIET WAT AMPER GESTRUIKEL HET

Die skrywer van Psalm 73 het amper gestruikel toe dit gelyk het asof dié wat Jehovah nie gedien het nie, suksesvol is. Dit kan met ons ook gebeur (Sien paragraaf 14-16)

14. Hoekom het een Leviet baie mismoedig geword?

14 Die skrywer van Psalm 73 was ’n Leviet. So hy het die wonderlike voorreg gehad om by Jehovah se plek van aanbidding te dien. Maar op een stadium van sy lewe het selfs hy mismoedig geword. Hoekom? Hy het jaloers begin word op die goddeloses en hoogmoediges, nie omdat hy slegte dinge wou doen nie, maar omdat dit gelyk het asof hulle lewe beter as syne is (Ps. 73:2-9, 11-14). Dit het gelyk asof hulle alles het – rykdom, ’n goeie lewe en geen bekommernisse. Toe die Leviet dit sien, het hy baie mismoedig geword en gesê: “Ek het seker verniet my hart suiwer gehou en my hande in onskuld gewas.” Dit is duidelik dat dit kon veroorsaak het dat hy Jehovah ophou dien.

15. Volgens Psalm 73:16-19, 22-25, wat het die Leviet wat hierdie psalm geskryf het, gehelp om nie meer mismoedig te wees nie?

15 Lees Psalm 73:16-19, 22-25. Die Leviet het “in die groot heiligdom van God ingegaan”. Daar, in die huis van God, waar hy tussen ander was wat Jehovah aanbid het, kon hy kalm wees, reguit dink en bid oor sy situasie. Dit het hom gehelp om te sien dat sy denke nie reg was nie en dat hy uiteindelik sy vriendskap met Jehovah kon verloor. Hy het ook besef dat die goddeloses “op glibberige grond” was en dat hulle “tot ’n verskriklike einde” sou kom. Die Leviet moes dinge sien soos Jehovah dit sien sodat hy nie meer mismoedig sou wees nie en ook nie meer jaloers op goddelose mense sou wees nie. Toe hy dit gedoen het, het hy weer vrede gehad, en hy was gelukkig. Hy het gesê: “Behalwe [Jehovah] begeer ek niks op die aarde nie.”

16. Watter lesse kan ons by die Leviet leer?

16 Lesse vir ons. Laat ons nooit jaloers wees op goddelose mense wat lyk asof hulle ’n gelukkige lewe het nie. Hulle geluk is oppervlakkig en sal nie lank hou nie en hulle gaan nie vir ewig lewe nie (Pred. 8:12, 13). Om jaloers op hulle te wees, sal jou net mismoedig maak en kan selfs veroorsaak dat jy jou vriendskap met Jehovah verloor. So as jy ooit begin voel soos daardie Leviet gevoel het, doen wat hy gedoen het. Wees gehoorsaam aan God se liefdevolle raad en assosieer met persone wat Jehovah se wil doen. Wanneer jy Jehovah meer as enige iets anders liefhet, sal jy regtig gelukkig wees. En jy sal op die pad bly wat na “die werklike lewe” lei. – 1 Tim. 6:19.

PETRUS SE SWAKHEDE HET HOM MISMOEDIG GEMAAK

Ons kan gehelp word of ons kan ander help deur na te dink oor hoe Petrus eers mismoedig was, maar toe op sy diens aan God gefokus het (Sien paragraaf 17-19)

17. Watter redes het Petrus gehad om mismoedig te word?

17 Petrus was ’n ywerige man. Maar soms het hy dinge gesê of gedoen sonder om te dink en dan het hy later daaroor spyt gevoel. Byvoorbeeld, toe Jesus vir sy apostels gesê het dat hy sou ly en sterf, het Petrus ernstig met hom gepraat en gesê: “Dit sal glad nie met u gebeur nie” (Matt. 16:21-23). Jesus het Petrus toe reggehelp. Toe ’n groep mense gekom het om Jesus te arresteer, het Petrus sonder om te dink, opgetree en die oor van ’n slaaf van die hoëpriester afgekap (Joh. 18:10, 11). Jesus het die apostel weer reggehelp. Petrus het ook gespog dat al sou die ander apostels Christus verlaat, sou hy dit nooit doen nie! (Matt. 26:33). Maar Petrus was nie so sterk as wat hy gedink het nie. Later daardie aand het hy baie bang geword en drie keer gesê dat hy sy Meester nie ken nie. Petrus was baie mismoedig en “het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil” (Matt. 26:69-75). Hy moes sekerlik gewonder het of Jesus hom ooit kon vergewe.

18. Hoe het Jesus Petrus gehelp om nie meer mismoedig te wees nie?

18 Maar Petrus het nie so mismoedig geword dat hy opgehou het om Jehovah te dien nie. Ná die fout wat hy gemaak het, het hy Jehovah aanhou dien en later was hy saam met die ander apostels (Joh. 21:1-3; Hand. 1:15, 16). Wat het hom gehelp om beter te voel? Om maar een ding te noem, Jesus het vroeër gebid dat Petrus se geloof nie sou verswak nie en Jesus het Petrus aangemoedig om terug te gaan en sy broers te versterk. Jehovah het daardie opregte gebed beantwoord. Jesus het later persoonlik aan Petrus verskyn, en dit moes Petrus sekerlik aangemoedig het (Luk. 22:32; 24:33, 34; 1 Kor. 15:5). Jesus het ook aan die apostels verskyn nadat hulle heel aand niks visse gevang het nie. By hierdie geleentheid het Jesus Petrus die kans gegee om vir hom te sê hoe baie hy hom liefhet. Jesus het sy dierbare vriend vergewe en hom meer werk gegee om te doen. – Joh. 21:15-17.

19. Hoe help Psalm 103:13, 14 ons om ons sondes deur Jehovah se oë te sien?

19 Lesse vir ons. Die manier waarop Jesus Petrus behandel het, het gewys dat hy baie genadig is, net soos sy Vader. So wanneer ons foute maak, moet ons nie onsself oordeel en dink dat daar geen hoop vir ons is nie. Ons moet in gedagte hou dat Satan wil hê dat ons so moet voel. Ons moet eerder mooi dink oor hoe lief Jehovah ons het en dat hy ons beperkings verstaan en ons wil vergewe. En ons moet hom navolg wanneer ander dinge doen wat ons seermaak. – Lees Psalm 103:13, 14.

20. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

20 Die voorbeelde van Josef, Naomi en Rut, die Leviet en Petrus verseker ons dat “Jehovah . . . naby dié [is] wie se hart gebreek is” (Ps. 34:18). Hy laat toe dat ons soms deur moeilike tye gaan en mismoedig voel. Maar wanneer ons met Jehovah se hulp deur hierdie moeilike tye kom, versterk dit ons geloof (1 Pet. 1:6, 7). In die volgende artikel sal ons verder sien hoe Jehovah sy lojale knegte ondersteun wat mismoedig is, dalk as gevolg van hulle onvolmaakthede of moeilike omstandighede.

LIED 7 Jehovah, ons sterkte

^ par. 5 Josef, Naomi en Rut, ’n Leviet en die apostel Petrus het deur moeilike tye gegaan wat hulle mismoedig gemaak het. In hierdie artikel gaan ons sien hoe Jehovah hulle vertroos en versterk het. Ons gaan ook kyk wat ons uit hulle voorbeelde kan leer en hoe God hulle liefdevol gehelp het.

^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENT: Naomi, Rut en Orpa was hartseer en mismoedig oor die dood van hulle huweliksmaats. Later is Rut en Naomi saam met Boas bly oor die geboorte van Obed.