Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Beteken die apostel Paulus se woorde in 1 Korintiërs 15:29 dat party Christene in sy tyd hulleself namens dooie mense laat doop het?

Nee, niks in die Bybel of in die geskiedenis wys dat so iets gedoen was nie.

Die manier hoe hierdie vers in baie Bybels vertaal is, het party mense laat dink dat mense in Paulus se dag hulleself namens dooie mense laat doop het. Byvoorbeeld, die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling sê: “En nou, as die dooies glad nie opgewek word nie, wat wil die mense bereik wat hulle vir dooies laat doop?”

Maar let op wat twee Bybelgeleerdes gesê het. Dr. Gregory Lockwood het gesê dat daar geen bewys in die Bybel of in die geskiedenis is dat enige iemand namens ’n dooie persoon gedoop is nie. Professor Gordon D. Fee het ook geskryf dat daar geen voorbeeld in die Bybel of in die geskiedenis is van hierdie soort doop nie. Hy sê dat dit nooit in die Nuwe Testament genoem word nie en dat daar geen bewyse is dat dit ooit deur enige van die vroeë Christene of in enige van die kerke wat kort ná die dood van die apostels gevorm is, gedoen is nie.

Die Bybel sê dat Jesus se volgelinge ‘dissipels van mense van al die nasies moes maak, hulle moes doop en leer om alles te gehoorsaam’ wat hy hulle beveel het (Matt. 28:19, 20). Voordat ’n persoon as ’n dissipel gedoop kon word, moes hy eers Jehovah en sy Seun leer ken, in hulle glo en hulle gehoorsaam. Iemand wat alreeds gesterf het en in die graf was, kon dit nie doen nie, en ’n Christen wat nog gelewe het, kon dit nie namens hom doen nie. – Pred. 9:5, 10; Joh. 4:1; 1 Kor. 1:14-16.

Wat het Paulus dan bedoel?

Party Korintiërs het gesê dat die dooies nie opgewek sou word nie (1 Kor. 15:12). Paulus het vir hulle gewys dat dit verkeerd was. Hoe? Hy het gesê dat hy elke dag “voor die dood te staan” gekom het. Hy het natuurlik nog steeds geleef. Maar alhoewel hy gevaarlike situasies deurgemaak het, was hy oortuig dat hy ná sy dood opgewek sou word as ’n magtige geespersoon, net soos Jesus was. – 1 Kor. 15:30-32, 42-44.

Die Korintiërs moes besef dat hulle as gesalfde Christene deur moeilike tye sou gaan en sou sterf voordat hulle opgewek kon word. So toe hulle “in Christus Jesus gedoop is,” is hulle ook “in sy dood gedoop” (Rom. 6:3). Dit beteken dat hulle net soos Jesus deur moeilike tye sou gaan en sou sterf om tot hemelse lewe opgewek te word.

Meer as twee jaar nadat Jesus in water gedoop is, het hy vir twee van sy apostels gesê: “Julle sal gedoop word met die doop waarmee ek gedoop word” (Mark. 10:38, 39). Jesus het hier bedoel dat sy getrouheid aan God tot sy dood sou lei. Paulus het geskryf dat gesalfdes “saam [sou] ly sodat [hulle] ook saam verheerlik [kon] word” (Rom. 8:16, 17; 2 Kor. 4:17). So hulle sou ook moes sterf om tot hemelse lewe opgewek te word.

Daarom kan Paulus se woorde akkuraat vertaal word as: “Anders, wat sal die persone bereik wat gedoop word met die doel om dooies te wees? As die dooies glad nie opgewek gaan word nie, hoekom word hulle ook met hierdie doel gedoop?”